’n Edel voorneme

SATERDAG 20 SEPTEMBER 2003

Ek het besluit dat ek nou genoeg geskryf het oor “die lewe”. Dis tyd om aan te beweeg. Ek het genoeg vrae gevra, en genoeg fragmente van antwoorde bymekaar gemaak. Ek is nou al vir lank genoeg vasgevang op ’n dansvloer waar ek ’n diepsinnige tango probeer het met Filosofie, ’n ketterse samba met godsdienstige doktrines, ’n wals gewaag het met tweedejaar Sielkunde, ’n intieme smartdans met Geskiedenis, ’n lekker loslyf met Aardrykskunde, en teen die verwagtinge van my hoërskool onderwyser, ook ’n paar goedbedoelde, dog lomp volksdansies met Biologie.

Die tyd is ryp vir ander temas, en ander genres as my gunsteling, maar teen dié tyd geykte “stuk” oor “die lewe”. Ek is van voorneme om van nou af te skryf oor dinge soos internasionale geldmarkte, die geskiedenis van porselein, wie eerste daaraan gedink het om te sê “Hallo!” en hoekom op aarde ek nog nie verstaan hoe ’n rekenaar werk nie. Die eerste van my nuwe temas sal egter handel oor die fauna en flora van Taiwan

______________________

As ek is …

VRYDAG 19 SEPTEMBER 2003

As ek ekonomies suksesvol is, baat ek, en moontlik ander mense, daarby, omdat ons lewens geriefliker sal wees, met ’n sterker waarskynlikheid van die voortdurende bevrediging van ons behoeftes.

As ek skryf, is ek meer as net een van 46 miljoen burgers van die Republiek van Suid-Afrika, en meer as net een van ses biljoen mense op hierdie planeet. Dan is ek meer as net nog ’n produk van ’n eiersel wat deur ’n spermsel bevrug is, vir nege maande gegroei het in die buik van ’n vrou, gebore is, en nog nie doodgegaan het nie.

As ek skryf, neem ek die kern van my spesifieke werklikheidservaring uit die kloue van hierdie oomblik en hierdie plek en ek doen iets daarmee. Dan is ek meer as net die somtotaal van selle en geraamte en bloed en opgevulde spasie. Om te skryf, is om myself besig te hou met ’n proses waardeur ek ’n beter mens word.

Vir meer as ’n dekade lank al worstel ek met ’n probleem: Hoe om my tyd op hierdie planeet te verwyl en geleenthede te gebruik op ’n manier wat strook met die kompleksiteit van my wese, sonder om die ekonomiese magte te ignoreer van hierdie inkarnasie van Beskaafde Gemeenskap.

Ek moet poog om ’n balans te vind tussen om te doen wat ek glo ek moet doen, en om terselfdertyd, soos almal wat wil oorleef van dag tot dag, met soveel as moontlik goudkwitansies in my sak rond te loop. Om te beskik oor die moderne ekwivalent van primitiewe jaggereedskap, om dit te kan gebruik om te bekom wat ek nodig het, wanneer ek dit nodig het, om sodoende my eie kanse op oorlewing ten minste gelyk te hou met dié van my gemiddelde tydgenoot.

______________________

My huidige lewe

VRYDAG 19 SEPTEMBER 2003

Ek kan nie slaap nie, en ek wil nie wakker wees nie. Ek wil gesond wees en vir ewig leef, maar ek wil nie ophou rook nie. Ek wil genoeg geld hê om te kan doen wat ek weet moontlik is, maar dis nie my huidige realiteit nie. Ek is vasgevang in ’n lewe waarin ek my bes doen, terwyl ek gebuk gaan onder die oortuiging dat dinge nie besig is om uit te werk soos ek dit graag wil hê nie.

Ten spyte van my huidige toestand bewe die vingers nie wat hierdie woorde tik nie, en geen bloed drup uit my polse nie. Die materiaal wat ek produseer is ’n eksterne bewys dat ek lewe, en juis dít motiveer my om te skryf. Dit wat ek produseer is dokumente wat verklaar hoe ek leef op enige tyd gedurende my aardse bestaan, wat getuig hoe ek voel en hoe my spesifieke ervaring van die werklikheid daarna uitsien.

