Insigte op Vrydagoggend 17 Desember 2004, soos hulle gearriveer het

1) ’n Vrou stap uit by ’n tempelparafernaliawinkel. Ek sien sy’s swanger. Ek kyk na haar gesig en reken daar en dan sy lyk nie te “akademies” nie. Ek dink: een opsie vir ’n man wat sy eie idees het oor die lewe en wat nie gretig is om sy hoë waardes en beginsels af te water nie, is om af te haak met ’n vrou wat hy nie as sy gelyke beskou nie.

Die voorwaarde vir sukses in so ’n verhouding is dat hy welgesteld moet wees. Hy moet die “baas” wees in die tradisionele sin waar die man aan die hoof van die huishouding staan, en ook in die moderne sin waar die persoon met die geld die grootste sê het in hoe dinge gedoen word. Die vrou in dié geval hoef nie “haar plek te ken” soos die geval was in sommige gemeenskappe vyftig of honderd jaar gelede nie; sy hoef nie kaalvoet in die kombuis rond te staan heeldag nie; en as sy sê sy’t genoeg kinders gebaar, sal hierdie man dit so aanvaar. Maar hy sal die “baas” wees in die sin daarvan dat die huishouding oor die algemeen bestuur sal word volgens sy idees en opinies.

Die ander ekstreem – ter wille daarvan om by ’n meer ideale middel te kom – is presies die teenoorgestelde: ’n vrou wat hierdie man se intellektuele meerdere is, sy leermeester, sy voorsiener …

In die middel is ’n vrou wat hy as sy intellektuele gelyke sal beskou; ’n vrou met wie hy sinvolle redenasies kan voer, wat ewe veel verantwoordelikheid, en ewe veel gesag sal hê in die bestuur van hul huishouding; ’n vrou wie se persoonlike agenda en lewensuitkyk sal strook met sy eie; ’n vrou na wie se emosionele, fisiese en spirituele behoeftes hy kan omsien, net soos die vrou na syne sal omsien.

2) In die klas, ’n paar minute later, is ek besig om die Engelse name van ’n dosyn groente aan ’n groep vyfjariges te leer. Ek vra vir die een kind – ’n nuweling – iets in Chinees, en ek reken dat hy nie te verbaas lyk dat ek as Westerling, nie een van “sy mense” nie, Chinees kan praat nie. Dink ek verder, “[vervolg]”

* * *

Nuwe insig! Is daar iets soos “Tevrede Gegewe Self”? Ek glo dit is ’n kwessie van graad, op ’n spektrum wat strek van “absolute selfminagting, gevaar vir self en gemeenskap” tot “oortuig sy is ’n inkarnasie van een of meer gode”. (Interessant dat in beide gevalle die persoon ’n goeie kans staan om opgesluit te word in ’n inrigting.)

In die middel kry jy … sal ons maar sê, 99% van die volwasse mensdom? Die formule, Konfronteer (aanvaar, verander), Definieer, en Word is dus geldig vir meer as nege uit elke tien mense!

Vraag: Inligting, opsies en moontlikhede spruit steeds uit ’n partikulêre bron. Watter bron? Meestal die Gegewe Bron, en in die geval van ’n minderheid, uit Meer As Net Gegewe Bron.

Nog ’n vraag: Wat is jou Gegewe Bron?

Laaste vraag: Wat is gegewe? (Stel ’n lys op …)

* * *

(Terug na die vorige nota:)

Dink ek toe verder: Hierdie kind verwag heel moontlik dat alle volwassenes (ten minste) Chinees kan praat, want dit is sy gegewe taal, en hy’t sover nog geen rede gehad om die verskynsel van Chinees as Absolute Taal te bevraagteken nie.

Wanneer sal hy die absolute waarde van die Chinese taal bevraagteken? Wanneer hy gekonfronteer word met, of homself bevind in ’n omgewing waar ’n ander taal, soos Engels of Japannees of Spaans, deur meeste lede van die gemeenskap beskou word as dominant.

Dit is op hierdie oomblik, wanneer wat voorheen beskou was as absolute gegewe blootgelê word as nie die enigste moontlikheid nie, wat die vonke begin spat op die skrynwerkerstafel van identiteit.

