Die kriteria vir oorlewing (raak strenger by die dag)

DINSDAG 16 SEPTEMBER 2003

Die kriteria vir oorlewing raak strenger by die dag. Soos gewoonlik is persepsie van my persoon een van die grootste probleemareas – maar nie noodwendig hoe ander my sien nie; ek oordeel myself. As ek myself te lig bevind, dra ek dit soos ’n advertensiebord om my nek. Dan’s ek een groot moraal- en selfbeeldkrisis gereed om in ’n onskuldige omstander se gesig te ontplof.

Vat my vriend L. as voorbeeld. Toe ek vyf jaar gelede vanaf Korea teruggegaan het Suid-Afrika toe, het hy saam met ’n groep ander werkende twenty-somethings ’n huis gedeel in Johannesburg. Hy was op daai stadium die publishing editor van ’n tydskrif wat hy grootliks op sy eie begin het (ander mense het ook ’n bydrae gelewer, maar dit was hoofsaaklik sy idee, en sy verantwoordelikheid).

Dit was die situasie toe ek teen Julie van daai jaar as glorified sekretaresse by sy onderneming aangesluit het. Teen Oktober van daai jaar het L. ’n huis gekoop in ’n goeie deel van die stad. Die kantoor het ook geskuif na die nuwe huis toe. Siende dat dit effens te ver was vir my om te bereik per fiets elke dag, het ek sy uitnodiging aanvaar om die buitekamer in sy agterplaas my tydelike hoofkwartier te maak.

Bietjie meer as ’n jaar later was L. op die punt om die volgende fase van sy lewe binne te gaan – huwelik. Ek was toe al elf maande terug in Noordoos-Asië. Ek het ’n hele drie slaapkamer woonstel vir myself gehad. Ek het voltyds gewerk, en ek het genoeg geld verdien om redelik goed te leef. (Vae veronderstellings oor presies wat ek doen het my altyd goed gepas, want dan het ek nie nodig gehad om vir enige iemand te verduidelik dat ek vir kleuters die alfabet leer terwyl ek my hande ritmies klap nie.)

Dis amper vier jaar later. My vriend het intussen sy tydskrif verkoop aan ’n groot maatskappy, wat ook vir hom ’n posisie aangebied het wat hy “nie kon weier nie”. Hy en sy vrou woon deesdae in ’n groter, luukser huis, en soos ek reeds genoem het in die vorige stuk, het hulle onlangs ouers geword van ’n babaseun. Hy is dus volgens die gemeenskap se kriteria suksesvol in alle opsigte – hy’s ’n huiseienaar, hy’s ’n getroude man, ’n pa, en hy’t ’n werk wat baie van hom vra, maar die monetêre beloning maak dit die moeite werd.

Ek, aan die ander kant, huur steeds dieselfde woonstel by ’n vriendin van een van my werkgewers (hoewel net tot die einde van hierdie maand). Ek ry deesdae weer fiets want ek wil nie die bromponie wat op my stoep staan en olie drup vervang met ’n nuwe een nie (en omdat die fietsryery in elk geval beter is vir my gesondheid). Ek gee nog steeds ’n paar Engelse klasse elke dag. Ek werk ook aan ’n paar projekte wat hopelik eendag ’n langtermyninkomste sal genereer. En ek skryf. En studeer Chinees. Solank ek dus hier in Taiwan bly kan ek een keer per jaar ’n draai by my vriend gaan maak, in sý kar ry na ’n Italiaanse restaurant, en selfs bekostig om R200 of so uit te vurk om die rekening te delg.

Maar waar gaan ek staan as ek terug is in Suid-Afrika? Die dae is verby wat ek ’n kamer kan huur by ’n vriendin van universiteitsdae. Die dae is verby wat ek op ’n stuk spons kan slaap in ’n vriend se buitekamer. Die dae is verby wat dit vir my goed genoeg sal wees om in ’n administratiewe kapasiteit in ’n kantoor te werk. Die dae is ook verby wat dit oukei is om vir my pêl te sê ek sal saam met hom ’n dop gaan drink, solank hy my kan kom optel – en moontlik nog vir my drankie kan betaal ook. Dit is dus ooglopend dat die kriteria vir oorlewing – ten minste vir myself – strenger raak by die dag.

