Oor vyf jaar – die afgelope vyftien jaar – ouer se verantwoordelikheid

DINSDAG 17 FEBRUARIE 2004

Ek weet wie ek gister was, en ek weet wie ek vandag is – maar wie gaan ek môre wees, of oor vyf jaar? Ek het nie nodig om presies te weet nie, maar mens sal graag net ’n idee wil hê … of dalk ’n verwagting.

Wie jy gaan wees word natuurlik beïnvloed deur wie jy gister was, en vandag is; maar wie jy môre wíl wees, beïnvloed ook wie jy vandag ís, hoe jy vandag jou tyd spandeer, en selfs hoe jy vandag voel oor jouself.

* * *

Ek dink terug aan die afgelope vyftien jaar. My enigste groot plan wat ooit gerealiseer het, was om op Stellenbosch te gaan studeer.

Voorbeelde: teen einde 1989 wou ek teologie gaan studeer, maar wat uitgewerk het was ’n BA-graad met die oog op onderwys; ek wou reeds in 1990 Stellenbosch toe gaan, maar ’n tekort aan geld het my gedwing om my eerste jaar op Tukkies te doen; in 1995 wou ek vir ten minste ’n paar maande Europa toe gaan, maar ek was terug in Suid-Afrika na vyf weke; in Januarie ’96 het ek gedink aan werk soek in Pretoria en omgewing, maar teen einde Junie was ek op pad Suid-Korea toe; in 1998 wou ek Engeland toe gaan, maar het uiteindelik teruggekeer Suid-Afrika toe; terug in Suid-Afrika was my oorspronklike plan om ’n paar projekte aan die gang te kry, maar ek het ’n deeltydse betrekking in Johannesburg aanvaar; my groot idee in 1998 was om te “belong and commit” in Suid-Afrika, maar teen die middel van Januarie 1999 was ek in Taiwan.

Die enigste Groot Plan wat gerealiseer het was dus Stellenbosch. Dit is ook betekenisvol dat ek destyds langer moes vertoef in Pretoria voor die trein – by wyse van spreke – in 1991 uiteindelik met my en al my bagasie vertrek het. As ek direk na hoërskool Stellenbosch toe gegaan het, sou ek moontlik nie soveel van ’n verlore buitestander gewees het soos ek was toe ek uiteindelik as tweedejaarstudent daar aangeland het nie.

Wat sê dit van my 2004 planne? Ek weet nie, maar ek moet voortgaan om planne te maak, en om dit te probeer uitvoer. Ek moet ook geloof hê dat “alles” op een of ander manier sal “uitwerk”.

* * *

As ouer het ’n mens die verantwoordelikheid om ten minste te poog om die tipe lewe te lei waarna ’n kind kan kyk en sal sê, “Ek wil ook so ’n lewe hê.” En die kind moet dit nie net kan sê as ’n vyf- of sesjarige nie, maar as ’n tiener, en selfs as ’n jong volwassene.

As dit nie moontlik is om tans self die kwaliteit lewe te lei wat jy wil hê jou kind eendag moet hê nie, is dit jou verantwoordelikheid om jou kind op te voed en voor te berei om te streef na ’n beter lewe as die een wat jy tans jou eie noem. ’n Mens moet deeglik bewus wees van die moontlike reperkussies voor jy vir ’n kind sê, “Dis nou maar hoe dinge is. Ons almal moet dit maar net aanvaar en aangaan met ons lewens.” Wees realisties, maar laat die kind toe om te droom.

As jy as ouer nie die tipe lewe lei waarvan jy gedroom het in jou jonger dae nie, maak die kind deeglik bewus van dinge wat jy moontlik anders sou gedoen het, en wys aan die kind moontlike roetes wat hy of sy kan oorweeg om nie ook ’n “slagoffer van omstandighede” te word nie.

______________________