SATERDAG 5 MEI 2018
Ek het reeds vasgestel en uitgewys dat ek nie veel geleer het van geldmaak by my ouers nie, net soos my ouers nie veel geleer het daarvan by húlle ouers nie, en hulle ouers nie veel geleer het by húlle ouers nie, en so aan.
Besef ek nou net, as ek wou geleer het van pottebakkery, en van enjins en karre, het ek met my agterent in die spreekwoordelike botter geval. My ma was hoogs bekwaam met ’n pottebakkerswiel, en as ons belangstelling getoon het, was sy altyd gretig om ons te leer. En dit was my pa se verantwoordelikheid om die kar wat ons gehad het, aan die loop te hou. Op ’n tyd was ’n goedkoop skedonk al waarvoor daar geld was, so my pa moes ’n wonderwerk uitvoer om dit reg te maak en op te bou tot ’n werkende toestand. En ek moes altyd help. Daar was altyd lesse, en instruksies – dit is hoe hierdie deel werk … dit is hierdie stuk gereedskap se naam … dit is hoe jy daai regmaak.
Dit is wel so dat ek nie veel belanggestel het in pottebakkery of motor-enjins of karre regmaak nie. (Oor veral laasgenoemde was ek al ’n paar keer in my lewe spyt.) Indien ek wel belangstelling getoon het, kon ek reeds teen my laat tienerjare ’n sterk fondasie gehad het vir wat ek dalk later kon nastreef as ’n ambag of ’n professie. Of wat ek kon gebruik om geld te maak buite ’n formele beroep.
My grootouers, en ses of sewe geslagte voor hulle, was veeboere. My ma was ’n kunstenaar, en my pa – ten spyte van sy ambisies om ’n witboordjie professie na te streef, was ’n motorwerktuigkundige. En beide my ouers het uitsonderlike talent gehad op hierdie twee terreine.
DONDERDAG 15 NOVEMBER 2018
Ek kyk deesdae terug en sê ek wens my ouers het my geleer van beleggings en bemarking en hoe om min of meer sosiale gelykes te oortuig om vir jou te werk en hoe om met selfvertroue ’n produk of ’n diens te verkoop. Feit is, hulle het nie. Maar, soos ek sê in die eerste deel van hierdie teks, as ek wou leer van pottebakkery – en daar’s baie om te leer, of van karre regmaak, selfs hoe om ’n ou skedonk te koop en te herstel en te verkoop teen ’n wins (wat my pa moes doen want die kar was te swaar op petrol), kon ek nie gevra het vir beter leermeesters nie.
Dit klink ’n bietjie soos die kind vir wie ’n toebroodjie gegee word, maar wat dan eerder hongerly omdat dit nie hoenderpastei is nie: “Ek wou leer van bemarking en advertensies en beleggings, en al wat my ouers my kon leer was van pottebakkery en karre regmaak!”
In my verdediging kan ek sê dat ’n mens nie juis jou belangstellings kies wanneer jy agt jaar oud is, of tien of veertien nie – jy ontdek dit. Plus, dit was nie asof ek op veertienjarige ouderdom geweet het ek sou twintig jaar later kon doen met kennis oor beleggings, en personeelbestuur, en betaalde advertensieveldtogte en verkoop-en-bemark nie.
______________________