Wat beïndruk jou, en hoekom?

DONDERDAG 9 DESEMBER 2004

Om ander mense in hul sosiale en/of professionele sirkels te beïndruk, is ’n daaglikse ambisie vir talle mense. Dit wat ’n goeie indruk moet skep, wissel van besittings wat aangeskaf is tot aksies wat geneem is, van projekte wat suksesvol afgehandel is tot nuwe arbeidsposisies wat losgeslaan is, van nuwe mense met wie kontak gemaak is tot mees onlangse seksuele verowerings.

Daar is verskeie redes hoekom mense ander wil beïndruk. Daar’s die alledaagse, “As hulle beïndruk is, sal hulle van my hou, en dan sal ek goed kan voel oor myself!” Daar is ook die meer siniese ambisie van ’n spesifieke eindresultaat wat bewerkstellig moet word, en as sekere persone beïndruk is met wat ook al opgedis word, kan die een wat die goeie indruk wou skep, wegstap met nuwe rede om die lug te snuif. ’n Laaste voorbeeld wat genoem kan word, is seksuele behoeftevervulling. ’n Teiken word geïdentifiseer na ’n oorsigtelike verkenning van die omgewing, sinne word uitgedink en gepoets deur peperment tonge lank voor dit die mond verlaat, en algemene liggaamshouding en gedrag word aangepas volgens die nuutste opvattings en modes sodat die behoeftige kan verskyn as een wat veel sterker, slimmer, koeler, en interessanter is as wat ooit in helder daglig die geval kan wees.

Wat beïndruk die beskeie noteerder van hierdie paragrawe? Immuun is hy nie vir die glans van ’n nuwe fiets wat ’n vriend of vriendin onlangs aangeskaf het nie. Projekte wat onderneem is vir persoonlike vervulling en tot suksesvolle konklusie gebring is, is ook iets waaroor hy graag sy mening wil lewer – ongeag of hy enige iets weet van die onderwerp of nie. Nuwe arbeidsposisies wat van tyd tot tyd oor die pad van mense kom, kan soms tot soveel as sestig sekondes se interessante gesprek lei, en moontlik meer as die posisie kreatiwiteit vereis, of aksies wat onderneem sal word wat werklike waarde sal hê buite die finansiële kompensasie wat dit sal meebring vir die nuut bevorderde persoon. Seksuele verowerings, ter wille daarvan om dit die volgende dag aan te wend tot verbetering van selfbeeld en meer indrukwekkende verskyning, val egter, in my beskeie opinie – en ek weet ek loop die risiko om beskuldig te word daarvan dat ek net jaloers sal wees op so ’n persoon se geluk – in swak smaak.

[Jou beurt: Waarmee probeer jy mense beïndruk, en wat probeer jy bereik daarmee? En wat beïndruk jou, en hoekom?]

______________________

Waarde – betekenis – insig – om aan te beweeg

MAANDAG 6 DESEMBER 2004

Waarde en betekenis, en die insig van kinders

Soms gaan daar ’n kwartier, ’n hele uur … miskien ’n paar ure of ’n hele dag verby, wat mens net reageer, en geen betekenisvolle ervarings het nie, en geen gedagtes dink wat, sou dit jou gewoonte wees, die moeite werd is om aan te teken nie.

Watse waarde het hierdie tye? Verseker dit bloot kontinuïteit van ’n lewe wat hopelik ook meer betekenisvolle oomblikke insluit?

Nog ’n vraag: Wat sê dit van jou bestaan as meer betekenisvolle oomblikke so ongereeld voorkom dat jy in trane wil uitbars wanneer dit wel gebeur?

* * *

Judy, sesjarige leerling in my een klas, staan van haar plek af op, loop na my toe waar ek agter my lessenaar in die klaskamer sit, en sê: “Ek het gesien jy praat met iemand, maar ek kon nie sien met wie nie. Nou sien ek jy praat met die uitveër.”

[En dit was nie eens my eie uitveër nie …]

DINSDAG 7 DESEMBER 2004

Om aan te beweeg van plek tot …

Vir jare het ek bly sê, “Plek, plek, plek!” Eers veel later het ek uitgevind plek is bevorderlik vir iets – definiëring van identiteit. Identiteit is weer bevorderlik vir iets anders, naamlik suksesvolle funksionering. Laasgenoemde is egter nie die alfa en omega van menslike bestaan nie. Ek glo 99 uit elke honderd mense stop by identiteit en suksesvolle funksionering. Min beweeg verder …

______________________

Vrye en onvrye verskynings

DONDERDAG 2 DESEMBER 2004

As mens te veel gebuk gaan onder voorskrifte van wat jy mag sê en wat nie, wáár jy sekere dinge mag sê en waar nie, hoe jy dinge sê en hoe nie, en as jy gebuk gaan onder die voorskrifte oor watter woordeskat jy mag uiter en watter nie, is jou spraak – die primêre wyse waarop meeste mense uiting gee aan hulle werklikheidservaring – nie vry nie. Indien jy nie vryelik uiting kan gee aan jou werklikheidservaring nie, of dit slegs doen op wyses wat aan jou voorgeskryf word, is jy nie vry nie. En siende dat die wyse hoe jy uitdrukking gee aan jou ervaring van die werklikheid tot ’n groot mate bepaal hoe jy verskyn aan die wêreld, word dit uiteindelik deel van WIE JY IS. Wie jy is, is dan tot ’n betekenisvolle graad die resultaat van onvrye selfuitdrukking. Wie jy is, is dan ’n resultaat goedgekeur volgens die voorskrifte van ’n spesifieke tyd en plek.

