Dis Maandag 22 Desember 2003, sewe minute oor twaalf in die middag. Ek het so ’n uur gelede opgestaan, ontbyt geëet, en gelees oor die verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1856. Toe het ek my wasgoed versorg, my skottelgoed gewas, my tande geborsel, en die rekenaar aangesit. Eers het ek die woorde getel van twee stukke wat ek verlede week geskryf het, en toe ’n FreeCell game begin speel. Laasgenoemde het te ingewikkeld geraak, en ek reken toe ek skryf eerder hierdie stuk oor die veranderinge wat in die nuwe jaar aangebring moet word in my lewe.
Eintlik wou ek net ’n paar dinge neersit op papier, en ek was lus om eerder te tik as om te skryf. My voorneme was spesifiek om nié ’n stuk te skryf nie – ek wou net my gedagtes agtermekaar kry.
Die oomblik toe ek die eerste sin tik, het ek egter geweet wat kom. Hierdie tipe van stukke is hoe ek myself uitdruk deesdae. Ek kan myself nie meer help nie. Ek gaan sit agter die rekenaar om net ’n onskuldige nota aan myself te skryf, maar as ek weer sien, het DIE SKRYWER my onbeleefd van die stoel afgestoot, my stuk gekaap, en sy twee vet middelvingers manies oor die sleutels begin gooi.
My planne wissel tussen twee pole. Aan die een kant is ek desperaat om einde Februarie volgende jaar terug te gaan Suid-Afrika toe; aan die ander kant wil ek nog sewe jaar in die Ooste bly. Tussen hierdie twee ekstreme lê al my begeertes, my vrese, my belangstellings, en my hoop vir ’n lewe wat beter is as die een wat ek nou my eie noem.
Ek moet myself egter dwing om ’n paar feite in die gesig te staar: a) Ek is nie meer 25 nie. b) My probleem met ’n vaste betrekking by ’n instelling of korporasie in my geboorteland is teen hierdie tyd goed gedokumenteer. Feit bly egter staan dat ek geld nodig het om te oorleef en planne uit te voer, en ek het nodig om stappe te neem om te verseker dat ek oor – wie weet? – die volgende veertig jaar kan voortgaan om kos te koop. c) My groot droom is ’n drie slaapkamer huis met ’n tuin en ’n lappie gras, in ’n stil voorstedelike area of in ’n groterige dorp in Suid-Afrika (die land waar ek gebore is en grootgeword het anders het ek hierdie boek in Frans of Duits geskryf en was my naam Dieter of Pascal).
Natuurlik is dit nie goed genoeg om net te sê jy wil ’n drie slaapkamer huis hê nie. Natuurlik moet ek bepaalde stappe neem om so ’n huis te bekom. Maar soms voel ek asof hierdie dinge alles vooraf bepaal word, en as dit nie in jou kaarte is nie, kan jy maar probeer tot jy blou in die gesig is. As dit dus in jou teeblare sê, “Woonstel in Kowloon tot jy doodgaan van eensaamheid,” gaan dit nie help as jy in desperaatheid terug gil, “Drie slaapkamer huis in stillerige dorp!” nie.
Dit help gewoonlik as my gedagtes sulke rigtings in donder diep in die nag, wanneer ek in elk geval oorweeg het om te gaan lê vir ’n paar ure.
Vanoggend staan ek toe op, en na my gebruiklike stukkie geskiedenis (die ongemaklike verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1905), besluit ek toe dat net omdat ek blykbaar nie meer ’n sosialis kan wees nie, dit nie beteken dat ek nie deur die gebruik van rasionele denke en aksie my eie maatskaplike stelsel, en gepaardgaande verhoudings kan bewerkstellig nie. Wat ’n omslagtige manier is om te sê dat ek nie glo ek noodwendig gedoem is tot ’n eensame bestaan op ’n subtropiese eiland in Noordoos-Asië nie.
Maar beteken dit ek kan volgende Februarie – oor bietjie meer as twee maande – teruggaan Suid-Afrika toe? Kan ek in die ry gaan staan vir ’n drie slaapkamer huis in ’n stillerige dorp of voorstad? Duidelik nie.