Moet ons almal dan ons lewens vergelyk met dié van ou vriende om uit te werk hoe goed of hoe sleg ons doen? Dis nie my bedoeling nie. Maar ek onderskryf sekere kriteria vir ’n goeie bestaan, en ek is bewus van hoe ek, op hierdie stadium, sou gevaar het in ’n wêreld soortgelyk as die een waarin my vriende in Suid-Afrika hulle bestaan slyt.

My identiteit as ’n skrywer wat alleen woon in ’n vensterlose woonstel êrens in die Verre Ooste, wat Chinees leer praat, en geleer het hoe om ’n paar vrae te vra oor die lewe, is stewig geanker in die realiteit waarin ek myself bevind het die afgelope vyf jaar. Die visie van myself as ’n entrepreneur wat hoop om “volgende jaar” geld te maak in Suid-Afrika, terwyl ek van tyd tot tyd my Chinese boeke sal afstof om te kyk of ek nog iets daarvan verstaan, is geanker in geloof. Ek weet nie of dit sal uitwerk nie. Ek mag dalk faal. En as ek misluk, voel ek ellendig.

Ek kan sekerlik sê dat ek nie myself met enige iemand hoef te vergelyk nie. Ek kan sê dat ek nie na ses maande of ’n jaar ’n huiseienaar hoef te wees nie. Ek kan sê dat ek nie na ’n jaar of agtien maande getroud hoef te wees nie. En ek kan byvoeg dat ek nie hoef te werk volgens ’n skedule nie. My lewe is immers nie ’n reeks tonele uit ’n vooraf uitgewerkte draaiboek nie.

Die probleem is dat ek bepaalde idees het van hoe sukses lyk. In die wêreld van die konvensionele middelklas lyk sukses soos my vriend, L., se lewe. Wat betref die wêreld van die vrydenkende, alleenloper skrywer, voldoen my huidige lewe aan die veel meer beskeie kriteria.

Maar is dit genoeg?

Ek voel soms lus om te vlug – Mainland China toe. Om my rugsak te pak vol boeke en ’n paar kledingstukke, en die res van my besittings te laat stof opgaar in my woonstel. Ek sal in Beijing gaan woon vir drie maande, en elke dag op foto-uitstappies gaan. Ek sal Chinees studeer in parke en teewinkels, en dit oefen in klein eetplekkies in nou agterstrate, en by eertyds verbode paleise.

Ek wil soms vergeet van Bronkhorstspruit, besigheid, betekenis van die lewe, trou en kinders kry, sukses voor 35, plek in die wêreld, en my plek op die rand van die sosio-ekonomiese middelklas. Ek is lus om my baard te laat groei en te werk aan ’n projek getiteld, “Lotusblomme van Rooi China”.

En ek is lus om op te hou om stukke te skryf soos “Die kriteria vir oorlewing raak strenger by die dag”.

Ek is ook lus om op te hou om te probeer. Want maak nie saak hoe hard ons daaraan werk nie, dinge werk nie altyd uit nie. En partykeer mis ons die punt, omdat ons te hard probeer om dit uit te sorteer.

______________________

Faktor X skop in

[Kortliks, die agtergrond van hierdie stuk: Teen September 2003 het ek dit ernstig oorweeg om Taiwan te verlaat vir ’n groterige dorp in Gauteng, genaamd Bronkhorstspruit.]

MAANDAG 15 SEPTEMBER 2003

Bronkhorstspruit is … ’n kak plek, dit weet almal. Maar dit is ook die plek waar my jongste suster en haar man besluit het om hulleself te vestig. Die dorp het omtrent vyftien begrafnisondernemers, twintig “Eazy Credit” plekke, ’n Wimpy Bar, en een skryfbehoeftewinkel wat ’n paar boeke verkoop. Daar’s geen musiekwinkels nie. Daar’s geen 7-Eleven’s wat 24 uur per dag oop is nie. Daar’s nie ’n lewendige toneel in die middel van die dorp elke weeksaand na tienuur wanneer mense uitkom om ’n laat aandete te nuttig by tydelike sypaadjie restaurante nie. Daar’s nie koffiewinkels wat oopbly tot na middernag nie. Daar is wel ’n reuse tempel en opvoedkundige sentrum gebou deur ’n Boeddhistiese orde van Taiwan. En in ’n woonbuurt omtrent twintig minute van die dorp af te voet, woon my geliefde jongste suster.

