Ouderdom – griep – morele plig – vrye wil

DONDERDAG 13 OKTOBER 2005

09:49

Ek dink daaraan om hierdie jaar se notas, en die projek waarvan dit deel sal word, af te sluit met die volgende woorde: Ek het my plek in die son gevind – onder ’n boom, in die skadu, saam.

17:42

Dog vir ’n oomblik dis 21 November. Toe onthou ek dis nou eers 13 Oktober. Ek het 38 dae gekry! Gratis en verniet! Om te geniet soos ek wil! Om te doen soos ek goedvind!

17:58

Nog een: ouderdom, en die ongemaklike sensasies wat daarmee gepaard gaan.

Bereken die rol en die negatiewe uitwerking van veronderstellings en kompetisie met ander mense van jou ouderdom en kulturele agtergrond.

Wat sou die resultaat wees daarvan as mens beide begin ignoreer – as jy ignoreer wat jy reken jy veronderstel is om te doen op ouderdom X of al moes gedoen het, en jy verloor belangstelling in hoeveel beter of slegter jy doen as ander mense van jou tyd en kultuur, en jy leef werklik op jou eie ritme, en volgens jou eie oortuigings?

19:35

Mens sê altyd: “If the world as we know it continues …”

Maar hoe werk dit as mens elke week in die koerante lees van ’n 1918 Spaanse griep-tipe pandemie wat “inevitably” gaan tref binne die volgende agtien of so maande? Wat sê ’n mens as hulle praat van tot vyftig miljoen slagoffers? Tot wanneer neem jy net notisie, en wanneer begin dit jou gedagtes oor jou eie toekoms te raak?

[Hierdie nota verwys na voëlgriep, spesifiek die H5N1 variant. Wikipedia: “On September 29, 2005, David Nabarro, the newly appointed Senior United Nations System Coordinator for Avian and Human Influenza, warned the world that an outbreak of avian influenza could kill 5 to 150 million people.”]

VRYDAG 14 OKTOBER 2005

12:11

Hier is ’n idee: dis die morele plig van verligte mense om hul reproduktiewe vermoëns te gebruik om die volgende geslag te produseer, sodat hulle die verligte leiers kan word van die gemeenskappe waar hulle sal woon en werk in die toekoms.

Laat ek weer probeer: dit is mý morele plig om my reproduktiewe vermoëns te gebruik om ’n bydrae te maak …

19:03

“Verander (of verbeter) die omgewing, en jy verander (of verbeter) die mens,” klink na soveel werkwoorde, en soveel ander woordsoorte. Tog, die idee vervat in hierdie kombinasie van klanke was die hoeksteen van Marxisme.

SATERDAG 15 OKTOBER 2005

09:26

Die moontlikheid van lewe na die dood kom altyd neer op argument en beredenering aan die een kant, en vertellings aan die ander kant. Niemand kan sê, “Laat ek jou gaan wys nie!”

* * *

So naby aan iemand dat jy haar voel asemhaal teen jou borskas, en haar hart voel klop teen joune.

* * *

Ons – die lede van die gemeenskap – kom ooreen, ter wille van burgerlike beheer, dat elkeen verantwoordelikheid moet neem vir sy of haar eie aksies – behalwe as jy te jonk is of klinies versteurd is. Nietemin, vrye wil is nie heeltemal so vry soos wat ons graag wil hê dit moet wees nie.

13:55

Ek het “Persoonlike Agenda” al baie dinge genoem, maar in ’n voortgesette poging om die identiteit, as’t ware, van die projek te kristalliseer, sê ek weer: die materiaal is persoonlike getuienis van die pogings van een mens – nie ’n befaamde skrywer, beroemde vermaaklikheidster of bekende atleet nie – om sin te probeer maak van die lewe, meestal buite die religieus goedgekeurde verduidelikings wat oorspronklik aan hom gebied is.

