Ek besit sewe onderbroeke …

SONDAG 25 APRIL 2004

Stelling: Ek het ’n plek, ’n huis nodig gehad ten einde te kon weet wie ek is.

Vermoede: Miskien het mens ook besittings nodig om te kan sê wie jy is – soos ’n versameling van amper 200 flieks wat sê, “Ek hou van movies,” of wat bevestig wat jy beweer jy is, of waarvan jy hou.

Vraag: Is die ideaal om sonder plek, en sonder besittings te kan sê, en te weet wie jy is?

Opvolgvraag: Wat anders definieer identiteit? Verhoudings, waarmee jy jou tyd verwyl elke dag, wat jy doen vir geld, waaraan jy glo, waaroor jy meeste van die tyd gesprekke voer …

Bogenoemde lei tot ’n interessante vraag: As jy geen tuiste het nie, geen besittings nie, geen vriende of familie nie, as jy nie veel doen terwyl jy wakker is nie, niks doen om geld te maak nie, jy’t geen godsdienstige oortuigings nie, as jy nooit enige gesprekke voer of reageer op iemand anders se spraak nie, wie is jy dan? Wat is jy?

As jy jouself bevind in ’n stedelike omgewing, jy oor geen kapitaal beskik nie, geen huisvesting van jou eie het nie, geen inkomste verdien nie, en daagliks net genoeg doen om fisies aan die lewe te bly, kom dit in die praktyk daarop neer dat jy uit asdromme eet (wat beteken jy’s ’n “boemelaar”), of kos bedel (’n “bedelaar”), en dat jy elke nag slaap waar jy naastenby beskerm is teen die elemente (weereens ’n “boemelaar”).

Dus, as jy nie ’n tuiste het nie, geen besittings het nie, geen verhoudings met enige iemand het nie, aan niks glo nie, as jy slegs ’n bietjie moeite doen een of twee keer per dag om ’n paar eetbare stukkies oorskiet en ’n bietjie vloeistof te vind voor jy weer gaan lê op enige plek waar jy jou lyf kan uitstrek, niks doen vir geld nie, en nooit praat of reageer as iemand met jou praat nie, word jou identiteit noodwendig gedefinieer deur al bogenoemde, en die gemeenskap neem dit dan op hulself om jou te definieer as sulks.

In meeste gevalle sal die eindresultaat wees dat jy ’n “boemelaar” genoem sal word, en so aanvaar sal word in en deur die gemeenskap. Omdat jy dus misluk het daarin om jouself op ’n soortgelyke wyse te definieer as hoe meeste ander mense hulself definieer – naamlik, om jouself in bekende kategorieë te plaas en deur elemente van identiteit te gebruik wat bekend is aan meeste mense in die gemeenskap, sal jy geplaas word op die laagste trappie van die sosiale hiërargie.

Kan mens dan anders as om af te lei dat woning, besittings, verhoudings, oortuigings, aktiwiteite (kreatief en andersins), en woorde en reaksies noodsaaklik is vir ons om te kan wéét wie en wat ons is, en om onsself op verstaanbare wyse te kan “aanbied” aan die Gemeenskap?

Wie is ek dan? Kom ons kyk: In terme van aardse besittings, is ek die trotse eienaar van sewe onderbroeke, twee langbroeke, ’n paar hemde en ’n paar tekkies, ’n paar meubelstukke, ’n rekenaar, ’n notaboek en vyf penne (twee bloues, twee rooies en ’n swarte); ek woon in my sitkamer; ek droom van ’n verhouding met Marilyn Monroe se Taiwannese niggie; ek koester geen geloof in dogmatiese religie nie; ek skryf boeke wat nooit geld sal maak nie; ek reageer net as iemand nonsens praat, en sê andersins nie veel nie …

______________________