[’n Ander voorbeeld wat genoem kan word, is dié van ’n jong persoon wat sy of haar vormingsjare in relatiewe isolasie deurgebring het, en wat nie net partikulêre taal nie, maar ook partikulêre religieuse verwysingsraamwerk as absoluut beskou het. Wat gebeur wanneer hierdie jong persoon skielik ’n betekenisvolle periode van tyd spandeer in ’n omgewing waar ’n ander taal, en ander religieuse simbole as standaard beskou word? Natuurlik hang dit af van persoonlikheid en persoonlike situasie, maar die waarskynlikheid is groot dat die persoon vrae sal begin vra aan mense wat hulle sal sien as gesagsfigure, en uiteindelik ’n ander identiteit sal ontwikkel as wat die geval sou wees indien hulle sou voortgaan om in relatiewe isolasie te leef.]

3) Volgende klas dink ek hoe sommige taalkundiges reken kinders moenie te vroeg ’n “vreemde” taal geleer word nie, soos in die geval van Engels in Taiwan.

Reken ek, as Engels van jongs af as ’n gegewe aangebied word veral by die huis – die belangrikste bron van gegewendheid, sal dit nie bevraagteken word nie, maar heelhartig geabsorbeer word saam met al die ander gegewe data.

Wonder ek toe watse data gee ouers – as primêre gewers van data – aan hul kinders, nie net in terme van taal nie, maar in terme van morele waardes, gedrag, en dan veral vir latere toepassing, moontlikhede vir ’n volwasse bestaan. Natuurlik sal ’n duisend stemme in ’n honderd verskillende tale opgaan wat almal verskillende antwoorde gee, of soortgelykes, met verskillende detail. My punt, egter, is dit: verander die gegewe, en jy beïnvloed fundamenteel die eindresultaat. (En weet ouers wat hulle gee?)

Ten einde reken ek, ek het nie al hierdie insiggewende brokkies data ontvang toe ek in die bed gelê het, of toe ek agter die rekenaar gesit het nie. Ek het dit gekry in klaskamers gevul met ’n klomp raserige kinders,  en ook buite in die straat op pad na die klaskamers.

Gevolgtrekking? Verskynings buite my woonstel dien ’n doel, en voorsien in vele gevalle stimulus vir nuwe beskouings en insigte.

____________________

Punt en die vrae – slordige proses

MAANDAG 13 DESEMBER 2004

11:26

Die punt is om vir iets te leef, sodat wanneer ons sterf, ons sal weet ons lewens was nie verniet nie.

11:36

Die vraag is dan, waarvoor leef jy?

Vele mense sal antwoord, “Ons leef vir ons kinders.”

Ek vra: Wat beteken dit? Jy leef vir jou kinders, hulle leef vir hulle kinders … op een of ander punt sal iemand moet leef vir iets anders, maak nie saak of hulle kinders van hulle eie het of nie.

Ek dink dis ondeurdag, selfs gevaarlik om te sê jy leef vir jou kinders. Dit voel reg. Jy’s regtig lief vir jou kinders, en jy sal regtig iemand se gesig pap slaan ter wille van jou kinders, so … dit kan mos net reg wees om te verklaar: “Ek leef vir my kinders! En vir my vrou … (of man).” Dan nie?

Nee! Dis iets wat edel en reg vóél – en lyk op papier, maar in werklikheid vervang die een geslag die ander met geen behoorlike begrip van die waarde of moontlike doel van hulle lewens nie, anders as, “Ek moet kinders kry.”

Hoor enige iemand anders die alarm weeklaag?

DONDERDAG 16 DESEMBER 2004

’n Ietwat slordige proses

KONFRONTEER (jouself)

… aanvaar (wat jy nie kan verander nie)

… verander (wat binne jou vermoëns is om te verander)

DEFINIEER (wie jy wil wees)

WORD (wie jy gedefinieer het jy wil wees)

Natuurlik volg die drie stappe nie netjies op mekaar nie. Jy’s besig om iets of iemand te WORD. Jy besef dis nie wat of wie jy wil word nie. Jy KONFRONTEER jouself … hoewel jy dit eintlik reeds gedoen het toe jy besef het jy wil nie wees wat jy besig was om te WORD nie. Jy was ook reeds onbewustelik besig om jouself te DEFINIEER toe jy besef het jy wil nie wees wie jy besig was om te WORD nie. Jy gaan voort met jou DEFINISIE terwyl jy jouself KONFRONTEER. En, omdat jou lewe nie vir een sekonde stilstaan nie, gaan jy gedurende hierdie hele KONFRONTEER en DEFINIEER proses voort om te WORD.