VRYDAG 3 DESEMBER 2004

“Betrap jy my nou tydens ’n anonieme verskyning. Nou moet ek skielik weer iemand wees!” sê “Brand” aan sy vriend [O.] toe laasgenoemde hom uit die bloute konfronteer waar hy ’n sigaret staan en rook buite ’n 7-Eleven.

______________________

ERKENNING & VERSKYNING

[Die leser mag dalk wonder wat die doel is van die enkele notas oor middagetes en Saterdagaandbraais waar dieselfde misterieuse jong vrou toevallig elke keer teenwoordig is. Behalwe dat ek hoop om die teks bietjie op te kikker met die idee dat ek nie ’n vleeslose skim is wat heeldag agter sy rekenaar of notaboek deurbring nie, is hierdie stukkies teks onlosmaaklik verweef met die meer intellektuele aangeleentheid van … ERKENNING en VERSKYNING.]

———–

DINSDAG 30 NOVEMBER 2004

Nota I: Die SKRYWER se klagte

Ek is in ’n situasie waar ek twee 25-jarige dames bevriend het, met die oog op romantiese avonture met een van die twee. My klagte is dat ek glo ek verskyn nie soos ek graag wil verskyn nie.

As wie en wat sal ek wil verskyn? As … (tromgeroffel) … die Skrywer.

WOENSDAG 1 DESEMBER 2004

Nota II: Die insig tref

02:40

Solank ek “ongepubliseerd” is, kan ek nie erkenning kry vir die belangrikste werk wat ek gedoen het die afgelope tien jaar nie, en kan ek derhalwe nie verskyn aan ander (lees: ’n vrou tot wie ek aangetrokke is) soos ek myself sien nie.

08:32

In ander woorde, ongepubliseerd beteken geen erkenning, beteken onakkurate of gebrekkige verskyning.

DONDERDAG 2 DESEMBER 2004

Nota III: Die insig tref met groter impak

“It’s so simple only a genius could have thought of it,” het Einstein van Jean Piaget gesê. Wat is so eenvoudig in my geval? Die konneksie tussen ERKENNING en VERSKYNING!

Ek kan nie glo ek het dit nie vroeër al opgelet nie! Dit spreek ook boekdele dat erkenning iets was wat ek met suspisie bejeën het, want dit sê “behoefte” en “ander mense” en doen dinge sodat mense X, Y, of Z moet dink van jou.

Tog, as jy nie erkenning kry vir jou belangrikste werk nie, kan jy nie verskyn soos jy jouself sien nie. Dis so eenvoudig dat mens onnosel moet wees om dit nie te begryp nie! (En ek is bekend daarvoor dat ek op die beste van tye ’n bietjie stadig kan wees …)

Die vraag wat noodwendig dan by jou opkom, is waarvoor wil jy erkenning ontvang?

______________________

Om neer te sien op die kinders: ’n tirade

MAANDAG 29 NOVEMBER 2004

Daar’s lede van verskillende groepe mense wat neersien op die sogenaamde massas. Daar’s dié in posisies van politieke mag wat die massas sien as “kinders” waarvoor die politieke leier, as “ouer”, verantwoordelikheid aanvaar. Dan’s daar sommige geleerde mense wat neersien op die massas as meestal onkundig oor sake wat nie hul daaglikse bestaan raak nie. In die derde geval is daar sommige ryk mense, wat die massas sien as kleinburgers wat hul klein lewens leef in onkunde van hoe goed die lewe kan wees – mits hulle slim genoeg of gelukkig genoeg kan wees om uit hul klein wêreldjies te breek.

Daar is sekerlik baie mense wat ’n probleem het met snobistiese individue, of enige iemand wat neersien op sy of haar medemens, wat ook al die motivering. Ek glo elke geval moet op sy eie meriete beoordeel word.

Daar is wel een geval waar minagting baie glad en amper outomaties uit my mond gly, en dit is vir die volwasse kinders van sommige ryk mense, en vir die volwasse kinders van sommige politici. Van hierdie individue het niks, absoluut fokkol, gedoen om hulle posisies in die samelewing te verdien. Hulle sien neer op die massas wat struggle van dag tot dag, en verwag om gerespekteer te word deur die diensknegte en diensmaagde wat agter hulle skoonmaak en hulle hoflik bedien van borde vol uitsoekkos … waarvan hulle nie een grieseltjie verdien het nie!

Hulle sien neer op mense laer af op die sosio-ekonomiese skaal, en het die verwaandheid om te verwag om gerespekteer te word deur hierdie mense. Tog het hulle fokkol gedoen om hulle eie status te verdien!

Ek het niks meer as minagting vir hierdie mense nie. Die politikus wat neersien op die algemene publiek … is ’n onderwerp vir ’n ander stuk teks. Die intellektueel wat na jare se studie kennis en begrip opgedoen het wat hom of haar onderskei van die sogenaamde massas, is in ’n meer regverdigbare posisie. En ek kan selfs van die ryk man of vrou sê wat hul eie geld gemaak het, dat hulle moontlik jare lank gewerk het om te kom waar hulle is, selfs al was geluk heel waarskynlik ook aan hulle kant.

Maar die ryk man en vrou se kinders? Die politikus se volwasse kinders?! Ek sê as hulle gerespekteer wil word, moet hulle werk vir respek!

______________________