VERSKYN of VERDWYN?

DONDERDAG 23 SEPTEMBER 2004

Vir jare het ek gesoek na wie ek is, en probeer uitwerk hoe ek moet verskyn aan die wêreld. Ek het uiteindelik tot die insig gekom dat jy jou “gegewe self” moet konfronteer, moet aanvaar wat jy nie kan verander nie, en dan in ag genome die gegewe materiaal, asook gegewe tyd en plek, moet definieer wie jy wil wees, hoe jy aan die wêreld wil verskyn, of jy enigsins ’n rol wil speel in die wêreld, watse rol jy wil speel, waar jy hierdie rol wil speel, asook hoe jy beplan om in jou behoeftes te voorsien op die plek waar jy is en in ag genome wie jy gedefinieer het jy wil wees en watse rol jy wil speel, of watse bydrae jy wil maak.

Een vraag bly egter na jy hierdie dinge uitgesorteer het: WIL JY VERSKYN?

Indien jy kies om wel te verskyn, skop al jou antwoorde op bogenoemde vrae in.

Sou jy kies om nié te verskyn nie, verander alles. Dit maak meeste van jou antwoorde nutteloos, met nuwe vrae wat beantwoord moet word om ’n ander stel behoeftes te vervul (of soortgelyke fisiese behoeftes, maar sielkundig verskillend).

Dit is die vraag wat ek op hierdie punt van my lewe kontempleer. Wil ek wees wie ek (tans) is, op die plek waar ek gekies het om hierdie “ek” te wees, en die rol vervul wat ek vir myself gedefinieer het, of wil ek verdwyn … of dan slegs minimale, en meestal anonieme verskynings maak ten einde my basiese fisiese behoeftes te vervul?

SONDAG 10 OKTOBER 2004

Noodwendige verloop van spirituele ewolusie?

Jy raak moeg daarvoor om jouself te verduidelik aan ander mense. Jy raak ook toenemend bewus van jou eie karikatuur in verskyning aan die wêreld. Jy begin toenemend ’n behoefte te ervaar om te onttrek.

Is dit ’n noodwendige verloop van spirituele ewolusie? Kan dit vermy word dat jy jouself toenemend wil losmaak van die wêreld?

______________________

Woestyn of stad – beginsel

DINSDAG 21 SEPTEMBER 2004

WOESTYN of STAD?

Om jou identiteit-ter-wille-van-funksionering te verloor, of om dit te aanvaar en te wees ter wille van ’n (goeie) doel … sê jy stap al vir jare lank in sirkels en loop kruis en dwars oor dieselfde areas maar jy kry dit reg om lank genoeg koers te hou, en jy kom by die rand van die STAD, net voor jy die WOESTYN betree, waar jy nie meer hoef te funksioneer volgens konvensies van tyd en plek nie, en jy draai om en stap terug, weer die STAD binne, om met die kennis wat jy het oor wie en wat jy waarlik is, en wie en wat jy moet wees om te oorleef en te funksioneer, jou lewe te leef in diens en nastrewing van ’n Goeie Saak … tot die tyd aanbreek wat jy die WOESTYN in ’n ander gedaante sal betree.

DONDERDAG 23 SEPTEMBER 2004

’n Beginsel …

Vele van ons bly vasgevang in ’n lewe wat nie die beste is wat ons kan bewerkstellig nie, want om verstellings te maak, sal meer energie verg as wat dit vat om die huidige, soms frustrerende lewe bloot te onderhou op ’n daaglikse basis.

Dit is hoekom verandering gewoonlik volg op ’n bliksemstraal wat ons tot aksie skok – ’n gebeurtenis of insident wat ons huidige bestaan ondraaglik maak.

____________________

Waarheid – eensaamheid – reëlings – vraag

DONDERDAG 16 SEPTEMBER 2004

Die volle waarheid, eensaamheid, en praktiese reëlings

Ek voel steeds alleen, maar nie soveel as ’n jaar of drie gelede nie. Een rede is omdat ek nou weet mense het mekaar nodig vir die vervulling van ’n reeks behoeftes – beide emosioneel en fisies. Indien die behoefte weggeneem word, verander alles.

* * *

Die opvatting in talle kulture is dat die mens ander mense nodig het, dan nie?

Ja, omdat “talle kulture” probeer uitwerk hoe om basiese vertroosting te bied aan die enkeling in die aangesig van ’n verskriklike realiteit. Dis ’n praktiese reëling – soos jou naam. Dis nie die Volle Waarheid nie.

MAANDAG 20 SEPTEMBER 2004

Vir die rekord

Ek kontempleer al vir weke lank ’n keuse, in verskeie vorms: Om te leef vir hierdie wêreld, of om te “sterf” in hierdie wêreld.

As ek kies om te leef, is my huidige half-lewe nie goed genoeg nie.

As ek kies om te “sterf”, is my huidige half-dood ook nie goed genoeg nie.

* * *

Sommige mense vind dit uiters stresvol om te verskyn in die wêreld; uit die aard van die saak probeer hulle dit soveel as moontlik vermy. Ek begryp dit.

