Die volgende stappe in my lewe

Saterdag 31 Oktober 1998

Stap Een: Ek moet myself finansieel rehabiliteer. Ek is moeg daarvoor om ’n armgat te wees. Hierdie bemagtiging sal in twee stappe bereik word: 1) skuld word nul, en 2) geld word meer.

Stap Twee: Ek moet ’n motorkar aanskaf.

Dan, die ambisie wat lank voor Stap Twee gekom het, en lank na Stap Twee nog belangrik sal wees, naamlik om te publiseer wat ek skryf.

Ek is deesdae baie besigheidsgeoriënteerd met hierdie ambisie. Watter persoon wat ’n besigheid wil begin, of ’n produk wil bemark, het nie geloof in hulle produk nie? Sal so ’n persoon tyd, moeite en geld belê in ’n produk as hulle nie glo dat hulle sukses kan behaal daarmee nie? So voel ek ook oor my “produk”.

Eugene Marais is Eugene Marais. Andre P. Brink is Andre P. Brink. En ek is ek. Daar’s die reuse van Afrikaanse literatuur, en dan is daar kantoorwerkers wat gedigte sit en skryf terwyl die baas op ’n field trip is. Maar ek glo as daar ’n produk is wat ek uit die diepte van my siel kan lewer, is dit my skryfwerk.

Ek laat myself ook nie meer toe om verlei te word deur die idealisme van om nie te wil uitverkoop aan die establishment nie. Literêre produkte word op een of ander tyd soos enige plaasproduk of verbruikersitem deel van die mark. Jy wil hê iemand moet jou werk publiseer; die mense belê hulle geld in jou en jou produk; hulle hoop dat hulle ’n opbrengs sal verdien uit hulle belegging.

Skrywers is dalk uniek in baie opsigte, maar aan die einde doen hulle wat meeste ander werkende mense doen: Hulle maak gebruik van hul vermoëns om ’n produk te lewer, en hulle word ooreenkomstig gekompenseer.

———–

[Sien die nota van 14 Januarie 2004 getiteld, “Geld en kreatiewe vryheid”.]

______________________

Situasie, probleem, en moontlike oplossings

Donderdag 13 Augustus 1998

Die Situasie:

Ek woon nou al sewe weke lank in Johannesburg. Ek werk in ’n kantoor in ’n administratiewe kapasiteit. Ek verdien tussen R1500 en R2000 per maand. Ek huur ’n kamer in Norwood vir R500 per maand. Ek het nie ’n kar nie. Ek het nie ’n behoorlike posadres nie. Ek moet R2000 per maand aan my studieskuld afbetaal. Ek woon in iemand anders se huis. Ek kyk in die aande iemand anders se TV. Ek moet op vriende staatmaak om buite ’n 3-kilometer-radius van my huis af te beweeg (behalwe wanneer ek werk toe gaan, gelukkig). Ek kan nie die sosiale aktiwiteite bekostig van die kring waarin ek beweeg nie. Ek sit nou al ses weke lank met ’n gebreekte tand, omdat ek nie geld het om iets daaraan te doen nie.

Die Probleem:

Siende dat die geld wat ek van Korea af teruggebring het amper op is, moet ek binnekort my inkomste met ten minste 250% verhoog om te verhoed dat my huidige strategie van skulddelging skipbreuk ly. Ek is afhanklik van ander mense vir woonplek, vervoer, en selfs vir goeie kos. Dis nie ’n gewenste situasie nie. Alles in my lewe is onseker. Ek moet dringend iets daaraan doen.

Moontlike Oplossings:

1. Ek moet ’n werk in Suid-Afrika kry waar ek ’n salaris van tussen vyf en ses duisend rand per maand verdien.

2. Ek moet ’n projek begin waarmee ek tussen ses en tien duisend rand per maand verdien.

3. Ek moet teruggaan Korea toe, of na ’n ander land, om Engels te teach vir ten minste een, maar verkieslik twee jaar.

______________________

Die 21e dag in Johannesburg

Sondag 19 Julie 1998

Wil ek in Suid-Afrika bly?

Suid-Afrika is waar ek die meeste van my behoeftes en ambisies kan vervul. Die enigste behoefte wat ek nie hier kan vervul nie, is die behoefte om “verder” te leef – om deel te wees van ’n groter wêreld. Selfs al het jy maar net ’n gewone lewe in ’n ander land, het dit altyd ’n dimensie van “verder” as net die plek waar jy groot geword het. Jy verbreed jou verwysingsraamwerk, jou lewenservaring, jou eerstehandse kennis van die wêreld.