Kan ’n mens dit regverdig om alles op te gee wat aan jou bekend is – of bekend geword het die afgelope vyf jaar van jou lewe – net omdat jy jouself dood verlang na jou familie?

[…]

Waaroor gaan alles op hierdie stadium? Waaroor gaan die hele storie van Taiwan, Bronkhorstspruit, Suid-Afrika, en die Ooste? Waaroor gaan die idee van “besigheid”, en skryf, en braaivleis en nagereg by die “huis”?

Dit gaan daaroor om so gelukkig te wees as wat ’n mens kan wees. En dit gaan oor spyt, spesifiek in my geval om nie later spyt te wees dat ek nie méér tyd met my familie spandeer het nie. Dit gaan daaroor om nie net ’n vervelige draaiboek te volg soos ’n tweederangse akteur nie. Dit gaan daaroor om te wees wie jy werklik is (as jy dit uiteindelik uitgesorteer het), eerder as om net die byproduk te wees van al die maatreëls wat jy implementeer om te kan oorleef en om jou vrees te kan bedwing vir die dag wat die gode jou uit die bloute met ’n bliksemstraal gooi. (Of realisties gesproke, om soveel as moontlik van jou werklike persoonlikheid uit te leef na jy al die maatreëls ingestel het. Almal is tog aan die einde bang vir bliksemstrale, dan nie?)

Hoekom skryf ek hierdie stuk op hierdie Maandag om sewe minute oor twee in die oggend? Omdat ek een van die dae verhuis na ’n woonstel in Benewelde Lig Nuwe Dorp in die Berg van die Feniks. Is dit ’n slegte plek? Nee. Is dit ’n slegte buurt? Nee. Is dit ’n moeisame irritasie om olie-aanpaksels met ’n aartappelskiller af te krap van die nuwe plek se kombuismure? Ja. Mors dit kosbare tyd om skielik te moet inpak eerder as om aan my projekte te werk? Ja. Maar ek troos myself dat ek in elk geval een of ander tyd bokse moes koop om te begin inpak; dat ek een of ander tyd moes padgee uit die donker hool wat ek my huis genoem het die afgelope amper vyf jaar.

Hoekom inspireer die nuwe woonstel my op hierdie oomblik om hierdie spesifieke teks te skryf? Omdat ek herinner is aan die feit dat my lewe in hierdie land nie ’n draaiboek volg nie; ek skryf die storie soos ek leef. Ek het, om maar een voorbeeld te noem, verseker nie twee weke gelede geweet ek gaan oor twee weke met ’n paar sjirurgiese plastiekhandskoene hande-viervoet bo-op ’n marmerblad sit om klonte olie met ’n aartappelskiller af te krap nie. (Jammer, ek moes dit net weer noem.)

Maar hierdie klein insig, en die fotografiese potensiaal van die uitsig uit my nuwe kombuis is nie wat regtig belangrik is nie (of dis net dele van die groter storie). Wat my regtig pla, is die vrees oor wat vir my voorlê as ek nie meer hoop op die dag wat ek terugkeer na die land van my geboorte nie. Ek dink ek is bang my lewe in Suid-Afrika sal … alledaags raak, vasgevang tussen die vrees dat iemand in my woonstel sal inbreek terwyl ek knoffelsous of biltong by die Spar gaan koop, en die vrees dat ek skielik een oggend sal wakker word en ek is dertig jaar ouer.

[…]

“Angs” is vir my meer as net ’n sielkundige term. Solank ek rondhardloop en baklei vir ’n beter môre, solank ek getrou aantekeninge maak oor DIE PROSES, dan voel dit asof ek doen wat ek veronderstel is om te doen. Dan voel dit asof ek op pad is. Ek dink ek vrees die dag wat ek veronderstel is om te verklaar dat ek gearriveer het, en iemand spring agter ’n braambos uit en skree, “Surprise! Jy’t tog aan die einde die draaiboek gevolg! Jy wen (ook) die prys!”