______________________

Reispakkette vir die lewe

DONDERDAG 9 DESEMBER 2004

Reispakkette vir die lewe, nota I

1) Settle of swerf?

2) Wat doen jy voor jy settle?

VRYDAG 10 DESEMBER 2004

Reispakkette vir die lewe, nota II

In ’n vroeër nota het ek genoem dat mense tot rus kom, of hulle hou aan swerf; ook dat daar noodsaaklike voorbereidings is wat eers gemaak moet word voordat jy êrens wortels insteek, indien dit jou keuse wees.

Ekself het vyf jaar op universiteit gespandeer, en drie kwalifikasies verwerf – dinge wat gewoonlik kwalifiseer as goeie voorbereiding indien jy tot rus wil kom en jouself êrens wil vestig.

Hierdie voorbereidings was egter nie vir my goed genoeg nie. Natuurlik het ek nie tien jaar, of selfs vyf jaar gelede geweet wat ek nou weet nie … al het ek toe gereken as ek dit of dat gedoen kan kry, ek dán gereed sal wees om ’n bietjie tot rus te kom.

Wat ek nou weet, is dat “Die Persoonlike Agenda van Brand Smit” swaarder weeg – as voorbereiding – as wat vyf jaar se sogenaamde professionele kwalifikasies geweeg het tien jaar gelede.

Wat ek derhalwe sê, is dat ek nie ’n swerwer wil wees nie …

* * *

Al wat ek sê is dat baie dinge wat ek wou gesê het, baie vrae wat ek ten minste wou formuleer, en waarop ek antwoorde wou vind indien moontlik, nie weer gedoen hoef te word nie.

Baie dinge word steeds geskryf, en sal nog geskryf word. Niks kan egter die waarheid verminder dat baie reeds gesê is nie …

Terloops, die einste studente vir wie ek net nou gesê het verskoon my asseblief ek wil net gou ’n nota maak, het my sopas in alle erns ingelig dat hulle nooit met hulleself praat nie. Is dit moontlik? Hoe kan jy ’n behoorlike Bewussyn van Self hê as jy nie met jouself praat nie?

SONDAG 12 DESEMBER 2004

Reispakkette vir die lewe, nota III

Hou aan swerf, of kom tot rus, reg? Die beeld wat mens het van die Swerwer is van ’n persoon wat nie oor veel finansiële hulpbronne beskik nie, los werk doen hier en daar vir ’n karige, ongereelde inkomste, en dan weer waai om elders sy heil, of nuwe opwinding, te gaan soek.

Stel jouself nou voor ’n welgestelde swerwer.

Neem ook in ag dat plek, of dan ’n tuiste, ’n doel dien. Benewens dit feit dat dit is waar jy veilig voel, is dit ook waar jy estetiese uitdrukking gee aan jou uniekheid en aan jou partikulêre ervaring van die werklikheid. Wat van as jy nie laasgenoemde behoefte meer so intens ervaar nie? Watse voordele is verbonde aan ’n swerwersbestaan?

MAANDAG 13 DESEMBER 2004

Reispakkette vir die lewe, nota IV

Die Engelse woord vir “swerwer” is “drifter”. Ek hou nie van die implikasie daarvan nie – iemand wat gaan van punt A tot J tot C tot P tot X tot E, en nie weet waarheen hy op pad is nie. ’n Beter woord is “reisiger”.

Reispakkette vir die lewe, nota V

17:06

Het ’n Reisiger ’n huis? Sure. ’n Swerwer het nie ’n huis nie – dit word geïmpliseer saam met die woorde doelloosheid en rigtingloosheid.

17:20

’n Reisiger reis van plek tot plek, maar daar word verstaan dat hy ’n bepaalde rigting volg, of ten minste ’n eindbestemming in gedagte het – en ’n rede het hoekom hy reis; dat hy moontlik selfs ’n agenda het wat hy dien, of wil dien.

17:52

So, die vraag behoort te wees: is jy ’n Swerwer, ’n Reisiger, of ’n Setlaar?

