Toekomsvisie, moontlikheid drie

DINSDAG 19 AUGUSTUS 2003

Brand Smit en sy vrou, Elsa Kleynhans, woon saam met hul twee jong kinders in Blousteensingel nommer 11. Martie, hulle oudste, is vyf en ’n half, en Ben is drie. Brand spandeer meeste van wat as die konvensionele werksdag beskou word aan sy literêre projekte. Hy werk tans aan ’n “first draft” oor die verband tussen Stryd en Kreatiwiteit, spesifiek in die konteks van die voorstedelike middelklas. Tussen sy werkskamer, die sitkamer en die kombuis is die waarskynlikheid groot dat jy ’n kopie sal kan raakvat van ten minste een van sy twee digbundels, asook die versameling opstelle en ander stukke hoofsaaklik oor sy tyd in Taiwan en Korea.

Brand se daaglikse roetine volg ’n bekende patroon. Hy staan gewoonlik op voor Elsa en die kinders, maak vir hulle ontbyt, vat die kinders kleuterskool toe, en laai dan vir Elsa by die laerskool af (waar sy ’n onderwyseres is). Dan sal hy miskien ’n draai maak by die biblioteek, en so van net na middagete se kant af is hy agter sy rekenaar.

Behalwe vir die skamele inkomste wat hy uit sy skryfwerk verdien, publiseer hy ook Engelse handboeke saam met ’n besigheidsvennoot in Taiwan. Dié onderneming verseker dat hy ten minste een keer per jaar Ooste toe gaan vir boekskoue en om besigheid te praat met plaaslike skole.

Verlede Desember was die gesin Kaap toe om by Elsa se familie te kuier, en Brand het gesweer nie weer nie. Elsa se broer is ’n plaaslike besigheidsman en gesiene lid van die gemeenskap. Hulle het, soos voorheen, nie langs dieselfde vuur gesit as die gesprek – soos amper altyd gebeur – gaan draai het by politiek en godsdiens nie. Brand het aanvanklik gesê hy dink hulle moet by die huis bly hierdie Desember, maar hy en Elsa het weer daaroor gepraat. Hulle beplan nou om dalk vir ’n week of so Mosambiek toe te gaan saam met Brand se jonger suster en haar man. Kersfees sal weer by Elsa se ouers in Bloemfontein wees, en Nuwe Jaar by sý ouers in Middelburg.

Brand praat gereeld oor die tyd wat hy in die Ooste gespandeer het. Elsa luister geduldig, al kan sy self al die stories teen hierdie tyd in presies dieselfde woorde vertel. Soms kom iemand kuier waarmee hy bevriend was in Taiwan. Hulle gesels dan tot laat in die nag oor tifone, besoedeling, epidemies, Engelse klasse en Chinees. Brand het na sy terugkeer uit Asië ingeskryf vir ’n korrespondensie kursus in Chinees by UNISA; hy vind dit ironies dat hy nou beter Chinees praat as toe hy in Taiwan gewoon het.

Toe Brand verlede jaar veertig geword het, het hy vir homself ’n grassnyer gekoop. Elsa het gelag toe hy die dag die voorstel maak, maar hy’t gereken die tyd het aangebreek om te kyk of hy nog een kan gebruik (tuindienste het tot op daai stadium die nodige instandhouding gedoen).

Brand is toegewyd aan sy vrou en hulle kinders. Hy hoop Martie gaan ’n argitek of ’n veearts word. Hoewel dit nog bietjie vroeg is om te sê, reken hy klein Ben mag dalk ook ontwikkel in ’n skrywer. Hy vertel dit vir almal wat wil hoor, en lyk elke keer verleë as Elsa vir hom sê, “laat die kind toe om sy eie mens te word”. Sy gewone reaksie – hy kan dit in die seun se oë sien. ’n Skrywer, of – wie weet? – dalk ’n dominee.

* * *

Stella Adler het gesê: “Life beats down and crushes the soul. Art reminds you that you have one.”

Brand Smit reken: “Die toekoms wag vir dié wat geduldig genoeg is om eers die betekenis van die lewe uit te werk.”

______________________

 

Sê nou maar net …

DINSDAG 19 AUGUSTUS 2003

Kom ons speel ’n speletjie. Kom ons verbeel onsself ek is verkeerd, in terme van 90% van die dinge wat ek kwytgeraak het die afgelope paar jare.

