Briljante teekoppie – tyd om te verskyn

VRYDAG 11 FEBRUARIE 2005

09:27/03:27

Ek het nou net gedink: ek leef, en dink en werk (menende skryf) in ’n briljante teekoppie. My sogenaamde wêreld moet amper perfek wees om bevorderlik te wees vir die tipe gedagtes waarop ek soveel tyd spandeer en vir die tipe materiaal wat ek produseer.

Goed en wel as dit so is, as ’n sekere omgewing, en ander verwante faktore belangrik is om sekere dinge moontlik te maak. Ek wonder maar net wat ek sou gedoen het as ’n deel van my lewe op die kombuistafel geleef moes word, buite die bevorderlike grense van my pragtige teekoppie. (Moet ek myself daaraan herinner dat kloosters nie juis koffiebekers of Taiwannese mengelmoes soppe is nie?)

Wat hierdie gedagte geïnspireer het, was twee artikels wat ek gelees het in die Time magazine. Een het gehandel oor alle regte wat opgehef is in Nepal – onder andere, die reg om uitdrukking te gee aan wat jy glo, die reg om die regering te kritiseer, en die reg tot privaatheid. Ek het gewonder: Sou ek kon oorleef in so ’n situasie? Die tweede artikel het verwys na Shanghai se meestal Westerse besigheidsmanne in die negentiende eeu – al die wheeling and dealing, greasing of palms, ensovoorts. Weereens het ek gewonder: Sou ek kon oorleef in só ’n wêreld?

Is hierdie onsekerhede werklik van waarde, of is dit net interessante spekulasies?

Punt bly: kloosters is ook teekoppie omgewings wat bevorderlik is vir belangrike resultate. Plus, ek woon en werk nie juis in ’n klooster nie.

05:33

Die land van my geboorte word opgemerk.

Datum: 11 Februarie 2005

Dag: Vrydag

Tyd: 05:34

Plek: Sitplek 29K op ’n Boeing 747 op ’n hoogte van 11 887 meter bo seespieël

Klere: Swart broek, ’n groen kortmouhemp wat ek al aanhet van gisteroggend af, (skoon) blou sokkies, 2002 Merrells

Emosie: Neutraal opgewonde. Dit was ’n bliksemse lang reis, en ek was meeste van die tyd vervelig, hoewel die Time magazine gehelp het. Ek sit nou al vir amper 10 ure in ’n baie nou spasie, en ek het ’n noodsituasie aan die ontwikkel as gevolg van al die ryk kosse wat ek geëet het die afgelope agt ure. Ek dink amper konstant aan ’n sekere vroulike karakter met wie ek heelwat tyd gespandeer het die afgelope paar weke. Ek dink aan my ouers, my twee susters, hulle eersgeborenes …

15:53

Een Griekse slaai, ’n pastaslaai, ’n halwe aartappelslaai, ’n halwe pekanneut tert, en twee koppies groentee later (o, en ’n drie uur nap en ’n warm bad): Dit was ’n bietjie van ’n skok op my innerlike organisasie om alleen in Melville te wees, die slagveld vanwaar ek net betyds, en swaar gewond en beseer geretireer het ’n paar jaar gelede. Dis ook snaaks om te verskyn as “Brand-(jy-weet? [X])”.

Oor die onderwerp van mense wat kinders kry in die bewustelike of onbewustelike hoop dat dit sin en waarde aan hulle lewens sal gee, die volgende brokkie advies aan myself: oorweeg die moontlikheid dat daar aspekte is van die aangeleentheid wat ek (nog) nie verstaan nie. Miskien is dit – om jou eie kind in jou arms vas te hou – die element wat groot dinge, mooi dinge, ontsluit in sommige mense. (En in ander mense se gevalle is dit dalk iets anders.)

______________________

Op pad êrens heen

DONDERDAG 10 FEBRUARIE 2005

Ek wou gewag het tot die vliegmasjien weer die lug bestyg, maar ’n paar opmerkings moet gemaak word voor ek iets vergeet.

