Om ernstig te wees oor geld, en vooruitgang

VRYDAG 5 JULIE 2013

Die MP3-player is ontwikkel en het sedertdien geblyk ’n groot sukses te wees omdat mense wat reeds in die bevoorregte posisie was om Walkmans en Discmans te besit, gekla het – dalk selfs gekerm het – oor al die kassette en CD’s wat hulle altyd saam moes piekel.

* * *

Ek maak skyfies van metaal, so groot soos ’n muntstuk. Aan die einde van die werksdag druk ek al die skyfies in ’n gleuf, en een vars NT$100-noot kom uit by ’n ander gleuf vir elke skyfie wat ek gemaak het. Indien ek ’n fout gemaak het met ’n skyfie, of die kwaliteit is nie aanvaarbaar nie, word die betrokke skyfie verwerp en val dit onder by die masjien uit in ’n bakkie. Ek kan dan die fout herstel, of nog ’n bietjie werk aan die skyfie, en weer probeer.

Omdat dit my ongeveer twaalf minute vat om ’n skyfie te maak, weet ek dat ek vyf skyfies kan vervaardig in een uur. Ek weet dus dat ek NT$500 verdien vir een uur se arbeid. Hoewel ek elke dag soveel skyfies kan maak as wat ek wil, stop ek gewoonlik na so vier of vyf ure.

Daar is duidelik ’n direkte korrelasie tussen my arbeid en die beloning wat ek ontvang daarvoor.

Ek oorweeg dit om later een of twee mense aan te stel om meer skyfies te maak as wat ek kan maak op my eie, wat ek dan net in die masjien sal gooi, waarna ek die beloning sal deel met my twee werkers.

DONDERDAG 11 JULIE 2013

20:03

Ek kyk ’n dokumentêr getiteld, “Million Dollar Traders”. Dit gaan oor ’n groep mense, wat tot ’n mate reeds suksesvol was in ander beroepe, wat leer om handel te dryf in Londen se finansiële distrik. Die storie is die idee van ’n miljoenêr belegger genaamd Lex van Dam. Hy het aangestel as die groep se bestuurder ’n 29-jarige ou wat reeds afgetree het – van handeldryf op die aandelebeurs.

Ek kyk na die “City” ouens, en ’n profiel ontwikkel:

– Hulle hou van geld.

– Hulle is ernstig oor geld.

– Hulle respekteer jou as jy ook ernstig is oor geld.

– Hulle raak hoogs ontsteld as iemand nié ernstig is oor geld nie, of onverantwoordelik is met geld, of dom is met geld.

– Hulle hou daarvan om goed te leef – goeie hotelle, eersteklas vliegtuigkaartjies, eksotiese vakansies, mooi huise, mooi karre, goeie klere.

– Hulle blyk oor die algemeen konserwatief te wees in hulle lewensuitkyk.

– Hulle respekteer mense wat iets bemeester het, of wat goed is met iets, of wat meer weet oor ’n onderwerp waarin baie mense belangstel.

21:47

As die plek waar ek wil wees voorgestel kan word as Punt 100, is ek op hierdie stadium min of meer op Punt 14. Wat nie te sê is dat ek min gevorder het sover nie. Die “14” wat ek sover bereik het, is immers hardgewonne grond.

______________________

Duidelik veel om te leer van ’n kat (en ’n kat probeer nie eens om jou iets te leer nie)

DINSDAG 28 MEI 2013

Hoekom skryf ek?

Om ’n saak te dien?

Om ’n argument te probeer wen?

Om ’n bydrae te maak?

Ek skryf, tot ’n groot mate, om een ding te sê: Ek was hier.

WOENSDAG 3 JULIE 2013

“Wat doen ek?” vra ek myself.

Sou die ou in die tronk ook hierdie vraag aan homself vra? Indien wel, wat sou hy antwoord? Sou hy antwoord: “Niks, ek is in die tronk”?

Indien die gesinsman homself die vraag vra, sou hy sekerlik antwoord, “Ek sorg vir my familie.”

Is dit genoeg? Is dit goed genoeg?

Vra die pastoor of dominee of sendeling die vraag, kan hulle antwoord, “Ek doen God se wil.”

Maklik. Skuif die verantwoordelikheid oor op God. “Ek voer net opdragte uit.”

Vra die soldaat homself die vraag, is die antwoord soortgelyk aan dit wat die godsdienstige gee: ’n vooraf geformuleerde antwoord word geresiteer. Met oortuiging.

Sal die arm man of vrou in die plakkerskamp antwoord dat hulle hul bes probeer om weer op hulle voete te kom?

Vra die ma van twee kinders in ’n oorloggeteisterde gebied haarself die vraag, is dit sekerlik heeltemal redelik as sy antwoord: “Op hierdie stadium doen ek wat ek moet doen om myself en my kinders veilig en aan die lewe te hou.”

