Mode, nonsens, inkopies, feite en wetenskap, en vaardighede

Week 24, 2020

MAANDAG 8 JUNIE 2020

’n Paar dae gelede kyk ons een van die laaste episodes van Gilmore Girls. Die ma en dogter is by ’n ou vriendin se troue. Die rokke wat hulle aanhet, is totaal verskillende style, maar ek maak die logiese gevolgtrekking dat albei rokke in mode was in die tyd toe die episode gewys het (2007), siende dat hierdie tipe TV-reekse van hoogs-betaalde mode-konsultante gebruik maak.

Ek kon nie help om weereens te dink hoe arbitrêr mode is nie.

Nou, ek het The Devil Wears Prada gesien, waar die duiwel aan die onskuldige domkop verduidelik hoe ingewikkeld mode eintlik is.

Wat ek nie verstaan nie, is hoekom albei daai rokke – uiteenlopende style soos dit is – op dieselfde tyd in mode kan wees. Wie besluit hieroor? Waar’s die lyn? Ek het al gesien hoe een na die ander vrou se mode keuses gekomplimenteer word, en dan verskyn nog ’n vrou op die toneel, wat in my opinie so te sê presies dieselfde mode volg, maar sy word totaal en al uitmekaar geskeur, asof sy ’n mank springbok is en hulle ’n groep hiënas.

Hoekom is bont rokke een jaar in die mode, en ’n jaar of twee later sal geen vrou in ’n bont rok begrawe wil word nie? Hoekom is sagte pastel een jaar lagwekkend, en die volgende jaar wil al wat ’n jong dame is, gesien word daarin?

Die antwoord is natuurlik dat gesaghebbendes in die mode-wêreld, die Duiwels in hulle Prada, besluit dis mode. Dis asof hulle roulette-tipe wiele het in hulle kantore in New York, of Parys, of Milan. In stede van nommers, is daar style in elke vakkie op die rand van die wiel: “Bont kolle”, “Sagte pastel”, “Oranje”, “Militêre styl”, “Hawelose”, “Hengelaar”, “Swart-en-wit”, “Pers met geel ontploffings”. ’n Paar maande voor die begin van elke “seisoen” spin die ontwerpers dan hulle wiele, en noteer waar die balletjie val. Dan ontwerp hulle. En al die modelle trek “Hengelaar” aan, of “Hawelose”, of “Sagte Pastel”. En miljoene vrouens en mans dink dis geniaal, en wonderlik, en kan nie wag nie om by ’n winkel te kom en hardverdiende geld te spandeer aan kledingstukke wat hulle oor vyf jaar hewig sal ontken hulle ooit gedra het.

“Het ek jou nie ’n paar jaar gelede ook in ‘Hengelaar’ gesien nie?” sal iemand by ’n partytjie vra. “Nooit!” sal die vrou gil, en badkamer toe hardloop in haar bont “Militêre Styl” rok.

Selfde met die nuutste gier van mans wat duur leerskoene dra sonder sokkies. Hoe het dit gebeur? Een of ander ontwerper het eendag vergeet om sy sokkies te was, en toe’t hy niks skoon pare om die volgende oggend na ’n vergadering toe aan te trek nie. “Ek weet!” roep hy toe uit. “Ek gaan my duur Italiaanse skoene dra met ’n duur langbroek, sonder sokkies! En omdat dit ék is, gaan almal dink dis die nuwe mode!” En die oomblik toe die nuus breek, het jong mans – en ouer mans wat dink hulle het ’n sin vir mode – gedink dis die beste ontdekking in jare. “Natuurlik!” het hulle in een stem gesing. “Ons sien dit nou! Harde leerskoene teen jou vel! Die skille het uiteindelik van ons oë afgeval!”