(Dit, net so terloops, is hoekom ek nie te veel omgee of my literatuur ooit borgskap sal ontvang van ’n gevestigde kommersiële uitgewer nie. Wat beteken dit in elk geval om “gepubliseer” te word? Dit beteken iemand wat nege-uur in die oggend by die kantoor aankom, almal vriendelik groet, agter ’n lessenaar inskuif en ’n knoppie op die telefoon druk wat koffie sal laat arriveer binne twee minute, my “manuskrip” gelees het, en van mening is dat my woorde ’n profyt sal kan maak vir die maatskappy wat elke maand die salaristjek voorsien sodat hierdie persoon kruideniersware kan koop, en wat aan die einde van die jaar ’n trip see toe moontlik sal maak. Ek kan nie anders nie as om te dink aan wat die dramaturg vir die teatereienares gesê het in die film Illuminata, “Who are you to decide on the legitimacy of my work?”)

Ek probeer al vir jare aan ’n skare van nul oortuig dat ek nie deel is van hierdie wêreld nie; dat ek net hier is on assignment. Dit voel soms asof ek van ’n ander tyd of plek in die kosmos af kom. Ek – met die naam wat in my paspoort staan, en met al die nommers wat my wettiglik deel maak van Beskaafde Samelewing – is veronderstel om sekere dinge uit te vind, om sekere vrae te beantwoord. En aan die einde van alles gaan ek terugrapporteer aan dié wat my gestuur het, en hulle gaan sê: “Goeie werk. Hier’s jou volgende opdrag.”

Ek probeer hierdie dinge nou al vir jare verduidelik aan mense wat vir my sê: “So jy skryf, né? Hoekom probeer jy nie van jou goed publiseer nie?” Of, “Jy moet ’n bietjie kortverhale of ’n paar artikels skryf.” Hoe moet ek aan hierdie mense verduidelik dat kosmiese verslae nie vir die algemene leserspubliek bedoel is om te lees op pad werk toe, of in die aande as daar niks op TV is nie?

Enigste probleem is, hierdie kosmiese opdrag het met ’n paar haakplekke gekom (miskien het ek nie die fynskrif gelees nie). Om die opdrag behoorlik te kan uitvoer, moes ek ’n aardse lewensvorm aanneem – spesie Homo Sapiens om spesifiek te wees. En soos ander Homo Sapiens kan getuig, beteken dit dat ek rondloop met ’n hiërargie van problematiese behoeftes elke dag van hierdie ellendige aardse bestaan. Ek moet byvoorbeeld eet, en jy kan nie elke dag dieselfde goed eet nie want dan sê mense jy’s vervelig (en dit maak saak … lang storie). Jy kan ook nie elke dag diepgebraaide seekat met vanilla melkskommels afsluk nie, want dan gaan jou are uiteindelik so verdik van al die cholesterol dat jy vrek gaan neerslaan een aand op pad na die seekat plek toe. ’n Mens voel ook hierdie irrasionele drang om amper op ’n daaglikse basis “tyd te spandeer” met ander mense. Laasgenoemde behoefte kan op tye uiters irriterend raak, want meeste mense verstaan nie my hoogs delikate opdrag op hierdie stukkie van die kosmos nie.

Benewens die behoefte om tyd te spandeer in gemeenskap met ander bestaan daar ook die drang, wat erger raak soos die mens ’n sekere ouderdom bereik, om voort te plant met een van gewoonlik die teenoorgestelde geslag. Om kinders te verwek is egter net die oënskynlike doel van hierdie aktiwiteit, want die voortplantery gaan gewoonlik gepaard met intense plesier. Dit is hierdie plesieraspek wat meeste mense mal dryf tot hulle te oud raak en nie meer lus is vir sulke speletjies nie.

