’n Laagtepunt wat my nou nog nagmerries gee

DONDERDAG 7 MAART 2024

Aan die einde van die film, Fight Club, sê die hoofkarakter vir sy vriendin: “You met me at a very strange time in my life.”

My vrou het my ontmoet, nie soseer op ’n vreemde tyd in my lewe nie, maar net voor ek ’n jarelange struikel begin het na ’n laagtepunt wat my nou nog soms nagmerries gee.

Tussen Maart en Julie 2003 het ek koorsagtig gewerk aan ’n stel skryfwerk wat ek later genoem het, “Die Persoonlike Agenda van Brand Smit.” En omdat ek nie opgehou skryf het aan daai tipe materiaal nie, het ek later bygevoeg dat dit Boek Een was. Die later maande van 2003 en die eerste twee maande van 2004 was ook redelik koorsagtig, met die koors wat gebreek het met “Die Februarie Plan” en “[Die Groot Ongetiteld]”. Die stof het toe gaan lê vir ’n paar weke, en teen Mei was ek weer hard aan die dink en skryf aan nuwe insigte wat veronderstel was om sin te maak van my lewe – en selfs lewe oor die algemeen. Teen Julie 2004 het ek definitief nuwe grond gebreek in terme van helderheid en vertroue in wie en wat ek was.

Teen die herfs van 2004 (Oktober in Taiwan), het ek egter op walms gery: my tenk was leeg.

En dit was presies tóé wat ek ’n sekere jong dame ontmoet het wat pas in Taiwan geland het.

Die opwinding van nuwe liefde – as ek nou moet terugkyk – het my nuwe lus vir die lewe gegee. Maar ernstige liefde is ’n ander wêreld as die een van die Alleenloper. En as jy nie meer alleen loop nie, is jy nie dieselfde mens wat jy was ’n paar maande tevore nie. Jy verskyn deurlopend aan iemand wat jy wil beïndruk, en jy verskyn anders aan jouself.

Met spirituele toewyding en oorgawe het ek in 2003 en 2004 gewerk aan stukke teks wat veronderstel was om die waarheid te ontbloot aan myself, en as dit leesbaar was, aan enige iemand in wie se hande die stukke papier sou val.

En ek het steeds notas gemaak in 2005.

Maar ek wou beter doen. Ek wou geld maak. Ek wou ’n beter lewe bewerkstellig vir nie net myself nie, maar vir die persoon wat my lewe as Alleenloper so pragtig deurmekaar gekrap het.

Min het ek geweet ek het reeds die piek van die berg bereik. Die afgrond was naby. En ek het dit al kletsend oorgesteek.

Dit sou my jare vat om weer gelyke grond te bereik.

______________________