DINSDAG 9 JUNIE 2020

’n Vriendelike kennisgewing aan vriende, familie en algemene lesers van hierdie inhoud: Ek sal jou voortaan nie meer ernstig opneem as jy een van die woorde of frases in die volgende lys in gesprek met my gebruik nie. Ek sal jou inderdaad beskou as ’n intellektueel vlak babbelaar, of selfs as een wat ingesuig is in ’n fundamentalistiese godsdienstige beweging – dit wil sê, tensy jy bereid is om hierdie gelaaide frases te verdedig met logiese argument en behoorlike historiese verwysings, en sonder om nog meer vae binnegroep terminologie te gebruik.

Die lys (ek skryf dit in Engels omdat meeste Afrikaanse mense seker meer bekend is met die Engelse weergawes):

• Fascist
• Anti-fascist
• White supremacist
• White privilege
• White fragility
• Patriarchy
• “Sex is a spectrum”
• Transphobia
• Islamophobia
• “Diversity, Equity and Inclusion”
• Non-binary
• Cultural appropriation
• Intersectional
• Systemic racism
• Cisgender
• Heteronormativity
• Fat shaming
• Toxic masculinity
• White tears

Om duidelik te wees, ek sê nie dat jy nie hierdie woorde of frases mag gebruik in gesprek met my nie. Hoekom sal ek? Ek glo in vrye spraak! Jy kan sê net wat jy wil! Wat ek wel sê, is dat ek jou op ’n sekere onvleiende manier sal beskou as jy hierdie terme gebruik.

As jy egter sê: “Wel, fok jou. Ek sal my gebruik van hierdie terme verdedig. Jy moet maar vir jou ’n toebroodjie en ’n koppie koffie kry, want ons gaan nog ’n rukkie wees,” sal ek daai koffie en toebroodjie gaan haal en my voorberei op ’n interessante debat Dis nou te sê as jy my nie teleurstel met nog meer jargon en geen logika of historiese verwysing nie.

WOENSDAG 10 JUNIE 2020

Jou woonstelmaat sê hy gaan winkel toe en vra of hy vir jou iets kan terug bring.

Jy sê, “Ja, dankie. Koop vir my ’n paar appels en piesangs, en ’n bottel mineraalwater. Hier’s die geld.”

’n Uur later kom hy terug en gee vir jou ’n pak sout-en-asyn skyfies, ’n sak lemoene en ’n bottel sonneblomolie.

Jy skud jou kop ongelowig en vra wat aangaan.

Hy sê, wel, is dit nie wat jy gevra het hy moet bring nie.

Of hy sê, wel, dis sy interpretasie van wat jy wou gehad het, en hy gaan hewig ontsteld wees as jy beweer sy interpretasie is verkeerd.

En dit, dames en here, is die probleem met besprekings oor waardes en ideologie deesdae. Woorde soos “rassisme” en “fascisme” en “wit oppergesag” het deesdae ’n totaal ander betekenis as wat jy nog altyd gedink het. Deesdae kan ’n Joodse persoon wie se ouma gesterf het in ’n Duitse konsentrasiekamp ’n Nazi genoem word – of nog meer absurd, ’n Werklike Nazi, wat dalk moet beteken dat hy werklik daar was, op die paradegrond in Nuremberg toe Hitler ’n toespraak gelewer het oor die Joodse Vraagstuk. ’n Swart intellektueel wat logika en historiese data gebruik in sy argument dat mense verantwoordelikheid moet aanvaar vir hulle eie lewens, en hul eie toekoms moet skep en nie gedefinieer moet word deur die verlede nie, word ’n “Uncle Tom” genoem, of – soos mens kan verwag in hierdie absurde tyd – ’n volgeling van Wit Oppergesag.

En moenie waag om jouself ’n nie-rassis te noem nie. Moenie eens dink daaraan om te beweer dat jy ter harte geneem het wat Martin Luther King gesê het in 1963 nie, dat mense behandel moet word volgens hulle karakter en nie volgens die kleur van hulle velle nie. Jy sal beskuldig word daarvan dat jy ’n selfs groter rassis is as George Wallace – die goewerneur van Alabama in die 1960’s, en nog moontlik gevaarliker ook.