Wat antwoord sy na die gewere stil geraak het?

Wat antwoord die egpaar wat pas teruggekeer het na die ruïnes van hulle huis na twee jaar in ’n vlugtelingkamp?

Wat antwoord die heroïenverslaafde?

Wat antwoord die alkoholis wanneer hy sy eerste sopie van die dag drink, kort na ontbyt?

Wat antwoord die gewetenlose besigheidsman? Sou hy antwoord, “Ek maak soveel geld as wat ek kan,” asof jy dit sekerlik kon raai?

Is hy werklik tevrede daarmee? As hy redelik intelligent is, en so nou en dan ’n bietjie dink oor dinge, en jy sit vir ’n uur saam met hom by ’n koffiewinkel of ’n kroegtoonbank, wat sou sy meer uitgebreide antwoord wees?

Wat antwoord die entrepreneur met ’n sosiale gewete?

Wat antwoord die jong politieke leier wat nog nie sy siel verkoop het nie?

Wat antwoord die skrywer, die kunstenaar, die akteur, die dramaturg, die komediant?

As almal moet koes vir koeëls of skrapnel, of hulle word wakker in die nag van hongerpyne of koue, of van die roepstem van ’n honger geliefde, reageer almal net. As enige een in die omgewing ’n geleentheid wil aangryp om ’n filosofiese vraag te vra, sal hy of sy heel waarskynlik eenkant toe gestoot word. As jy bloot reageer elke oomblik wat jy wakker is, is die antwoord op wat jy doen, voor die hand liggend.

Maar wat gebeur wanneer jy nie in onmiddellike gevaar is nie, en jy opsies het waaroor jy ’n besluit moet neem voor jy oorgaan tot aksie? Wat doen jy dan? En hoekom spesifiek daai keuse of aksie?

DONDERDAG 4 JULIE 2013

Ek kyk na die werk wat ek moet doen, vir my persoonlike geskrifte asook vir my kommersiële projekte.

My rasionele brein sê: Ek moet dit doen; anders gaan niks gebeur met die werk wat ek reeds gedoen het nie.

My emosionele brein sê: Vir elke R100 wat ek gaan insit in terme van tyd en moeite, gaan ek tussen vyf sent en R1 terugkry. (“Maar ek moet dit seker doen; anders gaan niks gebeur met die werk wat ek reeds gedoen het nie.”)

VRYDAG 5 JULIE 2013

Wat doen ’n kat?

Die kat het nie gevra om gebore te word nie. Die kat het geen keuse gehad oor sy spesie of geslag, of oor die tyd, plek of omstandighede van sy geboorte nie.

En tog, daar is hy – of sy.

Wat doen die kat met sy daaglikse bestaan? Hy probeer deur die dag en nag kom so spanningsloos as moontlik.

Dis al wat sin maak vir hom.

______________________

’n Oggend onder die Afrika-son

DONDERDAG 6 JUNIE 2013

Ek het ’n heerlike oggend gehad. Eers het ek ontbyt geëet – hawermout wat ek self gemaak het, met All Bran Flakes, sprinkelings pekanneute, en ’n paar rosyntjies, en ’n koppie koffie klaar gedrink wat my swaer gemaak het – so sterk dat ’n druppel wat die hond van die vloer af opgelek het, amper haar hart laat staan het.

Toe het ek ’n warm bad gevat – die eerste in jare (ek stort gewoonlik). Na die bad het ek geskeer, tande geborsel, en vir myself ’n koppie groentee gemaak.

Soos ek toe my koppie Taiwannese tee koud blaas, gaan sit ek in die son – lekker warm Junie-son, Afrika-son, winterson. Nadat ek notas gemaak het vir ’n essay oor irriterende mense, het ek vir so halfuur lank gelees.

Ek sit toe die boek opsy, sit my oorfone op my kop, skop my plakkies uit, en druk “Play” op my musiekspeler. En toe, vir die tweede helfte van 1982 en feitlik die hele 1983 skop ek ’n sokkerbal rond oor die grasperk, van die een kant na die ander kant, en weer terug.

Wie sê net ’n kind kan die dinge van ’n kind geniet?

______________________

Ons is soms die mense wat ons verpes

DONDERDAG 6 JUNIE 2013

Ek was gister “daai persoon” op die Gautrein: die een wat op die perron by die lughawe nie wag tot ál die passasiers uitklim voor hyself met sy groot stukke bagasie inklim nie.

Dis nie dat ek as ’n reël onbeskof is nie. Dis net, die oomblik toe die trein tot stilstand gekom het en die eerste klomp mense uitgeklim het, het ek in Kaohsiung MRT-mode ingegaan: wanneer die uitkomende verkeer begin minder raak, vat jy ’n gaping.

