Verskyning – versteuring – vryheid

SONDAG 3 FEBRUARIE 2013

Verskyning is ’n vieslike ding. Op jou eie, in die privaatheid van jou eie vertrekke, is jy amper volmaak. Jy’s nie te vet nie, jy’s nie te arm nie, jy’s nie te dom of te vervelig nie.

En dan besef jy jy’t melk nodig.

Die oomblik as jy in die openbaar verskyn, besef jy jy’s vet – in vergelyking met die skraal persoon wat verby jou stap op die sypaadjie. Jy besef jy’s eintlik nogal redelik onaantreklik, in vergelyking met die veel aantrekliker persoon wat langs jou staan en wag by die verkeerslig. Jy besef jy’s eintlik nogal platsak, in vergelyking met die hoeveelheid en tipe kruideniersware wat die persoon agter jou in die ry by die supermark in húlle trollie het.

WOENSDAG 20 FEBRUARIE 2013

1. Is dit nie vreemd dat mens, as volwassene, by verstek onder die indruk verkeer dat jy nie vry is om te doen wat jy wil nie. Jy moet jouself waardevol maak om bestaansreg te kan hê. Jy moet hoop iemand is so genadig om vir jou werk te gee sodra jy klaar gemaak het met skool, of een of ander opleiding ondergaan het om jouself meer waardevol te maak. Jy hoop iemand sien wat jy vir hulle kan doen en is bereid om jou te betaal vir die waarde wat jy kan lewer, sodat jy kan oorleef. Vryheid, so word dit by jou ingeburger van kleins af, is soos ’n privaatstrand: alleenlik as jy baie geld het, is dit iets wat jy mag geniet.

2. Mens wil goed wees, jy wil jou naaste bystaan in sy of haar stryd op aarde. Terselfdertyd wil jy jouself losmaak, jouself bevry van die gemors wat die samelewing soms is.

MAANDAG 25 FEBRUARIE 2013

Die afgelope paar weke agtergekom ek lei aan een of ander versteuring. Gedog dis geld … beplande vakansie … vliegtuigkaartjie, en so aan. Ek dink miskien is dit nie geld nie. Ek dink miskien is dit verskyning.

______________________

As jy wil verkoop wat jy skryf, wees bewus van ’n paar dinge

MAANDAG 21 JANUARIE 2013

Gisteroggend het my Smashwords rekening aangedui dat ek oornag twee kopieë verkoop het van A shorter version of a longer book (wat ek net enkele ure tevore beskikbaar gestel het). Teen gisteraand het dit egter geblyk die resultaat te wees van ’n “fraudulent payment method”. Wat beteken dit? ’n Skurk het ’n obskure versameling essays probeer koop met ’n gesteelde kredietkaart? Dit sê interessante dinge van my beskrywing van die materiaal, of van die skurk.

Ek het wel van die geleentheid gebruik gemaak om myself te herinner aan ’n paar dinge:

1. Sommige mense gaan jou boek koop, nie hou van wat hulle lees nie, en hulle geld probeer terugkry van die plek waar hulle dit gekoop het.

2. Sommige mense gaan jou boek koop, nie hou van wat jy geskryf het of hóé jy dit geskryf het nie, of skrik as hulle sien wat jou opinie is van sekere sake, en onmiddellik ’n uitlaatklep soek vir hulle afkeer, wat hulle gewoonlik vind deur gemene maar wat hulle steeds reken as eerlike kommentaar te lewer op ’n openbare forum sodat ander voornemende kopers kan sien wat hulle dink van jou boek (of hoe min hulle daarvan dink).

3. Sommige mense gaan jou boek koop omdat hulle dink dit sal snaaks of vermaaklik wees, dit nie snaaks of vermaaklik vind nie – of nie genoeg na hulle smaak of verwagting nie, en dan vies wees vir hulleself dat hulle hul geld gemors het.

Daar, ’n paar gedagtes vir dié wat dit oorweeg om ’n bestaan te maak met woorde, of enige ander metode om gedagtes of opinies oor te dra aan die bevolking buite sy of haar gemaksone. Dit is seker die prys wat mens bereid moet wees om te betaal as jy nie net jou gedagtes wil vaslê nie, maar as jy so wrintie waar so ver gaan om dit beskikbaar te stel sodat ander mense dit kan koop en lees.

