Notas op lughawens en in die lug

SONDAG 8 AUGUSTUS 2004

Die punt, en die kinkel

00:26

(Kuala Lumpur Internasionale Lughawe, veertig minute of so voor ons weer vertrek)

Die punt is, as wie jy is nie voorbestem is nie, kan jy wees wie jy kies om te wees (Friedrich Nietzsche: “Will a self, and thou shalt become a self”). Die kinkel is wel dat wie jy kies om te wees of wie jy kies om te word, beperk is tot jou gegewenheid – gene, sosio-kulturele en etniese agtergrond, ensovoorts – en ook deur partikulêre tyd en plek.

Steeds, om gegewenheid as ’n verskoning te gebruik om nie meer te word as wat jy veronderstel jy veronderstel is om te wees nie as gevolg van dit wat aan jou “gegee” is, is om die ongelooflike vermoë wat die mens het om hom- of haarself te transformeer, te onderskat.

Konfronteer die kluisenaar

01:09

(Steeds wagtende in die masjien)

Ek kan verstaan hoekom sommige mense kies om hulleself te isoleer van die gemeenskap, van ander mense. Dis nie noodwendig dat hulle nie van mense hou nie, dis eerder ’n geval dat hulle ’n punt bereik wat hulle nie meer gekonfronteer wil word, op ’n daaglikse basis, met dinge wat meeste mense wonderbaarlik regkry om te ignoreer nie, of wat meeste mense bloot aanvaar sonder om dit te veel te bevraagteken.

Die gemoed van die enkel-reisiger …

01:21

Die vrou in die pienk trui sit in ry, ek dink 23 of 28. Nadat ek met haar gesels het in die bussie op pad na die lughawe, het sy gewag vir die volgende hysbak na die vyfde vloer. Toe ons later wag om aan boord te gaan, het sy op dieselfde bank as ek, twee sitplekke van my af, kom sit. Ek vra haar toe, “Ni yizhi feidao Agenting ma?” (Vlieg jy non-stop na Argentinië?) Ons gesels toe ’n bietjie, en toe ons moet gaan, staan sy eerste op en stap vinnig genoeg om etlike plekke voor my in die ry te wees. Toe ek verby haar stap in die vliegtuig (na my sitplek in die gat, nommer 63D), het sy nie spesifiek na my gekyk nie, maar ek was in haar gesigsveld. Ek het myself verbeel dat sy gereed was met ’n Engelse frase as ek in die verbystap iets moes sê soos, “Lekker vlieg.”

Het ek al genoem dat ek moeg is daarvoor om alleen te reis? Ek het verlede Saterdagaand in Nommer Nege vir myself gesê dit is my volgende groot ambisie – om nie meer alleen te reis nie. Die vrou in die pienk trui sou lekker gewerk het …

Ons begin spoed optel. (Het die mense voor my nie gehoor die loods het almal beveel om hulle monde te hou nie?) Die jazz oor die luidsprekers raak al hoe jazzier, die mense praat al hoe harder, die ligte van die lughawe flits vinniger en vinniger en ons is … in die lug!

Dis ellendig om alleen te wees.

Die tuiskoms

04:55 (Suid-Afrika tyd)

Die land van my Gegewe Self kom in fokus. Die tydsberekening kon nie beter gewees het vir die musiek in my ore nie: Juluka se “Akanaki Nokunaka” (He Doesn’t Care, Even About Caring).

06:45

(Johannesburg Internasionale Lughawe)

“I was the only one / to witness my homecoming / so I asked myself / Brother Josef, how’ve you been …” (uit Africa, deur Juluka)

Een Mail & Guardian, twee sigarette, ses poskaarte – ek is immers ’n toeris – en ’n halwe bottel Orange Powerade later sit ek voor die Bureaux de Change, en vul nog ’n bladsy op in ’n notaboek wat gewoonlik ooplê op my antieke kassie in Benewelde Lig.

Oor ’n kwartier gaan ek my ou vriendin J. wakker bel, en oor hopelik ’n uur of so maak ek my dramatiese herverskyning in Dronkwordspruit.

Gaan my opinies van die afgelope paar maande verander oor die volgende vier weke? Gaan ek nuwe insigte opdoen wat huidige planne in heroorweging sal roep? Tyd sal leer.

Tyd vir ’n koppie koffie …

____________________

Gedagte twee + Gedagte een

SATERDAG 7 AUGUSTUS 2004

Gedagte twee: Identiteit het te make met die vraag na wie ons is. Begrip oor wat gebeur tydens die proses van identiteitsvorming kan help om die vraag te beantwoord hoekom ’n individu is soos hy is, hoekom hy doen wat hy doen, leef waar hy leef, saam met wie hy dit doen, hoe hy verskyn aan die wêreld, hoe hy geld verdien, en hoekom hierdie spesifieke detail en nie ander nie.

