Om orraait te wees

SONDAG 1 FEBRUARIE 2004

Dit mag dalk vir die gewone leser voorkom asof ek ’n talent het daarvoor om met groot entoesiasme dinge uit te wys asof ek een of ander groot ontdekking gemaak het waarvan niemand ooit voorheen geweet het nie, maar waarvan almal eintlik reeds bewus is. Dit herinner my aan die Far Side cartoon van die twee gorillas wat onder ’n boom sit en piesangs eet. Die een gorilla knak nog ’n piesang van die tros af, bekyk dit met groot liefde en deernis, en sê dan vir sy vriend: “You know, Sid, I really like bananas … I mean, I know that’s not profound or nothin’ … Heck! We ALL do …”

Soos alle intelligente diere weet, moet sekere behoeftes bevredig word om onaangename sensasies soos honger te vermy. Die mens, oënskynlik die mees komplekse, mees ontwikkelde en – in meeste gevalle in elk geval – die mees intelligente onder alle soogdiere, het benewens die gewone drange ook die behoefte om Orraait Te Voel, ten minste vir die grootste deel van meeste dae wat ons op hierdie stofspikkel van die kosmos spandeer.

Meeste van ons aanvaar dat daar tye gaan wees in ons lewens wat dinge maar redelik onaangenaam sal wees, dae wanneer ons weet ons net een dag op ’n slag moet oorleef in die hoop dat alles weldra weer orraait sal raak. Ons weet ook dat daar tye is wat ons meer as net orraait is – tye wat ons ekstaties gelukkig is, selfs ons vyande om die hals wil val, wanneer ons vir almal tot vervelens toe wil oortuig dat die lewe pragtig is. Hierdie tye hou egter nie vir ewig nie, en dit weet ons ook.

As die tye goed is, dan help dit ook dat ons weet selfs die orraait-tye wat volg op die ekstase, is heel leefbaar. As dit sleg gaan, kan ons nie wag tot die lug weer ooptrek, en alles net weer orraait is nie. Ons weet ook dat hierdie gevoel van “dinge is orraait” meestal volhoubaar is, ten spyte van beter en slegter tye tussen in, mits ons sekere dinge doen op ’n gereelde basis.

Wat ons doen om hierdie algemene sin van welstand te handhaaf is so verskillend soos ons gesigte. Sommige handhaaf hierdie bewussyn deur godsdienstige rituele, soos om vyf keer per dag te bid, of elke oggend Bybelstudie te doen. Ander vind dit in meer aardse aktiwiteite soos stokperdjies, sport, of tuinmaak. In baie gevalle sluit dit in om tyd te spandeer met geliefdes.

Hoekom neem ons nie hierdie bewussyn as vanselfsprekend nie? Die antwoord wat ek wil voorstel is die “piesang” waarop die ander gorilla sal reageer: “Ek weet. Jy vertel my niks nuut nie.”

Die rede hoekom meeste van ons hierdie bewussyn van orraait-voel nie as vanselfsprekend aanvaar nie en hoekom ons stappe moet doen om die bewussyn te handhaaf, is omdat meer dinge ons lewens daagliks bedreig as wat gesond is om te tel. Daar’s virusse, kriminele, padongelukke, en genetiese siektes wat ons uit die bloute kan tref, om maar ’n paar te noem.

Die idee vir hierdie opstel was uitgedink terwyl ek huis toe getrap het van die supermark af, met ’n sak vol “kruideniersware” (my nuutste woord vir vier verskillende bokse ontbytpap) hangende aan my stuurstang. Siende dat ek op my fiets was, laat in die nag in die donker agterstrate van ’n Taiwannese stad, was die hoofgevaar waaraan ek kon dink dat iemand skielik van agter in my sal vasry, of dat ’n taxi met ’n besete bestuurder agter die stuur uit een of ander stegie gejaag sal kom. Die gedagte aan mense wat dae later nog stukkies ontbytgraan sal pap ry het my dus nie oorweldig met ’n gevoel van welstand nie.

