’n Paar voorstelle vir die ambisieuse Maatskaplike Geregtigheidsvegter

VRYDAG 31 MAART 2017

Die hoofgedagte van die Maatskaplike Geregtigheidsvegter ideologie is om niemand aanstoot te gee nie. Ek het onlangs gelees dat dit nou aanstootlik is om te sê, “Long time no see” en “No can do” omdat dit blykbaar aanstoot gee aan mense wat nog besig is om Engels te leer. ’n Ander beskouing is dat dit aanstoot gee aan Chinese mense wat iets soortgelyks in Chinees sê. Maatskaplike Geregtigheidsvegters reken die Engelse ekwivalent van hierdie frases is ’n rassistiese bespotting.

Ander voorbeelde wat genoem kan word, sluit in die passasier in ’n saamrymotor wat die bestuurder oor die vingers geraps het omdat hy ’n Hawaise kop-pop op sy paneelbord gehad het. Die man se oënskynlike ongeërgdheid oor hoe hy die “vasteland van Hawaii” beledig, het die passasier geskok, en sy het vereis dat hy die item sonder versuim verwyder. Dan is daar die student wat nie genoeg vloekwoorde kon spoeg in die gesig van die Yale professor wie se vrou van mening was dat studente oud genoeg is om self te besluit wat gepas is en wat nie as dit kom by Halloween uitrustings. Besef die professor en sy vrou dan nie dat die studente nie self wíl besluit of ’n Pocahontas kostuum rassisties is nie, het die jong aktivis rooi in die gesig van passie gevra, terwyl omtrent honderd ander vegters nader gestaan het om haar te ondersteun.

Om mooi te wees met mense is oor die algemeen ’n goeie ding. Om nie mense aanstoot te gee nie, is ook gewoonlik ’n goeie ding. So hoekom stop deur net mense te kritiseer vir wat hulle sê of hoe hulle aantrek?

Hier is ’n paar voorstelle vir die gemiddelde Maatskaplike Geregtigheidsvegter wat meer wil wees as net ’n voetsoldaat vir die saak:

* Daar is eensame mense wat dit baie aanstootlik vind om te sien hoe paartjies hande vashou en liefdevol is met mekaar. Hulle is ook baie hartseer oor die gedagte dat hierdie mense waarskynlik voor die einde van die dag vurige seks sal hê. Ek stel voor dat die MG Vegter wat wil radikaal gaan, moet aanbied om ten minste een keer per week seks te hê met mense wat skynbaar geen sukses kan behaal op eie stoom nie.

* Baie godsdienstige mense vind dit uiters aanstootlik dat ander mense nie hulle oortuigings deel en volgens hulle voorskrifte leef nie. As jy wil verder gaan as die gemiddelde vegter, stel ek voor jy bekeer jouself tot verkieslik ’n radikale interpretasie van [enige godsdiens van jou keuse] om te verhoed dat jy aanstoot aan enige radikale [aanhangers van hierdie godsdiens]. [Aanhangers van sekere geloofstelsels] blyk oukei te wees daarmee as ander mense nie glo soos hulle nie, maar [ek is seker daarvan jy kan ten minste een ander godsdiens vind waar aanhangers] ook baie liggeraak [is] oor die onderwerp. My voorstel is dat die ambisieuse Maatskaplike Vegter ’n skedule opstel: Volgeling van radikale [interpretasie van Geloof 1] op Maandae tot Woensdae, en volgeling van radikale [interpretasie van Geloof 2] op Donderdae tot Saterdae. Sondae kan die radikale vegter aansoek doen by Maatskaplike Geregtigheid Sentraal op ’n dag van rus. Of, dalk kan hulle hierdie dag gebruik om seks te hê met eensame mense.

* Minder gegoede vegters voel ook skaam elke keer as hul mede-krygers rondloop met ’n nuwe iPhone of ander digitale toestelle. Die ware Maatskaplike Geregtigheidsvegter behoort ’n nuwe digitale toestel te koop vir ’n minder ekonomies bevoorregte mede-vegter elke keer wanneer hulleself ’n nuwe een kry. Dit is die regte ding om te doen.

* Liggaams-vernedering is ’n verskriklike sosiale sonde en mense behoort regtig swaar gestraf te word daarvoor. Maar mense wat ’n bietjie meer as die gewone hoeveelheid gewig aan hul liggame ronddra, voel dikwels baie hartseer omdat hulle nie lyk soos ander, slanker vegters nie. Die vegter wat belangstel in werklike maatskaplike geregtigheid behoort te begin om hul monde te sit waar hul woorde is. Om net mense te kritiseer wat ander mense verneder oor hoe hulle lyk, behoort nie voldoende te wees nie. Die ware Maatskaplike Geregtigheidsvegter moet weet hoe dit voel om – jy weet? – nie perfek te wees nie.