Nee wat, beste om maar deesdae jou eie inkopies te doen.

DONDERDAG 11 JUNIE 2020

Feite. Iets wat deur herhaaldelike, onbevooroordeelde toetsing definitief bewys of weerlê kan word.

“Onbevooroordeeld?” vra jy dalk.

’n Onbevooroordeelde persoon is iemand wat nie omgee of suiwer water op seevlak kook teen 74,5 grade Celsius of teen 100 grade Celsius nie. Hulle kook eenvoudig die water en teken die temperatuur aan waarop die water kookpunt bereik. Hulle kan honderd of duisend keer water kook om die resultaat te bevestig. Aan die einde van hierdie reeks toetse is dit moontlik om te sê dat suiwer water op seevlak kook teen X-graad Celsius.

“Wat,” sou iemand in hierdie interessante tye vra, “as ’n Trans Persoon van Kleur bevestig wat reeds in ander eksperimente bepaal is, naamlik dat suiwer water op seevlak kook teen 100 grade Celsius, en ’n Cis-geslag Blanke Man sê dat suiwer water op seevlak kook teen 85,3 grade Celsius?”

Ek sou sê die persoon wat bevestig het dat suiwer water op seevlak kook teen 100 grade Celsius, korrek is.

“Sê nou maar dis andersom?” vra iemand dalk. “Wat as die Trans Persoon van Kleur verklaar dat suiwer water op seevlak kook teen 85,3 grade Celsius, en die Cis-geslag Blanke Man sê dit kook teen 100 grade?”

Dieselfde antwoord. Is dit nie hoe wetenskap werk nie?

Wat as jou gespreksgenoot dan suggereer dat wetenskap ’n instrument is van wit oppergesag en dat dit gedekoloniseer moet word?

My raad sou wees om stadig terug te tree, iets te mompel oor ’n ander afspraak, en as jy voldoende afstand van die persoon bewerkstellig het, te begin hardloop. Moenie terugkyk nie.

VRYDAG 12 JUNIE 2020

’n Goeie manier om jouself ’n beter kans te gee op ’n rustige en gemaklike aftrede, is om in jouself te belê. Een artikel beskryf dit soos volg: “[Investing in yourself] is actually the simplest, the lowest risk, and quite possibly the most profitable investment you can make. Best of all, it usually doesn’t require a whole lot of money. What you want to do is invest in yourself in such a way that you can improve your income earning ability and your investment performance.”

Die spotprenttekenaar en skrywer, Scott Adams, gee ook in sy boek, How to Fail at Almost Everything and Still Win Big, ’n lys van vaardighede waarin elke volwassene ’n basiese kennis behoort te hê: Redevoering, Sielkunde, besigheidskryfwerk, Rekeningkunde, ontwerp (die basiese beginsels), gesprekvoering, die oorkomming van skaamheid, ’n tweede taal, gholf, behoorlike grammatika, oorredingsvermoë, tegnologie (stokperdjie-vlak), en behoorlike stemtegniek.

Na ’n bietjie oorweging, het ek vorendag gekom met ’n lys vir myself. Hier is ’n verkorte weergawe:

1. Taal – Chinees, maar ook Engels en selfs Afrikaans
2. Die opstel en instandhouding van ’n webwerf en sosiale media-profiele
3. Die bemarking en reklame van produkte op die Internet
4. Finansiële kennis – aandele, effekte, maar ook die daghandeling van indekse en buitelandse valuta
5. Self-verdediging, insluitende hand-tot-hand gevegstegnieke en wapengebruik
6. Kook en bak
7. Herstel van elektroniese toestelle (basiese kennis – genoeg om nie jouself dood te skok nie)
8. Loodgieterwerk
9. Fotografie en videografie
10. Oorredingsvermoë
11. Grafiese ontwerp (goed genoeg om my eie buiteblaaie te ontwerp, en so aan)
12. Redevoering

______________________