Waan of bates, die goeie werk sal voortgaan

WOENSDAG 11 JANUARIE 2017

Daar is ’n paar redes hoekom ek reken dit is belangrik dat ek amper elke dag van die week ’n paar ure aan my skryfprojekte spandeer. Een rede het te make met illusie wat ’n mens gelukkig maak. ’n Bekende spotprenttekenaar verduidelik dat, siende dat mens in elk geval heel waarskynlik tot ’n groot mate onder ’n waan verkeer, jy net sowel ’n delusie kan kies wat jou gelukkig maak. Ek kies om te glo dat honderde mense gereeld lees wat ek sover gepubliseer het, en dat dit net ’n kwessie van tyd is voor meer mense inskakel op my frekwensie, by wyse van spreke. Dit is ’n idee wat my gelukkig maak, wat my aan die gang hou, en wat dit vir my makliker maak om ander dinge te doen wat ek nie soveel geniet nie, maar wat geld inbring.

Ek kan ook verduidelik dat my skryfprojekte ’n positiewe nalatenskap sal wees van my bestaan, en dat ek dalk hier en daar iemand kan oortuig om iets positiefs eerder as negatief te doen, of om die lewe nog ’n kans te gee, sou dit daarop neerkom.

Vroeër vanaand tref dit my dat daar nog ’n rede is hoekom ek gerus kan voortgaan met my harde werk, al betaal dit nie juis nie. Daar is ’n besigheidsmodel wat sê dat jy eers waarde skep, en later kyk hoe jy munt kan slaan daaruit. Dit is presies wat groot tegnologiemaatskappye soos Twitter, Facebook en Google gedoen het, en die model wat gevolg word deur slimfoontoepassings soos WhatsApp: voorsien eers waarde aan baie mense; maak later geld.

Dit is tot ’n mate ook wat ek doen. Ek behoort binne die volgende jaar of twee die 700-merk verby te steek wat betref stukke inhoud op BrandSmit.NET en AssortedNotes.COM. Hierdie inhoud is persoonlik, oorspronklik, en strek so ver terug as 1994 (uit die aard van die saak is die oudste teks ouer as die werwe self).

Ek kan in die maandelikse statistieke sien die werwe word besoek deur meer as ’n paar mense, en dat ’n betekenisvolle persentasie mense ten minste vyftien minute per keer op die werwe spandeer. En daar is nog heelwat wat ek kan doen om die leserstal uit te brei – sosiale media, meer formate, ’n nuusbrief.

In kort, ek is besig om twee waardevolle bates te ontwikkel wat wel nie geld maak nie, maar – ek mag dalk twee jaar of vyf jaar van nou af ’n boek produseer wat wel ’n bietjie kommersiële waarde het. En indien daar ’n kommersiële item op die spreekwoordelike rak is, sal twee webwerwe (wat in een geval reeds meer as ’n dekade op die internet is) met honderde stukke inhoud, met ’n gereelde leserskring, nie slegte bates wees nie.

______________________

’n Titel vir aandete

MAANDAG 2 JANUARIE 2017

Vanoggend net voor vyfuur word ek wakker. Ek gaan toilet toe, gaan terug bed toe, trek die beddegoed reg, rol myself weer toe, en vir die volgende dertig minute, so tussen wakkerwees en slaap, tref twee gedagtes my.

Die eerste gedagte was oor die stuk in die bundel, Waar jy niemand is, getiteld, “Die probleem is … stadsbeplanning!” Wat is die konneksie met Korea? wonder ek toe. Die teks gaan net oor my buurt in Taiwan, en hoe dit vergelyk met die gemiddelde Suid-Afrikaanse voorstad. Snaaks dat ek dit moes besef op daai oomblik. [Het later uitgewerk dat daar ander teks is wat nie toe gepubliseer was nie wat dit duidelik maak dat die stuk gaan oor my afkeer van lewe in die gemiddelde middelklas voorstad.]

Die tweede gedagte het gehandel oor wat ek die materiaal gaan noem wat volg op Post Ongetiteld, vol. drie, wat alles insluit wat ek geskryf het sedert Maart 2011. Ek het aan en af die afgelope paar weke daaraan gedink en kon nie regtig vorendag kom met ’n bevredigende voorstel nie. Skielik dink ek, knus onder my beddegoed, met my oë bottoe, in ’n stikdonker kamer, alles vanaf Maart 2011 is eintlik ook “post” iets, naamlik post-noodtoestand. Nie net volg dit op die stuk, “Die noodtoestand is verby” nie, maar my hele beskouing van my daaglikse bestaan het verander in 2011 nadat ek besluit het ek verkeer nie meer in ’n noodtoestand nie. Ek het ook besef ek kan dit iets noem soos, “Hou op skop teen die prikkels, vol. 1” – wat verwys na ’n feit wat ek nie meer kan ignoreer nie: Ek is op my gelukkigste wanneer ek werk aan ’n skryfprojek, en as die tyd in elk geval verbygaan en mens slaag nie altyd in wat jy dink jy moet doen nie (in my geval, om geld te maak met allerhande projekte op die Internet), sal ek eerder meer tyd gebruik om materiaal wat ek vroeër geskryf het, te redigeer, en te werk aan materiaal wat ek nog wil skryf, al maak ek nooit enige geld daarmee nie.