Wat sou dit beteken? Dit sou beteken dat kreatiwiteit ’n luuksheid is wat net deur die rykes geniet kan word, of dan slegs as ’n stokperdjie deur die res van ons. Dit sou beteken dat ’n mens dankbaar moet wees as jy enige job kry, en dat jy derhalwe dankbaar moet wees vir die voorreg om iemand as BAAS te kan aanspreek. Dat as jou dienste nie meer benodig word deur ’n maatskappy nie, dit maar net jou bad luck is, en heel moontlik jou eie skuld omdat jy afdankbaar was in die eerste plek. Dat jy teen die tyd wat jy skool verlaat – as jy so bevoorreg was om twaalf jaar op skool te kon spandeer – sonder drama reeds moes uitgewerk het waar jy inpas in die Groot Hiërargie, en gereed moet wees om jou plek met oortuiging te kan volstaan. Dat jy moet vat wat na jou kant toe kom, en dit maar net moet aanvaar met ’n waardige, “Dis maar soos die lewe is.” Dat jy moet trou en begin voortplant so gou as wat jy ’n job gekry het, omdat dit is wat die natuur bepaal, en wat die samelewing vereis. En dat jy hel toe gaan as jy nie glo wat die Bybel sê nie. Dit sal verder beteken dat die banke, die groot maatskappye en die regering reg is omdat hulle sterker is as jy. Dat jy die bankbestuurder, die baas en die politikus met agting en respek moet behandel omdat hulle hoër as jy is op die Hiërargie.

As hierdie dinge waar is en ek verkeerd, is ek diep in die moeilikheid.

Anyways, waar was ek laas …

______________________

 

Voltyds kreatief

MAANDAG 4 AUGUSTUS 2003

Waarom was die Beatles “larger than life”? Omdat hulle gedoen het waarvan hulle gehou het, en waarin hulle geglo het. En omdat hulle meeste van hulle produktiewe tyd daaraan gespandeer het, het hulle vermoëns toenemend verskerp.

Die feit dat hulle skeppings – hulle spesifieke tipe musiek – in aanvraag was op daai tydstip, het natuurlik ook gehelp. Maar die feit bly staan dat hulle hulself besig gehou het, op ’n voltydse basis, met dit waaroor hulle die sterkste gevoel het, dit waaraan hulle werklik geglo het. As gevolg hiervan, het hulle ’n vlak van kreatiewe vaardigheid bereik wat enige talentvolle, kreatiewe persoon kan bereik indien hy of sy hulself besig hou met dit waarvan hulle die meeste hou, vir die groter gedeelte van wat beskou word as ’n normale werksdag.

Goeie bemarking en die talente van ander mense het ook ’n belangrike rol gespeel in hulle kommersiële sukses. Maar as die individuele lede van die groep agt ure per dag moes werk by een of ander fabriek in Liverpool, en dan in die aande aan hulle musiek gewerk het – na ete en ’n bietjie TV, sou selfs die beste towenaars van bemarking nie hulle noodwendig meer middelmatige werk kon verkoop aan die massas nie.

Die Beatles was dus so groot soos wat hulle geword het, omdat hulle geslaag het in ’n ideale kombinasie – kreatiewe uitnemendheid en kommersiële sukses.

——————–

[Dit is belangrik om te benadruk dat die hele Beatles storie gewerk het omdat dít waaraan hulle met groot oorgawe die meeste van hulle tyd gespandeer het, kommersiële waarde gehad het.

Ongelukkig werk dit nie vir almal om die grootste deel van ’n “werksdag” te spandeer aan dit wat ons met die grootste passie en oortuiging wil doen nie, omdat ons steeds geld nodig het, en as dit waaraan ons meeste van ons tyd spandeer – al is dit dan meesterstukke – nie soms verhandel kan word vir kontant nie, moet ons steeds iets anders doen ter wille daarvan om fisies te kan oorleef.]

______________________

 

Foute, insigte, vrae, nuwe woordeskat en advies

SONDAG 3 AUGUSTUS 2003

Twee foute wat ek gemaak het in 1998 [tydens my eksperimentele terugkeer na Suid-Afrika]:

1. My voorbereidings was onvoldoende.

2. Ek het die knie gebuig in ’n oomblik van onsekerheid, gedink dit sal my ’n bietjie sekuriteit gee, en … ’n aanbod vir ’n job aanvaar.

En een insig:

Die rede hoekom baie gewone werkende mense in die geïndustrialiseerde “Eerste Wêreld” nie ryk is nie, is omdat hulle “goeie jobs” het, en tevrede is met wat hulle verdien. Ook omdat hulle leefstyl groei soos hulle inkomste groei, of in baie gevalle selfs hulle inkomste oortref.

