Een enkele faktor

Dinsdag 24 Maart 1998

Alles wat ek nog altyd gesê het oor vryheid, finansiële skuld, my ideale, my ambisies, my drome, die strewe om my potensiaal te bereik, en om te leef soos ek graag wil leef, kristalliseer rondom een enkele, noodsaaklike voorvereiste. Ek het al genoeg gesien, ervaar, gelees en gehoor om te verstaan hoe belangrik mag is: Mag om keuses te kan maak, en keuses te kan uitoefen. “Kto kgo?” het Lenin gevra. “Who (masters) whom?”

As jy nie vir die res van jou lewe die rol wil speel van die dienskneg, die skuldenaar, die persoon in selfopgelegde ekonomiese ballingskap nie, moet jy ophou hardloop en begin werk, doelgerig, daadwerklik, met ’n enkele doelwit voor oë: om te bekom wat jou vry gaan maak – van skuldeisers, van balju’s, van armoede en ’n onbeduidende bestaan, en vry van ekonomiese meesters wat oor jou baas wil speel.

As ek in die eerste plek wil oorleef, en daarna in staat wil wees om meer uit die lewe te kry as blote oorlewing, en om oor die vermoë te beskik om keuses te kan uitoefen, moet ek werk daaraan om te beskik oor die een enkele hulpbron wat hierdie dinge vir my moontlik sal maak: finansiële welvaart. Dis al wat oorbly.

Makliker gesê as gedaan? Nie as dit jou hele lewe sover, jare se armoede, skande, verleentheid, en frustrasie gevat het om by die punt te kom waar jy besef dat dit die primêre middel is tot soveel wat jy hoop om te bereik nie.

______________________

Wie se onbenydenswaardige posisie?

Woensdag 18 Maart 1998

Ek het die afgelope tyd weer diep onder die indruk gekom van sekere patrone in my lewe: my ouers se finansiële situasie, my eie finansiële rekord, my toenemende paranoia oor die teistering en moontlike regsoptrede wat ek in die gesig staar oor my onbetaalde skuld.*

’n Ander gedagte het my egter onlangs soos ’n bliksemstraal uit die bloute getref: Ek het die laaste sewe of agt jaar uitsonderlike geleenthede gehad om dinge te verstaan. Dit sluit in teologie, geskiedenis, politiek, sielkunde en mees onlangs, ekonomie.

As ek ’n saak wil uitmaak oor my onbenydenswaardige persoonlike ervarings van armoede, die probleme wat mens in die gesig staar as gevolg van finansiële skuld, en die effek wat dit het op mens se selfbeeld en selfvertroue, dan hoef ek nie veel tyd te spandeer om so ’n saak te argumenteer nie. Maar ek kan sekerlik ook ’n saak oortuigend stel oor die geleenthede wat ek sover gehad het, en steeds het, om te verstaan.

———–

* Ek het teen hierdie tyd verneem van die bank dat ek redelik spoedig my studielening moes begin terugbetaal, anders sou ek redelike ongename gevolge moes verduur.

______________________

Die sekulêre monnik (wat ’n nuwe klooster soek)

Sondag 15 Maart 1998

Ek sien myself soms as ’n voormalige monnik wat sy geloof verloor het – of een wie se godsdiens hom verloor het, en wat nou opsoek is na ’n sinvolle bestaan in die sekulêre wêreld.

Ek is egter nog nie ten volle betrokke in hierdie “nuwe” wêreld nie. Daar is weë van hierdie wêreld waarmee ek nie vertroud is nie, waarmee ek selfs ongemaklik is, veral in vergelyking met individue wat hul volwasse lewens tot dusver uitsluitlik geleef het in ’n sekulêre samelewing.

* * *

In vergelyking met meeste mense wat ek hier ken, is ek nie ’n groot sukses as ’n sogenaamde “backpack traveller” nie. Terwyl hulle swerf van een land na ’n ander en interessante plekke eerstehands ontdek, verkies ek om vir ’n tyd lank kamp op te slaan op een plek, en op ’n Sondagmiddag tydsaam deur ’n hoop koerante te werk.

’n Bietjie pateties, miskien? Hoekom? Daar sal altyd mense wees wat meer gedoen het as jy, meer gesien het as jy, meer en maller mense ontmoet het as jy, en in meer en vreemder lande meer en vreemder dinge gedoen het as jy.