______________________

Triomf! Ten spyte van my veronderstellings

WOENSDAG 12 OKTOBER 2005

10:29

Ek kyk myself in die spreekwoordelike oë, en ek sien: myself, my lewe, my omgewing, alles herkenbaar van ’n jaar gelede, en twee jaar gelede …

Dan verskyn sy: ’n storie so mooi nie eens kinders sal dit glo nie.

15:50

Ek word gekonfronteer met [N.] se Stellenbosch ervarings, en na aanleiding van kriptiese beskrywings word ek weer die slagoffer van ’n bitter onaangename sensasie: teleurstelling, selfs ’n sin van mislukking.

Hoekom?!

Daai vuil aartsvyand, die groot sondebok, is weereens verantwoordelik! Veronderstellings!

Feit is, om universiteit toe te gaan, en om Stellenbosch toe te gaan, was nie oorspronklike aksies van my kant af nie. “Universiteit” was nie ’n konsep wat ek uitgedink het een middag in 1987 nie. “Stellenbosch” was nie ’n fiktiewe dorp waarmee ek een aand in 1989 vorendag gekom het terwyl ek in die bad gelê en week het nie. Albei konsepte het bestaan, vol kleurvolle beelde en implikasies lank voor ek, Brand Smit, begin dink het daaraan om op Stellenbosch te gaan studeer. En van die oomblik wat ek daaraan begin dink het – teen ’88 of ’89, het veronderstellings in my kop vorm aangeneem oor hoe dit sal wees.

Ek het myself gesien met ’n boeksak oor die skouer, stappend saam met vriende van die kafeteria na een of ander klas toe. Ek het myself gesien in ’n sogenaamde studentehuis. Ek het myself gesien met ’n mooi meisie, en ons wat hande vashou terwyl ons na klas langs die Eersterivier gaan stap, of waar ons onder eikebome op ’n bankie sit en gesels. Ek het myself gesien op ’n fiets – my eie fiets! – of in ’n goedkoop motorkar.

Dit was die beelde, die veronderstellings.

Mý Stellenbosch was aan die einde gevul met kommer en angs en finansiële probleme en eensaamheid en verlange. My eerste kamer was by ’n familie wat totale vreemdelinge was vir my tot enkele dae voor ek ingetrek het. Na ses weke het ek al hoe ongemakliker begin aansit vir aandete, wetende dat my eerste maand se huur nog nie betaal is nie. Na twee en ’n halwe maande kon nie eens die eikeblare my laat vergeet van my agterstallige huur nie. Ek het Kaap toe gegaan onder andere om nader te wees aan ’n jong dame wat ’n jaar tevore my hart laat stilstaan het, en toe weer aan die gang geskok het met die uitlating dat sy van my hou. Ses maande na ek in Stellenbosch aangekom het, het ons ooreengekom dat ons eerder net “vriende” moet wees.

Vriende? Middagetes by die kafeteria? My eie fiets? ’n Motorkar? Ek het teen die einde van my eerste jaar gewoon in ’n buitekamer wat net-net groot genoeg was vir my én die bed. Ek het lensiesop met een aartappel in gekook op ’n stofie wat in die stort gestaan het. Geld om ’n meisie uit te vat op ’n date? Koffie en koek in die dorp? Ha!

So, mý Stellenbosch ervaring was ’n teleurstelling? Kan mens verder gaan en sê dit was ’n mislukking? Net omdat dit anders was as hoe ek veronderstel het dit sou wees? Omdat dit anders was as wat dit móés wees? Watse tipe mens laat toe om soveel jare na die tyd steeds geboelie te word deur veronderstellings?

Ek sê: mý Stellenbosch ervaring was ’n triomfantlike sukses! Ek-nou is gebore uit daai ervaring! Was dit ’n pynvolle geboorte? Ja. Is die volwasse resultaat van daai swangerskap en geboorte ’n mislukking? Wat is die standaard? Wat is die veronderstelling? Eiendom, vaste betrekking, huwelik, kinders, skoolfonds, rekeninge, braaivleis op Saterdagaande saam met ou vriende? Is dit die veronderstellings van sukses as ’n volwassene, steeds? As dit is hoe dit is, is ek inderdaad fokken teleurgesteld!