Watse behoeftes kan ek hier, in Suid-Afrika, vervul? Die behoefte om deel te wees van ’n gemeenskap, om êrens te behoort, om ’n rol te speel, om betrokke te raak, om ’n herberg op eie turf op te bou, steen-vir-steen, boek-vir-boek, stoel-vir-stoel, mat-vir-mat, en een aandenking op ’n slag.

Ek het maande gelede al die insig gehad dat ek nie sommer net een dag in ’n middelklas voorstad wakker gaan word nie, dat ek nie hulpeloos ingesuig gaan word in die middelklas in nie. Die waarheid is, selfs al werk jy doelgerig daaraan vir jare om ’n Voorstedelike Kleinburger te word, is daar geen waarborg dat jy een sal word nie, siende dat jy omtrent ’n vlekvrye kredietrekord moet hê voor jy op die uitnodigingslys kan kom vir ’n tee-party in die gemiddelde voorstad. Selfs al kwalifiseer jy, hang dit steeds van jou af – wil jy werklik hierdie lewe hê?

Wat ek wil doen, is om ’n inkomste te genereer van my huis af. Die mees ambisieuse, mees ideale manier om dit te doen, is om ’n voltydse skrywer te wees. Om my inkomste aan te vul, kan ek deeltyds klasgee – EFL, geletterdheidskursusse, en so aan.

[Die kantoorwerk] wat ek op die oomblik doen, is instrumenteel tot hierdie ideaal. As ek weer oorsee gaan oor ’n paar maande, sal dit ook goed wees. Die verskil is dat ek op hierdie stadium in ’n plek is waar ek sekere belangrike behoeftes kan vervul – presies waarvoor ek in die eerste plek teruggekom het Suid-Afrika toe.

______________________

Die punt, en die opsies op Woensdag 3 Junie 1998

Woensdag 3 Junie 1998

Ek bevind myself op ’n straathoek, met ’n snaakse jas en ’n hoed op my kop, besig om na karre te staar wat mense werk toe pendel.

Maar kom ons kom by die punt. Ek het ’n paar opsies:

1. Om ’n entrepreneur te wees

2. Om weer in die buiteland werk te probeer kry

3. Om plaaslik werk te probeer kry

Wat betref die eerste opsie: Dit was die plan waarmee ek hier aangekom het op 6 Mei. Intussen het ek uitgevind dat dit tyd en geld sal vat voor ’n mens kan begin geld maak met ’n projek. Ek glo dat dit ’n risiko sal wees om myself uitsluitlik op hierdie opsie toe te spits, onder die huidige omstandighede.

Wat betref opsie twee, wat is die voordele daarvan om nou weer oorsee te gaan? Geld om studieskuld te betaal, en geld wat ek kan spaar om ná tussen ses en agtien maande terug te kom en in projekte te belê. Daar is ook die voordeel van reiservarings. Wat is die nadele? Ek is op hierdie stadium gereed om myself te verbind aan dinge – en dis ’n moerse erkenning, in ag genome my ou weersin aan die idee. Ek het ’n geweldige sterk behoefte om êrens te behoort, om betrokke te wees by organisasies en by mense, en myself te verbind aan verhoudings, en aan planne, en idees. Die dinge waaraan ek myself wil verbind is hier – in Suid-Afrika. As ek nou weer oorsee moet gaan, moet ek weer die vervulling van hierdie behoeftes op die langtermyn skuif, ’n paar tapes en ’n paar boeke en ’n paar ander los items in my rugsak gooi, en myself weer tydelik elders anders gaan vestig. Dit is teenstrydig met alles wat ek hierdie laaste paar maande gedink en besluit het. Verder is daar geen waarborg dat ek meer geld sal kan maak oorsee as wat ek op die medium- en langtermyn kan maak in my eie land nie. Laastens, wat presies wil ek oorsee doen? Ek is nie juis ekstaties oor die moontlikheid om weer English Teaching te doen in die Verre Ooste nie, en ek sien beslis nie kans om in Engeland my humeur vir ’n klomp ongeskikte kinders te gaan verloor nie.

Nou, opsie drie. Wat sal dit my baat om werk te kry in Suid-Afrika? My belangstellings is wyd, so ek hoef nie myself te beperk tot ’n spesifieke beroepsveld, of ’n bepaalde tipe werk nie. Enige iets wat rofweg binne my belangstellingsveld val, sal oukei wees, solank dit vir my ’n basiese inkomste gee. Ek hou in elk geval my oë oop, en my ore op die grond, vir ander projekte en idees om so ’n basiese inkomste aan te vul.