Gedagte een: Dis Saterdag 7 Augustus 2004. Dis 13:10 in die middag. Ek sit op ’n vliegtuig oor die … Indiese Oseaan.

Op 3 Mei hierdie jaar het ek vir ure gestaan en skryf in my notaboek. Wat ek geskryf het daai dag het uiteindelik daarop neergekom dat ek ’n self gedefinieer het in Taiwan waarmee ek gelukkig is. Dit was ook duidelik  dat ek moeg was daarvoor om te sê, “Ek is op pad … hierdie is nie my werklike lewe nie … ek werk aan ’n paar planne … moontlik oor ses maande sal ook ek ’n lewe hê wat ek met trots my eie sal kan noem …”

Ek het op daai Maandag verklaar: Ek hét ’n lewe. Hierdie lewe is in Taiwan. Dis nie ’n volmaakte lewe nie, maar dis ’n goeie lewe. En dis my lewe.

Ek het ’n identiteit vir myself uitgesorteer waarmee ek gemaklik is, en op ’n plek waar ek hierdie partikulêre “Ek is” kan wees.

Wie is ek dan? Ek is ’n man in sy vroeë dertigs wat woon in Taiwan, wat skryf, Engelse klasse gee, Chinees studeer, en wat werk aan langtermyn-besigheidsprojekte. Ses maande gelede sou ek spesifieke etikette gehang het om hierdie dinge wat ek doen, etikette partikulêr aan die tyd en groter omgewing wat ek bewoon soos “skrywer”, “onderwyser” of “student”. Ek het niemand anders nie as Karl Marx te danke vir die idee dat jy jouself eerder net moet bepaal tot wat jy dóén, en die etikette laat vir dié wat dit om verskeie redes nodig het.

—————–

“For as soon as the distribution of labour comes into being, each man has a particular, exclusive sphere of activity, which is forced upon him and from which he cannot escape. He is a hunter, a fisherman, a herdsman, or a critical critic, and must remain so if he does not want to lose his means of livelihood; while in communist society, where nobody has one exclusive sphere of activity but each can become accomplished in any branch he wishes, society regulates the general production and thus makes it possible for me to do one thing today and another tomorrow, to hunt in the morning, fish in the afternoon, rear cattle in the evening, criticise after dinner, just as I have a mind, without ever becoming hunter, fisherman, herdsman or critic.”

~ Karl Marx, The German Ideology (1845)

______________________

Identiteit – ek is wie ek was

WOENSDAG 4 AUGUSTUS 2004

Identiteit, en die identiteit van God

Vir vele mense wat hul eie identiteit wil uitsorteer, is dit ’n voorvereiste om eers die identiteit van God uit te sorteer. God is die “hoof” van hulle godsdiens; godsdiens is ’n primêre instrument waardeur hulle beantwoord wie en wat hulle is, en wat hulle met hul lewens moet of wil doen. As hulle nie seker is oor die identiteit van God nie, kan hulle nie seker wees van hulle eie identiteit nie. Ook, as hulle seker kan wees oor wie en wat God is, kan hulle sekerheid vind oor wie en wat húlle is, of moet wees.

VRYDAG 6 AUGUSTUS 2004

Ek-is-wie-ek-was (al is ons net verwant)

Notas uit Stellenbosch 1994, Korea 1996 tot ‘98, Johannesburg ‘98, en Taiwan 1999 tot 2004 dui aan dat ek steeds dieselfde persoon is, maar dit wys ook hoe hierdie “persoon” verander het. Dit behoort selfvertroue op te wek om te wéét mens kán van omgewing verander, en steeds dieselfde blysteeds “ek” wees steeds dieselfde identiteit behou … voortgaan om te funksioneer as iemand wat in wese verwant is aan die “ek” van gister, en tien jaar gelede, op ’n halfdosyn plekke op twee kontinente.

______________________

Man in die spieël – groei – Renaissance man

SONDAG 1 AUGUSTUS 2004

Wie is daai man in die spieël? (En hoekom kyk hy so na my?)

Die uitdaging, soos ek reeds teen dié tyd al soveel keer geresiteer het dat sommige lesers se kop seker wil draai by die blote sig van die woorde, is … om te verskyn as wie en wat jy werklik is. (Daar, dit was nie so erg nie, was dit?)