[Of moontlik al drie op verskillende tye van jou lewe? Omstandighede verander ook. Jy begin dalk as ’n Reisiger, besluit dan om ’n Setlaar te word, na twintig of dertig jaar word jy weer ’n Reisiger, en eindig op as niks meer as ’n Swerwer nie.]

______________________

Wiskunde en wetenskap – vrae begin

SATERDAG 11 DESEMBER 2004

Om oor die regte wiskunde en wetenskap te beskik

Vele mense sê graag die lewe is nie net wiskunde en wetenskap nie. Ek glo dit is – ons beskik net nog nie oor al die formules nie.

Twee duisend jaar gelede het alle materie ook uit atome bestaan – meeste mense het dit net nog nie geweet nie. ’n Duisend jaar gelede het mense ook die intellektuele vermoëns gehad om ’n vuurpyl te ontwerp en ’n man of vrou op die maan te sit – hulle het net nog nie voldoende wiskunde en wetenskap bemeester nie.

SONDAG 12 DESEMBER 2004

Wanneer die vrae begin

Ons weet ten minste helfte van die tyd wat ons nodig het om te weet ten einde min of meer suksesvol te kan funksioneer. Sodra ons behoeftes verander, of sodra ons bewus raak van ’n probleem in hoe ons funksioneer, begin ons vrae te vrae, en op ander plekke te soek vir beter antwoorde as dié wat ons tot op daai stadium van ons lewens geresiteer het as ons eie, of wat ons oor die jare tot en met daai oomblik gereken het ons eie weergawes is van die antwoorde wat aan ons gegee is.

______________________

Samesyn en die individu

DONDERDAG 9 DESEMBER 2004

Vele mense is bekend met die verskynsel van ongemak met hulleself. Een van die dinge wat hulle doen om hierdie ongemak, of spanning, teen te werk, is om te sorg dat hulle soveel as moontlik van hul wakker-ure spandeer saam met mense wat van hulle hou, en wat gemaklik is by hulle.

“Wat op aarde is verkeerd hiermee?” sal vele mense uitroep.

Die versoeking is daar om te sê, niks. Ek maak net ’n onskuldige opmerking.

Vele visse het egter in vele waters op hierdie planeet geswem en gevrek sedert ’n vraag my begin interesseer het: Wat gee samesyn met ander mense die individu?

’n Verdere vraag is, as die behoefte wat vervul word met samesyn met ander mense, verminder kan word, wat sal die resultaat wees? Die individu sal sekerlik nie so gereeld, en vir sulke lang periodes, die samesyn van ander mense opsoek nie – ’n gedagte wat sekerlik enige een wat glo aan die universele waarde van tyd spandeer met ander mense, teen die bors sal stuit.

’n Derde en finale vraag sal dan wees, gestel ’n persoon kan inderdaad sy of haar behoefte aan samesyn verminder, sou dit nie die persoon in staat stel om minder afhanklik te wees van die voorskrifte van ander oor hoe hulle moet verskyn aan die gemeenskap, oor hoe hulle moet funksioneer, en oor wat hulle moet sê en doen, wanneer, en op watter wyses nie?

Kantgedagte: Sommige mense sal my dalk daarop wys dat mense nie meganiese kreature is wat wag vir opdragte om ingepons te word voor hulle ’n woord kan uiter of ’n ledemaat kan lig nie. Natuurlik wag niemand op ’n ander een om opdragte teen sy voorkop uit te druk voordat hy oorgaan tot aksie nie. Die voorskrifte waarna ek verwys, is soms subtiel en ander kere word dit uitgespel, soms is dit algemeen bekend, en soms is dit so verborge dat indien jy sommige mense daarop wys, hulle oombliklik harnasse toeslaan en krygsponies bespring om jou te dwing om jou woorde terug te trek.

Watse resultaat, om saam te vat, sal dit hê op die psige van ’n individu wat vry word van die voorskrifte van ander mense oor hoe hulle moet verskyn, hoe hulle moet optree, en wat hulle moet sê en doen? En mag dit wees dat hierdie vryheid in die geval van sommige individue ’n noodsaaklike deel van die proses is wat hulle uiteindelik in staat sal stel om ’n positiewe eindresultaat te bewerkstellig van hul bestaanstyd op hierdie planeet?

______________________