DINSDAG 28 MEI 2013
Hoekom skryf ek?
Om ’n saak te dien?
Om ’n argument te probeer wen?
Om ’n bydrae te maak?
Ek skryf, tot ’n groot mate, om een ding te sê: Ek was hier.
WOENSDAG 3 JULIE 2013
“Wat doen ek?” vra ek myself.
Sou die ou in die tronk ook hierdie vraag aan homself vra? Indien wel, wat sou hy antwoord? Sou hy antwoord: “Niks, ek is in die tronk”?
Indien die gesinsman homself die vraag vra, sou hy sekerlik antwoord, “Ek sorg vir my familie.”
Is dit genoeg? Is dit goed genoeg?
Vra die pastoor of dominee of sendeling die vraag, kan hulle antwoord, “Ek doen God se wil.”
Maklik. Skuif die verantwoordelikheid oor op God. “Ek voer net opdragte uit.”
Vra die soldaat homself die vraag, is die antwoord soortgelyk aan dit wat die godsdienstige gee: ’n vooraf geformuleerde antwoord word geresiteer. Met oortuiging.
Sal die arm man of vrou in die plakkerskamp antwoord dat hulle hul bes probeer om weer op hulle voete te kom?
Vra die ma van twee kinders in ’n oorloggeteisterde gebied haarself die vraag, is dit sekerlik heeltemal redelik as sy antwoord: “Op hierdie stadium doen ek wat ek moet doen om myself en my kinders veilig en aan die lewe te hou.”
Wat antwoord sy na die gewere stil geraak het?
Wat antwoord die egpaar wat pas teruggekeer het na die ruïnes van hulle huis na twee jaar in ’n vlugtelingkamp?
Wat antwoord die heroïenverslaafde?
Wat antwoord die alkoholis wanneer hy sy eerste sopie van die dag drink, kort na ontbyt?
Wat antwoord die gewetenlose besigheidsman? Sou hy antwoord, “Ek maak soveel geld as wat ek kan,” asof jy dit sekerlik kon raai?
Is hy werklik tevrede daarmee? As hy redelik intelligent is, en so nou en dan ’n bietjie dink oor dinge, en jy sit vir ’n uur saam met hom by ’n koffiewinkel of ’n kroegtoonbank, wat sou sy meer uitgebreide antwoord wees?
Wat antwoord die entrepreneur met ’n sosiale gewete?
Wat antwoord die jong politieke leier wat nog nie sy siel verkoop het nie?
Wat antwoord die skrywer, die kunstenaar, die akteur, die dramaturg, die komediant?
As almal moet koes vir koeëls of skrapnel, of hulle word wakker in die nag van hongerpyne of koue, of van die roepstem van ’n honger geliefde, reageer almal net. As enige een in die omgewing ’n geleentheid wil aangryp om ’n filosofiese vraag te vra, sal hy of sy heel waarskynlik eenkant toe gestoot word. As jy bloot reageer elke oomblik wat jy wakker is, is die antwoord op wat jy doen, voor die hand liggend.
Maar wat gebeur wanneer jy nie in onmiddellike gevaar is nie, en jy opsies het waaroor jy ’n besluit moet neem voor jy oorgaan tot aksie? Wat doen jy dan? En hoekom spesifiek daai keuse of aksie?
DONDERDAG 4 JULIE 2013
Ek kyk na die werk wat ek moet doen, vir my persoonlike geskrifte asook vir my kommersiële projekte.
My rasionele brein sê: Ek moet dit doen; anders gaan niks gebeur met die werk wat ek reeds gedoen het nie.
My emosionele brein sê: Vir elke R100 wat ek gaan insit in terme van tyd en moeite, gaan ek tussen vyf sent en R1 terugkry. (“Maar ek moet dit seker doen; anders gaan niks gebeur met die werk wat ek reeds gedoen het nie.”)
VRYDAG 5 JULIE 2013
Wat doen ’n kat?
Die kat het nie gevra om gebore te word nie. Die kat het geen keuse gehad oor sy spesie of geslag, of oor die tyd, plek of omstandighede van sy geboorte nie.
En tog, daar is hy – of sy.
Wat doen die kat met sy daaglikse bestaan? Hy probeer deur die dag en nag kom so spanningsloos as moontlik.
Dis al wat sin maak vir hom.
______________________