Om een van gewoonlik die teenoorstaande geslag te oortuig om oënskynlik voort te plant wissel in moeilikheidsgraad van die maklikste ding op aarde tot feitlik onmoontlik. En om bevrediging van hierdie drang regtig ingewikkeld te maak, is daar faktore soos moraliteit, gevoelens, verwagtinge, teleurstellings, en die kans dat oënskynlik-voortplant-maar-eintlik-net-vir-die-plesier-daarvan kan lei tot die biologiese resultaat wat die eintlike ontwerp was vir die aktiwiteit. En dan’s mens weer terug by moraliteit, verwagtinge, die “regte ding” doen, en konvensies soos die huwelik.

Daar’s wel maniere hoe ’n mens, vir kort periodes op ’n slag, hierdie ongelooflik komplekse spel tussen drange (waarvan die seksuele maar een is) en bevrediging kan vergeet. ’n Hele verskeidenheid chemiese middels is beskikbaar by mense wat gewoonlik eenkant staan op straathoeke, of in lokale waar mense hulle tyd verwyl om die lewe meer draaglik te maak. Alkohol word ook reeds vir millennia ingespan vir spesifiek hierdie doel. Die probleem – en teen hierdie tyd behoort dit duidelik te wees dat daar feitlik altyd ’n probleem sal wees – is dat hierdie sogenaamde verdowingsmiddels net in klein dosisse geneem kan word. Word hierdie middels nie in matigheid genuttig nie, lei dit tot morsige gevolge soos verslawing, en ’n lang lys van hoogs onaangename aktiwiteite wat mens dan moet onderneem om die verskerpte drang te bly bevredig. En was die aanvanklike idee nie om bietjie weg te kom van onvervulde behoeftes nie?

So hier sit ek: Ek kan nie slaap nie, en ek wil nie wakker wees nie.

Ek wens soms – en ek weet nie of mens dit mag sê nie – dat ek kan klaarkry met my kosmiese opdrag. Dat ek een oggend kan wakker word en óf terug kan wees waar ek vandaan kom, óf net ’n gewone mens kan wees.

As laasgenoemde die geval is, sal ek heel moontlik kies om ’n kantoorwerker te wees …

Ek sal nie regtig ’n belangrike posisie wil beklee in hierdie kantoor nie – in hierdie verbeeldingsvlug van my lewe as ’n gewone man. En daar moet definitief ten minste ’n paar mense wees wat ek “Baas” kan noem. Ek sal nie graag die een wil wees wat elke dag koffie maak vir almal nie, maar ek sal graag die heeltyd koffie wil drink. En ek sal ’n lessenaar wil hê, met papiere op, en miskien ’n paar stempels.

As die horlosie teen die muur vyf-uur slaan, wil ek al gereed staan. Ek sal die vensters toeskuif, die lig afskakel, die deur toetrek, en “Totsiens! Sien julle môre!” roep vir almal wat nog rondstaan met koffiebekers in hulle hande. Dan sal ek grappies maak met my kollegas in die hysbak, by die kafee op die hoek ’n koerant koop, en by die busstop gaan wag vir die vyf-vyftien.

Na ’n twintig minute busrit sal ek arriveer by “ons huis”. Ek sal die draadhekkie oopskuif, en die sementpaadjie volg na die voorstoep.

Teen die tyd wat die gaasdeur agter my toeklap, sal twee kinders reeds aan my broekspype trek, elkeen oortuig van hulle reg om eerste vir my hulle stories te vertel. Dan sal ’n aantreklike vrou uit die eetkamer kom, die tydskrif in haar hand neersit op ’n tafeltjie naby die voordeur, en my omhels vir ’n paar oomblikke.

Ons sal almal ons hande gaan was, en aansit vir aandete. Ek sal ’n mooi tafelgebed resiteer, en dan sal ons weglê aan borde vol rys, aartappels en vleis. Na aandete sal ek en my vrou die skottelgoed was, en ek sal haar vertel wat dié en daai vandag by die kantoor gesê of gedoen het.