______________________

Lang tradisie van rondtrek en wegtrek

DINSDAG 21 MAART 2017

Ek is deel van ’n lang tradisie van mense wat opgepak het alles wat hulle besit het en hul heil gaan soek het op ander plekke, en in die proses, in sommige gevalle, hulle name verander het en ’n ander taal leer praat het.

Daar was die migrasie van Europa af na Suidelike-Afrika in die 1600’s en 1700’s, ’n stadige verskuiwing weg van die Kaap af ooswaarts in die laat 1700’s en vroeë 1800’s, die Groot Trek na die binneland van Suid-Afrika in die 1830’s, nog ’n migrasie van Natal af terug binneland toe, so 150 jaar later ons gesin se gedurige oppak-en-trek, en later my eie persoonlike migrasie na Noordoos-Asië in die laat 1990’s.

Om ’n bietjie meer kleur te gee aan die gedagte, ’n paar illustrasies:

Europeërs arriveer aan die Kaap – middel tot laat 1600’s
Trekboere – vroeë negentiende eeu
Trek oor berge en deur riviere
Trek oor die vlaktes
Paar maande na ‘n trek – moderne ossewa in die agtergrond (1981)
Migrasie na Noordoos-Asië in die laat 1990’s – Kaohsiung uit die lug

______________________

Duur geld, kosbare tyd, en hoe jy dink aan dinge

DINSDAG 7 MAART 2017

Ek het ooreenkomste met mense om op sekere tye teenwoordig te wees op sekere plekke om mense te help met hulle Engels. Benewens dit hou ek myself besig met vier ander dinge: taalstudie, ander maniere om geld te maak, lees, en skryfprojekte.

Ek kan maklik vier tot agt ure per dag spandeer aan elkeen van hierdie aktiwiteite. Omdat daar net 24 ure in ’n dag is, is ek genoodsaak om minder tyd te spandeer aan hierdie dinge as wat ek graag wil, of wat ek nodig het om sekere doelwitte te bereik.

VRYDAG 17 MAART 2017

I. Die vrou by my een skool het drooggemaak, toe word my werkpermit nie betyds uitgereik nie. Nou is ek volgende week op verpligte onbetaalde verlof. Natuurlik is dit verskriklik, maar ek dink toe ook aan wat ek kan doen in die ekstra tyd wat dit my sal gee.

Dink ek: Daai geld wat ek sou verdien het volgende week is nie gratis geld nie – ek sou betaal het daarvoor met my tyd.

Uit die aard van die saak het ek nodig om ’n sekere hoeveelheid geld te koop elke maand. Vir hierdie doel het ek vaste reëlings om ’n sekere hoeveelheid van my tyd te spandeer om ’n vasgestelde hoeveelheid geld te koop.

Ek dink toe verder dat ek nie die geld wat ek volgende week sou gekoop het nodig het vir iets spesifiek nie. Ek kan wel dink aan ’n paar dinge wat ek kan doen met die tyd wat ek nou nie hoef te spandeer nie. Resultaat: Geen probleem nie.

II. Punt I is ’n voorbeeld van hoe jy jou eie persepsie skep, wat dan jou realiteit affekteer. In stede daarvan dat ek ontsteld is oor die geld wat ek nie gaan kry nie, dink ek nou daaraan dat daai nie gratis geld sou gewees het nie, en dat ek nou nie nodig het om enige tyd te spandeer om daai geld te koop nie. En siende dat ek tyd meer nodig het as geld, is ek gelukkig.

______________________

Dalk eenvoudig nie goed genoeg nie

WOENSDAG 1 MAART 2017

(1)

’n Professionele tennisspeler tree af op 33-jarige ouderdom. Hy het oukei gedoen vir homself. Hy kon die huispaaiement bekostig op ’n drie slaapkamer huis in ’n goeie middelklas woonbuurt, en hy kon sorg vir sy gesin.

Die hoogtepunt van sy tennisloopbaan het gekom toe hy 27 jaar oud was. Hy het in die vierde rondte van ’n Grand Slam-toernooi gespeel, en die week daarna het hy sy persoonlike hoogste plek op die ranglys bereik, naamlik 52.

Hy het ’n goeie afrigter gehad op skool, en sy ouers het baie geld spandeer om sy talent te ontwikkel. Hy kon redelik goed tennis speel, dit was verseker. Maar selfs op sy heel beste was hy eenvoudig nie goed genoeg om in die top 50 in te breek nie.

(2)

’n Jong seun neem al vir drie jaar kunsklasse. Die klasse is nie goedkoop nie, so een aand vra die pa of hy ’n bietjie kan kyk na die seun se sketse. Hy vat sy tyd, en kyk peinsend na elke stuk papier wat voor hom neergelê is.