Ek het toe wel veilig by die huis gekom, en het heel orraait gevoel toe ek binne minute ’n oorvol koppie vars graanvlokkies en muesli op my Sondagkoerant kon uitmors. Ek was egter bewus daarvan dat ek ook die volgende dag verby nou stegies gaan jaag, en dan is daar die epidemies waaraan mens amper al gewoond geraak het in hierdie geweste.

Buiten hierdie ooglopende bedreigings is daar die dinge wat mens al vir jare lank katvoet laat loop: ouderdom, wat nader kruip soos ’n honger rot na ’n boks muesli in die middel van ’n besige pad; armoede, en al die nare aspekte wat daarmee saamgaan; eensaamheid, as mens nie genoeg geld kan verdien om behoorlike dates te kan bekostig nie, en so kan ek voortgaan.

Hierdie vrese is nie uniek aan my nie. Meeste mense is effens versigtig as hulle op die pad gaan. Almal is geïrriteerd as ’n sieke op hulle hoes. Min mense raak opgewonde daaroor as hulle die eerste grys hare bespeur op ’n kop wat ’n dekade gelede met aansienlik meer hare versier was. En meeste mense dink armoede is erger as die pes.

Ons almal tref maatreëls om onsself ’n kans te gee teen hierdie bedreigings. Ons almal stel ook ’n gevoel van welstand – of om ten minste darem orraait te voel – hoog op die prys. Godsdiens speel ’n belangrike rol as maatreël teen dit wat ons bedreig. Lewens- en ongeskiktheidsversekering laat ons ook heelwat beter voel. En om die menigvuldige voordele van finansiële welstand te onderskat spreek van flagrante onkundigheid (ugh-ugh), selfs onverskoonbare onverantwoordelik (was ek nie nog besig om iets anders te doen nie?).

Daar is egter een laaste bedreiging wat ek wil uitwys – ’n sluimerende, dog antieke verskrikking wat die mens al teister sedert ons slim genoeg was om te dink. Hierdie bedreiging vir ons welstand is die gedagte dat ons in die niet gaan verdwyn as ons fisiese bestaan tot ’n einde kom. Dat ons nie onthou gaan word nie. Dat almal sal aangaan met hulle lewens, amper … asof ons nooit eens hier was nie.

Weereens stel ons sekere maatreëls in. Weereens speel godsdiens ’n rol. Daar is ook kinders wat ons gene, en moontlik ons name sal voortdra.

Vir die godsdienstige maatreëls om te werk moet ons gereeld bepaalde rituele nakom; byvoorbeeld, mense wat glo daaraan moet gereeld hulle lidmaatskap aan die Groot Verlossingsplan bevestig om seker te kan wees van Iets Meer As Net Hierdie Aardse Bestaan. Mense wat kinders het weet ook dat hulle elke dag hard moet werk om hulle kinders aan die lewe te hou. Vir sommige mense – gelowige mense met kinders, of mense met geen afstammelinge nie, en wat ook nie konvensioneel gelowig is nie – is daar (ook) ander roetines en rituele wat so gereeld as moontlik aktief nagevolg moet word om hierdie sluimerende vrees die hoof te bied.

Soos ander mense, het ek ook ’n ritueel, ’n primêre maatreël, ’n essensiële roetine wat ek so gereeld as moontlik moet volg om nie oorweldig te word deur bogenoemde oervrees nie. Mense beproef verskeie maatreëls, toets verskeie aktiwiteite uit vir moontlike waarde in die handhawing van ’n gevoel dat hulle orraait is, en met die verloop van tyd word sekere aktiwiteite uitgesonder as geskik vir hierdie belangrike taak. So het ek ook na vele jare ’n patroon geïdentifiseer in my eie lewe – om aktief besig te wees met die proses van woorde aanmekaar ryg, is vir my soos ’n kragtige kalmeerpil wanneer ek gespanne raak oor die einde van my fisiese bestaan.