Dan sal my vrou vir my die roosknoppies in die tuin gaan wys – want dit sal lente wees, en die skemerlig sal net-net voldoende wees om die blomme te kan waardeer, en die bure se gesigte te kan sien as ons mekaar groet. Nadat ons die kinders gehelp het met hulle huiswerk, sal ons almal ’n bietjie TV kyk.

So teen nege-uur of tien-uur sal ons “Goeienag” sê. Ek sal die kinders elkeen omhels, en hulle liefderyk op hul voorkoppe soen. Dan sal ek seker maak hulle klim reg in hul knus beddens in. Ek sal die beddegoed oor hul borsies trek, elkeen weer ’n piksoentjie gee, en gelukkig en tevrede na die hoofslaapkamer stap.

’n Kwartier later sal ek in die bed langs my vrou lê. Dan sal ek haar sagte, warm hand in myne neem, en saggies vir haar fluister, “Ek moet jou tog eendag vertel van my vorige lewe …”

______________________

’n Futuristiese ontkenning

DONDERDAG 18 SEPTEMBER 2003

Ek is nie meer in Taiwan nie. Die feit dat Woonbuurt-op-die-Rand in Bronkhorstspruit (wat ek deesdae my huis noem) op ’n stofspikkel na Benewelde Lig Nuwe Dorp lyk, is ’n bisarre toeval. Ek het nie vyftien minute gelede Chinees gepraat met die vrou wat tee onder op die straathoek verkoop nie. Die koerant wat ek nou net eenkant toe geslinger het, is nie die China Post nie. Ek het nie gist’raand rys en groente met chopsticks geëet nie, en ek het beslis nie vanoggend vir Taiwannese kinders Engelse rympies geleer nie!

Om die waarheid te sê, enige een wat van mening is dat ek ’n 32-jarige man is wat al vyf jaar in Taiwan vashaak – en sewe jaar altesaam in die Verre Ooste – is ’n infame leuenaar wat sy kop onmiddelik moet laat lees! So ’n persoon het ’n ooraktiewe verbeelding en glo maklik sentimentele stories en verregaande teorieë oor die betekenis van die lewe om verveeldheid met sy eie lewe te verdoesel.

Nee, ek is beslis nie hierdie slinkse karakter wat donker strate ná middernag op ’n krakerige fiets deursoek vir tofu-sosaties en diepgebraaide seekat nie.

Wat ek wel is … is ’n advokaat. Of ’n rekenmeester. Ek woon in ’n mooi huis op die rand van ’n groot dorp in Gauteng. Ek is al sewe jaar getroud, en ons het twee lieflike kinders. Ons het ook ’n kar, ’n kat, ’n hond, ’n grassnyer, ’n swembad, en ’n sleepwa. Ek speel gholf op Saterdagmiddae, en wen so nou en dan ’n bottel sprankelwyn. Ek glo in Samelewing-en-Beskawing, Orde-en-Sekuriteit. Ek het drie lewenspolisse, en ’n paar goeie beleggings. Ek het ook etlike kredietkaarte, en betaal getrou my rekeninge elke maand. My vriende dink ek is ’n bietjie konserwatief; ek sê altyd ek glo maar net waarin ek glo.

Ek, soos almal, ken, of weet van mense wat oorsee woon vir jare, “soekend” na hulleself, of na wát ’n mens ook al soek in die buiteland. Persoonlik glo ek hulle mors hul tyd; dat daar niks in die buiteland is wat ’n mens nie in ons eie pragtige land kan beleef, of as jy dan wil, na kan soek nie. Ek glo verder dat baie van hierdie mense nie die durf het om realiteite in hulle eie land in die gesig te staar nie. En ek praat nie eens nou van die misdaad en geweld in Suid-Afrika nie. Ek praat van grootword en aangaan met jou lewe as jy die ouderdom bereik wanneer jy nie meer ’n kind is nie.