Ek moenie probeer om in ander mense se voetspore te volg net omdat ek dink my manier van leef is minder indrukwekkend as hulle s’n nie.

Hou op om te kompeteer met ander mense, sê ek. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou. As dit nie vir ’n beter rede is nie, doen dit omdat jy dan nie jouself teen ander mense hoef op te weeg en jouself te lig te bevind nie, terwyl daai maatstaf maar net een uit ’n miljoen is.

______________________

Eerste treë van my tienduisendmylreis terug huis toe

Agtergrond:

1. EPIK was die staatsorganisasie wat Engelse onderwysers gewerf het vir publieke skole in Korea. Nasionaliteit was van kardinale belang; Suid-Afrikaners het nie gekwalifiseer nie. Ek het dit geweet voordat ek aansoek gedoen het, maar het nogtans ’n kans gewaag.

Die warmwaterstelsel in Korea werk met olie wat elke paar weke opgevul moet word. Ek en Mrs. Kim – wie se huis dit was – het beurte gemaak om te betaal daarvoor.

———–

Dinsdag 24 Februarie 1998

Op Maandag 16 Februarie het ek die EPIK-kantoor gebel. Die vrou het kategories verklaar dat ek nie aanvaarbaar is vir die program nie. Ek was ietwat verlig.

Op Donderdag 19 Februarie kom Mr. John Lee van Top Language Institute na my skool toe om my in te lig dat ek vanaf Maart twee ure per dag vir hom sal werk. Ek wonder toe oor die kompensasie, siende dat ek teen Maart streng gesproke my skool twee ure per dag sal skuld.

Op Sondag 22 Februarie het ek ’n befokte dag in Seoel saam met twee ander expats. Ons besoek die één plek in Korea waaroor ek regtig spyt sou wees as ek dit nie gesien het nie – die DMZ [Demilitarised Zone] tussen Noord- en Suid-Korea.

Gister, Maandag 23 Februarie, is ek in ’n antagonistiese bui. Ek het weereens nie warm water nie, en ek sou graag wou weet oor die Top affêre. Ek besluit om direk met Mrs. Kim te praat. Sy sê “as ek wil” kan ek twee ure per dag vir Top werk, dis “oukei” met haar. Ek vra hoeveel ek sal kry vir die klasse. Sy sê ₩200,000 [$200/R1,000] per maand. Dit is ₩200,000 vir veertig ure, wat uitwerk teen ₩5,000 [$5/R25] per uur. Ek sê toe vir haar: “I just happen to know Mr. Lee pays ₩15,000 per hour. What’s happening to the other ₩10,000?” Ek werk uit dat die hele storie ₩600,000 per maand werd is (volgens hoeveel Lee sy ander onderwysers betaal), waarvan ek slegs ₩200,000 sal kry. Die tafel is gedek. Ek is die moer in.

Om alles te kroon, word ek vertel dit is my beurt om te betaal vir die olie. Die bedrag is ’n verbysterende ₩189,000 [$189/R945]!

Ek sê gisteraand vir [Mrs. Kim se seun] ek voel beledig oor die ₩5,000 per uur wat ek aangebied is, en dat ek nie “cheap labour” is nie. Hy sê ek moenie kwaad wees vir hulle oor die olie nie; dis nie hulle skuld nie. Ek sê – heel beleefd – ek is nie kwaad vir hóm nie, maar hy moet ook nie kwaad wees vir mý as ek een of ander tyd sê dat die situasie dit vir my onmoontlik maak om aan te bly in Korea nie.

Die afgelope paar weke voel ek afgerem, getap, soos ek gevoel het verlede Mei toe ek gesê het, “I’m running on empty.” My keel trek toe as ek dink ek moet nog meer as vier maande hier bly. Die ekonomiese krisis het veroorsaak dat my salaris 60% van sy dollarwaarde verloor het … die warmwaterkrisis … die onpersoonlike [long-drop buite, langs die hek] … die wete dat ek steeds ’n lekker cheap bargain is vir […] Foreign Language Institute.

* * *

Gistermiddag, Maandag 23 Februarie, op pad na my middagskof, reken ek, ek het genoeg gehad. Ek gaan werk tot einde Maart, maar ek sal nie teruggaan Suid-Afrika toe nie … ek gaan Europa toe.

