MAANDAG 27 DESEMBER 2004
Deel drie
Meer as ’n jaar gelede het ’n gedagte in my kop begin broei. Dit het hoofsaaklik gehandel oor die tipe lewe wat ek kan leef in Suid-Afrika, terwyl ek steeds behandel sal word as ’n volwassene in ’n gemeenskap van ander mense wat ook ouer is as 25, maar wat voldoen aan die konvensionele kriteria van volwassenheid. Teen die einde het die twee dele van die oorspronklike gedagte die tema aangeraak van presies wat hierdie kriteria behels. Waarmee ek vorendag gekom het, was nie oorspronklik nie: kry ’n werk, trou, koop ’n huis of ’n woonstel, raak swanger, en wees verantwoordelik vir jou eie nageslag.
Dis nou meer as ’n jaar na die oorspronklike gedagte uitgebroei het. Ek sit steeds in dieselfde woonstel, op dieselfde stoel, en tik steeds opstelle met hoofsaaklik twee vingers op dieselfde rekenaar (ek het wel geskuif van die spaarkamer na ’n hoekie in die sitkamer). My enigste medium van vervoer is steeds my geel fiets. My antieke kassie, my oefenfiets, en al my bokse staan naastenby dieselfde spasies vol.
Hoewel ek nie tans ernstig dink aan die opheffing van wat ek voorheen my “ballingskap” genoem het nie, het die gedagte aan twee moontlike lewens weer vanaand aan die binnekant van my skedel begin tik: Alleen, of Saam Met Iemand. [1]
Indien ek voortgaan om my dae en nagte op my eie te slyt, sal dit my eie keuse wees. Om saam met iemand te wees sal benewens ’n meer genotvolle werklikheidservaring ook dinge meebring soos die moontlikheid van ’n toekoms saam, wat weer vrae na vore sal bring van plek – Suid-Afrika of Taiwan, of ander moontlikhede, woning – huis of woonstel, siende dat dakkamer of karavaan nie ’n opsie sal wees nie, asook die aangeleentheid van geld, en gereelde inkomste.
Laat ek herhaal: As ek voortgaan om nié my lewe met iemand te deel nie, sal dit wees met ’n baie spesifieke doel in gedagte. Geestesbeelde van Middeleeuse askete kom na vore, en my geloof dat ek in diens van ’n idee staan en derhalwe meer konvensionele vertroostings moet opoffer, bevestig vroeëre opvattings oor roeping – dat die doel van my bestaan, selfs die doel van my sogenaamde eie agenda, te make het met ’n “verpligting” wat verby die spesifieke tyd en plek strek waarbinne ek myself tans bevind, of moontlik nog gaan bevind.
Om alleen te wees, beteken dat ek nie ’n plek hoef te verlaat wat bevorderlik is vir die werk wat ek doen nie – ’n plek waar ek ’n inkomste kan verdien op wyses wat nie my werklike arbeid te veel belemmer nie. Om alleen te wees, so kan die saak geargumenteer word, kan dus bevorderlik wees daarvoor om sekere goeie resultate te bewerkstellig. Om voort te gaan om my tyd op aarde alleen te slyt, as ek dit nog verder wil invryf, sal nog meer kritiese beskouings inspireer oor byvoorbeeld die werklike waarde van geld, die enkeling en die gemeenskap, hoe die mens funksioneer met sy partikulêre bewussyn en identiteit in die moderne wêreld, en die rol van die kerk in ’n wêreld wat nog steeds herstel van die skok van die industriële rewolusie.
Ek is bewus van die moontlikheid dat ek kan ophou skryf. Die boks met al my notaboeke vul ’n spasie nie te ver van waar ek sit nie. So ook weet ek waar al die uitgedrukte kopieë van my opstelle en ander skryfwerk is, en die pas hersiene drie volumes van “Die Persoonlike Agenda” lê saam met die 200-bladsy uittreksels weergawe en ’n netjies gedrukte en gebinde kopie van my digbundel agter my op die houttafel. Ek kan al hierdie materiaal in ’n krat druk, dit met sesduim-spykers toe bliksem, al die verwante dokumente van die rekenaar afvee, en van môre af my daaglikse bestaan daaraan wy om genoeg geld te verdien om die res van my dae en nagte op hierdie planeet in gerief te slyt. Ek is bewus van hierdie moontlikheid.