Ek was ook al in Londen, en eenkeer vir vakansie in die Maldives. Ek is dus nie ’n idioot as dit kom by wat aangaan buite ons landsgrense nie. Ek kyk elke aand nuus, en lees ten minste ’n paar keer ’n week koerant. Ek is ook glad nie so konserwatief soos wat my vrou en my vriende my graag spot nie. Ek glo dat almal die reg het om die lewens te kies wat hulle goedvind … en om dit dan na te streef. Ek glo ook dat almal ’n reg het op hulle eie opinies, en dat almal die reg het om te sê wat hulle wil, solank dit niemand onnodig beledig of aanstoot gee nie.

Dit is wel waar dat ek ’n renons het in mense wat in die buiteland gaan woon, en dan krities is oor die tipe keuses wat ek gemaak het; keuses wat hulle met verwaande minagting “kleinburgerlik” noem. Hierdie mense het nie die vaagste benul waaroor my lewe gaan nie. Hulle het nie die vaagste benul wat vir my belangrik is, of wat die motiverings agter my keuses en aksies is nie.

Ek wens hulle wil huis toe kom. Dán sal ons sien wie die regte wenners is, en wie aan die einde sal verloor. Ja, dan sal ons inderdaad kan sien wie spot met wie!

______________________

Om deel te wees van iets groter

DINSDAG 2 SEPTEMBER 2003

Ek sal hierdie stuk begin met ’n feit: Daar is dinge in hierdie lewe wat groter is as enige enkele individu.

Nou goed, teen hierdie tyd behoort jy reeds te weet dat jou hele bestaan afhanklik is van dinge wat groter is as jy, dat jy inderdaad nie eens ’n mens kon word as dit nie was vir die feit dat daar mense voor jou was nie, wat almal ook afhanklik was van dinge wat groter as húlle was. Almal weet hierdie dinge, reg? Almal weet daar is dinge groter as enige enkele individu!

My oorspronklike stelling, wat steeds uitermatig diepsinnig is ten spyte van die feit dat almal dit weet, moet dus ’n bietjie rooipeper bykry om dit genoeg skop te gee as die fokus van ’n essay.

(Twee weke later. Woensdag 17 September 2003. Klein ure van die oggend.)

Maak nie saak of jy gereeld en bewustelik daaraan dink of nie, almal behoort op een of ander manier aan die Groter Geheel – dit sluit in die sielkundige, die filosoof, die digter, die predikant, die Hells Angel op sy Harley Davidson, die lid van die Mafia, die middestad bendelid, die president van ’n groot maatskappy, die kleinboer in China, die boemelaar in die stegie, en die politikus babbelend agter die mikrofoon. Meeste mense het ’n redelike idee hoe hulle inpas in die Groot Legkaart, ongeag of hulle oor die regte woordeskat beskik om ’n intelligente gedagte te formuleer oor die onderwerp, of nie.

Die manier hoe jy inpas by die Groter Geheel is soos ’n paspoort wat jy sou kon wys aan ’n kosmiese immigrasiebeampte wat wil weet, “Wie is jy?” Hierdie “paspoort” bevat inligting oor die spesie waaraan jy behoort (“Meneer X sorteer onder die spesie Homo Sapiens en moet dus nie as ’n makgemaakte sjimpansee beskou word nie”), jou ouderdom, en ook jou naam, of name (die een wat jou ouers jou gegee het, die byname wat jou vriende jou noem, en/of die naam wat jyself gekies het). Dit bevat data oor die plek waar jy gebore is, waar jy op skool was (as jy sover gekom het), en of jy tersiêre opleiding gekry het (en indien wel, waar). Dit bevat ook data oor jou voorkeure en afkeure, jou talente, jou belangstellings, wat jy al gedoen het met jou lewe, wat jy nog wil doen, jou drome, jou ambisies en jou mislukkings. Ander belangrike inligting sluit in of jy jouself ag as lid van een of ander religieuse gemeenskap; indien wel, watter spesifieke religie, en selfs watter denominasie. Waar jy woon, in watter sosio-ekonomiese klas jy geplaas kan word, of jy getroud is of nie, jou seksuele oriëntasie, of jy kinders het, en wat jy doen op ’n daaglikse basis om te oorleef, is alles verdere detail wat jou individuele kosmiese kode bepaal wat jou “wettiglik” deel maak van die Groter Geheel. ’n Verdere bepalende faktor is assosiasies, wat insluit familie, vriende, kennisse, vennote, en selfs vyande (“ABC is die seun van EDF, eggenoot van GHI, pa van JKL en MNO, beste vriend van PQR, besigheidsvennoot van STU, en aartsvyand van XYZ”).

