Om ’n paar basiese dinge reg te kry

DINSDAG 1 SEPTEMBER 2009

Ek speel deesdae “She loves me, she loves me not” – net hierdie keer is dit, “Ek het ’n diepgesetelde probleem wat my weerhou daarvan om meer geld te maak, ek het nie ’n diepgesetelde probleem …”

Ek reken ek het nog ’n probleem geïdentifiseer: Ek wil, soveel as moontlik, dit vermy om betekenisvolle verskynings te maak. Dit affekteer my privaat Engelse klas moontlikhede, en dit affekteer besigheidsgeleenthede waar mense kan verwag om my te kan kontak en te vra oor dinge.

“Los my uit!” kos my dalk net finansiële onafhanklikheid.

DONDERDAG 3 SEPTEMBER 2009

Vir my was dit nog altyd, en is steeds tot ’n mate, ’n baie onnatuurlike ding om te probeer geld maak.

Daar is egter talle aktiwiteite wat wel vir my natuurlik voel, en meer geskik is vir my persoonlikheid, my persoonlike styl, en my self-beskouing.

Dit lei tot ’n eenvoudige konklusie: Ek moet leer om hierdie aktiwiteite winsgewend te maak.

SATERDAG 5 SEPTEMBER 2009

Daar is goeie mense te vinde, oral, wat jou nie ken nie, maar wat bereid is om jou te help; ook goeie mense wat, sonder dat hulle of jy bewus is daarvan, jou hulp nodig het.

Daar is ook mense wat werklik sal belangstel in wat jy te sê het, sou wat jy te sê het, ooit hulle oë of ore bereik.

Dat jy nodig het om soms ’n paar treë buite jou gemaksone te gee, klink skielik nie na so ’n slegte idee nie.

DINSDAG 8 SEPTEMBER 2009

As ek in die oggend wakker word, sien ek nie werk wat vir my wag nie, ek sien geleenthede.

Ek is 38 jaar oud. Ten spyte van ernstige foute wat ek gemaak het, het ek duidelik ’n paar basiese dinge reggekry.

______________________

’n Mees betekenisvolle en diepgaande sukses

DINSDAG 4 AUGUSTUS 2009

Ek leef in ’n grys wêreld. Niemand is ooit heeltemal skuldig nie, en niemand is ooit heeltemal onskuldig nie. Die lewe is mooi, en die lewe is genadeloos. Die lewe is soms deurtrek met patrone en dieper betekenis, en soms is daar absoluut geen sin of rede aan die lewe nie. Mense sterf, maar hulle verdwyn nie heeltemal in die nietigheid in nie. ’n Mens bly dieselfde, en soms verander jy soveel dat dit belaglik is om voor te stel dat jy dieselfde mens is wat jy eens was.

WOENSDAG 5 AUGUSTUS 2009

Sekerlik is daar mense wat sê, “My naam is Jan Burger. Ek het al gelees en gehoor dat mense praat van vind jou ware self, kies jou eie naam en sulke goed, en ek weet my naam is nie wie ek is nie – maar dit werk goed genoeg vir my.”

Ook: “Ek weet nie altyd wat bedoel word met ’n agenda nie. Ek weet ook nie of ek ook het wat party mense noem, ’n persoonlike agenda, nie. Ek werk vir ’n saak waaraan ek glo. Ek doen my bes om mense by te staan wat sukkel om hulle eie koppe bo water te hou. Of my naam Jan of Koos, of Oom of Boet is, dit maak minder saak as my aandeel in hierdie stryd. Persoonlike agenda? Ek dink party mense fokus dalk te veel op hulleself.”

DONDERDAG 6 AUGUSTUS 2009

15:14

Ek oorleef. Ek eet baie groente, en hoender en vis, en ek drink baie tee en water. Ek ry fiets en doen oefeninge in die oggende. Ek drink min alkohol, en ek het opgehou rook.