Die oomblik toe ek in is, besef ek natuurlik die lughawe is die laaste stop: almal moet eers uitklim voor die volgende groep reisigers mag inklim.

Dit was onvermydelik dat iemand, rooi in die gesig van ontstokenheid, sou vassteek en vir my preek. “Wait for everyone to get off!” gil die man toe vir my. “The train is not going anywhere! You’ll all get a chance!”

My “whatever” respons was onoortuigend. Ek het geweet ek het myself skuldig gemaak aan gedrag wat my daai persoon gemaak het wat almal verpes op ’n trein, veral een soos die Gautrein as dit sy laaste stop maak by ’n besige stasie soos die lughawe. Ek was die persoon vir wie ekself al my tong geklap het en ’n vuil kyk gegee het.

Die gedagte kom toe by my op dat ek sekerlik in die opinie van die ou met die rooi gesig ’n eendimensionele karakter is. Ek is “Die Poephol Wat Nie Wag Nie”. As hy regtig daaraan moes dink, sou hy seker toegegee het dat hy reken ek loop die heeldag rond en irriteer mense. Of ek stap die heeldag rond op die lughawe en wag vir die trein om te arriveer sodat ek mans met rooi gesigte se gesigte nog rooier kan maak deur hulle uitgang te blokkeer met my reusagtige bagasie. Óf dit, óf ek verdamp soos kondensasie die oomblik as ek klaar my onbeskofte daad gepleeg het.

By Sandton-stasie het ek mooitjies gewag dat ’n paar mense afklim voor ek die trein verlaat het. Omdat ek ’n ander trein Rosebank toe moes haal, het ek nóg ’n kans gehad om te wys ek wéét hoe om ’n trein te betree soos ’n beskaafde mens.

Toe die trein ’n paar minute later tot stilstand kom by ’n ander perron, het ek teruggestaan. Die deure het oopgegaan … maar voordat ’n enkele passasier ’n kans gehad het om uit te klim, het ’n jong vrou die deur bestorm.

“Ongeskik,” het ek geprewel, en gevoel hoe my wange warm raak van irritasie. Soos ek die vrou toe agterna kyk, wonder ek hoe lank dit sou vat voordat sy verdamp.

______________________

Die handewerk van mense

WOENSDAG 22 MEI 2013

Dit is inderdaad intimiderend om voor die majestueuse konstruksie te staan wat die Christelike religie is, jou keel skoon te maak, en te verklaar dat jy reken dat hierdie godsdiens, in jou beskeie mening, die handewerk is van mense, ontwikkel en verfyn oor meer as 2000 jaar deur duisende denkers en teoloë, priesters en pouse, monnike en pastore, én deur gewone gelowiges.

Dit is ook baie moeilik wanneer jou eie ouers glo dat die Christelike religie die universele waarheid is van die Een en Enigste Almagtige God. Dit is moeilik as jy begin het om presies die teenoorgestelde te glo, maar jy wil nie jou ouers ontstel nie. Wat dit veral ’n sensitiewe onderwerp maak, is dat hulle groot troos vind in hierdie stelsel van oortuigings.

DONDERDAG 23 MEI 2013

’n Belangrike vraag om te vra met betrekking tot die Christelike geloof is die volgende: Waarom moes Jesus sterf?

Die antwoord wat jy kry sal meestal gaan oor ’n bloedofferkultuur wat algemeen was in die Midde-Ooste twee tot drie duisend jaar gelede.

Wat gewoonlik nie veel van ’n indruk sal maak op gelowiges nie, is wanneer jy daarop wys dat dit ’n bietjie vreemd is dat ’n god wat veronderstel is om universeel te wees, wat volgens leerstellings bestaan het miljarde jare voor enige mens vorendag gekom met die eerste teken van kultuur of beskawing, sal toelaat dat sy eie seun – volgens sekere teologiese standpunte, hyself – gemartel en vermoor word omdat ’n kulturele gebruik wat algemeen was op ’n spesifieke tyd en spesifieke plek dit so gedikteer het.

Indien te min belydende gelowiges hierdie tipe vrae vra, is dit heel waarskynlik omdat vrae van hierdie aard aktief ontmoedig word. Gelowiges word ook gereeld herinner aan wat hulle pynvolle en ewige straf sal wees indien hulle versuim om te glo op die regte manier – dat hulle sekerlik nie die “toorn van God” sal kan ontvlug as hulle vrae vra wat hom beledig nie.

Nog ’n vraag wat nie waardeer sal word nie: Waar eindig kultuur van spesifieke tyd en plek, en waar begin wat veronderstel is om tydlose waarheid te wees?

______________________