______________________

Tyd vlieg nie regtig nie

SATERDAG 5 JANUARIE 2013

Ek is gewoonlik voor in die koor as daar geweeklaag word oor hoe vinnig die tyd vlieg. Een jaar … vyf jaar … ’n dekade! Twintig jaar … Soos ’n mens dan in skok staan en wonder wat jy alles gedoen het, en wat jy alles nog wóú doen, sien jy in jou geestesoog die beelde van tien en twintig jaar gelede: helder, duidelik, asof dit gister was.

Dit is derhalwe soms nodig om jouself te herinner aan die werklike nommers:

5 jaar: amper 2 000 dae en nagte

10 jaar: meer as 3 500 dae en nagte

20 jaar: meer as 7 000 dae en nagte; meer as 7 000 keer ontbyt geëet, meer as 7 000 keer aandete geëet; meer as 20 000 keer badkamer toe gegaan; as jy voltyds gewerk het gedurende ’n 20 jaar-periode, dalk soveel as 5 000 keer werk toe gegaan … meer as 5 000 keer in die verkeer gesit (dalk dubbel soveel) … duisende kere met mense gepraat wat jy eintlik wou vermy … dalk meer as ’n duisend keer vleis gebraai … dalk soveel as 10 000 programme op TV gekyk, of selfs meer.

Tyd vlieg nie regtig nie.

Om die waarheid te sê, as jy mooi daarna kyk, oor vyf of tien of twintig jaar het jy duisende geleenthede om goed te doen, reg te maak wat verkeerd is of wat jy verkeerd gedoen het, en om iets te produseer of te help skep wat uiteindelik waarde sal bly voorsien aan ander mense.

Elke dag word jy ’n kans gegun om iets van die lewe te geniet, en elke dag word jy ’n kans gegun om iets te beteken vir iemand anders – iemand wat jou dalk sal onthou lank na jy jou laaste van meer as 25 000 oggendetes genuttig het.

______________________

Maandag 31 Desember 2012

Ek was ietwat geskok gister toe ek herinner word daaraan dat ons vanaand na ’n Oujaarspaartie toe gaan, met die implikasie dat môre die begin van ’n nuwe jaar is.

As ek sê ek wil nie hê hierdie jaar moet eindig nie, bedoel ek nie dat ek wil vashou aan dit wat verby is nie. Wat ek wil hê, is om môre – die eerste dag van 2013 – op te staan, en om naatloos voort te gaan met alles wat ek hierdie jaar gedoen het.

Ek wil nie ophou en dan weer begin nie. Ek wil voortgaan.

* * *

Vandag is ook ’n goeie dag om waarde te put uit die advies van Mary Schmich: “Whatever you do, don’t congratulate yourself too much, or berate yourself either. Your choices are half chance. So are everybody else’s.”

Dit gesê, jy is steeds tot ’n groot mate self verantwoordelik vir die enorme hoeveelheid sukses en geluk wat jou kant toe kom in 2013. En siende dat dit so is, maak seker jy doen wat jy kan om dit te realiseer.

———–

Teks van die Mary Schmich artikel, “Advice, like youth, probably just wasted on the young” was gebruik deur Baz Luhrmann in sy 1999-snit, “Everybody’s Free (To Wear Sunscreen)”. Die oorspronklike artikel is op sy beurt soortgelyk aan die 1927-gedig deur Max Ehrmann (1872-1945), getitel “Desiderata”. ’n Kort uittreksel: “With all its shams, drudgery, and broken dreams, it is still a beautiful world. Be cheerful. Strive to be happy.”

______________________

Kersdag is ’n bietjie soos die lewe

DINSDAG 25 DESEMBER 2012

Kersdag is ’n bietjie soos die lewe.Kersdag 2012, Johannesburg. Dankie Mandi vir die foto.

As ’n hele tafel vol kos voorberei word op die vyf-en-twintigste dag van die twaalfde maand van die jaar, ’n spesiale boom die sitkamer binne gesleep word en vol liggies en balletjies en poppies en sterretjies gehang word, speelgoed vir die kinders gekoop word en toegedraai word in kleurvolle papier, ’n paar liedjies dalk gesing word, en almal hulleself trommeldik eet en lag en kuier en gesels, dan’s dit “Kersfees”.

As jy nie bogenoemde dinge doen nie, is dit net die vyf-en-twintigste dag van die maand, en die maand is toevallig die twaalfde van die jaar.

So ook, is dit met die lewe.

______________________