Die ander dag is ek weer herinner daaraan dat ’n mens geduldig moet wees. Goed en wel om dinge te wil uitsorteer en om antwoorde te soek, maar antwoorde val nie voor jou voete neer net omdat jy ’n slim vraag gevra het nie. So ook met ons ambisies. Net omdat ek na al die jare die woorde “drie slaapkamer huis in ’n stil area” kan prewel sonder om te dink ek verloën myself, is nie te sê dat ek al klaar een toilet en ’n halwe slaapkamer agter my naam kan skryf nie.
So kan ek aankarring en al in die rondte bly dans, vertel van hoe ek ’n sigaret gerook het, gedagtes op die trein gehad het oor die mooi berge, uiteindelik my telefoonrekening gaan betaal het, en huis toe gekom het om verder te skryf aan hierdie stuk. Die intelligente leser kan sekerlik raai wat volgende gaan kom: Ek het ’n plan nodig.
* * *
Ek reken nou al vir jare dat hierdie beroep van om Oosterse kinders die lingua franca van die wêreld te leer, beter is as om strate te vee, of om papiere op ’n kantoorlessenaar rond te skuif. Ek weet ook dat dit jou siel kan uitdroog van verveling.
Verder het dit nie my aandag ontglip dat die tye wat ek die gelukkigste was die afgelope paar jare, die tye was wat ek net twee of drie ure per dag moes spandeer om geld te maak nie, met die res van die tyd agter my rekenaar besig met my eie projekte.
Wanneer ek wel ’n uur of wat in ’n klaskamer spandeer en kontant kort daarna hande verruil, kan ek nie die implikasie ignoreer nie: Om ’n Expat English Teacher te wees in Taiwan is ideaal vir mense met onopgeloste issues wat veroorsaak dat hulle nie vrede kan vind in ’n mooi middelklas voorstad nie (of nie nou nie, in elk geval). Daar is ook ander voordele verbonde aan hierdie manier van geld maak – mens kan ’n vreemde taal bemeester, eerstehandse kontak met ander kulture, en jy ontmoet soms mense wat jy nooit andersins sou ontmoet het nie.
In kort, waar anders sou ek twaalf ure per week Engelse klasse kon gee en genoeg geld verdien daarmee om my basiese lewenskoste te dek? Waar anders kan ek, sonder om ’n enkele streep op ’n kontrak te trek, in ’n ou woonstel intrek en my muurbehangsels teen die muur vasspyker? Waar anders kan ek selfs my hawermout in die oggend met stokkies eet – wat nie werk nie, net so terloops, en ’n gesprek in Chinees voer met ’n mooi vrou buite die supermark as sy laat in die aand vir my ’n vars hoenderdy op haar braai gooi?
Waar sou ek al hierdie dinge kon doen … terwyl ek die een ballingskap opstel na die ander skryf vol weemoed en verlange na my mense?
Ek moet klaarmaak. Ek sien kortverhale in my teeblare, Chinese woordeboeke in my koffiebone, en as ek my oë opslaan na die sterre, nog ten minste sewe jaar van klasgee in die Verre Ooste. Die voordele is reeds genoem; die nadele lê hierdie hele literêre projek vol.
Een ding moet egter sneuwel in die stryd wat vir my voorlê: Ballingskap!
Vir jare al lei ek aan hierdie koorsagtige hoop dat die lewe wat ek nou my eie noem, nie die beste sal wees wat ek denkbaar kan bewerkstellig nie. Verterende vure van frustrasie en verlange smelt hierdie hoop saam met my vrese en my begeertes. Dit is wat maak dat ek al vanaf Junie 1999 ballingskap opstelle skryf. Dit is wat maak dat ek nooit verder kan sien as die volgende ses maande nie. Hoe anders as ’n mens voortdurend met skrefiesoë soek na maniere om weg te kom van ’n onvolhoubare situasie?
Ek is moeg vir ballingskap.
* * *
Is u as leser so deurmekaar soos ek? Dit moet van talent spreek om soveel te sê, en aan die einde weg te kom met so min wat nuut is. Gaan ek terug Suid-Afrika toe op vlug CX1749 wat vanaf Hong Kong vertrek op Donderdag 4 Maart 2004 om 11:50 in die nag? Dis sekerlik wat my reisagent glo.
______________________