Twee laaste gedagtes verdien melding in hierdie verband: Jy moet soveel as moontlik stukkies data oor jouself weet, en jy moet so veel as moontlik die persoon wéés waarna hierdie stukkies data verwys om in eerlikheid teenoor jouself en teenoor ander aanspraak te kan maak op die Unieke Kosmiese Kode wat jou deel maak van die Groter Geheel.

Om nie te weet “wie jy is” nie, en derhalwe hoe jy inpas-en-behoort aan die Groter Geheel, is om vervreemd te voel van die omgewing waarbinne jy jouself bevind. Hierdie gebrek aan lidmaatskap lei sonder veel uitsondering tot een of meer van die volgende toestande: eensaamheid, ’n gevoel van isolasie, heel moontlik angstigheid, en ’n aggressiewe houding jeens jou omgewing en die mense met wie jy in daaglikse kontak is.

Stel jouself die volgende situasie voor: Piet X van Bronkhorstspruit ontmoet vir Jan Z by ’n braai. Jan Z stel homself voor as “Jan Z van Pretoria” en steek sy hand uit. Piet X glimlag vriendelik, steek ook sy hand uit, en stel homself voor as “Jan Z van Pretoria”. Die werklike Jan Z van Pretoria sal moontlik geïrriteerd glimlag vir wat hy sal glo ’n poging tot humor is, maar hy sal vinnig aanskuif na ’n volgende groep as hy besef dat Piet X heeltemal ernstig is – laasgenoemde is oortuig daarvan dat ook hý “Jan Z van Pretoria” is. Later die aand stel Klara K van Kaapstad haarself aan Piet voor, en weereens antwoord hy in alle erns dat ook hý “Klara K van Kaapstad” is.

Almal, behalwe moontlik Piet X, sal teen die einde van die aand oortuig wees van die feit dat Piet in groot moeilikheid is. Hoekom? Omdat jy moet wéét wie jy is om te kan oorleef, en om te kan funksioneer in ’n omgewing buite inrigtings vir disfunksioneles.

* * *

Wat het hierdie insigte uit te waai daarmee of ek vroeg volgende jaar teruggaan Suid-Afrika toe, en of ek langer in Taiwan sal bly? Alles.

As ek “Piet X van Bronkhorstspruit” is, wil ek myself kan voorstel as “Piet X van Bronkhorstspruit”, en ek wil oortuig wees van wat dit beteken om “Piet X van Bronkhorstspruit” te wees. Verder wil ek weet as “Jan Z van Pretoria” goed voel oor wat dit beteken om “Jan Z van Pretoria” te wees, ek ook goed voel oor wie ék is. En as “Klara K van Kaapstad” haarself aan my voorstel, en ek kom agter in die gesprek wat volg dat sy oortuig is daarvan dat sy nie “Linda Q van Johannesburg” is nie (en ook nie wil wees nie), dan wil ek in my binneste weet dat ek dieselfde oortuiging van myself manifesteer.

Is ek tans oortuig van wie ek is? Is ek verder oortuig dat “Brand X, voorheen van Taiwan en Korea maar nou van Bronkhorstspruit”, sy Kosmiese Kode trots sal kan resiteer by kerkvergaderings en rugbybraaie? Of is dit belangriker om my lidmaatskap te behou, vir eers, van ’n groep mense wat buite woon?

(Steeds Woensdag 17 September 2003; laatmiddag.)

