VRYDAG 6 APRIL 2012
Hoewel die meerderheid lede van die gemeenskap van gelowiges nie die vaagste benul hiervan het nie, is die Christelike religie in die greep van ketters. Hierdie gelowiges resiteer alles woord vir woord wat die ketters hulle leer, Sondag na Sondag, preek na preek. Meer as dit, vele sogenaamde Christene doen hulle bes om die ketterse afdwaling van die Christelike leer so wyd te verkondig as wat hulle vermoëns hulle in staat stel. Hierdie grootste afwyking van die Christelike boodskap is, volgens my, die klem daarop om reg te glo, ten koste van die Evangelie van Liefde.
Prekers fokus graag op liefde vir God in hulle lesings, maar “liefde vir God”, in hierdie teleurstellende kettery, word verstaan as korrekte geloof, om God te “erken”. Verlore in al hierdie lesings oor hoe om reg te glo, is melding van ’n radikale, transformerende liefde vir jou naaste.
In die kettery wat deesdae so wyd verkondig word, beteken “liefde” verder om te glo in ’n komplekse mitologie van skuld – van “sonde” wat ’n mitologiese paar mense gepleeg het aan die begin van tyd, wat al hulle nageslagte gedompel het in skuld sonder dat hulle self enige aandeel daaraan gehad het. “Liefde” beteken ook dat mense moet glo aan die reëls wat betref die bestuur van hierdie skuld – wat onder andere insluit die brutale behandeling wat Jesus moes deurgaan aan die hande van die Romeinse owerhede ten einde te kon “betaal” vir hierdie skuld.
Die pad na verlossing volgens hierdie Christelike dogma behoort selfs die mees gesoute kerkganger te verwar. Volgens moderne Christelike dogma sterf Jesus aan die kruis om die mens vry te koop van sy sondeskuld. Daar is ’n goeie analogie om hierdie deel van Christelike leerstellings te verduidelik. Verbeel jouself jy het miljoene rande se skuld gemaak. Duidelik is jy in diep moeilikheid. Wat volgende gebeur is waarlik wonderbaarlik. Iemand wat jou liefhet, verkoop sy huis, sy kar, sy besittings, al sy aandele, om genoeg geld bymekaar te kry om jou skuld te delg. Omdat hy jou liefhet. Dan gaan hy na een of ander kantoor toe om persoonlik die geld oor te betaal. Jy word in kennis gestel per pos dat jou skuld gedelg is. Fantasties! Jy sweer van nou af gaan jy beter leef! Niks meer skuld nie! Jy’s vry! Maar wag ’n bietjie … iemand het nie die fynskrif gelees nie. Vir jou skuld om gedelg te wees, moet jy ’n komplekse stel oortuigings internaliseer en opreg aanvaar. Bevraagteken een ding, en die skuld is nooit gedelg nie – jy sal steeds die straf moet verduur. Wonder oor ’n ander ding, en dieselfde ding gebeur: Die skulddelging word gekanselleer, behalwe natuurlik dat die persoon wat jou so liefhet dat hy alles verkoop het om jou skuld te delg, as’t ware sy eie lewe opgegee het, niks terugkry nie. Daai deel van sy persoonlike geskiedenis is reeds verby. Die pyn is gely; die marteling verduur.
Kom ons keer terug na hoofstroom Christelike teologie. Omdat die mens in sonde ontvang en gebore is, behoort die siel van die mens aan Satan, en moet ons na regte, ongeag die goeie keuses wat onsself maak en die goeie lewens wat ons probeer lei, in ’n poel vuur beland. Gelukkig vir die mens is daar ’n tegniese skuiwergat: as God sy seun opoffer in die plek van die sondige mens, is die prys betaal, die skuld gedelg, en is die mens vry van hierdie kettings waaraan hy gebind was van nog voordat hy gebore was. God stuur dan sy seun, en sy seun word gemartel en tereggestel deur die politieke owerhede van die dag. Op ’n ander vlak van bestaan beteken hierdie dood egter dat die mens se sondeskuld betaal is. Dis voldoen. Dis afgehandel. Maar dan, broers en susters, lede van die gemeente en die breë gemeenskap, kom die klug, die verskriklike, bloedstollende kettery: Dit is nie genoeg nie! Die prys van sondeskuld is betaal, maar net in teorie! Jy, sondige mens, moet eers ’n hele versameling dogma en leerstellinge internaliseer en opreg bely, anders was Jesus se marteling verniet! Anders het hy verniet gesterf!