* * *
Dit is nodig om op hierdie punt te vermeld dat ek my nie meer te veel steur aan die gemeenskap se kriteria van wat mens kwalifiseer as ’n volwaardige volwassene nie. Die “gemeenskap” doen wat hulle doen, vir redes wat ek heel moontlik beter aan hulle kan verduidelik as wat vele van hulle aan my kan verduidelik, en ék doen wat ek doen om redes wat ek aan hulle kán verduidelik as ek verveeld, of gemoedelik genoeg voel vir so ’n onderneming. “Hulle” kriteria het meer te make gehad met my vrese van ’n jaar of wat gelede oor wat my volwasse teenwoordigheid sou definieer in ’n Suid-Afrikaanse omgewing, sou ek ’n jaar of wat gelede die radikale stap geneem het om myself te hervestig in die land van my geboorte.
Die gedagte wat tans broei in my grys nes is dus verwant aan verlede jaar se idee, maar die dae is verby wat die “gemeenskap” my sal boelie met hulle sogenaamde standaarde.
* * *
Kom ons sê argumentsonthalwe daar is ’n jong vrou wat deesdae dieselfde krismispaarties bywoon as ek, en (hopelik) dieselfde Nuwejaarsparty ook gaan seën met haar aantreklike persoon … Kom ons gaan verder as dit en beweer dat hierdie karakter selfs ’n linksgesindheid jeens politiek het, en – sal die leser glo ek oordryf? – dat sy haar eie persoonlike ervaring met die wêreld van maatskappye en materialisme en tien ure per dag op kantoor gehad het. Sou dit onvanpas wees as ek vir ’n oomblik die moontlike impak van so ’n vroulike teenwoordigheid op my huidige lewe wil bereken?
Siende dat hierdie niks meer as ’n akademiese bespreking is nie, en die vroulike karakter … uhm, denkbeeldig, glo ek dis heeltemal in orde om meer interessante scenario’s as Kersetes en braaivleis by hierdie koue, suiwer rasionele opstel in te weef … Mag mens, net so terloops, noem dat ’n sekere denkbeeldige karakter oor ’n figuur beskik wat ’n man gedagteloos oor die balkon laat staar, of dat sy oë het wat hom ’n duisend gedigte wil laat graveer teen elke muur tussen die coffee shop en sy huis?
Ek kan sweer daar was meer wat ek wou sê … maar ek voel ’n paar gedigte klop in my bors, en is dit nie al tyd om daai telefoonoproep te maak nie?
DINSDAG 28 DESEMBER 2004
Deel vier
’n Jaar gelede het ek gewonder watse impak dit op my siening van myself as ’n skrywer sou hê as ek sou teruggaan Suid-Afrika toe. Ek wou in die eerste twee dele van hierdie Broeiende Gedagte verder oorweeg watse lewe in Suid-Afrika bevorderlik sou wees daarvoor dat ek kan voortgaan om temas aan te roer wat ek sover gedoen het, en om voort te gaan om pakke en pakke papier op te vul met “teorieë” en argumente wat soms meer herinner aan propaganda vir ’n saak as akademiese bespreking. Laastens kon ek net spekuleer hoe Ek-die-skrywer sou verskyn aan die gemeenskap in ’n dorp soos Bronkhorstspruit, of Middelburg, Mpumalanga.
Die vraagstuk van repatriasie sal nooit heeltemal gaan lê nie, maar ek melk dit nie meer vir literêre materiaal nie. Die vraag waarop ek op hierdie Dinsdagmiddag ’n bietjie sonlig wil werp, het met inspirasie van ’n ander aard te doen. In ag genome dat afgeslotenheid, alleenheid, en selfs eensaamheid bevorderlik is vir die eiesoortige materiaal wat ek produseer, en nie net vir die spesifieke teks nie, maar ook vir die ywer en pas waarteen ek woorde neervel, watse effek sou dit hê as ek nié alleen is nie?