Wil ek na al hierdie jare sê dat ek, Brand Smit, niks meer sal wil hê as om in ’n tydmasjien te klim en terug te reis tien, vyftien jaar in die verlede in nie? Sal ek wierook brand voor die altaar van die hoofstroom establishment, en mooi gebede resiteer voor die gode van Jan en Sannie Alleman, en mooitjies in my spoor trap om nie perdalks iets te ervaar wat nie strook met Hoe Dinge Behoort Te Wees As Jy Op Stellenbosch Studeer nie?

Is dit die saad van selfverloëning wat al die jare groei in my binneste sedert my Stellenbosch ervaring suid gedraai het? Is ek steeds teleurgesteld dat my studentejare nie gevul was met genoeg geld en ’n nice klein woonstelletjie en handjiesvashou langs die rivier en lag saam met vriende nie? Ek is wat ek is, vandag, omdat my studentejare nie so was nie!

Dis tyd om my vuis te lig, en uit te roep: “Triomf!”

Dis tyd om op ’n dak te klim en uit te skree: “My ervaring was bra kak, dis waar! Maar dank die gode daarvoor, anders was ek nie die mens wat ek vandag is nie!”

Dis tyd om, weereens, te sien dat ek lank reeds die einde van die tonnel bereik het, dat ek gebore is, dat ek geword het, dat ek nou in ’n posisie is om die bron van onnodige teleurstellings uit te wys en te sê, “Daar! Daar’s die skuldige!”

Die lewe is ’n stryd, en solank jy staande bly, wen jy. En ek, Brand Smit, het staande gebly. Ten spyte van my veronderstellings.

______________________

Heer van Ellende – identiteit – sirkel van lewe

SONDAG 2 OKTOBER 2005

’n Vraag wat soms hardop gevra word, en soms net in stilte gekontempleer word: “Hoe behoort ek te lewe?”

MAANDAG 3 OKTOBER 2005

Soms voel dit asof ek gereeld ’n nuwe saak bring na die hof van die Heer van Ellende, in ’n poging om hom te oortuig om my genade te betoon en my vry te maak as een van sy pagters.

Let wel, ek offer niks. Ek stel net keer op keer my saak, menende ek hoop om die heer te oortuig om my toe te laat om my gevoel van ellende te laat gaan, dat ek nou maar gelukkig kan wees, want …

Die Heer van Ellende sê dan net: “Dis die nuwe status quo.”

Ek sal dan vra wat dit beteken. Geen antwoord sal volg nie.

Ek sal besig raak met ander dinge tot ek later weer dieselfde saak stel. Sê die Heer van Ellende dan: “Waarvan praat jy? Hierdie is al jou status vir maande lank! As jy genade wil hê, bring vir my ’n nuwe saak!”

En dis dit.

Dit bring mens amper in die versoeking om te sê: Fok die Heer van Ellende. Wie het hom in elk geval aangestel oor my lewe?

WOENSDAG 5 OKTOBER 2005

Ek bestaan. Ek bestaan as ’n seun, ’n broer, ’n vriend, ’n minnaar, ’n digter, ’n skrywer, ’n onderwyser, en as ’n Westerling in ’n land in Noordoos-Asië.

Ek het nie altyd bestaan in al hierdie hoedanighede nie. In watse ander hoedanighede sal ek nog bestaan?

SATERDAG 8 OKTOBER 2005

19:08

As jy net oorleef, het jy nie noodwendig identiteit nodig nie. Oorlewing vereis soms net dierlike instink. Indien jy jouself wil aanwend tot oorlewing-plus, sal spesifieke identiteit uiters handig wees.