Die idee waai soos ’n warrelwind deur die volgende paar dae. Ek vra myself toe of ek dit nie dalk tog sal maak tot einde Junie nie.

Ek besef egter my plan gaan oor meer as net dit. Dit begin al hoe meer sin maak. Miskien sal ek dit wel kan “maak” tot Junie, maar die idee begin vorm aanneem as meer as net ’n emosionele reaksie. Dit raak toenemend die beste plan in ag genome al die relevante faktore, ongeag of ek dit sal kan maak tot einde Junie, en ongeag of ek Korea haat, of net moeg is vir haar.

Dit gaan verder terug as die warmwaterstelsel, verder terug as my lekkende krane, verder terug as die kakhuis by die hek, verder terug as die spoegdruppende mans, die lelike geboue, die vingerwysende kinders, en die asemrowende mooi vrouens.

Dit gaan terug tot by ’n warm somersaand in Desember 1995 – alleen in Stellenbosch, in ’n meubellose woonstel waarvan die huur agterstallig was, en ek wat op die balkon staan en na Gary Moore op my walkman luister wat sing, “One day the sun will shine on you”.

Sondag 8 Maart 1998

Goed, terug na die plan, maar alles is nou reeds in werking. Ek het bedank op Dinsdag 3 Maart om tien voor elf die aand.

Hoekom? Ek haal aan uit notas van 27 Februarie: “Dit gaan oor Korea, maar dit gaan meer oor die plek waar ek werk as oor die land. Dit gaan ook meer oor Europa as oor Korea én die plek waar ek werk. Meer as dit gaan dit oor ’n geleentheid – ’n geleentheid wat nóú daar is vir my om aan te gryp. Ek is bevrees as ek teen die verwagtinge hier oorleef tot einde Junie, sal ek myself binne ’n week of twee terugvind in Suid-Afrika met geen definitiewe planne of vooruitsigte nie.”

Intussen is ek ingelig dat ek nie direk Europa toe kan vlieg nie,* maar ek het nietemin voortgegaan met die bedanking. Ek bly tot einde April; verhouding met Mrs. Kim bly goed, met volle salaris én ₩200,000 bonus. Ek vlieg dan Suid-Afrika toe; wat my nog twee maande gee om planne en vooruitsigte uit te sorteer.

———–

* Ek het ’n retoerkaartjie gehad van die vorige jaar terug Johannesburg toe. Singapore Airlines het eers gesê dit is moontlik om die eindbestemming te verander, maar ’n probleem met die uitreiking van die kaartjie die vorige jaar veroorsaak toe dat hulle dit nie kon doen nie.

Dinsdag 10 Maart 1998

As ek wag tot ek ’n plan foutloos gekontempleer en geargumenteer het, gaan ek lank wag. Die beste advies aan myself is om ’n besluit te maak, die besluit uit te voer na die beste van my vermoëns, en die gevolge te aanvaar wat dit ook al mag wees.

Dit is waar die grootste risiko, en die grootste avontuur lê – in die uitvoer van ’n besluit wanneer jy bereid is om die gevolge te dra. Ek is gereed.

* * *

Moet nooit die grootsheid van die eerste tree van ’n duisendmylreis onderskat nie.

______________________

Is jou (volwasse) lewe goed?

Sondag 8 Maart 1998

Jou ouers gee jou gewoonlik jou eerste idee van hoe jou lewe sal lyk wanneer jy volgroeid en volwasse is. Uiteindelik kom jy op ’n punt in jou pre-volwasse jeug waar jy jouself vra: Is hierdie lewe goed? Is dit die lewe wat ék wil leef as ’n volwassene?

Moontlik antwoord jy positief. Fine. Maar as jy “nee” antwoord, dan dryf die ontevredenheid jou op ’n avontuur waarop jy dalk eers na jare sal besef jy is.

Die ideale situasie is waar jy ’n besliste positiewe antwoord gee wanneer jy na jou eie volwasse lewe kyk en dieselfde vraag vra wat jy oor jou ouers se lewe gevra het. ’n Positiewe antwoord sal beteken jy is in ’n bevoorregte posisie.

Indien jy kyk na jou eie lewe, en jou antwoord op die vraag is negatief, hang dit van jouself af hoe lank jy sal voortgaan om te stry vir ’n beter lewe, en op watter punt jy sal opgee, om maar net tevrede te wees met dit wat jy het.

______________________