En so stap die tyd nogmaals aan

MAANDAG 4 APRIL 2016

Teen die tyd dat jy ’n jong volwassene is, agtien tot vroeë twintigs, is die mense wat die volgende geslag jong volwassenes gaan word, sewe tot twaalf jaar agter jou – op daai stadium kinders, of hoogstens tieners aan wie jy jouself min steur.

Teen die tyd dat jy dertig is, is daai volgende groep geboortelinge gereed om jou en jou ouderdomsgroep se pas ontruimde plekke in te neem as “jong volwassenes”.

Teen die tyd dat jy 35 is, is daai groep self al tussen 23 en 28, wat beteken dit is glad nie onvanpas dat jy om dieselfde braaivleisvure staan as ten minste die ouer lede van die volgende geslag nie. Vriendskappe word dalk gesluit, en dis selfs moontlik dat jy romanties betrokke kan raak met iemand uit hierdie geslag.

Tyd stap aan. Jy tref veertig. As jy dit nog nie uitgewerk of opgemerk het nie, gaan dit jou weldra tref soos ’n tert wat te lank in die son gestaan het: ’n volgende geslag het intussen hul opwagting gemaak, wat tussen sewe en twaalf jaar jonger is as die geslag wat gevolg het op jóú geslag. Hierdie vars lede van volwassenheid is op hierdie stadium enige iets tussen hoërskool ouderdom en middel-twintigs.

En jy weet: As die wêreld behoort aan die mense met die meeste energie en lewenslus en ambisie en selfs naïewe idealisme, behoort die wêreld nou aan hierdie groep jong volwassenes.

Jy slaan 45, en die oudste lede van daai hele tweede geslag wat ná jou volwassenheid bereik het, is al 30 jaar oud. Van hulle is al getroud. Sommige het al kinders. Kans is dat van hulle vir jou werk, maar dit is ook moontlik dat jy vir een van hulle werk, dat ’n lid van hierdie geslag vir jóú instruksies gee oor wat om te doen en wat om eerder nie te doen nie.

Jy is grootliks ’n vreemdeling vir hierdie “tweede” groep nuwe volwassenes, maar jy het ’n idee wat vir húlle belangrik is. Verwysings word gereeld gemaak op TV en in alledaagse gesprekke oor húlle voorkeure en modegiere, en dit is húlle opiniestukke en ongepoetste prosa wat op literêre webwerwe vorentoe gedruk word.

Kans is skraal dat julle sosiale sirkels ooit sal kruis. Julle skuifel ietwat styf verbymekaar in stampvol kuierplekke. Kom julle in ’n situasie waar stilte ongemaklik sal wees, is hulle dalk onwillig om te veel te sê, want hulle verwag dalk dat julle, soos hulle ouers, krities sal wees oor hulle voorkoms, en oor die keuses wat hulle maak. En jy is dalk self nie te spraaksaam nie, want jy wil nie oud klink nie, en die hemel behoed jou as jy die indruk moet skep dat jy probeer “hip” wees.

En so stap die tyd nogmaals aan. Die veertigs, so het iemand opgemerk wat jare gelede al deur die vreemde proses gegaan het, is die bejaarde jare van jou jeug – en jou vyftigs die jeugjare van jou bejaardheid.

Een ding in hierdie vyfde dekade van jou lewe is niks nuuts nie: Indien jy gelukkig genoeg is om tyd te kan afknyp in die gejaag om aan die lewe te bly, vind jy dalk net dat jy weereens probeer uitsorteer wie en wat jy is en wie en wat jy wil wees, min of meer gebaseer op wie en wat jy was tien en twintig jaar gelede, en in ag genome wie en wat jy hoop om te wees in die toekoms – mits jy oor twee of drie dekades jouself nóg bevind in die land van die lewendes.

______________________

Die Bisantynse Ryk as metafoor vir die lewe

MAANDAG 28 MAART 2016

Die Bisantynse Ryk is ’n goeie metafoor vir die menslike lewe: krag in jou jeug, hoogmoed as gevolg daarvan, verlies van mag en aansien met die verloop van tyd, verraad deur mense wat jy vertrou het, laaste desperate pogings om jou nalatenskap te red en iets te doen wat die moeite werd is om te onthou, en dan, die onvermydelike einde.

Lees meer oor die Bisantynse Ryk: https://en.wikipedia.org/wiki/Byzantine_Empire

Justinianus I van Bisantium, omstreeks 482-565

______________________

Om te werk aan jou eie uitlatings vir dekades lank

SATERDAG 26 MAART 2016

Ek werk steeds aan die redigering en vertaling van materiaal wat ek jare gelede geskryf het – in sommige gevalle soveel as twintig jaar gelede. Van die materiaal het nog nooit die buitekant van ’n notaboek gesien tot nou toe nie; in ander gevalle is die stukke reeds gepubliseer in Afrikaans, maar met die vertaling word dit ook weereens, vir die hoeveelste keer, hersien.

Dit was dus ’n aangename verrassing toe ek vanmiddag lees van die Amerikaanse digter, Walt Whitman. Die eerste uitgawe van sy versameling poësie, Leaves of Grass, is gepubliseer in 1855, maar hy het vir die volgende paar dekades voortgegaan om die materiaal te hersien en dele oor te skryf.

Toe, in Januarie 1892, twee maande voor sy dood, plaas hy ’n kennisgewing in die New York Herald: “Walt Whitman wishes respectfully to notify the public that the book Leaves of Grass, which he has been working on at great intervals and partially issued for the past thirty-five or forty years, is now completed, so to call it, and he would like this new 1892 edition to absolutely supersede all previous ones. Faulty as it is, he decides it as by far his special and entire self-chosen poetic utterance.”