1. Presies ’n jaar gelede het ek diepe kontemplasies gehad daaroor om einde Februarie [2004] terug te keer Suid-Afrika toe. Die feit dat dit nou Februarie is, presies ’n jaar later, en ek wel op ’n vliegtuig sit op ’n aanloopbaan op die eiland van Borneo, is derhalwe ’n gulde geleentheid om te wonder of ek reg besluit het ’n jaar gelede. Ek kan sekerlik sê dat ek nie weet wat kon gebeur het, sou ek my “Maart rewolusie” deurgevoer het nie. Ek kan wel plegtig die opinie op rekord stel dat die afgelope twaalf maande in Taiwan goed was – in sommige opsigte veel beter as wat mens in jou mees optimistiese vooruitsigte jouself kon verbeel dinge kon wees. My lewe is steeds in Taiwan; die mense wat al die langste vir my saak maak, wat in enkele gevalle al my naam geken het nog voor ek die voornaamwoord “ek” geuiter het, is steeds aan die suidpunt van Afrika. Dit is hoekom ek nou op hierdie vliegtuig sit, teen die venster, met die Suidoos-Asiese oggendson wat my regterarm warm brand. Ek gaan, net meer as vyf maande seder ek laas my familie gesien het, weer “huis” toe – vir twee weke.

2. Soos ek deur die lughawegebou op Kota Kinabalu geskuifel het op pad na die rokershoek toe, kon ek nie anders as om dosyne ander mense te aanskou nie. ’n Vieslike gedagte het my weereens beetgepak: dat ek ’n patologiese vrees vir verveling het.

3. Punt van Krag: Vanoggend op Kaohsiung lughawe gereken dat elke mens ’n punt van krag het. Alles wat jy doen, waar jy dit doen, hoe jy jou daaglikse bestaan voer, saam met wie jy jou bestaan deel, en hoe jy kies om jou lewe aan te wend, sal óf hierdie punt versterk, óf verswak.

[02/06/15: Dink aan jou bestaan as ’n salf, of ’n room, of iets dergeliks. As jy “Tiger Balm” is, mors jy jou lewe as jy jouself smeer aan ’n stuk hout. Wend jy jouself aan tot ’n insekbyt, is jy op die regte spoor – korrekte toepassing van ’n spesifieke waarde.]

* * *

(Vier en twintig minute oor vier volgens die elektroniese wekker bo-op die TV in Kamer 533, in die Allson Klana Hotel buite Kuala Lumpur.)

Soms, in die badkamerspieël van ’n kamer in ’n transito hotel, in ’n onbekende stad in ’n land nie my eie nie, sien ek myself soos ek “werklik” is: gestroop van die klere waarin ek verskyn, alleen.

(Op die spieëltafel is my kamera, my notaboek, my paspoort en ’n vliegtuigkaartjie na die land waar ek gebore is en terug na die land waar ek deesdae ’n goeie bestaan voer.)

Soms sien ek myself soos ek verskyn: alleen in ’n hotelkamer, in ’n vreemde land, op pad êrens heen.

______________________

Vermoë om ’n doel te vervul – totalitêre staat

DINSDAG 8 FEBRUARIE 2005

08:57

Twee gedagtes:

1. Piet X is nie noodwendig “op aarde geplaas” om ’n sekere doel te vervul nie, maar hy was wel gebore met die vermoë om ’n sekere doel te vervul – soos ’n vrou gebore word met die vermoë om swanger te raak en geboorte te gee, iets wat ten nouste gekoppel is aan ’n sekere rol wat vervul moet word, of ’n doel wat gedien moet word.

2. ’n Totalitêre staat sê: Gee jouself aan die staat, en die staat gee aan jou ’n identiteit met ’n sterk nasionalistiese karakter, iets groter as jyself waarmee jy kan identifiseer en waar jy ’n tuiste sal vind, waar jy sal voel jy behoort, en talle maniere waardeur jy jou lidmaatskap gereeld kan bevestig.

14:32

Om GEGEE te word die vermoë om ’n bepaalde doel te dien, en die VRYE WIL om dit te doen, of nie.

______________________

Self-ontdekking – aanvaarding – bestaansomgewing

DINSDAG 1 FEBRUARIE 2005

Seksuele oriëntasie is ’n uitstekende illustrasie van gegewendheid, self-waarneming, waarneming van die beskouings en sogenaamde waardes van die gemeenskap (aangaande dit wat jy waarneem van jouself), en self-definiëring – wat gepaardgaan met self-aanvaarding, met die definiëring wat amper ’n formaliteit is (miskien is etikettering in hierdie geval ’n meer akkurate term), of … aanvaarding, en toepaslike self-definiëring …

WOENSDAG 2 FEBRUARIE 2005

Ek het sopas weer “187” gekyk. Twee opmerkings …

Eerste opmerking: die hele bendekultuur is gebou op twee beginsels – respek en vrees. Die onderwyser (Samuel L. Jackson) wys aan die einde vir die bendeleier dat hy (die onderwyser) hom (die bendeleier) nie respekteer nie, dat hy hom nie vrees nie, en dat hy bereid is om die prys te betaal vir disrespek, naamlik dood.