Eksistensiële vraag

Die vraag bly: Moet ek voortgaan om te wees wat ek uitgewerk het ek wil wees in ag genome al die gegewe faktore – om as “Brand Smit” ’n verhouding te bewerkstellig met die wêreld, en as “Brand Smit” te verskyn aan die wêreld op ’n daaglikse basis, om ’n hopelik konstruktiewe rol te speel en ’n positiewe bydrae te maak terwyl ek funksioneer, vir alle praktiese doeleindes, as “Brand Smit” … OF … onttrek ek uit die spel, en staak my verskyning en gepaardgaande rol en funksionering as “Brand Smit”, en kyk waarheen dit my vat?

______________________

Demonstrasie – plek – persoonlike agendas

DINSDAG 14 SEPTEMBER 2004

Is die demonstrasie al verby? (Want ek sou graag wou voortgaan met my bestaan)

Op ’n stadium van my lewe het ek onder die indruk gekom dat my enigste reg tot ’n bestaan sal wees as ek kan bewys of demonstreer dat ek nie “dieselfde as almal” is nie. Dalk is dit tyd om die werklikheid van my lewe – soos geskep uit die klei wat voor my gelê is – te konfronteer en te verklaar dat ek genoeg bewys of gedemonstreer het.

Ek sê dit, want dit wil blyk vir my om my reg om gelukkig te wees, op te eien, ek tog ’n bietjie soos ander mense moet wees, en soortgelyke aksies moet onderneem – soos om die Spel van Sosiale Kontak met die Uitsluitlike Doel om Saam met Iemand te Wees tot Wie Jy Seksueel Aangetrokke is, te speel.

(“Reg om gelukkig te wees?” mag jy dalk vra. Ja. As ek nie so ’n reg het nie, het niemand so ’n reg nie. Dis of universeel, of glad nie van toepassing nie.)

WOENSDAG 15 SEPTEMBER 2004

Plek, en persoonlike agendas

“Wees toegewyd aan jou eie agenda.”

Die vraag is, wat presies is jou agenda?

* * *

Die vraag is nie watse plek perfek is vir woondoeleindes nie; die vraag is watse plek is bevorderlik vir jou ambisies, en jou strewes, en jou doelwitte. In kort, watter plek is bevorderlik vir die uitlewing en vervulling van jou eie persoonlike agenda?

* * *

Dit wil blyk asof my fokus wyer raak. Aanvanklik was my fokus net op my eie identiteit. Uiteindelik het ek gevra: Wat is identiteit? En as dit ’n behoefte vervul, wie en wat is ek (of sal ek wees), as die behoefte verwyder word?

Selfde met die agenda issue. Eers was dit my eie agenda. Nou sê ek: Almal het ’n agenda, so wat is joune? En kan jy dit verwoord?

Ook so met plek. Vir jare (en honderde bladsye) het ek gevra: Waar’s my plek? Ek het selfs ’n poging aangewend om kriteria te vestig wat kon geld vir ander. Nou sê ek, plek en agenda, en noodwendig identiteit, is alles verbind, en die kernwoord is bevorderlik. Watse plek, en watter ander faktore, is bevorderlik vir die uitlewing van jou self-gedefinieerde identiteit, en vir die uitlewing en vervulling van jou persoonlike agenda?

(Ek het myself vroeër skuldig gemaak aan die wanopvatting dat om jouself te vind, die einddoel is, terwyl dit inderwaarheid slegs die begin is.)

______________________

Verveling en aksies – vrae op Maandag

MAANDAG 13 SEPTEMBER 2004

Verveling, en aksies wat kompenseer (en die Engelse klas op ’n Maandagmiddag)

Ek is oukei teen 16:25: gemoed is hanteerbaar; woonstel is netjies; planne, nuut en oud, interessant genoeg vir ’n Maandag.

Binne ’n halfuur met ’n groep sewejariges (wat nie vreeslik onstuimig of lawaaierig is nie), oorval die verveling my, die absolute klug van wat ek besig is om te doen. Kort daarna begin my gedagtes in allerhande donker gange afstorm: Wat is die punt van alles? Waarheen is ons op pad? Staar die feite in die gesig! Ensovoorts. Standaard Maandagmiddag, 16:30 tot 18:00 verskynsel.

Ek reken toe, mens het sekere dinge nodig. As jy dit nie kry nie, gaan jy óf fisies en emosioneel agteruit, óf jy raak verveeld, óf albei (afhangende van jou spesifieke situasie, en van watse spesifieke behoeftes mens praat).

AKSIES OM TE KOMPENSEER kan die nadelige effek van die situasie verlig, maar as hierdie tipe aksies nie geneem kan word nie, is dit fisiese en/of emosionele agteruitgang, óf verveling en frustrasie, óf al voorafgenoemde.

Dit is hoe ek vir die soveelste maal my huis-ure, alleen, kan beskryf, en dan ook die resultaat van ’n gebrek aan aksies om te kompenseer, op ’n Maandagmiddag tussen 16:30 en 18:00.

’n Paar vrae

Wat is die praktiese waarde van my idealisme? Wat is my verhouding met die wêreld? Wat wil ek hê moet my verhouding met die wêreld wees? Wat kán my verhouding met die wêreld wees? Wat – en ek bedoel dit in alle erns – is die sin van die lewe?

______________________