My punt op hierdie oomblik is egter dat ’n mens soms terugval op ou verskynings wat nie meer werklik geldig is nie, maar wat vertrou kan word vir goeie reaksie. Hierdie tipe situasie los homself weldra op, op ’n natuurlike wyse – of dan hopelik so, anders sal die selfverloëning ’n oop, brandende sweer word.

Dit is egter belangrik om, as ’n mens miskien in ’n spesifieke situasie anders verskyn het as hoe jy jouself sien, jy nie sonder versuim ’n badkamerspieël moet gaan soek om paniekerig vir jouself te gil, “Wie is ek … of wie is jy?!” nie. Weet, en verstaan dat selfs al verander jou beeld van jouself met die verloop van tyd, jy moontlik steeds soms as jou “ou self” sal verskyn ter wille van veiligheid, of positiewe reaksie, of positiewe resultaat in ’n spesifieke situasie.

Die ideaal is uit die aard van die saak dat jou huidige, en hopelik geloofwaardige self voldoende vertroue sal opbou sodat jy kan verskyn as wie en wat jy is, op enige spesifieke tydstip van jou lewe.

MAANDAG 2 AUGUSTUS 2004

Om te groei en te ontwikkel en uitdrukking te gee – of om te kies om dit nie te doen nie

Jy ervaar die werklikheid. Dit is moontlik om uitdrukking te gee aan hierdie partikulêre ervaring.

Jy het ook ’n identiteit. Dit is moontlik om jou begrip te verbeter van wie jy is, wat jy is, en wat jy met jou lewe wil doen.

Jou keuse, op hierdie oomblik, is of jy hierdie dinge wil erken, hierdie moontlikhede, en om voort te gaan met die proses van persoonlike groei en ontwikkeling, of nie.

WOENSDAG 4 AUGUSTUS 2004

In “Renaissance Man” verander Danny De Vito se karakter die omgewing waar hy woon en werk van ’n kantoor in die middestad en ’n huis in ’n middelklasvoorstad na ’n militêre opleidingkamp. Hy vind dat hy in werklikheid nie ’n advertising ou is nie maar ’n “teacher”. Hy raak skielik toegewyd aan wat hy doen, en hy voel vir die eerste keer in jare dat hy êrens behoort. En, siende dat die formule altyd reg werk in movies, vind hy natuurlik ook die liefde van sy lewe.

______________________

Wat sou jy wees as jy nie VERSKYN het nie?

WOENSDAG 4 AUGUSTUS 2004

As jy nie nodig gehad het om te verskyn nie, sou jy nie veel van ’n sogenaamde identiteit nodig gehad het nie. Of miskien moet ek eerder sê, die manier hoe jy wel aan jouself sou dink as jy nie nodig gehad het om te verskyn nie, sou nie die goedkeuring van die gemeenskap nodig gehad het nie – menende in daaglikse gesig-tot-gesig verskynings.

Identiteit wat herken en tot ’n mate goedgekeur word deur die gemeenskap word dus hoofsaaklik benodig vir VERSKYNING. In ag genome hierdie verbintenis tussen identiteit en verskyning op bepaalde tydstip en plek, wat sou die waarde daarvan wees om nie te verskyn nie?

[Nota op 10 Augustus 2007: Identiteit word hoofsaaklik benodig vir verskyning? Ek sit nou alleen agter my rekenaar, en ek het op hierdie oomblik nodig om te weet wie ek is.]

[Nota op 23 Mei 2012: Ek sit nou alleen agter my rekenaar en ek dink aan myself op ’n spesifieke wyse, wat vir alle praktiese doeleindes daarop neerkom dat ek identiteit het. Hoekom? Omdat ek daagliks verskyn aan mense, en dan tussen verskynings inskuif agter die rekenaar … waar ek nie ’n knoppie kan afskakel na iets wat laat flikker wie ek is nie. Plus, dalk vereis die werk wat ek doen, soos hierdie skryfmateriaal, dat ek identiteit moet hê. Hoekom? Want wat ek skryf, is verteenwoordigend van my, en sal absoluut betekenisloos wees as “ek” nie verskyn aan die leser as mens-met-identiteit nie. Die leser sal nie kan vereenselwig met wat ek skryf nie, en sal derhalwe niks ernstig opneem wat ek sê nie. Dus, hoewel ek nie tans verskyn aan enige iemand nie, het ek steeds identiteit want ek onthou wie ek was tydens my mees onlangse verskyning, en ek het nodig om oor identiteit te beskik op kort kennisgewing – as iemand byvoorbeeld aan die deur klop. En selfs as jy alleen is, doen jy dalk werk wat identiteit vereis.]

______________________