Waaraan moet jy glo – en siende dat die ewigdurende gemak van jou siel daarvan afhang, verkieslik ook ten volle verstaan, volgens hierdie ketterse oorname van die Christelike boodskap?
– Jy moet glo dat God ’n seun het, maar dat God ook die seun is.
– Jy moet glo dat God een is, en nog altyd een was, maar ook vader is van ’n seun.
– Jy moet glo dat God gees is, maar ook 100% vlees was in sy tyd op aarde.
– Jy moet glo dat God ’n man is – hy word immers nie “Moeder” genoem nie.
– Jy moet glo dat God die reëls moes nakom waarop hy en Satan ooreengekom het, in stede daarvan om net vir Satan te verslaan.
– Jy moet glo dat hoewel alles volbring is op die kruis (“Dit is volbring!” het Jesus volgens die Bybel uitgeroep op die kruis), alles, inderdaad, nie volbring is nie. Die mens sal eers vir duisende jare voortgaan met hulle sondige lewens, en dan sal daar ’n laaste veldslag wees. Dan sal almal wat nie reg geglo het nie, hel toe gaan.
Slegte nuus as jy as gelowige gedink het dit is al waaraan jy moet glo om die ewige foltering van hel vry te spring. Na die “groot” items op die lys, kom ons by al die ander goed wat bygesleep word, waarin jy ook 100% moet glo of jy’s steeds diep in die moeilikheid.
– Jy moet glo dat die wetenskaplike verduideliking dat lewensvorms natuurlik ontwikkel het, andersins bekend as ewolusie, ’n versameling blatante leuens is.
– Jy moet glo dat die kosmos met al die sterre en planete en ander hemelliggame “geskep” is, met die begrip dat dit beteken daar was niks, en binne enkele dae het die hele kosmos, soos ons dit vandag ken, bestaan.
– Jy moet glo dat die versameling literêre materiaal wat bekend staan as die Bybel goddelik gedikteer was aan omtrent veertig skrywers (verskillende weergawes van dieselfde gebeure is dan skynbaar ook so gedikteer aan die “skrywers”).
– Jy moet glo dat die mens absolute vrye wil het, wat beteken almal kan oor dieselfde kam geskeer word oor hulle dade. Genetiese samestelling, sosio-ekonomiese agtergrond, persoonlike trauma en geestelike ongesteldheid is nie relevant nie, en behoort nie ’n verskil te maak in die finale oordeel nie.
Nog voorskrifte:
– Jy mag nie bevraagteken hoe Jesus uit ’n maagd gebore kan wees en tog ook in die bloedlyn van sy moeder se eggenoot (afstammeling van Dawid) is nie.
– Jy mag nie bevraagteken dat Jesus op ’n wolk opgevaar het na bo nie, na wat veronderstel moet word die lokaliteit is van die dimensie waarheen mense vertrek na fisiese dood.
– Volgens die Apostoliese Geloofsbelydenis moet mense bely dat Jesus sit aan die regterhand van God, die Vader. (Letterlik? Moet mense dit letterlik glo? En as dit nie letterlik opgeneem moet word nie, watter ander items hoef nie letterlik opgeneem te word nie?)
– Jy moet glo dat die mens ’n aparte nie-fisiese kwaliteit het wat genoem word “siel”, wat na jou dood vertrek na ’n ander dimensie om óf beloning te ontvang vir korrekte geloof tydens die fisiese periode van jou bestaan, óf om die straf te verduur omdat jy nie reg geglo het nie. (Vreemd soos dit mag voorkom, is daar onenigheid oor hierdie aangeleentheid, siende dat daar mense is wat glo die fisiese liggaam verskyn ook na fisiese dood.)
* * *
Christelike teologie verduidelik dat God die mens so liefgehad het dat hy sy eie seun laat martel en laat teregstel het om die mensdom te red. Baie kan gesê word hieroor, maar dit spreek wel van die belangrikheid van liefde in die grondslag van die Christelike religie. Geen verrassing hier nie: Die mens word uitdruklik opdrag gegee om sy naaste lief te hê. “Wat is die grootste gebod?” vra ’n wetgeleerde vir Jesus. Jesus antwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ En die tweede wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” En vir as mense nie mooi verstaan het nie, gee Jesus ’n paar handige voorbeelde: “… want ek was honger, en julle het my iets gegee om te eet; ek was dors, en julle het my iets gegee om te drink; ek was ’n vreemdeling, en julle het my gehuisves; ek was sonder klere, en julle het vir my klere gegee; siek, en julle het my verpleeg; in die tronk en julle het my besoek. […] Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.”
