Opsies vir die ongelowige

DONDERDAG 25 DESEMBER 2014

Is dit nie ietwat simpel om jouself ’n ateïs te noem nie? Is dit nie soortgelyk daaraan om jouself “nie ’n WP-ondersteuner” te noem nie? Hoekom dan nie eerder jouself identifiseer wat jy wel is nie – ’n Blou Bul-ondersteuner, ’n Goue Leeus-ondersteuner, ensovoorts?

Die ander probleem daarmee om jouself te identifiseer as ateïs, is dat die onus dan op jou rus om te definieer waarin jy nié glo nie. Wát of wié is die god waarin jy geen geloof het nie?

* * *

’n Paar minute se navorsing oor die onderwerp het my geleer dat daar sterk ateïsme en swak ateïsme is. Die Sterk Ateïs (ook Positiewe Ateïs) neem die standpunt in dat daar rede is om te glo dat daar geen god bestaan nie, dat dit selfs logies onmoontlik is dat daar ’n god of gode bestaan. Die sogenaamde Swak Ateïs (of Negatiewe Ateïs) reken dat daar geen rede is om te glo dat daar wél enige god bestaan nie.

Dan is daar die ignostici – mense wat die posisie inneem dat elke godsdienstige oortuiging te veel veronderstel oor die konsep van “God”. Die ignostikus sê derhalwe dat beide die “gelowige” en die “ongelowige” te veel veronderstellings maak oor waaraan hulle glo, of nie glo nie.

Nog ’n alternatief is om jouself aan die kant te skaar van mense wat gekant is teen enige geloof in die bestaan van ’n god, naamlik die anti-teïs. Christopher Hitchens het in sy boek, Letters to a Young Contrarian geskryf dat hy nie net glo dat alle religieë weergawes van dieselfde onwaarheid is nie, maar ook dat die invloed van kerke en die effek van godsdienstige oortuiging meer skade doen aan mens en samelewing as goed.

______________________

Die alleenloper se stem aan die einde van ’n sekere pad

DINSDAG 23 DESEMBER 2014

Brand Smit soos gemanifesteer in 2003 se Persoonlike Agenda: Boek Twee, 2004 se Boek Drie en Slothoofstuk, en ook die res van 2004 se materiaal, was ’n alleenloper. Meer as dit, hy het te velde getrek teen mense wat hy gereken het nie alleen kán wees nie. Hy het aangedring daarop dat mense hom nie anders moet behandel net omdat hy nie deel is van ’n paartjie nie.

Toe, skielik, van Maart 2005 af, was hy nie meer alleen nie. Die alleenloper was skielik deel van ’n tweetal.

* * *

Ek hét nog geskryf in 2005, en tot ’n mate steeds in die stem van Brand Smit van Persoonlike Agenda – ek het geen ander stem gehad nie. Teen 2006 was daar geen twyfel nie: Ek was gelukkiger, my lewe was beter, en ek het definitief die einde van ’n sekere pad bereik as skrywer.

______________________

’n Naam wat jou sê waar om te soek

MAANDAG 22 DESEMBER 2014

’n Naam, dit weet almal, is meer as ’n klank wat geuiter word wanneer iemand spesifiek jóú aandag wil trek. Dis meer as ’n trek van lyntjies en krulle op papier vir administratiewe doeleindes. ’n Naam koppel jou aan mense, en aan verhoudings. Ek is nie net “Brand Smit” nie – ek is “Brand”, seun van “Barend” en “Adriana”.

Hierdie verbintenis gee vir jou ’n aanduiding van hóé en moontlik selfs wáár jy jouself moet posisioneer. Byvoorbeeld, is “Barend” en “Adriana” figure in die Russiese kriminele onderwêreld? Is hulle Inuïete wat woon in ’n nedersetting in die noorde van Kanada? Is hulle wynboere in Chili?

Soos dit uitgewerk het, is my ouers pottebakkers en besigheidsmense van meestal Europese afkoms, wat Afrikaans praat en grootgeword het in hoofsaaklik Afrikaanse gemeenskappe in Suidelike Afrika. Dit gee vir my iets om mee te werk, of dit het vir my iets gegee om mee te werk beginnende ’n bietjie meer as veertig jaar gelede.

Daar is een belangrike punt wat ek vermoed baie mense miskyk, of misverstaan. Hierdie inligting oor my kulturele, etniese en linguistiese herkoms het nie vir my gesê wié om te wees of wát om te doen nie, dit het bloot vir my gesê wáár om te kyk vir idees oor wat om te doen en wie om te wees. Dit sê dus nie, wéés dit nie. Dit sê: Soek hier.

______________________

Jy bou nog so lekker aan jou kaarthuis …

VRYDAG 19 DESEMBER 2014

Jy’s besig om vir jouself ’n huis te bou – met speelkaarte. Iemand stap nader, kyk na wat jy besig is om te doen, en stamp die huis om. Die kaarte fladder aarde toe. Jy’s woedend. “Wat de fok …” gil jy. “Hoe durf jy? Ek was besig om ’n huis te bou – ’n tuiste! Beteken dit niks vir jou nie? Beteken dit niks vir jou dat ek al maande lank bou aan hierdie huis nie?!”

“Ek het jou ’n guns gedoen,” begin die ou te verduidelik. “Ek verstaan dat jy besig was met iets waaraan jy baie waarde heg, maar goeie aarde ou vriend, jou huis was gebou met kaarte! Met speelkaarte! Wat dink jy sou gebeur het as jy en jou familie hier ingetrek het en die eerste storm steek op?”

Jy stap woedend weg, skree elke nou en dan iets vieslik oor jou skouer.

Die volgende dag sien jy weer die ou. Jy skud sy hand. Jy sê, dankie, ek verstaan nou. “Ek was so gefokus op my plan,” gaan jy voort, “op die idee van ’n tuiste, ’n huis van my eie, dat ek die werklikheid misgekyk het.”

Daai selfde dag begin jy, weereens, van voor af.

______________________

Wat om te doen met my praktiese advies

SONDAG 7 DESEMBER 2014

’n Vreemde gedagte het onlangs by my opgekom: om myself te posisioneer as iemand wat advies gee oor die onderwerp van geldmaak van die huis af. Ek het selfs gedink om soos honderde ander sogenaamde internet bemarkers ’n e-poslys op te bou van mense wie ek sal kontak elke keer wanneer ek ’n nuwe stuk geskryf het oor die onderwerp, of wanneer daar ’n nuwe produk op die mark kom waarby my lesers baat sal vind.

Hoekom sal ek dit nie doen nie? Omdat die onderwerp kontroversieel is? Omdat sommige verkopers van inligting oor hoe om geld te maak van die huis af lae en gemene kriminele is?

Oukei, dis nie regtig ’n komplekse saak nie. As iemand my tien jaar gelede gevra het of ek eendag in ’n posisie sal wil wees om vir mense praktiese advies te gee oor hoe om ekstra geld te maak, sou ek sonder om te aarsel ’n monoloog in die sitkamer afgesteek het oor hoeveel beter die wêreld sou wees as gevolg daarvan.

Ek hoef nie eens geld te maak daarmee nie – dit kan 99% van die tyd net my bydrae wees om ander mense te help. Het ek nie immers reeds jare se persoonlike ervaring op die gebied nie? Het ek nie immers reeds genoeg kennis opgedoen om so iets te kan doen nie? Hoekom moet ek langs die kantlyn staan as ek in werklikheid vir ander mense advies kan gee – of hulle kan waarsku wat om nie doen nie, of as ’n voorbeeld kan dien oor hoe om nie te werk te gaan nie?

______________________