Dan sit hy die sketse neer en sê hy gaan ’n bietjie deur die tuin stap. Wil sy vrou nie dalk saamstap nie, vra hy.

Naby die roosbome vra hy sy vrou geskok wat aangaan. Drie jaar se kunsklasse, en daai sketse is die beste wat die seun kan doen?

Sy vrou verdedig die kind. Dalk het hy net nie talent vir kuns nie, stel sy voor.

“Goed en wel,” antwoord haar eggenoot, “maar kon ons dit nie twee jaar gelede al besef het nie?”

———–

Voorbeelde van tennisspelers wat meer as ’n dekade lank beroeptennis gespeel het, en min of geen titels gewen het nie (maar steeds ’n goeie bestaan gemaak het):

Stephane Robert se loopbaan as professionele tennisspeler het begin in 2001. Na 16 jaar is die hoogste plek op die ranglys wat hy sover gehaal het, nommer 50. Tot op hede het hy nog geen titels gewen nie. Totale prysgeld: $2 109 805.

Guillermo Garcia Lopez speel al vir 15 jaar lank beroeptennis. Sy hoogste rang was 23. Hy het tot dusver vyf titels gewen. Totale prysgeld: $7 162 298.

Konstantin Kravchuk speel al beroeptennis sedert 2004. Hoogste plek op die ranglys: 78. Titels: Geen. Totale prysgeld: $878 386.

Victor Estrella Burgos speel al sedert 2002. Hoogste plek op die ranglys: 43. Titels: 3. Totale prysgeld: $1 772 334.

Dan kom ’n mens by die toonbeeld van sukses: Roger Federer. Sy loopbaan as beroepspeler het begin in 1998. Die hoogste plek wat hy op die ranglys behaal het, was nommer 1. Hy het tot dusver 91 titels gewen, insluitende 19 grand slams. Totale prysgeld: $103 990 195.

______________________

Slaan die drom met oorgawe, of laat sak jou kop in skaamte

MAANDAG 13 FEBRUARIE 2017

Ek kyk ’n program getiteld Heart of Taiko, oor die tradisionele Japannese drom. Die program volg drie Maleisies-Japannese tienermeisies wat ’n taiko-groep gestig het in Penang. Hulle word genooi om ’n werkswinkel by te woon by ’n legendariese vervaardiger van taiko-dromme in Japan. Hulle ontmoet drie van die land se top vroulike spelers, wat hulle een na die ander onder hande kry om hulle te leer van tegniek en korrekte optrede. Aan die einde van die paar dae word daar verwag van die groep tieners om saam met die Japannese dromspelers ’n vertoning te lewer voor ’n uitgesoekte gehoor.

Die jonger van die drie Japannese meesters neem die voortou met die opleiding. Sy is krities van die begin af. Die meisies speel nie saam nie. Hulle vertoon ’n gebrek aan toewyding. Sy gee vir hulle pakke tydskrifte toegedraai in papier om op te oefen, en sy wonder die volgende dag hoekom die pakke nog nie stukkend geslaan is nie. Sy kyk na hulle handpalms. Hoekom is dit nie stukkend nie? Hoekom is daar geen blase nie? Sy vat hulle na ’n winderige strand toe waar hulle wydsbeen moet staan en swaar dromstokke bo hulle koppe moet hou terwyl hulle iets gil. Dit terwyl ’n sterk wind dreig om hulle om te waai. Hulle doen oukei, maar steeds is hulle leermeester nie beïndruk nie.

Die volgende dag gaan hulle na ’n klooster toe om te mediteer – hulle sit stil op kussings en staar na ’n wit muur. Aan die einde daarvan beskryf die een meisie dit as ’n baie leersame ervaring. Sy sê sy het geleer dat mens ten volle teenwoordig moet wees in die oomblik.

Hulle gaan terug na die opleidingsentrum toe. Hulle oefen harder.

Die dag daarna moet hulle weer dromme speel vir hul leermeester – die jong, professionele taiko-speler. Hierdie keer glimlag sy. Hulle maak nog baie foute, sê sy. Daar’s nog baie wat hulle moet leer. Maar, en dit sê sy met groot tevredenheid – sy sien meer toewyding in hulle oë. Sy sien dit ook in hulle armbewegings: die arms word hoog opgelig, en hard afgebring op die dromvel. En hulle skree lekker hard.

En hulle leer: Tegniese foute is een ding; ons werk daaraan. Almal maak foute aan die begin. Foute is vergeeflik. Wat onvergeeflik is, wat om die waarheid te sê ’n groot verleentheid is vir almal, is gebrek aan toewyding.

______________________