Die gedagte-trein oor titels het voortgegaan die res van die dag. ’n Uur of so gelede dink ek aan nog ’n titel: “Oorgawe, vol. 1,” in die sin van oorgee aan dit waaroor ek geskryf het op Vrydag 31 Desember 2004: “Writing has, in the end, outmanoeuvred, outsmarted, outgunned, and outlasted every other possibility of what I had ever wanted to do with my adult life.”

DONDERDAG 5 JANUARIE 2017

Wat ek nie hou van “Post-Noodtoestand” nie, is dat dit dui op die einde van ’n periode van my lewe – goed vir die titel van ’n stuk, maar vir ’n hele reeks bundels?

Dieselfde kan gesê word van “Oorgawe” en “Hou op skop”. Dit is goeie titels vir stukke, maar wil ek regtig ’n reeks essay-bundels vernoem na die insig dat om te skryf vir my van eksistensiële belang is?

Ek dink toe, oukei, as ek dit nie kan vernoem na ’n periode van my lewe wat verby is nie, wat van die huidige periode van my lewe?

Wat my toe terugbring by idees van verlede jaar, naamlik “Middel” en “Veertigs”.

Toe dink ek: natuurlik is ouderdom ’n belangrike faktor van die periode van jou lewe waarin jy jouself bevind, maar is daar nie iets anders as “Veertigs” nie?

“Einde van my jeug,” tref dit my.

En toe’s ek by die huis met aandete.

* * *

Blykbaar was dit Victor Hugo wat gesê het, “Forty is the old age of youth; fifty the youth of old age.”

Nog ’n paar pittige happies:

“Nobody grows old merely by living a number of years. We grow old by deserting our ideals. Years may wrinkle the skin, but to give up enthusiasm wrinkles the soul.” – Samuel Ullman

“You can’t help getting older, but you don’t have to get old.” – George Burns

“I will never be an old man. To me, old age is always fifteen years older than I am.” – Francis Bacon

“There is always some specific moment when we become aware that our youth is gone; but, years after, we know it was much later.” – Mignon McLaughlin

______________________

Saterdag 31 Desember 2016

Ek is bewus daarvan dat dit die laaste dag van die jaar is, maar ek was te besig tot nou met projekte wat ek regtig geniet om te dink aan al die werk wat ek gedoen het hierdie jaar aan projekte wat ek regtig geniet het.

Ek het my familie hierdie jaar twee keer gesien – in Februarie, en in Desember. Die eerste keer was lekker. Die tweede keer was ook lekker, maar ook baie spesiaal.

Ek het ook genoeg geld hierdie jaar gemaak om nog geld in die bank te hê.

En nou gaan ek ’n bietjie rus.

Vir so ’n uur. Dan gaan ek verder werk.

Een van die redes hoekom 2016 spesiaal was – ’n besoek aan die area in die Vrystaat waar my oupa aan moederskant gebore is in 1900
Nog ’n rede – Suid-Afrikaanse kos

______________________

Hoekom het ons nodig om geld te maak?

DONDERDAG 29 DESEMBER 2016

Hoekom het ek, of jy, nodig om geld te maak? Glo dit of nie, maar daar is mense wat onnosel genoeg is om elke nou en dan die antwoord te vergeet, en dan moet iemand in die omtrek altyd verduidelik.

Ek is een van hierdie eenvoudige mense. Gelukkig het ek net genoeg kompleksiteit binne my om na ’n paar minute uit my beswyming te ontwaak, en dan kan ek genoeg breinselle opkommandeer om self ’n antwoord te formuleer.