Dan weer, miskien is die prys geluk. Miskien is die prys dat mens voel jy hoort êrens, en jou lewe het betekenis omdat dit betekenis het vir mense wat vir jou belangrik is. Miskien is die prys dat jy voel jy kan nou maar voortgaan met jou kreatiewe werk, want jy hét gearriveer, maar dis nog steeds van belang dat jy sê wat jy wil sê.

Of is ek maar net bang dat, ten spyte van die wye verkrygbaarheid van knoffelsous om oor braaivleis te geniet, ek steeds verveeld sal raak met Bronkhorstspruit?

[…]

Is ek besig om weg te hardloop van wat ek reeds weet? Dat ons hoogs ontwikkelde diere is wat met ons fantastiese, en tog beperkte vermoëns ons bes moet doen om Goed te dien eerder as Sleg, en om die vlam van Beleefde Beskawing voort te dra tot ons tyd op is, en ons die fakkel moet aangee vir die volgende geslag.

Ek moet ophou om in sirkels te dans.

[Later op Maandag 15 September 2003]

Ek is bekommerd daaroor dat ek sal voel my doel is uitgedien en ek word beloon met ’n “gewone lewe”.

Hoekom is my huidige lewe tot ’n mate tog orraait, selfs al wil ek wegkom daarvan? Omdat ek nog ’n stryd voer vir ’n beter lewe. Maar wat gebeur as jy daai punt bereik waarvan jy droom? Of hou jy aan om die punt verder te skuif?

Wat van as iemand vir my moet sê dat die lewe nooit “normaal” is nie, en dat ’n “gewone lewe” ’n droom is buite meeste mense se bereik? “Almal voer maar ’n voortdurende stryd vir iets beters,” sal die persoon sê, “al lyk hulle lewens op die oog af, vir waarnemers soos jy, normaal en gewoon.”

Steeds – sal ek vra, waarvoor stry hulle? Vir finansiële sekuriteit? Dis nie goed genoeg vir my nie. Die stryd vir finansiële sekuriteit is vir my net ’n manier om ’n groter stryd ’n beter kans te gee op sukses.

Miskien sal my opponent in hierdie debat dan slim glimlag en sy troefkaart uittrek. “Ag man,” sal hy sê, “jy’s net ongelukkig omdat jy nie iemand in jou lewe het om jou bestaan ’n bietjie op te kikker nie.”

In so ’n geval sal ek nie veel van ’n keuse hê met my teenargument nie: Is dit die beste wat ons kan doen? Vyftig duisend jaar van ewolusie sedert ons voorouers in grotte gebly het en mekaar met knopkieries oor die kop gemoker het, en dis die beste antwoord waarmee ons vorendag kan kom? Jy’t net ’n bietjie liefde nodig?

Die vraag is eenvoudig: Is ek op die regte pad met my huidige planne? Of is my gesig in die regte rigting, maar my voete nog nie heeltemal op die regte pad nie? (Reken ek steeds daar is net een pad wat loop in daai rigting?)

Ek het onlangs ’n bietjie navorsing gedoen oor maniere om geld te maak sonder om vir iemand anders te werk. Ek het tot die konklusie gekom dat selfs ék dalk ’n sukses kan maak met ’n paar idees. Nou, miskien was dit die olie afskuurdery in die nuwe kombuis, of die feit dat ek vir die eerste keer in amper vyf jaar in Taiwan ’n woonstel sal hê met ordentlike vensters. Miskien was dit onafwendbaar dat ek een of ander tyd daaraan sou dink. Nietemin, vroeër vanaand tref dit my toe ek op my krakende fiets deur die donker strate ry: Ek was nog nooit in die posisie waar ek kon sê ek wéét hoe ek geld in Suid-Afrika kan verdien nie, wat belangrik is in ag genome dat ek nog altyd geld as die primêre rede gebruik het dat ek nie kan teruggaan nie. Ek was nog nooit in die posisie waar ek dan vir myself kon vra of dit inderdaad is wat ek sonder enige voorbehoud wil doen nie; of ek werklik gereed is om my voete te gaan intrap in ’n stukkie Suid-Afrika vol vars sement; of braaivleis en nagereg by my familie werklik ’n wondermiddel sal wees vir al my kwale.