Volg hierdie skakels vir meer inligting oor Walt Whitman en sy digkuns:

https://en.wikipedia.org/wiki/Walt_Whitman

https://en.wikipedia.org/wiki/Leaves_of_Grass

Walt Whitman, 1887

______________________

Probeer harder om meer te doen met minder

VRYDAG 18 MAART 2016

Dink aan ’n spesifieke probleem, en spesifieke hulpbronne tot jou beskikking. Een voorbeeld: jy sluit jouself uit jou huis uit. Jy kyk om jou rond en al wat jy sien, is ’n stuk draad, ’n besem, ’n geroeste skroewedraaier en ’n baksteen. Wat jy regtig nodig het, is jou sleutel, maar jy het nie jou sleutel nie. Wat doen jy? Jy vat daai stuk draad, die besem, die skroewedraaier en die baksteen, en jy doen jou bes.

So ook is dit met geldmaak.

Een van die wonderlike dinge van die Internet-era is dat daar soveel maniere is om vir jouself ’n inkomste te bewerkstellig. En daarin lê ook die probleem. Dit is die maklikste ding in die wêreld om jou tas so swaar te laai met dinge wat jy wil doen, dat jy dit skaars by die treinvenster kan indruk om te vertrek op jou reis na Finansiële Welstand. Soos die minute verbytik voor die trein vertrek, weet jy dat jy van die goed in die tas moet uitpak en langs die spoor moet los. Maar so hard as wat jy probeer, jy kan jouself nie sover kry nie. En uiteindelik vertrek die trein sonder jou.

Ek dink byvoorbeeld aan wat ék sal doen as ek net my Engelse klasse, my skryfwerk en so twee ander kommersiële boekprojekte het om my finansiële doelwitte van ten minste hierdie jaar te bereik. Ek kan nie verseker sê of ek my doelwitte sal bereik nie, maar een ding is seker: Ek sal meer doen, en harder probeer om geld te maak met my skryfwerk en met die ander boekprojekte as wat nou die geval is (ja, selfs met my skryfwerk).

Hoekom doen ek dit dan nie, as ek dan nou sê ek sal dit doen? Want daar is altyd ’n liggie wat aan en af flikker – daar, aan daai kant. “O,” sal ek sê, “dis [enige van verskeie dinge wat ek ook kan doen om meer geld te maak]. Laat ek net gou aandag daaraan gee.”

DINSDAG 5 APRIL 2016

Gatkant van ’n gedagtestroom: Ek glo die ou wat sit met ’n boord vol lemoene en niks anders nie, sal uiteindelik uitwerk het hoe om geld te maak met daai lemoene – vars lemoensap, gevriesde lemoensap, lemoenskille, sakke vol lemoene, gedroogde lemoene, lemoenkoek …

Sal hy beter doen as die ou wat ook begin met ’n klomp lemoenbome in sy agterplaas, wat na ’n tyd dink dis ’n mors van tyd, wat dan ’n paar dosyn skoene koop om dit te verkoop van deur tot deur, en na ’n maand die onverkoopte skoene in sy agterkamer pak, om dan ’n blitskursus te doen in tuindienste en vir hom ’n stel tuingereedskap koop om daarmee te probeer geld maak, wetende dat daar ander mense is in die buurt wat ook tuindienste aanbied, en beter is met bemarking as hy?

Ek glo die waarskynlikheid is beter dat die ou wat bly by die lemoenbome, uiteindelik vir homself ’n stabiele bron van inkomste sal opbou.

______________________

Net om te weet hoe om iets te doen, is nie genoeg nie

VRYDAG 18 MAART 2016

Ek het tussen 2006 en redelik onlangs onder die wanindruk verkeer dat mens enige iets kan doen as jy net weet hóé. Jy kan ’n webwerf ontwerp – as jy net weet hóé. Jy kan ’n roman skryf – as jy net weet hóé. Jy kan geld maak op enige van dosyne maniere – as jy net die regte PDF in die hande kan kry wat aan jou sal verduidelik wat jy moet doen. Jy kan jou eie besigheid van die huis af bestuur – as jy net die regte stel DVD’s in die hande kan kry wat die proses vir jou sal uitlê. En so kan ek aangaan.

Nodeloos om te sê het ek met kenmerkende passie inligting versamel in verskeie formate en van enige leermeester wat hand op die bors belowe om al die geheime te verklap wat slegs bekend is aan die binnesirkel.

Tien jaar later weet ek meer as ooit. Ek weet deesdae nie net van die ontdekkingsreise van die vyftiende eeu of van die Bisantynse Ryk of die Eerste of Tweede Wêreldoorlog nie, ek weet ook hoe om ’n webwerf tot stand te bring in minder as dertig minute, vanaf idee tot iemand in Paraguay of Zimbabwe kan toegang kry daartoe en lees wat ek daarop gepubliseer het (as ek so vinnig iets kan skryf). Ek weet hoe om geld te maak deur vir ander mense goed te doen. Ek weet hoe om geld te maak deur die waarskynlikheid dat ’n bepaalde perd ’n bepaalde resies sal wen te koop en te verkoop nog voor die resies eens begin het. En, eerlikwaar, ’n klomp ander goed.

Maar – ek het ook geleer, tot my groot konsternasie, dat net om te wéét hoe om iets te doen, nie genoeg is nie.

______________________