Hoekom ek doen wat ek doen – solank ek nog staande is

DONDERDAG 4 SEPTEMBER 2008

Hoekom ek doen wat ek doen: ’n gesprek met myself op pad na die 7-Eleven toe laat gisteraand

Rede een: Wantroue, vandat ek veertien jaar oud was, in ’n volwasse lewe van kry ʼn werk, trou, koop ʼn huis op skuld, koop ʼn kar op skuld, kry kinders … dan draai die ekonomie of daar’s een of ander fokop wat beteken jy’t skielik nie meer ʼn werk nie, jy raak desperaat, jy maak nog skuld, jy trek na ’n ander stad toe, jy ruil die kar in vir ’n skedonk, jy verduidelik jou situasie aan vriende en familie en vreemdelinge, jy raak nog meer desperaat tot jy op ʼn punt kom waar jy bereid is om enige iemand “baas” te noem of enige iets te doen, net sodat jy nie nog ʼn maand sonder ʼn inkomste hoef te sit nie.

Rede twee: Selfs toe ek moes voorberei vir ʼn beroep, het belangstellings in geskiedenis en godsdiens swaarder geweeg as vakke soos personeelbestuur of bemarking.

Rede drie: Aan my, soos aan miljoene ander, is ’n geskenk gegee, en ek sal verdoem wees as ek nie my lewe aanwend tot iets beter as ’n middelmatige bestaan nie.

MAANDAG 22 SEPTEMBER 2008

Ons hoor gereeld onsself en ander mense dinge sê soos, “My lewe behoort beter te wees,” “X moet eintlik Y wees,” “A moet eerder B wees.” Mens herinner jouself ook gereeld daaraan dat die lewe nooit heeltemal werk soos jy dit wil hê nie. Jy doen jou bes, en jy probeer tevrede wees met wat jy het. Tog streef jy elke dag vir ’n beter lewe, om dinge te verbeter.

Meeste van ons weet die lewe is ’n stryd – vir ’n hoër bestaansvlak. Soms slaag jy in hierdie stryd, en jou lewe is beter van daai dag af. Soms sukkel jy vir wat voel soos ’n ewigheid, en jy bly skaars staande. Maar – en ek weet ek het hierdie beeld meer as ’n paar keer al gebruik, maar hier kom dit weer – as jy nie op die grond lê nie, beteken dit jy staan nog. En solank jy nog staande is, stry jy voort.

______________________

Môre droom ek weer

WOENSDAG 9 JULIE 2008

Dis vyf voor twee in die oggend. Ek voel alweer soos ’n goedkoop prostituut wat heeldag lank sy lyf verkoop het vir sy drome, maar nog steeds opeindig met niks.

Fok dit; dan’s ek maar ’n goedkoop prostituut. Môre lê ek maar weer. Môre droom ek maar weer. Want … whatever. Want dis hoe dit is.

09:12

Elke keer wat ek in iets glo en dit skop terug in my gesig, bly ’n stukkie van my siel agter. Dis ’n probleem, want ek het nodig om te glo. Andersins, wat is die punt?

09:59

Hoe gaan ’n mens voort om te glo, as jy weet iets kan terugskop in jou gesig enige tyd?

Wat jy doen, is jy dink twee keer voor jy in die bed spring met elke nuwe idee wat jou die wêreld beloof.

11:24

“More than a million blind warriors form the vanguard.” ~ uit ’n dokumentêre program oor miere

VRYDAG 11 JULIE 2008

Ek worstel goed, maar hoe goed is ek met sukses?

Dog net ek vra, weereens.

DONDERDAG 14 AUGUSTUS 2008

’n Stelling waaraan geen prys geheg kan word nie: “Jy het my liefgehad toe ek arm was.”

WOENSDAG 20 AUGUSTUS 2008

My leuse: Wees redelik.

[geen datum]

Standaard bemarking advies:

1. Hier is wat ek het.

2. Hierdie is wat jy uit dit sal kry.

3. Hier is wat ek wil hê jy volgende moet doen.

______________________

My geseënde belewenis van die lewe

VRYDAG 13 JUNIE 2008

Dit was dan Donderdag, die dag wat “twaalf” genommer is in die maand getiteld “Junie”, in die jaar wat volg op “2007”.

Ek weet daar is ’n punt agter alles waarmee ek my dae vul. Tyd vlieg. Almal raak ouer. Die wêreld vergaan bietjies vir bietjies.

Tyd vir slaap? Hoekom? Want my gat is seer gesit, maar veral omdat slaap tradisioneel ontbyt voorafgaan. En ek hou daarvan om dinge reg te doen.