Woensdag 10 Junie 1998

Hier volg die konklusie van bogenoemde bespreking: Johannesburg bied tans vir my al die geleenthede wat ek wil aangryp, en dit stem die meeste ooreen met wat ek tussen Februarie en April in Korea besluit het. Ander opsies, soos English Teaching in die Ooste, of om Engeland toe te gaan, bied voordele wat Johannesburg nie noodwendig bied nie. Maar alles in ag genome, vergestalt Johannesburg tans by verre die meeste van dit wat ek nou met my lewe wil doen, en waarin ek belangstel.

______________________

Die entrepreneur opsie en ander moontlikhede

Donderdag 14 Mei 1998

Die kruispad waarby ek nou staan, is aan die een kant om soos ’n poep te wees – vir ’n klein rukkie te stink voor ek in die niet verdwyn. Aan die ander kant kan ek die uitdaging aanneem wat voor my lê: om my rekening (by wyse van spreke) met die establishment te vereffen, en dan die vryheid te hê om te kan kies wáár, hóé en op watter terme ek ’n verhouding met hierdie establishment sal hê.

Woensdag 27 Mei 1998

Dis my vierde week terug in Suid-Afrika.

Een aspek van my beplanning in Korea waar detail redelik skaars was, was die sogenaamde “entrepreneur projekte”. Wat sou dit behels? Ek het geweet dis ’n swakpunt in my beplanning, maar ek het gereken as ek eers by die huis is, sal ek met mense kan praat wat meer weet van hierdie dinge.

Dis drie weke later. Wat ek uitgevind het sover, bevestig wat ek vermoed het. Om die waarheid te sê, as jy ernstig is daaroor om geld te maak – wat ek vermoed meeste mense nie werklik is nie, is daar meer as genoeg boeke beskikbaar oor alles wat ’n mens nodig het om te weet.

Kortom, as jy glo geld gee jou mag, en jy’s desperaat genoeg om hierdie mag te bekom, is die pad wat jy moet loop nie ’n hoogs geheime, slegs bekend aan ’n gelukkige minderheid vergroeide voetpaadjie nie. Dis ’n goed gekarteerde pad, dog ’n pad wat ek glo meeste mense – wat die potensiaal het om dit te kan loop – nie kies om een of ander rede nie.

Een probleem is dat om ’n projek aan die gang te kry en dit sover te ontwikkel dat dit geld maak, jy ten minste ’n paar maande nodig het. Daar is natuurlik projekte wat vir jou vinniger ’n inkomste kan gee, maar weereens vat dit tyd om aan so ’n projek te dink.

Feit is, jy kan nie in ’n kombuis ingaan en dink jy gaan ’n meesterstuk opkook net omdat jy honger is nie. Selfs die beste sjefs het sekere dinge nodig: die regte bestanddele (geld), ’n goeie resep (metodes, konkrete planne, of spesifieke projekte), en tyd – as die sjef nie genoeg tyd het nie, gaan die eindresultaat rou wees, of dit gaan bloot platval.

Wat stel ek voor? Ek mag dalk minder as ses maande nodig hê om ’n suksesvolle projek te loods, maar vanuit die staanspoor moet ek voorbereid wees om ten minste só lank te spandeer op navorsing en voorbereiding. Ek moet ook finansieel voorbereid wees om in al my behoeftes te kan voorsien vir ten minste ses maande.

’n Plan van Aksie, dus: ’n Goeie plan vandag is beter as ’n perfekte plan môre. Ek moet ’n Plan van Aksie formuleer vir Vandag, in ag genome Vandag se Situasie, Vandag se Probleme, en Vandag se Behoeftes. Ek moet alles wat ek voorheen gesê het, heroorweeg, en alles herbeplan in ag genome die kennis wat ek vandag het oor my situasie.

Nou goed, ek gaan nie maande se gedagtes hier opsom nie. Dis voldoende om te sê ek soek steeds na dieselfde ding, naamlik die vermoë om keuses te kan maak en te kan oorgaan tot aksie. Hoe ek hierdie vermoë gaan bekom, is slegs ’n middel tot ’n doel.

Wat toewyding aan ’n middel betref – kom ons noem dit argumentsonthalwe ’n “plan” – kan ek sê dat ek nie tans besig is met ’n spesifieke idee nie. Dit kan gesê word dat ek in ’n oorgangsfase is tussen Korea en die Volgende Plan. Dit is wat ek nou hier sit en doen. Ek is besig om die Volgende Plan te bedink.

[Hierdie stuk is een van die redes hoekom ek tussen 1999 en 2004 soveel keer so naby daaraan gekom het om Taiwan te verlaat en terug te gaan Suid-Afrika toe, en tog nooit die stap geneem het nie. Ek het dit gevrees om weer by iemand anders se kombuistafel te sit en hierdie tipe joernaalinskrywing te maak.]

______________________