Ek oorleef, maar ek sal nie sê ek handhaaf dieselfde kwaliteit lewe as voorheen nie. Ek het min sosiale kontak met my tydgenote, en ek geniet min sosiale ontspanning van ’n aard wat algemeen is onder mense wat oppervlakkig as my sosio-ekonomiese gelyke beskou kan word. Ek het amper veertig maande gelede laas my familie gesien. Ek het geen kontant om op terug te val sou ek per ongeluk van my fiets afval, of wat meer waarskynlik is, as een van my tande dalk uit my mond uitval nie. Laastens skuur ek meer as ooit tevore elke maand deur op die naat van onderbroeke vol gate – en ek is nie meer 19, of 28 nie; ek het in alle eerlikheid verwag om teen 38 ten minste deur te skuur op beter kwaliteit onderklere.

[Redakteursnota: Die laaste verwysing was ’n onbeplande gemengde idioom van die Engelse “flying by the seat of your pants” en “pulling through by the skin of your teeth”. Wat ek bedoel het om te sê, was natuurlik dat my finansies redelik knap was, oftewel, dat dit “broekskeur” gegaan het.]

17:50

Geld is die maatstaf, dit weet almal. Dit is hoekom gewelddadige, psigopatiese lede van georganiseerde misdaadsindikate geag word as suksesvol deur ’n betekenisvolle persentasie van die samelewing, terwyl arm maar talentvolle kunstenaars deur baie mense beskou word as mislukkings.

Die feit dat gewelddadige, psigopatiese bendelede ook gevrees word deur die breë publiek, en wanneer moontlik opgesluit word, is ’n indikasie dat die saak ietwat kompleks is.

SONDAG 9 AUGUSTUS 2009

Ek poog tans om die siening te verander dat my lewe net gedraai het oor geld sedert vroeg 2006.

Hier is nog ’n opinie: Sou dit wel so wees, sou dit wel waar wees dat my lewe in die laaste paar jare hoofsaaklik gegaan het daaroor om geld te probeer maak, is dit werklik verbasend dat dit nie ’n reuse sukses was nie?

VRYDAG 14 AUGUSTUS 2009

Sonder iets spesifiek wat ek moet doen – ’n projek, of ’n spesifieke deel van ’n projek – voel ek belaglik, verlore, en onseker van myself.

Dit wil sê, indien ek nie daadwerklik besig is met iets nie, voel ek onseker van myself, onseker van wat ek doen met my lewe, selfs onseker oor die waarde van my bestaan. (Wat kan ek sê, dinge ruk maklik hand-uit met my.)

DONDERDAG 20 AUGUSTUS 2009

My onderbewuste is soos ’n drie-jarige kind (’n redelike kragtige kind, bygesê) wat in die hier-en-nou leef. Hierdie “kind” glo my huidige lewe is oorleefbaar, oukei, en gemaklik genoeg.

Dat dit nie volhoubaar is nie om etlike goeie redes, gaan hierdie “kind” nie aan nie. Al waarin hy belangstel, is of die hier-en-nou veilig en gemaklik is.

Wel, daar is niks wat my op hierdie minuut fisies bedreig nie, en die stoel waarop ek sit, is redelik gemaklik.

Goed genoeg, dink die “kind”. Derhalwe moet niks verander nie.

Wat my bring by die huidige oomblik, veertig maande later.

DONDERDAG 27 AUGUSTUS 2009

Kom ons wees eerlik: Wat ek deurgemaak het sedert 2006 kwalifiseer volgens vele standaarde as ’n volslae en algehele, mees betekenisvolle en diepgaande mislukking.

Ek sê dit met die grootste agting vir myself. Ek sê dit ook met ’n ope hart en ’n goeie gemoed, want ek weet die pad vorentoe lyk goed; ek weet ook die pad wat agter my lê, is deel van my lewensverhaal.

MAANDAG 31 AUGUSTUS 2009

11:55

Dink aan sintuiglike redes hoekom jy finansieel suksesvol wil wees. Dink aan die sintuiglike beloninge van finansiële sukses. (Stel jouself voor jy is suksesvol. Wat ruik jy? Wat sien jy? Wat voel jy onder jou vingers? Wat proe jy?)

20:55

Daar is, vermoed ek, ’n “iets” binne my wat my verhoed om finansieel suksesvol te wees. Kom ons noem dit, “DIT”.