19:10

Elke oomblik in ’n mens se lewe is ’n volle sirkel van lewensdata. Die sirkel is konstant besig om te vibreer, maar dit is altyd vol. Sirkel-081005@19:11:38 is nie dieselfde as Sirkel-081005@19:11:39 nie. Ooreenkomste wissel van 99.99% tot veel minder.

Die mens se lewe is ’n konstante vloei van sirkels – of dan, ’n konstante vibrasie soos een sirkel oorgaan in ’n volgende sirkel.

Persoon X is die as waarom Persoon X se sirkels draai.

Verskille in inhoud van die sirkels raak duideliker hoe meer tyd verloop tussen sirkels. Belangrik egter om te onthou: elke sirkel is 100% vol.

Hoe meer data, en hoe meer uiteenlopend die inhoud, hoe ryker die lewe.

Risiko neem ook toe soos data vermeerder. Meer data kan egter ook kanse op oorlewing bevorder.

______________________

Middelklas intellektuele – om iets agter te laat

SONDAG 25 SEPTEMBER 2005

Wie was die leiers van suksesvolle kommunistiese rewolusies? Wie was die leiers van die Russiese Rewolusie? Is dit waar of is dit nie waar nie dat die leiers merendeels middelklas intellektuele was wat die politieke en ekonomiese mag van die industrialiste en ander lede van die heersersklas beny het, en die potensiaal gesien het daarvan om ’n rewolusie uit te voer, nie in die naam van en ter wille van middelklas intellektuele nie, maar in die naam van die werkersmassa?

Het die Bolsjewiste werklik beplan om beheer van die staat te oorhandig aan polities ongesofistikeerde en in sommige gevalle ongeletterde fabriekswerkers? Hulle het gemeen om die werkers op te lei as politieke meesters van hul eie staat … maar dit sou wees in die verre toekoms. Vir die afsienbare toekoms, was dit (weereens) die tyd van die middelklas intellektuele …

[Soos ek dit verstaan, was die plan beslis nie om spoedig die leisels van die staat te oorhandig aan werkers wie se hande nog vol olie en stof was van ’n dag se harde arbeid in die fabriek nie. Maar hulle het daadwerklik gepoog om die werkers te onderrig in politieke en ekonomiese sake. Daar was ook later leiers, nie net in die Sowjet Unie nie, maar ook in Oos-Europa, wat legitieme werkersklas geloofsbriewe kon produseer. Dit is ook waar dat die Bolsjewiste pogings brutaal onderdruk het van die kant van werkers, soldate en matrose om ’n meer demokratiese regering aan bewing te bring, in opposisie teen die Bolsjewiste.]

WOENSDAG 28 SEPTEMBER 2005

Dit is soos om in ’n winkelsentrum te staan en vir die oomblik nie te weet waar jy is nie. Jy kan jou onmiddellike omgewing beskryf, maar jy weet nie waar jy is op die kaart van die groter area waarbinne jy jouself bevind nie. Dan sien jy ’n bord, met die welkome aanduiding: “Jy is hier.”

So is dit met sommige van my notas. Ek kan my huidige lewe beskryf, maar sommige notas is meer as beskrywing: dit is soos ’n bord met ’n kaart van my lewe, met ’n vet rooi kol en ’n pyl wat sê, “Dit is waar jy is op Woensdag 28 September 2005.”

DONDERDAG 29 SEPTEMBER 2005

Tien hoop dat hulle iets waardevol agter sal laat van hul lewens. Ses besef na x-jare as volwassene dat die enigste manier hoe hulle iets kan nalaat van hul bestaan, en terselfdertyd ’n bevredigende rol kan speel, is om kinders te hê. Drie reken uiteindelik dat hulle geen kans het om iets na te laat of enigsins ’n beduidende rol te speel nie, of hulle het geen motivering vir die aksies wat van hulle vereis word om iets waardevol na te laat of ’n min of meer waardevolle rol te speel nie.