Dit verduideliking gaan soos volg:

Rede nommer 1. Jy moet probeer oorleef (as jy nie wil nie, geld niks van hierdie verduideliking vir jou nie). Om te oorleef, het jy geld nodig om kos te koop, huur te betaal, en te betaal vir water en elektrisiteit. Jy’t ook nodig om klere, en van tyd tot tyd medisyne te koop. Dit sal ook help as jy iets doen wat dit makliker sal maak om te oorleef een jaar van nou af, en tien jaar van nou af, en wanneer jy veel ouer is as nou en dalk nie meer kán of wíl werk nie. Jou oorlewing is dalk ook ten nouste gekoppel aan die oorlewing van mense na aan jou vir wie se oorlewing jy verantwoordelik is. Dit beteken nog meer geld vir kos, en klere, en medisyne, en ander items.

Rede nommer 2. As jou oorlewing goed genoeg op dreef is, maak dit sin om jou oorlewing die moeite werd te maak – andersins, wat is die punt? Om jou oorlewing die moeite werd te maak, het jy nodig om dinge te doen wat jy geniet. Dit beteken jy het geld nodig om boeke te koop, of sport te beoefen, of bioskoop toe te gaan, of kos te kook omdat jy hou van koskook, of vir dosyne ander dinge wat mense doen vir die plesier daarvan, of omdat dit hulle gelukkig laat voel en oor die algemeen positief oor die lewe.

Rede nommer 3. Jy wil dalk ander mense bystaan in hulle stryd om oorlewing (dis dalk iets wat jou eie oorlewing die moeite werd maak). Kans is goed dat jy geld nodig sal hê in jou pogings om ander te help.

Rede nommer 4. Jy wil dalk ook ander mense bystaan in hulle pogings om húlle oorlewing die moeite werd te maak. Weereens is dit nie altyd nodig om kontant op die tafel te lê nie, maar dit sal heel waarskynlik die proses vergemaklik.

Daar het jy dit – of dalk eerder, daar het ék dit nou, weereens. Ons het geld nodig om te oorleef. Ons het geld nodig om ons oorlewing die moeite werd te maak. Ons het geld nodig as ons ander mense wil help oorleef, en ons het geld nodig om hulle te help om van opinie te verander indien hulle nie dink hulle oorlewing is die moeite werd nie.

______________________

’n Goeie en suksesvolle dag word opgebou laag vir laag

WOENSDAG 28 DESEMBER 2016

Wie begin sy dag met ’n manifes op sy lippe, en ’n fyn-uitgewerkte bloudruk in sy kop?

Feit is, meeste mense se dae begin met noodsaaklikheid: jy staan op want jy’t nodig om badkamer toe te gaan, omdat jy honger is, en omdat jy afsprake gemaak het met mense en ondernemings en as jy nie opdaag nie, gaan jy in die moeilikheid wees.

En so begin jou dag. Uiteindelik stort jy en jy borsel jou tande, jy trek aan, en jy gaan êrens heen om jou brood en botter te verdien, of om andersins van waarde te wees vir die gemeenskap.

Laag vir laag word jou dag opgebou. Hier en daar maak jy ’n fout. Hier en daar sê jy iets of doen jy iets wat jou in verleentheid stel, maar na ’n paar minute of ’n uur of so is jy weer volstoom aan die gang.

Teen die tyd wat die dag verby is, kyk jy dalk terug na ’n goeie en relatief suksesvolle dag. Het jy dit begin met slagspreuke wat oor jou lippe gerol het, en ’n plan wat netjies uitgedruk langs jou bed gewag het vir jou om dit meganisties te volg? Heel waarskynlik nie, hoewel jy sekerlik ’n goeie idee gehad het hoe jy graag sou wou hê jou dag moet verloop.

So is dit met ander ondernemings en projekte wat jy aanpak. Jy het ’n goeie idee wat jy moet doen om redelike goeie resultate te bewerkstellig. Jy het ’n goeie idee wat jy nie moet doen nie om uit die moeilikheid te bly. Jy maak nogtans so nou en dan foute, en jy gly so nou en dan op ’n piesangskil. Maar suksesvolle resultate sal soos ’n goeie en suksesvolle dag opgebou word laag vir laag – tien, twintig, honderd groot en klein aksies en stappe wat een na die ander volg om ’n goeie resultaat te bou.

Slagspreuke is goed. Manifeste het hulle plek. Sekerlik moet jy weet wat jy moet doen. Maar sukses is meestal die resultaat van een laag klein, oënskynlik onbelangrike aksies op die ander. Net soos ’n goeie en suksesvolle dag.

———————-

Nie presies op dieselfde onderwerp nie, maar in dieselfde gees: Scott Adams skryf die volgende op sy blog by Dilbert.COM: “The idea of a talent stack is that you can combine ordinary skills until you have enough of the right kind to be extraordinary. You don’t have to be the best in the world at any one thing. All you need to succeed is to be good at a number of skills that fit well together.”

______________________