Ek en my onderbewuste, my rasionele brein, en my kreatiewe natuur, sal DIT vernietig.

______________________

Om kanse te vat, en nie te veel skade aan te rig nie

DONDERDAG 9 JULIE 2009

Dis nie ek nie. Dit is net ’n onwillekeurige chemiese reaksie wat plaasvind in my brein in reaksie op ’n eksterne situasie. Om te sê, “Kyk nou hoe reageer ek weer!” is onjuis. Dit is beslis nie ek nie.

DONDERDAG 23 JULIE 2009

11:33

Het vanoggend die laaste deel van Boiler Room gekyk. Dit het my laat dink: Ons is die heeltyd gepla met ambisie en sukses en met hoe ons vergelyk met ons tydgenote, en met mense jonger as ons, en met mense ouer as ons toe hulle ons ouderdom was.

Hier is iets om te oorweeg: Probeer om nie te veel skade aan te rig nie. As jy aan die einde van ’n dag, of aan die einde van ’n week kan terugkyk en sê, “Ek reken ek het nie te veel dinge gedoen wat vir my of vir ander mense ’n klomp probleme gaan gee nie,” kan jy alreeds ’n sug van verligting gee.

Sukses, en drome wat gerealiseer word, is dan ’n bonus, nie net ’n stok waarmee jy jouself aanpor elke dag nie.

[Hier is wat die Britse akteur van Yes, Minister-faam, Paul Eddington, in 1995 tydens ’n onderhoud op TV gesê het: “A journalist once asked me what I would like my epitaph to be and I said I think I would like it to be ‘He did very little harm’. And that’s not easy. Most people seem to me to do a great deal of harm. If I could be remembered as having done very little, that would suit me.”]

17:55

Almal waag kanse. Almal “dobbel”. Om roulette te speel, ’n koffiewinkel oop te maak, met iemand te trou, geld te waag op die perde, ’n nuwe betrekking te aanvaar, maak nie saak hoe jy dit spel of hoe dit uit jou mond uitkom nie, almal dobbel.

VRYDAG 31 JULIE 2009

’n Paar punte:

1. ’n Mislukking, vir alle praktiese doeleindes, en om verskeie goeie redes; dit is hoe ek verskyn aan myself, aan Natasja, haar vriende, my familie, en aan my enkele vriende.

2. Om hierdie rede, en vir die gepaardgaande desperate behoefte aan wedergeboorte, of net eenvoudig goeie ou transformasie, gaan ek nou my baard afskeer. (Skoon: 14:28)

______________________

Staan by ’n rooi verkeerslig, wonder wat om nié volgende te doen nie

VRYDAG 5 JUNIE 2009

10:27

Goed, ek gee toe: ek het dalk gedink volwasse lewe sal makliker wees.

21:01

In my eie land sou ek probeer het om nóg ’n deeltydse werk te kry, so gou as moontlik, siende dat my huidige werkgewer nie vir my meer werk kan of wil gee nie.

My situasie hier in Taiwan is ongelukkig soortgelyk aan dié van pagters in die Middeleeue. Soos hulle, kan ek nie net oorstap na die volgende distrik en my arbeid daar gaan verkoop nie. My werkpermit bind my eksklusief aan my huidige werkgewer: ek kan gestraf word – insluitende om uit die land gegooi te word – as ek sonder toestemming vir enige iemand anders werk, selfs deeltyds. (Ek het natuurlik nie veel van ’n keuse om dit in elk geval te doen ’n paar ure per week nie, ongeag die risiko.) Ook my woonkwartiere is gekoppel aan my werkgewer – dit hoef nie so te wees nie, maar dit is my realiteit op hierdie stadium.

SATERDAG 6 JUNIE 2009

’n Beeld: ek wat by ’n verkeerslig staan met ’n bord om my nek: “Will teach for money.”

Dit is hoe ek voel oor die idee van self-bemarking.

Goed, nog twee beelde – verskil is dat ek hierdie keer fokus op die persoon – in die kar.

Beeld twee: Dis ’n warm dag. Karre staan en stoom by die rooi verkeerslig. Jy stap nader met ’n bord wat sê, “Will sell ice cold cola for cash!”