Ek vra dit omdat dit moontlik van toepassing mag wees in komende maande, en ook omdat dit helderheid sal bewerkstellig soortgelyk aan die helderheid wat ’n Katolieke priester het, wetende dat hy soms gekonfronteer sal word met vrouens wat dinge in hom sal loswikkel wat deel was van sy wese lank voor hy ’n belofte aan sy kerk gemaak het om selibaat te bly. Die priester het ’n voorgeskrewe antwoord, gereed om te resiteer sou die moontlikheid van romantiese liefde ooit haarself aan hom voordoen. (Ek impliseer geensins dat dit maklik vir hom sal wees net omdat die antwoord aan hom voorgeskryf is en van hom vereis word nie. Ek sê slegs dat die antwoord reeds uitgewerk is, dat dit eerder ’n kwessie is van of hy wil voortgaan om die reeds geformuleerde antwoord te bly resiteer, of om te sê, “Nie meer nie …”)
Geen kerk of biskop, of enige ander instelling of persoon skryf aan my voor wat ek moet doen, en nie moet doen met my hart of ander belangrike organe nie. Ekself moet besluit of ’n intieme verhouding goed sal wees vir my self-gedefinieerde lewe, en die spesifieke arbeid wat ek verrig – ongeag of ek glo ek die arbeid móét verrig, en of ek net nodig het om dit te doen sodat ek oortuig kan wees ek mors nie my lewe nie.
’n Mens mag verder wonder hoeveel van hierdie vraagstuk opgelos sal word met die gebruik van suiwer rede, en watse rol die oerbegeerte na ’n intieme verbintenis met ’n ander persoon sal speel – dit is, sou ’n sekere “ander persoon” besluit om wél die Nuwejaarsparty by te woon …
Soos ek hier sit en staar oor my monitor na die donkergroen laken wat wapper voor my sitkamervenster, probeer ek dink aan ’n spesifieke woord, of ’n frase – soos mens sal krap in ’n gereedskapkis vir die regte spanner om ’n moer mee vas te draai. En soos die windklokkies by die oop venster klingel teen die kouerige winterwind, kom ’n woord by my op wat moontlik hierdie vraagstuk sal vaspen: volhoubaarheid. Is dit volhoubaar vir my om voort te gaan om die temas waarmee ek myself tot nou toe besig gehou het tot vervelens toe te probeer aanspreek, en om voort te gaan teen die pas waarteen ek werk nie net omdat projekte afgehandel moet word nie, maar omdat dit noodsaaklik is vir my om ’n bewussyn van welstand te handhaaf?
Ek glo dit is nie volhoubaar nie.
Ek glo verder dat om meeste van jou tyd alleen te spandeer in ’n ruimte wat ingerig is vir jóú behoeftes, en na jóú smaak en voorkeur, bevorderlik is vir spesifieke temas. Dit volg dan noodwendig dat om nié meeste van jou tyd te spandeer in jou eie geselskap nie, bevorderlik sal wees vir ander temas, wat nie noodwendig minder belangrik is nie as “Die enkeling en die gemeenskap”, of “Ek is nie ’n wese van die buitenste ruim nie”.
Uiteindelik kan hierdie aangeleentheid herlei word na vrae oor wie jy wil wees, en na die spesifieke rol wat jy vir jouself gedefinieer het in die gemeenskap waarvan jy deel is, beide geografies en kultureel. Dit het ook te make met hoe jy die resultaat, soos jy dit tans sien, van die proses om jouself asook jou rol in die gemeenskap te definieer, versoen nie net met die wêreld en tyd waarin jy bestaan nie, maar ook met die bevrediging van jou emosionele en fisiese behoeftes.
Ter illustrasie kan ek noem dat ek vanaand ’n DEEL VYF kon byvoeg by hierdie Broeiende Gedagte, maar dat dit nie gaan gebeur nie omdat ek my woonstel moet verlaat om Engelse klasse te gaan aanbied sodat ek my telefoonrekening kan betaal aan die einde van hierdie maand. Ek sou ook môre-aand DELE SES en SEWE uit my grysstof kon optower, maar dit is dan ook so dat ’n sekere karakter sedert die begin van hierdie stuk ’n aandete georganiseer het met ’n sekere ander karakter wat, net in teorie natuurlik, gedagtes inspireer in die Skrywer van Stukke wat nie veel uit te waai het met vele van die temas wat hy tot nou toe – tot vervelens toe, kan ’n mens amper sê – probeer aanspreek het nie.
———————-
[1] ’n Paar weke gelede het ek gedink aan drie moontlikhede vir ’n volwasse bestaan: dié van die “swerwer”, die “setlaar”, en die “reisiger”. Vir die doel van hierdie opstel fokus ek egter op twee moontlikhede van ’n ander soort.
______________________