Hierdie gedagtes is die rede hoekom ek dié spesifieke stuk sit en skryf op hierdie Dinsdagoggend, 32 minute na middernag, eerder as om die dosyne stukke gemors te pak wat ek oor die jare opgegaar het en as “ornamente” in my sitkamer uitstal.

[Dinsdag 16 September 2003, amper eenuur die middag]

Soos ek toe gisteraand terugry van my nuwe woonstel af, vra ek myself ’n administratiewe vraag: Wil ek regtig langer in Taiwan aanbly? Ek was ligweg verbaas oor my onmiddellike antwoord: Nee.

Nog ’n entjie af in die straat, verby die algemene handelaar waar die mooi vrou die kasregister slaan, verby ’n paar ou toppe wat buite een se armsalige huis sit en ryswyn drink, verby die verlate oggendmark area wat na vrot tofu ruik, kom die opvolgvraag: Wil ek teruggaan Suid-Afrika toe? Die tentatiewe antwoord: Ja, maar …

Verby die militêre basis met die toegegroeide muur wat ek eers gedink het ’n kasteel is, by die laaste stuk pad voor ’n mens weer by ’n deel van die dorp kom waar vrugteverkopers nog oop is kort voor middernag, en eensame mans in goedkoop KTV-salonne dreunsing oor verlore liefde, herhaal ek toe die antwoord: “Ja, maar?”

“Maar,” sê ek toe hardop onder die tiervel masker oor my mond, “ek wil twee weke nadat ek vir my ’n woonstel gekry het in Bronkhorstspruit, my boeke uitgepak het en lakens voor die vensters gehang het, Mainland China toe gaan. Vir drie maande.”

Terug by die huis is ek toe half vies omdat dit wou voorkom asof ek met ’n nuwe plan vorendag gekom het. Ek kom sit toe agter die komper en skryf die vorige bladsy (onder andere oor die feit dat ek nog nooit in die posisie was waar ek kon sê ek wéét hoe ek geld in Suid-Afrika kan verdien nie).

Net soos ek toe die meriete oorweeg van gisteraand se laaste paragraaf, lui my telefoon. Toe ek op die skermpie sien dis ’n internasionale oproep, besef ek dit moet my vriend L. wees. Ek het geweet hoekom hy bel. Vyftien minute later gooi ek die laaste druppels jenewer uit die SAL-botteltjie in my keel af, vlam ’n sigaartjie op, en herhaal die woorde vir myself: “Gebore om agt minute oor drie … bietjie blou in die gesig, maar gesond … vier kilogram.”

Ek het gelukkig gevoel vir my vriend, vir sy vrou, vir hulle families, en veral vir die klein laitie wat uiteindelik daglig gesien het. Ek het ook by myself gedink die timing is interessant. Skielik was die hele idee van om groot te wees en jou eie kinders te hê, en die reuse finansiële en morele verantwoordelikhede daarvan, nie meer net ’n tema waarmee ’n stuk skryfwerk opgevul kan word nie. Dit het met my beste vriend gebeur! En ek kon nie anders nie as om deur die sigaarrook te prewel, “Dis fokken profound.”

Die paar druppels jenewer was nie werklik genoeg om die groot nuus te vier nie. Ek spring toe weer op my fiets en jaag na die 7-Eleven toe om ’n half-jack Jim Beam te gaan koop – wat hulle toe nie meer in voorraad het nie. ’n Kwartier later sit ek met ’n blikkie Qing Dao en nog ’n sigaartjie by my spieëltafel. Blye gedagtes oor my vriend en hulle eersgeborene lei toe tot hernude spekulasie oor my eie lewe.

Ek wonder toe opnuut of ek met ’n nuwe plan vorendag gekom het met die drie-maande-in-China opmerking. Menende om my pret te bederf, wonder ek toe wat ek ná die drie maande sal doen.

Ek het gehoop dat ek sou sê ek sal dán teruggaan Suid-Afrika toe, om my knieë dié keer – eerder as net my voete – in vars sement te gaan neervel. Maar ek besef toe dat ek steeds nie oortuig is van “wat dán” nie.

Toe strip ek my moer en fluister dreigend in die rigting van my weerkaatsing in die spieël: “Jou lewe is ’n wiel! Dit gaan bly draai en draai en draai! Al in die rondte!”

