’n Brandende begeerte om ’n goeie stelsel te ontwikkel

MAANDAG 28 MEI 2018

11:27

Twee van die boeke wat ek onlangs gelees het, The Science of Getting Rich (geskryf deur Wallace D. Wattles en gepubliseer in 1910) en Think and Grow Rich (geskryf deur Napoleon Hill en gepubliseer in 1937), plaas klem op die idee van ’n brandende, selfs verterende begeerte; iets waaraan jy konstant dink, waaraan jy totaal toegewyd is; iets waarvan almal weet waarmee jy in aanraking kom.

Siende dat jy tot ’n groot mate jou eie realiteit skep volgens jou beskouings en oortuigings, en hoe jy jouself sien, maak die idee sin. As jy ’n brandende begeerte het, gaan jou onderbewuste konstant dink aan maniere om dit te manifesteer – selfs wanneer jy slaap. Omdat jy daaroor sal praat met ander mense, gaan hulle uiteindelik aan jóú dink wanneer hulle iemand of iets teëkom wat jou kan help, en jou inlig daaroor. Jou radar gaan ook ingestel wees op enige iets wat jou kan help – soos ’n gesprek tussen twee mense agter jou in ’n ry by die bank, iets wat iemand sê op TV of op die radio, ’n opmerking wat iemand maak op sosiale media of op ’n webblad.

So het dit gekom het ek die afgelope paar dae gewonder wat mý brandende begeerte is. Sou dit te make hê met skryfwerk? Om dinge te deel met mense? Om sake waaroor ek helderheid gekry het, te probeer verhelder vir ander mense wat dit dalk nodig het? Sou dit te make hê met geld? Indien skryfwerk, of wat ek hoop om te bereik met my skryfwerk, hoekom dan al die fokus op geld? Indien finansiële onafhanklikheid, kan ek dit dan regverdig dat ek soveel tyd spandeer aan my skryfwerk?

Besef ek gisteraand toe ons in die kelder parkeer: Mý brandende begeerte is, en was die afgelope 25 jaar, ’n bepaalde leefstyl. Om vryelik te kan skryf en te kan publiseer wat ek skryf, en om met mense te kan gesels daaroor, is deel van hierdie leefstyl. Finansiële onafhanklikheid is ’n absolute vereiste om hierdie leefstyl te realiseer en te handhaaf tot ek ophou om te bestaan.

Die mees onmiddellike stap is dan om meer geld te maak – uit die aard van die saak op so ’n manier dat ek nie wat ek reeds gerealiseer het van my ideale leefstyl, verloor nie.

22:08

Volgens Napoleon Hill het Edwin C. Barnes ’n brandende begeerte gehad om ’n besigheidsvennoot te word van Thomas Edison. Na vyf jaar se harde werk en geduld, het hy sy kans gekry. Sy verterende begeerte is uiteindelik gerealiseer. Wat het hom toe gedryf?

Napoleon Hill vertel ook van sy eie seun wat gebore is met ’n spraak-en-gehoor-gebrek. Hy het in sy seun die begeerte laat groei om eendag te praat en te hoor soos mense met geen gebrek nie. Na ’n paar dekades van deursettingsvermoë, harde werk, geduld, en ’n bietjie geluk, is ook hierdie brandende begeerte gerealiseer. Sekerlik was hy steeds gedryf om die tegnologie wat dit moontlik gemaak het om sy aanvanklike gebrek te oorkom, te bemark aan ander mense met soortgelyke probleme – maar was dit ’n brandende begeerte?

’n Sekere leefstyl was 25 jaar gelede ’n brandende begeerte vir my. Dit het my gedring daartoe om sekere geleenthede aan te gryp, en ander verby te laat gaan. Die feit dat ek tot ’n groot mate reeds die hoekpilare van hierdie leefstyl opgerig het, en besig is om aan die mure te bou, is te danke aan hierdie jarelange begeerte. Maar uiteindelik moet brandende begeerte vervang word met iets meer volhoubaar: stelsels wat jou oorspronklike begeerte wat intussen werklikheid geword het, in staat te stel om te groei, en sterker te word.

Nog iets oor begeerte, en fokus

VRYDAG 23 NOVEMBER 2018

Om ’n sukses te maak van enige onderneming, moet jy fokus daarop om die projek van die grond af te kry; jy moet struikelblokke antisipeer; jy moet gereed wees met moontlike oplossings wanneer probleme oor jou pad kom; jy moet dink aan maniere om die besigheid te laat groei.

Waarvan ons hier praat, is dinkwerk. Jy kan nie net een uur per dag deur die aksies gaan vir een projek, en dan deur die aksies gaan vir nog ’n projek, en dan deur die aksies vir nog ’n projek nie. Wat jy moet doen, is om deur die aksies te gaan vir een onderneming, elke dag, en dan tussen die tye wat jy aksies neem, moet jy dink aan oplossings, stappe wat jy kan neem om die besigheid te laat groei, dinge wat jy kan doen om die diens of produk beter te maak en beter waarde te lewer. En dan neem jy weer aksies om al hierdie gedagtes te implementeer.

As jy net deur die stappe gaan en die minimum arbeid insit elke dag vir vyf of ses verskillende projekte, gaan almal halfgebak wees.

Nog iets: Heelwat van hierdie dinkwerk vind plaas op tye wanneer jy nie aktief besig is om te werk aan die projek nie. Gedagtes – idees, oplossings – dryf as’t ware op uit jou onderbewuste wanneer jy jou tande borsel, net nadat jy wakker geword het en nog na die plafon staar, wanneer jy besig is om te stort, of om jou skoene aan te trek, of wanneer jy wag vir die verkeerslig om groen te slaan en jy ingedagte voor jou staar sonder dat jy besig is om hard aan enige iets te dink. As jy vyf of ses of vier of sewe verskillende projekte aan die kook het, op watter een gaan jou onderbewuste fokus wanneer jy besig is met iets, skynbaar dinkende aan niks?

Daar is mense wat sê jy moet ’n obsessie ontwikkel oor ’n doelwit, of die suksesvolle realisasie van ’n projek, of dat jy ’n brandende begeerte daarvoor moet koester. Ekself probeer wegbly van obsessies, maar ek dink die idee hier is vlymskerp fokus. Sonder hierdie tipe fokus op een projek, gaan jy nie genoeg brandstof voorsien aan die enjins om die spreekwoordelike vliegtuig van die grond af te kry nie. As jou vliegtuig eers van die grond af is en kruishoogte bereik het, is dit ’n ander saak.

______________________