Wat doen jy …

* as jy twee maande agter is met jou huispaaiemente,

* as die water- en elektrisiteitsrekeninge meer as ’n maand agterstallig is,

* as die kombuiskaste leeg is,

* as jou bankrekening uitgeput is,

* as jou motor teruggeneem is deur die bank, of enige tyd in die volgende week of twee teruggeneem gaan word,

* as die helfte van jou meubels reeds teruggeneem is, en

* as die kinders al hoe stiller raak?

Wat is, aan die einde van die dag, werklik jou opsies?

Ek het vandag ’n paar nuwe Engelse woorde geleer:

* atrium – the central court of an ancient Roman house

* niche – a suitable and satisfying role, job, or way of life; an opportunity in business; the conditions in which a species can live successfully

* ethereal – extremely delicate and light, and seeming to be too spiritual or perfect for this world

* translucent – allowing light to pass through but not transparent

en laastens …

* colander – a metal or plastic bowl with many small holes in it, used to drain water from vegetables

En ’n laaste brokkie advies:

Omring jouself met mense. Dis baie makliker om weg te breek van mense vir ’n paar ure of ’n paar dae as jy nodig het om tyd op jou eie te spandeer, as om mense bymekaar te probeer kry as jy na lang periodes van isolasie skielik ’n behoefte aan geselskap het.

______________________

Aanvaar verantwoordelikheid vir jouself in 2018

DONDERDAG 31 JULIE 2003

Die begeerte om my kreatiewe onafhanklikheid te behou, is wat ek die afgelope paar jaar aangevoer het as rede (of verskoning) hoekom ek in Taiwan moet bly. “In Suid-Afrika,” so resiteer ek altyd die rympie aan myself, “moet ’n mens bereid wees om jou kreatiewe onafhanklikheid prys te gee as jy by die gemiddelde instelling of korporasie ’n betrekking aanvaar.” Dit is hoe dit werk meeste van die tyd, en, het ek nog altyd geglo, hoe dit ook sal werk in my geval, as ek seker wil maak dat ek my hande lê op ’n voldoende maandelikse kwota oorlewingskoepons.

Ek het die afgelope paar weke tot die insig gekom dat dit juis hierdie behoefte aan kreatiewe onafhanklikheid is, en veral ook die ideaal om baas van my eie tyd te wees, wat my nie net in staat sal stel om maandeliks genoeg struggle koepons te verdien nie, maar om inderdaad … dromme rol, swepe klap … ryk te word.

Om ryk te word, is dit in die eerste plek belangrik dat jy ryk wil wees, moet weet hoekom jy ryk wil wees, en moet weet wat die alternatief is tot finansiële welstand. Dan is ’n kreatiewe, skeppende natuur wat jou in staat sal stel om vorendag te kom met idees, en ’n hardkoppige geloof dat jy kán, sál, en móét suksesvol wees, onontbeerlike eienskappe. Laastens, as jy die baas van jou eie tyd is, sewe dae per week, is daar net een ding wat in jou pad staan om finansieel onafhanklik te word – jyself.

As ek oor ’n jaar, of drie jaar, of vyf jaar finansieel onafhanklik is, sal dit die resultaat wees van ’n reeks beelde wat vorm aangeneem het in my kop, besluite wat geneem is oor hoe om die beelde te realiseer, en stappe wat op die regte tye en op die regte wyses deurgevoer is. As ek nie oor een jaar, of drie jaar, of vyf jaar finansieel onafhanklik is nie, sal dit wees omdat ek nie die beelde in my kop opgevolg het met die korrekte besluite en die korrekte aksies nie.

Ek, nou, is verantwoordelik vir my sukses ’n jaar, en drie jaar, en vyf jaar van nou af. Net soos ek een jaar, en drie jaar, en vyf jaar gelede verantwoordelik gehou moet word vir die goeie, en minder goeie resultate van wat ek tans my lewe noem.

The Universe is on my side? Ek glo dit mag dalk net moontlik wees. Die tyd is nóú. Ek is die pa van my kinders drie of vyf jaar van nou af. Ek is die seun van ’n pa en ’n ma wat sal baat by my sukses. Ek is die broer van twee susters wat ook waarde sal trek daaruit. Ek is ’n mens by wie se sukses baie ander mense, wat nou nie eens bewus is van my bestaan nie, sal baat vind.

Ek moet nóú verantwoordelikheid aanvaar vir my sukses een, en drie en vyftien jaar van nou af.

______________________