My lewe is ’n wiel. En dit sal bly draai tot ek ’n moersleutel in die speke gooi. Of tot iemand anders dit doen …

______________________

Dertien minute op ’n Saterdagaand

SATERDAG 13 SEPTEMBER 2003

Gaan sit by die spieëltafel in die sitkamer. Sit die beker Med Lemon op ’n coaster neer. Trek ’n stompie uit die metaaldingetjie in die asbak wat ek gemaak het om sigarette in dood te druk. Vou my regterbeen oor my linkerbeen. Tel die beker op en blaas oor die inhoud. Fluister-sing, “I’m in hell without you!” Blaas weer twee of drie keer. Slurp. Haal die tweede laaste sigaret uit die pakkie Nat Sherman Naturals, vat die geel lighter, en steek die sigaret op. Blaas die rook uit. Blaas ’n borrel. Verplaas die sigaret na my linkerhand, vat die beker, blaas oor die inhoud. Slurp twee of drie keer. Sit die beker neer. Verplaas die sigaret na my regterhand. Trek aan die sigaret. Gooi my kop agteroor en blaas die rook uit. Blaas borrels. Kyk na my poster van Vladimir Lenin. Tip die as af in die bakkie. Streel my regtervoet. Verplaas die sigaret na my linkerhand. Tel die beker op, blaas oor die inhoud, slurp twee of drie keer. Sit die beker neer. Snuif. Draai my voet anti-kloksgewys in sirkulêre bewegings. Sit terug. Verplaas die sigaret na my regterhand. Trek aan die sigaret. Blaas die rook uit. Blaas borrels. Streel weer my voet. Kyk na die Koreaanse poster onder Lenin waarop staan, “Deconstructing Toward Creation.” Trek weer aan die sigaret. Blaas uit. Blaas borrels. Sluk. Stamp my enkel met my handpalm. Verplaas die sigaret na my linkerhand. Tel die beker op, blaas een keer, slurp twee of drie keer. Sit die beker neer. Kyk na die houtbeeldjie op een van die boekrakke wat ek veronderstel van Confucius is. Verplaas die sigaret na my regterhand. Tip die as af. Trek aan die sigaret. Blaas die rook uit. Blaas borrels. Masseer liggies my regtervoet. Wieg vorentoe en terug. Sê hardop: “Ek dink elke dag aan die dood. Daar gaan nie ’n dag verby wat ek nie aan die dood dink nie. Charmain sê dit die ander dag vir my, toe lag ek vir haar.” Verplaas die sigaret oor na my linkerhand. Wil ’n borrel blaas, maar trek dan aan die sigaret. Blaas die rook uit. Blaas ’n paar borrels. Tel die beker op, blaas op die inhoud, slurp; slurp weer, sit die beker neer. Verplaas weer die sigaret. Probeer die as liggies afvee aan die metaaldingetjie in die asbak. Tip dan na ’n paar sekondes die as af. Sit vorentoe. Tik my voet ritmies op ’n wysie in my kop. Trek weer aan die sigaret. Blaas die rook uit. Streel weer my voet. Snuif. Sluk. Skuif die sigaret dieper tussen my vingers in, vat die beker aan die oor, vat ’n sluk. Vat nog ’n groot sluk. Sit die beker neer. Plaas die sigaret oor na my linkerhand. Wieg weer vorentoe en terug. Trek aan die sigaret. Blaas uit. Blaas borrels. Tel die beker op, vat twee slukke, en sit weer die beker neer. Snuif. Tip die as in die asbakkie. Steek my groottoon in die lug. Beweeg my tone. Vat die laaste … tweede laaste trek aan die sigaret. Blaas uit. Tel die beker op en vat ’n sluk. Sit die beker neer. Krap aan my kop. Breek ’n wind. Blaas ’n borrel. Vat die laaste trek aan die sigaret. Blaas die rook uit. Druk die sigaret dood in die metaaldingetjie. Vat nog ’n sluk van my Med Lemon. Stoot my voete in die blou plastieksandale in. Staan op. Stap af na die studeerkamer. Druk die spacebar. Gaan sit. Kliek twee keer op die Microsoft Word icon. Wag tot ’n dokument getiteld “Document1” op die skerm verskyn. Kliek op die Maximize knoppie. Plaas my vingers oor die sleutelbord en tik: Dertien Minute op ’n Saterdagaand.