Opmerking twee: Die maatskaplike ellende, en die kultuur waarbinne soveel inner city jeug grootword, bevestig die waarde daarvan om die omgewing te verlaat wat aan jou gegee is indien dit nie bevorderlik is vir ’n goeie lewe nie.

“Nie almal kan weggaan nie,” mag jy dalk sê.

“Wat is die alternatief?” sal ek antwoord.

Plus, ek praat nie noodwendig daarvan om vir ewig weg te bly nie. Ek praat daarvan om jouself dalk net tydelik uit die omgewing te verwyder wat jou groei en ontwikkeling arresteer, jou gegewe self te konfronteer, jou “kern self” te vind, ’n self te definieer met ’n visie waarin jy kan glo, en te begin met die proses om hierdie persoon te word. Dan, na ’n verloop van tyd, kan jy altyd terugkeer en gaan wéés wat jy geword het, op die plek waar jy oorspronklik vandaan gekom het.

VRYDAG 4 FEBRUARIE 2005

Die boek Mens in Konteks sê die volgende oor self-ontdekking en -aanvaarding: “[Jy kan] in eie egtheid en warmte ’n uitnodiging tot egtheid en warmte aan ’n ander rig in ’n samesyn wat ’n veilige, nie-bedreigende ruimte skep vir die vreeslose ontdekking van wie ek is en wie jy is …”

[Amper asof die kosmos vir my wou sê, “Jy dink aan jouself en jou lewe op ’n sekere manier, en nou staan jy voor die moontlikheid om saam met iemand te wees. Hier is die brug na daai lewe toe.”]

______________________

Verveling – innerlike natuur – woordelose bewussyn

MAANDAG 31 JANUARIE 2005

Ek vermoed, en het al in die verlede ook vermoed, dat ek verveeld raak met die blote idee van iets.

Ek kyk byvoorbeeld in die Engelse handboek wat ek tans gebruik met ’n groep twaalfjarige studente en sien ’n prentjie van ’n familie in ’n agterplaas besig om te braai. Ek kyk na die volwassenes en dink, “Hoe fokken vervelig …”

Die probleem is, hierdie verveling met die blote idee van iets registreer as ’n ernstige gedagte in my brein, en dit word opgeneem in my Amptelike Gedagtes Oor Onderwerp X!

Ek dink ek is al jare lank op ’n bitter veldtog teen dinge – in sommige gevalle niks meer nie as geluk waarop ek dink ek vroeër uitgemis het, of dat dinge wat my gelukkig kon maak, glans verloor het omdat dit amper altyd met angs en onsekerheid gepaard gegaan het.

Ek glo dis net my innerlike natuur – wat in wese goed is – wat verhoed het dat ek op ander maniere uiting gegee het aan hoe ek voel.

Wat my weer by die vraag bring van “innerlike natuur” en/of “kern persoonlikheid”: dit is gegewes, dan nie? En van kardinale belang in die produsering van eindresultaat, reg? Hoe skuldig is Gegewe dan, en hoe skuldig is Vrye Wil?

[…]

Ek het nou net in die bed gelê. Ek was bewus van my liggaam. Ek was ook bewus van die gedagte dat ek bewus was van my liggaam. Ek kon ook onthou dat ek op ander tye, vroeër tye, bewus was van my liggaam. Ek kon ook onthou dat ek toe gedink het, of geweet het, dat ek bewus was van my liggaam.

Bewussyn ontwikkel; dis nie net een oomblik skielik daar nie. Tog moet daar ’n kritieke oomblik wees – die waterskeidingsoomblik in die ontwikkeling van selfbewussyn.

Daar kan sekerlik geen twyfel wees dat ’n fetus na dertig of so weke ’n bewussyn het nie. Die fetus se bewussyn en dié van die pasgebore baba (tot en met ’n paar maande) is wel uniek in die geskiedenis van die persoon se bewussyn: dis woordeloos.

Verskil tussen woordelose bewussyn, en bewussyn waar taal ’n rol begin speel …

______________________