Dit blyk dus dat ek tans ’n moerse Bronkhorstspruit backlash ervaar. Goed en wel, ek het nie sewe jaar in die Ooste spandeer om net skielik een dag op ’n sentimentele badkamermat te klim en, terwyl die mat by die deur uitvlie, vir almal te wuif soos een of ander crash course Zen ghoeroe en te sê, “OK julle, ek fokof dan … kom braai saam met ons in Bronkhorstspruit!” nie. Nee, die hele idee moet soos enige ander plan met vrot kool en eiers bestook word. As die plan die volgende oggend kan opstaan, en met ’n koolblaar wat soos ’n ongekamde kuif in sy oë hang op die stoep kan verskyn en kan verklaar, “Ek is orraait! Hoesit?!” dan weet ek, ek het iets beet.

Ek het wel gewonder wat die reaksie teen Bronkhorstspruit veroorsaak het. Soos ek my fiksheidstoerusting afstof en wegpak, gaan ek in my geestesoog deur die lys van dinge wat my lewe sal opvul as “Brand van Bronkhorstspruit”: my besigheidsprojekte, besoeke aan die plaaslike Spar, braaivleis en nagereg by die familie, en natuurlik my skryfwerk. Ek dink toe dat ek selfs kan oorweeg om in te skryf vir ’n akademiese kursus of twee in rigtings waarin ek geïnteresseerd is, insluitende Chinees.

Ek vra myself toe wat die groot verskil is tussen dít, en wat ek nou doen. Natuurlik speel omgewing ’n groot rol in mens se daaglikse lewenservaring, en Benewelde Lig Nuwe Dorp in die Berg-van-die-Feniks is beslis ’n interessanter omgewing as Woonstelle-op-die-Rand-van-die-Dorp in Bronkhorstspruit. Maar hoe belangrik is dit werklik as mens aan die einde jou somme maak?

Helaas, dit was die beeld van my wat sit en skryf in my woonstel, waar ook al in Suid-Afrika, wat toe ’n interne alarm laat afgaan. My identiteit as ’n skrywer is vir my van kardinale belang. Dit is tot ’n groot mate wie ek is. Dis wat ek doen. Dis nie net ’n edel en betekenisvolle beroep om te volg nie; dis ’n lewe wat my inspireer om op te staan in die oggend en die omgewing buite my venster in die gesig te staar – waar in die wêreld hierdie omgewing ook al blyk te wees.

Ek neem toe my plek in by die spieëltafel, gereed om formeel diepsinnig te raak. Toe tref dit my: Meer as 90% van alles wat ek neergevel het op papier die afgelope vyf jaar, het te make met my lewe in selfopgelegde ballingskap! My identiteit as ’n SKRYWER is, ten minste op hierdie stadium van my lewe, ’n onvervangbare aspek van my KOSMIESE KODE, en WIE EK IS AS ’n SKRYWER, IS INEENGESTRENGEL MET MY LEWE OP HIERDIE EILAND!

Wie is ek dus, as ek nie “Skrywer in self-opgelegde ballingskap in Taiwan” is nie?

(’n Grillerige Japannese riller in die plaaslike teater later.)

“Deur briljante speurwerk het die Interne Diens die hoofverdagte gekonfronteer, en met behulp van uitstaande ondervragingstegnieke die verdagte geforseer om skuld te beken. Dit is dus my beskeie eer om aan die Volk bekend te maak dat die skuldige is … die Skrywer! Die Skrywer, dames en edel menere, is die een wat die Volk se moraal en wilskrag binnegesypel en besoedel het met … ANGS!”

Krete van skok word soos gebruiklik sonder beleefdheid verdoof. Die inspekteur gaan voort asof hy net sy keel skoongemaak het.

“Na verdere ondersoek na die motivering van die Skrywer het dit aan die lig gekom dat hy in diepe bepeinsing die afgelope paar weke se onderhandelinge gevolg het. Teen Maandagaand was hy oortuig van wat hy eers net vermoed het – dat hy sy werk gaan verloor in die Beplande Terugkeer na die Moederland; dat hy afgedank gaan word, ge-fire gaan word, afgeskaal gaan word, sonder enige waardigheid op vroeë aftrede gedwing gaan word. Die Skrywer het besef as hý stof byt, hy nie alleen gaan eet nie.