______________________

Twee plus een belangrike opmerkings

WOENSDAG 10 SEPTEMBER 2003

Mense, ek ingesluit, is te ernstig. Vat die hele storie van om te moet trek na ’n ander woonstel toe. Jy woon in ’n plek vir amper vyf jaar, en dan kry jy ’n oproep een nag. Jy word vertel dat die eienaar die woonstel wil verkoop, en jy moes eintlik gister al uit gewees het. Jy voel effens angstig oor die plek wat eersdaags jou nuwe tuiste sal wees, die nuwe omgewing, nuwe paaie wat jy sal moet verken. Wat ek hier wil voorstel, is dat hierdie aangeleentheid, soos soveel ander in die lewe, nie naastenby soveel erns regverdig nie.

Dit was die eerste opmerking. Die tweede opmerking is dat die eerste opmerking ’n pot stront is. Goed, sekere dinge is nooit so erg soos wat mens aanvanklik jouself verbeel het dit gaan wees nie. Maar as jy eerlik moet wees, moet jy erken dat die lewe ’n redelike ernstige besigheid is. As jy lag vir elke tweede ding wat gebeur met jou, of vir elke derde persoon wat paaie met jou kruis, gaan jy beslis jou gat sien.

* * *

Die lewe is beslis geen grap nie, maar buiten die groot waarhede soos “Oliebolle maak vet” en “Die aarde is rond” is daar min dinge wat so waar is soos dat jy kan vergeet om te oorleef in hierdie wêreld sonder ’n goeie sin vir humor.

Om te lag vir dinge wat “nie regtig snaaks is nie” gooi ook ons somme omver. Want is een plus een dan nie twee nie? En as dit die geval is, dan’s ons mos nie veronderstel om te lag vir driekwart van die dinge waaroor ons lag nie. Tog is dit presies wat ons doen, en op die kosmiese sakrekenaar is dit presies wat ons in staat stel om voort te gaan ten spyte van wat omstandighede soms dikteer.

______________________

My nuwe woonstel

SATERDAG 6 SEPTEMBER 2003

Ek sit toe in my nuwe woonstel, en na ek deur die proses gegaan het van waar ek die rusbank gaan sit, en waar ek skoongewaste lakens gaan ophang, kry ek toe wat sekerlik as my eerste ernstige gedagte in die nuwe plek bestempel kan word: ’n aanmaning dat hierdie nié die belangrikste sake van die dag is nie. En miskien was dit te verwagte dat ek ook sou dink aan die twee woorde wat deesdae tydig én ontydig my gedagtes oorheers, naamlik “langtermyn” en “besigheid”.

Dis toe wat ek met die vraag vorendag kom of gedagtes oor repatriasie noodwendig dieselfde is as om te praat van langtermyn inkomste – oftewel, net omdat ek praat van langtermyn inkomste, beteken dit noodwendig dat ek moet teruggaan Suid-Afrika toe? Nadat ek my sigaret doodgedruk het op ’n nat stukkie toiletpapier, antwoord ek die vraag as volg: om te praat van teruggaan Suid-Afrika toe, is noodwendig om te praat van langtermyn inkomste in Suid-Afrika. Hierdie twee dinge gaan saam omrede ek nie kan teruggaan Suid-Afrika toe sonder maniere om ’n langtermyn inkomste te verseker nie.

[…]

Sensitief om niemand te verveel met lang verslae nie, wil ek net kortliks opmerk dat ek myself daaraan herinner het dat dit nie meer gaan oor hoeveel geld ek terugvat Suid-Afrika toe nie. Dit gaan oor hoe voorbereid ek is om ’n besigheidsman te wees; om geld in die Suid-Afrikaanse eenheid te verdien so gou as moontlik nadat ek in ’n Spar ingestap het om my eerste bottel knoffelsous te koop, en ek besef dat die note wat uit my beursie verdwyn nie binne ’n maand vervang gaan word met Taiwannese geld nie.

[…]

Ek werk deesdae hard aan idees waardeur ek myself kan transformeer van ’n amateur filosoof en digter na ’n hardgebakte kapitalis. Ek is steeds oortuig dat BESIGHEID die antwoord is op my soeke na kreatiewe onafhanklikheid, en die sleutel is tot ’n meer betekenisvolle lewe.