DINSDAG 17 JUNIE 2008

Dit is omdat ons gebore word, dat ons doodgaan.

Dit is omdat ons 85 jaar se lewe oorleef, dat ons van ouderdom doodgaan.

Dit is van lewe, dat ons sterf.

DONDERDAG 19 JUNIE 2008

Vandag is nie die sesde Januarie nie – die Dag van Epifanie, en ek weet ek het ’n amper geprogrammeerde neiging om diepsinnig te trek as ek in die omgewing van Laan 55 kom [my eerste woonbuurt in Taiwan], maar soos ek vroeg vanaand verby trap, slaan dit my: Die lewe het na my toe gekom.

In Korea het ek gereeld gepraat van stilstaan by die rooi lig, van wag tot ek kan voortgaan met my lewe. Hierdie sentimente is meer as een keer heroorweeg in ’99 en 2000. Taiwan was, aanvanklik, soos Korea, ’n plek van wag: Wag tot ek kan “huis” toe gaan – waar ek ’n voller lewe sal kan lei, waar ek uiteindelik sal kan “commit and belong”.

Junie 2008. Ek is nog steeds in Taiwan, nege en ’n half jaar later. Steeds hier, soos ek myself elke keer herinner wanneer ek verby Laan 55 ry. Maar ek wag nie meer nie. Mense het na my toe gekom. Eers was dit net vriende, en toe, uiteindelik, liefde.

* * *

Natasja verteenwoordig vir my LEWE. Sy is LEWE geïnkarneer. Sekerlik is ons almal, tegnies gesproke, maar vir my is sy ’n besonderse manifestasie van LEWE: haar persoonlikheid; haar wilskrag; haar oorlewingsdrang; haar genot van dinge; haar belewenis van dinge; selfs haar vrese, al praat sy min daaroor.

Natuurlik sou Natasja in elk geval hier gewees het ongeag van my teenwoordigheid. Sy sou in elk geval gekom het, en sy sou nog steeds hier gewees het, al was ek nie hier nie. Maar as ek LEWE gaan soek het in Suid-Afrika soos my plan telkemale was, sou ek haar gemis het.

Ek was hier in 2004. Sy het hiernatoe gekom.

Die res is my geseënde belewenis van LEWE.

DONDERDAG 26 JUNIE 2008

“Marry me, Rita,” sê die titelkarakter in die film, Sgt. Bilko. “I know I’m a longshot, but sometimes they pay.”

______________________

Dinge wat ek moes leer, en dinge wat ek nog moet leer

VRYDAG 9 MEI 2008

Hier is die aantekening wat ek moes gemaak het op Vrydag 10 Februarie 2006:

Benewens om te leer geldmaak van die huis af, op my eie tyd, en op maniere wat ek goedvind, stel ek aan myself die volgende doelwitte oor die volgende twee of drie jaar:

1. Ek moet leer om volslae te misluk, en dan die volgende dag van vooraf te begin, en weer volslae te misluk, en dan die volgende dag weer van vooraf te begin.

2. Ek moet leer om opinies te waag en vooruitsigte te maak, en heeltemal verkeerd te wees, en die volgende dag weer opinies te waag en vooruitsigte te maak, en weer verkeerd te wees, en dan die volgende dag weer opinies te waag en vooruitsigte te maak.

3. Ek moet leer om geduldig te wees. Ek moet leer om pynlik stadig te vorder, insluitende om elke paar dae terug te gly tot amper by die begin, en dan die volgende dag voort te gaan.

O ja, en ek moet al bogenoemde leer terwyl iemand wie se respek en agting ek waardig wil wees, elke een van my mislukkings aanskou, en weet van amper elke keer wat ek verkeerd is, of was.

MAANDAG 19 MEI 2008

As jy ophou asemhaal, gaan jy dood. As jy ophou probeer, misluk jy by verstek.

SATERDAG 24 MEI 2008

“Een van vier duisend,” dikteer die gedagte terwyl ek op die naat van my rug lê. Een van vier duisend skrywers tans lewend, wat skryf oor die lewe op ’n bepaalde manier. En omdat nie almal aktief is nie – om verskeie moontlike redes, maak dit die werk van die skrywers wat wel skryf, soveel belangriker.

DONDERDAG 29 MEI 2008

Net oor die brug op pad na my gewone aandete plek toe gister, dink ek aan hoeveel keer ek – nie doelbewus nie, maar nietemin – grootgepraat het oor groot welstand die afgelope twee jaar, en hoe Natasja na alles geluister het, gesien het hoe skokkend min daarvan gerealiseer het sover, en steeds lief is vir my.