Helaas, selfs as jy dit gedoen het, selfs as jy aan die honger mens iets gegee het om te eet, aan die een wat dors was, iets gegee het om te drink, ’n vreemdeling gehuisves het, klere gegee het aan ’n man in flenters, ’n sieke verpleeg het, iemand in die tronk besoek het, maar jy glo nie enige van bogenoemde dogmatiese leerstellings nie, sal jy steeds brand in die hel van jou meester, Satan.
Liefde is die grootste gebod? Blykbaar net in teorie. Volgens duisende ketterse leiers wat in beheer staan van institusies van die Christelike religie, is die grootste gebod iets anders: Glo reg, of gaan hel toe.
* * *
Soos vele ander mense glo ek die wêreld is in ’n slegter toestand as wat dit behoort te wees. Mense behoort mekaar beter te behandel. Ons almal behoort die fisiese omgewing beter te versorg. Ek glo nie ons het godsdiens nodig om beter mense te wees nie. Ek glo ’n ateïs kan enige dag net so ’n goeie buurman wees as ’n kerkganger, en in vele gevalle beter. Maar ek glo ook die Evangelie van Liefde soos verkondig deur Jesus is ’n radikale benadering tot die lewe. Hierdie benadering het die potensiaal om individue te transformeer, om gemeenskappe te transformeer, en aan die einde van die dag die mens in staat te stel om nie so ’n dekselse groot teleurstelling te wees soos ons soms is nie.
Om God lief te hê deur jou naaste lief te hê. Om jou naaste lief te hê deur hom iets te gee om te eet as hy honger is, om haar iets te gee om te drink as sy dors is, om hom te huisves as hy huisvesting benodig, haar iets te gee om oor haar skouers te drapeer as haar klere stukkend is, haar te versorg wanneer sy siek is, en hom in die tronk te besoek indien dit daarop neerkom.
Is dit nie eerder waaroor dit gaan nie? Mis ek die punt? Of word die wêreld by die dag meer en meer in die hel gedompel deur kerkleiers wat aandring daarop dat dit alles regtig gaan daaroor om reg te glo?
Vele kerkgangers en ander lede van die religie-gemeenskap sal dalk die geldigheid van my kritiek oor waarin hulle veronderstel is om te glo, bevraagteken. “Was jy daar?” mag hulle dalk vra. “Weet jy Jesus is nie uit ’n maagd gebore nie? Weet jy verseker hy het nie drie dae na sy kruisiging uit die dood ontwaak nie? Weet jy verseker hy het nie vir weke na sy opstanding uit die dood rondgeloop en aan mense verskyn nie? Weet jy verseker hy het nie op ’n wolk opgevaar na die hemel nie?”
My antwoord hierop is eenvoudig: Ek was nie daar nie, so vir al wat ek weet, het alles gebeur soos die Bybelse tekste dit uiteensit, ongeag my vertroue in wat wetenskap sê oor hierdie aangeleenthede. Die aandrang daarop om te glo in ieder en elk van hierdie leerstellings, en al die verwante dogma waaruit die Christelike geloofsleer bestaan (soos die ses-dag skeppingsmitologie), vertoon wel die onmiskenbare vingerafdrukke van die mens; ’n kenmerkende tendens om fantasties komplekse ideologieë te vervaardig, en dan te vereis dat almal wat wil deel wees van hulle groep, eers moet glo aan hulle ideologie. Die beeld wat amper onwillekeurig by my opkom is dié van ’n kombuis waar die vullissak uitmekaar geskeur is en die vullis oor die hele kombuisvloer verstrooid lê. Jy het ’n sterk vermoede wie se werk dit is. Die hond lê in die hoek en probeer sy bes om onskuldig te lyk. Sou hy kon praat, sou hy jou dalk wou oortuig daarvan dat die kombuis nog altyd so gelyk het, dat hy niks daarmee te doen gehad het nie. “Natuurlik nie,” sou jy sarkasties opmerk, en die gemors begin skoonmaak.
My eie oortuigings is dalk ’n mengelmoes van Christelike teologie en humanisme en common sense, maar ek is nie blind nie. Ek sien ’n grootskaalse vermorsing van menslike potensiaal. Ek sien ’n flagrante ontkenning van ’n radikale boodskap wat, dit gee ek toe, dalk te veel vra van meeste mense.
Uiteindelik bly geloof, hoop en liefde – hierdie drie. En die grootste hiervan is beslis nie regte geloof nie.
______________________