* * *

Bogenoemde is ’n oorvereenvoudigde voorstelling. In werklikheid begin vele met die proses om iets waardevol agter te laat, dinge loop skeef, en hulle lewens eindig gestroop van alle waardigheid en selfrespek.

Ander weer kry kinders in ’n desperate poging om beter te verskyn aan hulself en aan familie en vriende, net om tien jaar later, as gevolg van ’n sameloop van omstandighede, benewens die rol wat hulle speel om kinders groot te maak, ook ’n ander prominente rol te speel of bydrae te maak wat ’n onuitwisbare en baie konstruktiewe resultaat sal agterlaat van hul bestaan.

En dan is daar ander wat reken hedonisme is hul gelukkige lot en persoonlike religie, maar wat soms eindig as martelaars vir ’n goeie saak waarvoor hulle as hedoniste, jare tevore, nooit ’n minuut van hul tyd sou afknyp nie.

VRYDAG 30 SEPTEMBER 2005

Die nastrewing van enige doelwit kom neer op x-aantal fisieke aksies.

______________________

Rooi lig verkeer – Hoe …? – chaos

MAANDAG 5 SEPTEMBER 2005

Ek moet vergeet van ’n sogenaamde Ideale Self. Ek moet werk aan ’n Beter Algemene Situasie, Beter Lewenskwaliteit, Beter Gesondheid, ’n Beter Inkomste, ’n Beter Bankbalans.

SATERDAG 10 SEPTEMBER 2005

Ou in ’n bussie gly oor ’n rooi lig by ’n T-aansluiting terwyl hy op sy selfoon is. Ek verloor my humeur. Ek voel onmiddellik vies omdat ek my humeur verloor het. Ek weet woede is ’n manifestasie van magteloosheid.

Maar waarvan is sy aksie ’n manifestasie? Gaan dit net oor verkeersreëls en chaos? Of gaan dit ook oor mense wat verantwoordelikheid moet neem vir ander wie se lewens geraak kan word deur hul aksies? Sy aksie was ’n manifestasie van disrespek teenoor die lewe wat vloei in die are van ander wat die pad saam met hom gebruik, en wie se lewens geraak word deur sy blatante onverantwoordelikheid.

Hy verteenwoordig die tipe mens waaroor ek net een emosie koester.

MAANDAG 12 SEPTEMBER 2005

Wie, wat en waarom was prominente vrae vir my die afgelope paar jaar.

“Hoe?” is nog ’n belangrike saak.

Voorbeelde: Hoe funksioneer jy? Hoe weet jy enige iets? Hoe kies jy?

SATERDAG 17 SEPTEMBER 2005

’n Problematiese situasie: privaat verleentheid; nêrens om te skuil en jou waardigheid te herwin nie.

DONDERDAG 22 SEPTEMBER 2005

09:32

Vir ’n geruime tyd nou al kerm ek oor skottelgoed en stof en wasgoed en vuil teëls en chaos wat elke dag dreig om op my ineen te stort.

Besef ek gist’raand toe ek weer iets regpak of weggooi: Dit is ’n stryd, en ek wen solank chaos nie op my ineenstort nie. En hierdie stryd, is ’n daaglikse uitdaging.

21:34

Die oomblik van herstel is nie wanneer jy 100% gemotiveer is en weer aktief is nie, dit is wanneer jy van die rusbank opstaan, die lig bokant jou werkspasie aanskakel, en voortgaan om deur die aksies te gaan.

VRYDAG 23 SEPTEMBER 2005

1. Ek is uitvoerder van gedrag, konstruktief en/of destruktief, met Doel X in gedagte, en/of in die naam van Persoon Y, en/of ter wille van Persoon Z.

2. Alle kontemplasies en redenasies kom neer daarop dat ons óf die uitvoerders is van ’n plan wat ons bestaan pre-dateer, óf ons moet baie slim wees met ons lewens.

______________________