Teen die tyd wat ek my fiets staangemaak het teen die lamppaal, het ʼn gedagte my soos ʼn nat kluit tussen die oë getref. Ek kan die gedagte soos volg illustreer: As ’n vrou eers besluit het om lief te wees vir ’n man – of as dit gebeur op die misterieuse wyse waarop dit gebeur, kan die man aan die ontvangkant van die liefde gerus sy weg vind na die naaste Daoist tempel toe. Op pad kan hy ’n kilogram wierook optel, en by die tempel kan hy een na die ander stokkie aan die brand steek, terwyl hy elke figuur wat naastenby lyk soos ’n godheid plegtig, en met trane wat opwel in sy oë, bedank vir die goeie voorspoed wat hom beval het.

SATERDAG 31 MEI 2008

(Deel van ’n groter kombuis kontemplasie oor Eros en Tanatos: begeerte om te lewe, en begeerte om te sterf.)

Ek verwag dat goeie dinge soms sal gebeur, en wanneer dit gebeur, maak ek dit af as onbeduidend, of ek ignoreer dit selfs, terwyl ek slegte dinge – selfs relatief geringe gebeurtenisse – aangryp as onteenseglike bewys dat “dinge nie reg is nie”, dat ek besig is om “droog te maak”, dat dit “duidelik is dat dinge nie uitwerk nie – en moontlik nooit gaan uitwerk nie”.

Terloops, wie is ek, en wat doen ek met my lewe?

______________________

Liefde van ʼn vrou – gereed vir nog ’n dag se reis

DONDERDAG 1 MEI 2008

Die liefde van ’n vrou – uit die man se oogpunt

Stel jou voor ’n man stap deur ’n woestyn. Hy loop al vir dae lank. Sy kos en water is op en hy is gedehidreer. Hy struikel soos hy by ’n duin afgaan. Rol tot aan die onderkant. Lê net daar.

Dan, op daai oomblik, verskyn ’n reddingsvliegtuig in die blou lug bo hom. Iemand met noodvoorraad daal neer met ’n valskerm. Drie ure later arriveer ’n jeep-ambulans.

’n Paar dae later word hy wakker in ’n hospitaal. Hy is gekoppel aan buise, en dokters en verpleegsters monitor sy toestand. Hy gaan orraait wees, verseker die dokter almal in die wagkamer.

Dit, vanaf die oomblik dat die reddingsvliegtuig verskyn het tot by die versekering van die dokter, dit is die liefde van ’n vrou. Dit is ’n hoogs gunstige wending in die lewe van enige man.

(vir Natasja)

VRYDAG 2 MEI 2008

[…]

Die gedagte kulmineer toe in ’n vraag na wat die afgelope twee jaar in my lewe genoem kan word. Ek het reeds ’n paar maande gelede daarna begin verwys as die Tweede Kommersiële Diktatorskap, maar bedoelende om ’n bietjie meer beskrywend en meer akkuraat te wees, sê ek toe: ʼn Tyd van ontdekking, mislukking, verleentheid, geloof, ontnugtering – en die begin van die einde van finansiële onbevoegdheid.

DONDERDAG 8 MEI 2008

Teen Woensdag of Donderdag of Vrydag raak herhaling van dieselfde vervelige aksies en gebrekkige kreatiewe vervulling ’n probleem. ’n Goeie manier om dit te verwerk, is om uit te gaan vir ʼn bier, te gaan tennis speel, of om ’n film te gaan kyk.

Ek dwing myself egter terug in my kantoorstoel, en sit die roetine voort – wat ook al die roetine is daai week. My gemoedstoestand is derhalwe vatbaar vir enige foute wat ek maak, resultate wat nie so goed is as wat ek verwag het nie, selfs vir goeie resultate wat “te min, en te stadig” is.

Die uiteinde is voorspelbaar: “Dit” werk nie. Ek moet “iets anders” doen. “Dit” is te stadig. Dalk moet ek weer na “dit” of “dat” kyk.

As ek net gaan sit het – op die groen rusbank, en gelees het, of ’n film gaan kyk het, was ek na ’n paar ure, of die volgende dag, weer op pad. Uitgerus. Gereed vir nog ’n dag se reis.

Hoe ék egter die probleem benader, is soos iemand wat op die pad is sedert kort na ontbyt. In plaas daarvan om ’n motel te soek wanneer dit begin donker raak, na tien of so ure op die pad, ry die man voort, sonder stop. Tot hy in ’n trok of ’n telefoonpaal vasry.

______________________