Ek wil ook graag een of ander tyd my huidige rolle en identiteite vervang … of eerder, opgradeer na die rol en gepaardgaande identiteit van Die Familieman. En ek sal dit aansienlik beter kan doen, volgens my eie beginsels en oortuigings, as ek finansiële onafhanklikheid kan bewerkstellig sonder om ’n ander man of vrou “Baas” te noem. (Terloops, ’n nota aan al my werkende kamerade in die sogenaamde Real World: Moenie omgeboul word deur die kontemporêre neiging in korporatiewe kultuur dat werkers hulle base op hulle voorname kan noem nie. Dis ’n truuk! Hy – of sy – is nog steeds jou BAAS!)

So, BESIGHEID gaan voort – veral noudat ek nie meer elke dag geteister word deur vierjariges in my voormalige beroep as ’n kindertuinonderwyser nie, en so ook dus my planne om vroeg volgende jaar huiswaarts te keer.

Daar is egter die interessante vraag wat ek vanmiddag aan myself gestel het: Beteken dit noodwendig dat ek moet teruggaan Suid-Afrika toe as ek hier besigheidsprojekte kan loods wat ’n langtermyn inkomste kan verseker? Daar is ook die ope vraag na die effek wat die nuwe woonstel op my gemoed en my ervaring van Taiwan gaan hê.

“Nuwe woonstel?” mag jy dalk teen hierdie tyd wonder.

Ja, dit is wel so dat ek oor die volgende drie weke my bokse en tasse gaan pak en my prente, plakkate en al my kalenders van die mure gaan aftrek. Ek beplan ook om die geraamde stuk kalligrafie wat al vir jare in my huidige woonstel staan, in koerantpapier toe te draai, en saam met die tasse en bokse, my wasmasjien, my bed en my fiets in ’n taxi te laai op die 27ste September.

Die bestemming sal egter nie die lughawe wees, soos my eie mitologie altyd voorspel het nie, maar ’n ander woonstel, diep in die Taiwannese area van die stad (min wit gesigte, of enige ander kleur foreigners waag dit ooit om so ver van ’n 7-Eleven of McDonald’s af te loseer).

Die rede vir die skielike verandering van uitsig wat ek van my spieëltafel af sal geniet is dat die eienares van my huidige woonstel skielik besluit het dat die donker struktuur waarin ek die afgelope amper vyf jaar al skuil, verkoopbaar is.

So, die einde van my lewe in Laan 55 Nommer 15 is dus amptelik naby. En hierdie keer is dit nie net my eie fantastiese en ongeloofwaardige voorspellings dat ek my “goed gaan pak en gaan loop nie”. Dit gaan werklik gebeur.

Miskien sal dit ’n goeie oefenlopie wees. Miskien pak ek nie eens al my bokse uit in die nuwe woonstel nie. Miskien gooi ek sommer my matras en beddegoed op die sitkamervloer, en uit moedswilligheid was ek sommer in die kombuis. Miskien maak ek myself doelbewus so miserabel dat ek sommer die einde van die jaar al land uit vlug.

Maar wag ’n bietjie … as ek in die sitkamer slaap en in die spaarkamer sop op ’n gasstofie kook, gaan ek heel moontlik vergeet om te skeer ook. Wat beteken ek sal so sleg begin lyk dat ek heel moontlik gevra sal word om nie meer klas toe te kom nie. Wat beteken ek sal heeldag tussen opgefrommelde beddegoed op my matras kan sit en gedigte skryf! En ek sal boontjies uit ’n blikkie eet vir aandete terwyl ek kyk hoe die son ondergaan, doer waar die ander mense bly wat ook soms praat van huis toe gaan. Dan, as die son gesak het, sal ek my vingers deur my welige baard trek, die leë blik langs al die ander leë blikkies op die vensterbank sit, en in die halfskemer begin rondvoel na my boksie groentee op die sitkamervloer.

Soveel huise, soveel stories. Soveel tyd, soveel moontlikhede. Soveel drome, soveel hoop. Soveel wat ek nooit sal vermag nie. Soveel mooi in die lewe wat altyd net van ver af aanskou kan word.

______________________