DONDERDAG 13 OKTOBER 2005
09:49
Ek dink daaraan om hierdie jaar se notas, en die projek waarvan dit deel sal word, af te sluit met die volgende woorde: Ek het my plek in die son gevind – onder ’n boom, in die skadu, saam.
17:42
Dog vir ’n oomblik dis 21 November. Toe onthou ek dis nou eers 13 Oktober. Ek het 38 dae gekry! Gratis en verniet! Om te geniet soos ek wil! Om te doen soos ek goedvind!
17:58
Nog een: ouderdom, en die ongemaklike sensasies wat daarmee gepaard gaan.
Bereken die rol en die negatiewe uitwerking van veronderstellings en kompetisie met ander mense van jou ouderdom en kulturele agtergrond.
Wat sou die resultaat wees daarvan as mens beide begin ignoreer – as jy ignoreer wat jy reken jy veronderstel is om te doen op ouderdom X of al moes gedoen het, en jy verloor belangstelling in hoeveel beter of slegter jy doen as ander mense van jou tyd en kultuur, en jy leef werklik op jou eie ritme, en volgens jou eie oortuigings?
19:35
Mens sê altyd: “If the world as we know it continues …”
Maar hoe werk dit as mens elke week in die koerante lees van ’n 1918 Spaanse griep-tipe pandemie wat “inevitably” gaan tref binne die volgende agtien of so maande? Wat sê ’n mens as hulle praat van tot vyftig miljoen slagoffers? Tot wanneer neem jy net notisie, en wanneer begin dit jou gedagtes oor jou eie toekoms te raak?
[Hierdie nota verwys na voëlgriep, spesifiek die H5N1 variant. Wikipedia: “On September 29, 2005, David Nabarro, the newly appointed Senior United Nations System Coordinator for Avian and Human Influenza, warned the world that an outbreak of avian influenza could kill 5 to 150 million people.”]
VRYDAG 14 OKTOBER 2005
12:11
Hier is ’n idee: dis die morele plig van verligte mense om hul reproduktiewe vermoëns te gebruik om die volgende geslag te produseer, sodat hulle die verligte leiers kan word van die gemeenskappe waar hulle sal woon en werk in die toekoms.
Laat ek weer probeer: dit is mý morele plig om my reproduktiewe vermoëns te gebruik om ’n bydrae te maak …
19:03
“Verander (of verbeter) die omgewing, en jy verander (of verbeter) die mens,” klink na soveel werkwoorde, en soveel ander woordsoorte. Tog, die idee vervat in hierdie kombinasie van klanke was die hoeksteen van Marxisme.
SATERDAG 15 OKTOBER 2005
09:26
Die moontlikheid van lewe na die dood kom altyd neer op argument en beredenering aan die een kant, en vertellings aan die ander kant. Niemand kan sê, “Laat ek jou gaan wys nie!”
* * *
So naby aan iemand dat jy haar voel asemhaal teen jou borskas, en haar hart voel klop teen joune.
* * *
Ons – die lede van die gemeenskap – kom ooreen, ter wille van burgerlike beheer, dat elkeen verantwoordelikheid moet neem vir sy of haar eie aksies – behalwe as jy te jonk is of klinies versteurd is. Nietemin, vrye wil is nie heeltemal so vry soos wat ons graag wil hê dit moet wees nie.
13:55
Ek het “Persoonlike Agenda” al baie dinge genoem, maar in ’n voortgesette poging om die identiteit, as’t ware, van die projek te kristalliseer, sê ek weer: die materiaal is persoonlike getuienis van die pogings van een mens – nie ’n befaamde skrywer, beroemde vermaaklikheidster of bekende atleet nie – om sin te probeer maak van die lewe, meestal buite die religieus goedgekeurde verduidelikings wat oorspronklik aan hom gebied is.
______________________