As ek skryf, voel ek orraait. Al is ek nie elke uur wat ek wakker is besig agter die rekenaar, of met ’n notaboek voor my nie, solank ek weet ek is besig met ’n skryfprojek, weet ek my lamp van persoonlike welstand het nog olie.

Om nie gereeld te skryf nie, is om die risiko te loop dat my lamp al flouer gaan begin brand. Vir my is dit ’n amper religieuse ritueel, ’n aktiwiteit wat amper as heilig beskou kan word.

Om te skryf, is my versekering.

______________________

Geld en kreatiewe vryheid

WOENSDAG 14 JANUARIE 2004

Geld vir vrye, kreatiewe skryfwerk? Hierdie literêre projek wat ’n kommersiële kommoditeit word? [Sien “Die volgende stappe in my lewe” (31/10/1998)].

My posisie kan opgesom word in twee begrippe: die Kreatiewe Eindproduk en die Kreatiewe Proses.

As kommersiële aanvaarbaarheid die hoofmotivering is gedurende die Kreatiewe Proses, is die Eindproduk nie vrye uitdrukking nie. As kommersiële aanvaarbaarheid van die Eindproduk nie eens oorweeg word tydens die Kreatiewe Proses nie, maar die Eindproduk het nietemin kommersiële waarde, is dit ’n ander saak.

As jy as skrywer te velde trek teen korporasies, skaamtelose winsbejag, en die oorgawe van kreatiewe vryheid teen ’n “redelike” prys, wat is jy dan as jy omdraai en jou kreatiewe werk voorlê aan ’n korporasie wat hoofsaaklik ingestel is op winsbejag? Soveel te meer as jy dit voorlê aan ’n agent van hierdie korporasie wat dit ag as ’n reg om op veranderings aan te dring wat jou werk meer in lyn sal bring met die waardes van die korporatiewe “sponsor”, en om die produk meer genotvol te maak in sy of haar skatting, en derhalwe potensieel meer winsgewend?

Dit gaan uiteindelik oor eerlikheid. Dit gaan daaroor om die reputasie wat jy vir jouself gekweek het, te eer in beide woord en daad.

———————–

[Naskrif: Daar is uitgewers – besighede wat ’n oog hou op die “bottomline” vir hulle oorlewing – wat sekere tipes literatuur ag as meer as net bemarkbare produkte. Dit mag wees dat hierdie uitgewers ’n sekere politieke agenda dien, en wat veranderinge sal voorstel aan die eindproduk wat dit doodgewoon meer verteerbaar sal maak vir die potensiële lesersmark; veranderinge wat die literêre kwaliteit van die eindproduk verhoog eerder as om die inhoud of boodskap af te water ten einde meer eksemplare te verkoop. ’n Geval dus waar die besigheid se agenda versoenbaar is met dié van die skrywer vir wie kreatiewe integriteit belangriker is as finansiële sukses.]

———————–

SATERDAG 11 OKTOBER 2014

Ek lees vandag wat David Bowie gesê het oor sy 1983 album, Let’s Dance: “At the time, Let’s Dance was not mainstream. It was virtually a new kind of hybrid, using blues-rock guitar against a dance format. There wasn’t anything else that really quite sounded like that at the time. So it only seems commercial in hindsight because it sold so many [copies]. It was great in its way, but it put me in a real corner in that it fucked with my integrity.”

Hy gaan voort deur te sê: “[It] was a good record, but it was only meant as a one-off project. I had every intention of continuing to do some unusual material after that. But the success of that record really forced me, in a way, to continue the beast. It was my own doing, of course, but I felt, after a few years, that I had gotten stuck.”

Volgens die artikel op Wikipedia het Bowie later gereken dat die sukses van die album gelei het daartoe dat hy ’n kreatiewe laagtepunt getref het wat die volgende paar jare geduur het.

______________________