Beeld drie: ’n Verblindende stofstorm het ’n halfuur gelede gaan lê. Die lug is nog stowwerig, maar die wind is stil. Motoriste by die rooi verkeerslig hang by hul vensters uit en vee desperaat oor hulle voorruite met sakdoeke en enige ander tipe lap wat hulle in die hande kan kry om ’n bietjie beter te kan sien. Jy stap nader met ’n bord om jou nek wat sê, “Will wipe windshield for cash!”

WOENSDAG 10 JUNIE 2009

Kyk na 1916 met die oë van iemand gebore in 1840.

Kyk na 1956 met die oë van iemand gebore in 1895, nie met die oë van iemand gebore in 1975 nie.

Kyk na 1823 met die oë van iemand gebore in 1770, iemand wat “eenvoudiger tye” onthou.

DONDERDAG 18 JUNIE 2009

Dit is asof hierdie subtropiese somerreën, en die vogtige warm lug wat klere en handdoeke en beddegoed die heeltyd klam hou, my interne probleme verskerp – probleme met myself, wat ek doen vir geld …

SATERDAG 20 JUNIE 2009

Die lewe is ’n proses van eliminasie: vriende, vakke op skool, tersiêre opleiding, beroep, dorp of stad, tuiste, adres, leefstyl, lewensmaat, volgende stap. Dis net soveel ’n keuse van wat jy nié gaan doen nie, as ’n keuse oor wat jy wél gaan doen.

______________________

Nie ’n tragedie nie, maar wel ’n bietjie van ’n stryd

DONDERDAG 11 JUNIE 2009

Ek frons op enige ondeurdagte vergelyking met die tragedie wat die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) was, maar ek kon nie anders as om vandag ’n paar parallelle te registreer met my eie storie van probeer geldmaak van die huis af die laaste paar jare nie.

1. In die Eerste Wêreldoorlog het almal aan die begin, in Augustus 1914, gehoop op ’n vinnige oorlog. Die realiteit was ’n uitputtingsoorlog van meer as vier jaar.

2. Meeste mense het aan die begin gereken, “The boys will be home for Christmas.”

3. Die hoop op ’n vinnige uitslag het nie verflou na die eerste jaar, of die tweede jaar, of selfs die derde jaar van oorlog nie.

4. Optimistiese, en in terugskouing, naïewe geloof, is geplaas op enige strategie wat die oorlog vinnig kon beëindig. Aan die einde was die oorlog lank en bitter, en min van die strategieë het die aanvanklike optimisme regverdig.

5. Na drie jaar van loopgraafoorlog het Duitsland groter kanse begin vat, hopende op ’n “reversal of a grave situation”. Aanvanklike resultate het belowend gelyk vir die Duitse militêre leiers, maar die groter kanse wat hulle gevat het, het uiteindelik hulle einde verseël en versnel (onder andere het onoordeelkundige aanvalle op kommersiële skeepvaart gelei tot Amerikaanse toetrede tot die oorlog).

6. Hoe langer die oorlog geduur het, hoe moeiliker het dit geraak om te kompromitteer op die eindresultaat. “Too much has been sacrificed already,” is gesê.

7. Die oorlog het uitgebreek met meer entoesiasme as beplanning; te veel passie, en nie genoeg praktiese oorweging nie. Vae, ambisieuse antwoorde is gegee op die vraag na uiteindelike doelwit.

8. Die oorlog het uiteindelik verbygegaan, maar die vrede is beduiwel. Niks moet ooit as vanselfsprekend geag word nie.

VRYDAG 12 JUNIE 2009

Dooiepunt, uitputting, vermorsing van hulpbronne, geleenthede wat gemis is, opdragte wat moeilik was om te volg, ego en persoonlikheid wat in die pad gekom het daarvan om dinge gedoen te kry, ego en persoonlikheid wat tragiese gevolge gehad het.

WOENSDAG 17 JUNIE 2009

Geskryf oor een van die Duitse militêre leiers: “[…] prudent, clear-minded […] did not propose to embark on some gigantic […] gamble aimed at winning the war outright.” (The Great War, p.67)

______________________