Notas op lughawens en in die lug

SONDAG 8 AUGUSTUS 2004

Die punt, en die kinkel

00:26

(Kuala Lumpur Internasionale Lughawe, veertig minute of so voor ons weer vertrek)

Die punt is, as wie jy is nie voorbestem is nie, kan jy wees wie jy kies om te wees (Friedrich Nietzsche: “Will a self, and thou shalt become a self”). Die kinkel is wel dat wie jy kies om te wees of wie jy kies om te word, beperk is tot jou gegewenheid – gene, sosio-kulturele en etniese agtergrond, ensovoorts – en ook deur partikulêre tyd en plek.

Steeds, om gegewenheid as ’n verskoning te gebruik om nie meer te word as wat jy veronderstel jy veronderstel is om te wees nie as gevolg van dit wat aan jou “gegee” is, is om die ongelooflike vermoë wat die mens het om hom- of haarself te transformeer, te onderskat.

Konfronteer die kluisenaar

01:09

(Steeds wagtende in die masjien)

Ek kan verstaan hoekom sommige mense kies om hulleself te isoleer van die gemeenskap, van ander mense. Dis nie noodwendig dat hulle nie van mense hou nie, dis eerder ’n geval dat hulle ’n punt bereik wat hulle nie meer gekonfronteer wil word, op ’n daaglikse basis, met dinge wat meeste mense wonderbaarlik regkry om te ignoreer nie, of wat meeste mense bloot aanvaar sonder om dit te veel te bevraagteken.

Die gemoed van die enkel-reisiger …

01:21

Die vrou in die pienk trui sit in ry, ek dink 23 of 28. Nadat ek met haar gesels het in die bussie op pad na die lughawe, het sy gewag vir die volgende hysbak na die vyfde vloer. Toe ons later wag om aan boord te gaan, het sy op dieselfde bank as ek, twee sitplekke van my af, kom sit. Ek vra haar toe, “Ni yizhi feidao Agenting ma?” (Vlieg jy non-stop na Argentinië?) Ons gesels toe ’n bietjie, en toe ons moet gaan, staan sy eerste op en stap vinnig genoeg om etlike plekke voor my in die ry te wees. Toe ek verby haar stap in die vliegtuig (na my sitplek in die gat, nommer 63D), het sy nie spesifiek na my gekyk nie, maar ek was in haar gesigsveld. Ek het myself verbeel dat sy gereed was met ’n Engelse frase as ek in die verbystap iets moes sê soos, “Lekker vlieg.”

Het ek al genoem dat ek moeg is daarvoor om alleen te reis? Ek het verlede Saterdagaand in Nommer Nege vir myself gesê dit is my volgende groot ambisie – om nie meer alleen te reis nie. Die vrou in die pienk trui sou lekker gewerk het …

Ons begin spoed optel. (Het die mense voor my nie gehoor die loods het almal beveel om hulle monde te hou nie?) Die jazz oor die luidsprekers raak al hoe jazzier, die mense praat al hoe harder, die ligte van die lughawe flits vinniger en vinniger en ons is … in die lug!

Dis ellendig om alleen te wees.

Die tuiskoms

04:55 (Suid-Afrika tyd)

Die land van my Gegewe Self kom in fokus. Die tydsberekening kon nie beter gewees het vir die musiek in my ore nie: Juluka se “Akanaki Nokunaka” (He Doesn’t Care, Even About Caring).

06:45

(Johannesburg Internasionale Lughawe)

“I was the only one / to witness my homecoming / so I asked myself / Brother Josef, how’ve you been …” (uit Africa, deur Juluka)

Een Mail & Guardian, twee sigarette, ses poskaarte – ek is immers ’n toeris – en ’n halwe bottel Orange Powerade later sit ek voor die Bureaux de Change, en vul nog ’n bladsy op in ’n notaboek wat gewoonlik ooplê op my antieke kassie in Benewelde Lig.

Oor ’n kwartier gaan ek my ou vriendin J. wakker bel, en oor hopelik ’n uur of so maak ek my dramatiese herverskyning in Dronkwordspruit.

Gaan my opinies van die afgelope paar maande verander oor die volgende vier weke? Gaan ek nuwe insigte opdoen wat huidige planne in heroorweging sal roep? Tyd sal leer.

Tyd vir ’n koppie koffie …

____________________