“Gelukkig is onse Staat hoogs liberaal en linksgesind, so die Hoof-oopkop is ingeroep vir onmiddellike herstelwerk aan die Skrywer se gemoed. En natuurlik, dames en beleefde menere, om hom te verseker dat hy ’n onvervangbare deel is van Onse Edel Staat! Ons sal immers nie ’n behoorlike doel kan formuleer vir ons bestaan sonder die diepsinnige materiaal wat ons sensitiewe en angsgevulde Hooftroep in die Stryd vir die Siel so gereeld in ons gesigte gooi nie!

“Lank lewe die Skrywer, dan! Lank lewe Ons Staat! Voorwaarts Stryders vir Ons Stryd! As ek nou net die vervloekte sleutels kan kry om die Skrywer van sy boeie te bevry …”

* * *

Om deel te wees van iets groter as die enkele JY, is ’n behoefte sentraal aan die mens se ervaring van die lewe. Dis een van die primêre redes hoekom mense so aangetrokke is tot godsdiens, veral die geïnstitusionaliseerde manifestasie daarvan. Dis die rede hoekom mense verkies om deel te wees van ’n groep eerder as om alleen te wees. Dis die rede hoekom mense patrioties is. Dis een van die redes hoekom mense ’n spesifieke sportspan ondersteun. Dis ook een van die redes hoekom ’n nuwe lid van die Hells Angels sal verskyn in bepaalde kleredrag, en ’n ketting rondswaai eerder as om motoriste met droë ertjies deur ’n strooitjie te skiet – laasgenoemde keuse van wapentuig sou hom nie kwalifiseer as deel van die groep waaraan hy wil behoort nie; so ook nie om rond te ry op sy staalperd in ’n pak klere met ’n wit hemp en ’n rooi strikdas nie.

Omdat mense nodig het om deel te wees van iets groter as net die enkeling wat sy in haar vel is of hy in syne, definieer mense hulle identiteit – hulle “kosmiese kode” – tot ’n groot mate volgens groepe waaraan hulle behoort, hetsy dit ’n maatskappy of instelling is waarvoor hulle werk, ’n ondersteunersgroep van een of ander sportspan, nasionaliteit, lidmaatskap van ’n gesin of familie, aktiewe deelname aan een of ander subkultuur, of ’n kombinasie van al voorafgenoemde.

Verhoudings is ’n fundamentele aspek van hierdie stelsel van identiteit-deur-assosiasie, van weet wie jy is deur te weet hoe jy inpas deur middel van lidmaatskap aan iets groters as net jyself. Verhoudings bevestig lidmaatskap: “Jy’s een van ons.” Verhoudings verminder angs: “Ek is nie die enigste een nie.” Verhoudings bevestig identiteit: “Hier’s Piet X nou. Hy ken my beter as wat ek myself ken.”

Verhoudings hou ook soms die individu gevange deurdat ’n persoon tot konformiteit gemanipuleer word ter wille van lidmaatskap aan die groep. Soms vernietig verhoudings geloof in goeie dinge. Soms lei verhoudings tot vernietiging van wat goed is. Soms lei die hardkoppige handhawing van ’n verhouding – ter wille van die voordele van lidmaatskap, of veronderstelde voordele in sommige gevalle – tot die dood van die self, of tot die dood van ander.

Maar verhoudings is meestal goed. Verhoudings lei in baie gevalle tot ’n meer genotvolle ervaring van die lewe. Verhoudings versterk wanneer die enkeling swak is. Verhoudings vertroos. Verhoudings bring nuwe lewe. Verhoudings is onvervangbaar in die strewe daarna om te behoort aan die Groter Geheel.

Daar kan verder gespekuleer word in hierdie stuk dat ek, die Skrywer van Stukke, ’n betekenisvolle gebrek ervaar aan definiërende verhoudings.

______________________