DINSDAG 12 JULIE 2005
14:10
Wat is ’n geïntegreerde beskouing van bestaan?
Vir my bring dit Freud en Christus bymekaar, samelewing en bloedselle, mense en diere en bome, die verlede, die hede en die toekoms. Dit bring bymekaar wat in die mens se psige aangaan, wat tussen twee individue plaasvind in uiteenlopende situasies, en hoe een gemeenskap voortbestaan in harmonie met ’n ander. Dit bring wetenskap, chemie, sielkunde, religie, filosofie, geskiedenis, antropologie, sosiologie en biologie bymekaar.
Dit stel jou in staat om te kyk na jouself, na alles om jou, na alles wat volgens geloofwaardige bronne op ander plekke gebeur, en op ander tye gebeur het, en na ander mense wat soortgelyke ervarings van die werklikheid het as jyself, of totaal verskillende ervarings, en te verklaar dat “dinge” sin maak – of ten minste op so ’n wyse dat jy kan funksioneer in die tyd en omgewing waarin jy jouself bevind.
17:41
Ek kry vanoggend die gevoel dat iets gebreek is, of iets wat voorheen gewerk het, nie meer werk nie. Ek oorweeg dit toe, siende dat dit klink soos ’n ernstige aangeleentheid.
Na ’n paar minute reken ek: Freud het gepraat oor die mens se strewe na konstante energievlakke; ek kan beslis sê dat my interne stabiliteit versteur was die afgelope drie weke. Daar was die afwesigheid van die persoon aan wie se intieme teenwoordigheid ek gewoond geraak het die afgelope paar maande. Daar was die pyn en ongemak van die laaste twee weke in my gesig – ongemaklik naby aan ’n mens se sentrale punt van bewussyn, en derhalwe moeilik om te ignoreer. Laastens was daar my rekenaar – my primêre instrument van uitdrukking, die belangrikste instrument in die realisasie van literêre projekte en ander kommersiële projekte, en oor die algemeen my herberg in tye waar TV, movies, of mense nie my gemoed kan verlig nie. Hierdie was alles dinge wat ’n besliste uitwerking gehad het op my energievlakke, en op my algemene bewussyn.
Iets wat gebreek is? Iets wat nie meer werk nie? Ek moet bogenoemde oorweeg voor ek enige iets uitmekaar begin haal.
20:18
Kennis bring kalmte, en ondermyn irrasionele angs. As ek byvoorbeeld geweet het alles gaan uitwerk oor die volgende paar maande – skryfprojekte, besigheidsprojekte, my en [N.] se verhouding, geld, skedules, vakansies, familie, en so meer, sou ek dan kalmer gewees het?
Gepraat van kennis: Wat sou ek dink daarvan as ek toegang moes kry tot verifieerbare, onweerlegbare bewyse dat daar ’n “spirituele” dimensie is – en dat hierdie dimensie gevul is met beide goeie en slegte “geeste” (of entiteite), en dat wat jy doen met jou lewe in die “aardse” dimensie ’n effek sal hê op watter kant van die lyn jy sal eindig na jy jou laaste asem uitblaas? Dat die Christelike konsep van “hemel” en “hel” ’n simplistiese weergawe is van wat gebeur met jou “gees”. Dat dit inderdaad ’n komplekse proses is van suiwering, moontlik selfs hergeboorte, lesse leer, keuses maak, ontvanklik wees vir rigtingwysers wat jou in staat sal stel om voort te gaan op jou spirituele reis. Dat dinge wel gebeur met ’n doel. Dat sekere mense oor jou pad kom, of “gelei” word deur komplekse manipulasie deur goeie “geeste”, om jou te help – of selfs ’n geval van wedersydse konstruktiewe invloed in iets soos ’n verhouding, maar dat daar nie ’n sentrale figuur is wat toutjies trek en die een red van ’n ongeluk en toelaat dat ’n ander een gewelddadig vermoor word nie. Wat sou ek sê, of wat sou my posisie wees, as ek moet wéét dit is die waarheid?
______________________