MAANDAG 26 APRIL 2004
[Ek het op hierdie Maandag aan die einde van April 2004 ’n elektroniese dokument met teks begin vul wat uiteindelik die SLOTHOOFSTUK sou word. Die volgende paragrawe – wat ’n ou tema aanraak – was dus die oorspronklike begin van wat ek gereken het die laaste stuk sal wees van die “Persoonlike Agenda” projek.]
Die idee van “ballingskap” is steeds ’n bruikbare konsep om te verduidelik – aan myself, meer as aan enige leser van hierdie teks – wat ek die afgelope tien jaar van my lewe gedoen het.
Ek het onlangs gereken dat my ballingskap in werklikheid begin het toe ek teruggekeer het van ’n vyf-week besoek aan Europa in 1995. Van die dag wat ek weer my voete op Republiek grond gesit het, het ek myself soms onbewustelik, en soms doelbewus gedistansieer van die wêreld om my – ’n geval van, “Ek is nie regtig hier nie. Ek is eintlik op pad êrens heen …”
In 1995 het ek besef dat die tyd wat ek vir jare al gevrees het, aangebreek het. Ek moes begin om meer geld te maak as wat ek verdien het met deeltydse werk as ’n student, want ek moes die post-universiteit wêreld van verantwoordelike volwassenes betree. Ek het ook geweet my stryd was elementêr: dit was óf geld verdien, óf boemelaarskap.
Om alles ’n bietjie te kompliseer, het ek ook gely onder die ietwat verwaande oortuiging dat ek “spesiaal” is, dat om “net” ’n konvensionele lewe na te streef sal beteken dat ek die eintlike doel van my lewe sal mis.
Twee jaar in Korea en meer as vyf jaar in Taiwan was hoe ek probeer het om verantwoordelik te wees sonder om vasgevang te word in die “rat race” – of dan, my eie oorvereenvoudigde beskouing daarvan, en terselfdertyd te poog om uit te sorteer presies wat die doel en sin van my lewe is, of veronderstel is om te wees.
Dit was ’n lang reis; nie so lank of moeilik soos ons voormalige legendariese president s’n nie, maar lank genoeg in my eie boek – by wyse van spreke.
Wat is hierdie boek waarvoor jy, die leser, soveel ure se vermaak opoffer? Is dit die moeite werd om te lees van my soeke na identiteit? Is dit interessant om te lees oor planne wat vir geen persoon buite my intieme binnekring van enige waarde is nie?
Hierdie boek is uiteindelik ’n klein venstertjie op die lewe van net nog ’n mens-dier, in meer opsigte soos jy as wat jy dalk bereid is om te erken in helder daglig. Dit is ’n storie wat handel oor één persoon se soeke na identiteit, na sy plek in die wêreld, en na wat vir hom belangrik is.
As ek nooit hierdie boek geskryf het nie, sou die wêreld heel moontlik dieselfde daarna uitgesien het as nou. Geen aardskuddende ontdekkings is gemaak nie. Geen bisarre staaltjies is vertel wat dalk vermaaklik kon wees nie. In bleker oomblikke kan mens selfs sover gaan om te sê dat hierdie hele literêre projek ’n mors van tyd was – in die Groter Beskouing van Dinge.
Die waarheid is egter dat ons daaglikse bestaan soms ver verwyderd voel van die Groter Beskouing van Dinge. Ons leef in die wêreld van vrot melk en kinders wat skree en vals musiek. Ons leef in ’n wêreld waar misdadigers wegkom met hulle kriminele dade, waar mense noukeurig bou aan kaarthuise wat deur ’n kil windjie omgewaai word die oomblik as hulle anderkant toe kyk om te sien hoe die son ondergaan. Dit is in hierdie wêreld waarin ek die afgelope tien jaar gesit en skryf het, en dit is in hierdie wêreld waar ek my heil moet vind.
Is my boek dus belangrik? Ja, want ék dink dis belangrik.
Dink jý hierdie boek is belangrik? Omdat ek nie my brood moet botter met geld wat ek verdien uit hierdie materiaal nie, kan ek eerlikwaar sê dat dit nie saak maak wat enige iemand daarvan dink nie. Dit is geskryf. Dit kan gelees word. Dis belangriker as ’n Koreaanse resepteboek in die gemiddelde Suid-Afrikaanse kombuis, maar minder belangrik as die Bybel. As enige iets waarde kan hê afhangende van die persoon of die situasie, dan kan enige iets wat enige iemand skryf oor sy of haar eie lewe, waarde hê.
So is dit dan ook met hierdie literêre projek.
Ek sit wel aan die einde met nuwe vrae, wat ek [aanvanklik] gereken het ek nie gaan vermeld in hierdie laaste hoofstuk nie [maar wat sover reeds genoem is in enkele aantekeninge]. Die vrae sluit aan by van die vraagstukke wat ek gedink het ek vir myself opgelos het deur die jare, maar wat teruggesluip het in die middel van die nag met skrikwekkende nuwe formulerings.
Hoe, om een voorbeeld te noem, definieer ’n mens die “self”? “Vind” jy jouself, of besluit jy wie jy wil wees, en word dit dan?
Hoe definieer ek konsepte soos “huis” en “plek” wat so gereeld gebruik is in hierdie bladsye, en wat mens altyd veronderstel almal op dieselfde wyse verstaan?
En nou dat ons op hierdie punt is, wat moet mens maak met die idee dat die raamwerk en beperkinge van taal van allergrootste belang is in filosofiese vraagstukke? Beteken dit “ek” is veel meer ’n produk van my kulturele herkoms, en veel meer afhanklik van veral die Afrikaanse en Engelse taalgemeenskappe as wat ek voorheen vermoed het? Sekerlik kan mens ’n bewussyn hê van die “self” sonder taal, dan nie? Maar kan ’n mens uitdrukking gee aan jou selfbewussyn as jy nooit ’n taal bemeester het nie, as jy nooit deel was van ’n gemeenskap wat ooreenkom oor die betekenis van die klanke waaruit ’n taal bestaan nie?
Wat is die mens dan, anders as ’n hoogs ontwikkelde soogdier?
En hoekom, terloops, is dit so belangrik om meer te wees as net nog ’n soogdier? Ek meen, eerder ’n soogdier as ’n reptiel, reg? Of is ek snobisties?
______________________