’n Poging om te verduidelik waaraan ek glo

VRYDAG 6 APRIL 2012

Waarin glo ek? Laat ek probeer verduidelik:

– Ek glo nie ’n fotografiese voorstelling van ’n stedelike landskap kan geskets word met ’n stomp potlood nie. In dieselfde sin reken ek nie die mens kan verwag om die absolute, allesomvattende waarheid te ken sonder om te beskik oor al die inligting, en sonder om te breek deur die beperkinge van die klanke waarin ons met mekaar kommunikeer nie.

– Ek glo dat vele mense ’n diepgesetelde emosionele behoefte het aan ’n sterk kosmiese figuur met wie ’n noue verbintenis gehandhaaf kan word, en wie se hulp opgeroep kan word in tye van nood. Hierdie behoefte kan gesien word in die mitologie van primitiewe gemeenskappe, en dit manifesteer in, onder andere, die geïnstitusionaliseerde religie van die Katolieke, Protestantse, en Ortodokse Kerke.

– Ek glo nie die historiese Jesus het ooit enige ambisies gekoester om ’n nuwe godsdiens of religie te begin nie. Meeste ernstige navorsing bevestig dat hy homself geag het as ’n lid van die Joodse geloofsgemeenskap.

– Ek glo dit wat ons vandag ken as die Christelike religie het sy ontstaan te danke aan die werk van ’n talentvolle, intelligente, en bekwame eerste-eeuse gemeenskapsleier en organiseerder, genaamd Saul van Tarsus – beter bekend as Paulus die Apostel. Om te beweer dat hy deur God geïnspireer was, is om ’n tradisionele weergawe van ’n verhaal onkrities te aanvaar omdat dit die religieuse ideologie legitimeer wat jy aanvaar as ’n verduideliking van lewe op aarde, waarsonder jy dalk nie seker sal wees dat jou lewe enige betekenis het nie.

– Ek glo dat die Christelike religie soos ons dit vandag ken ’n interessante ontwikkelingsproses deurgegaan het – van sy wortels as Joodse sekte, na troos-en-hoop beweging populêr onder die laer klasse van die Romeinse wêreld, tot meer gesofistikeerde religie met die inkorporasie van meer gevorderde Griekse konsepte om dit meer aanvaarbaar te maak onder die meer welgestelde en beter opgevoede klasse van die later Romeinse wêreld. Ek vind dit verder interessant dat vele mense wat bely dat hulle lede is van die Christelike geloofsgemeenskap, nie net merendeels onkundig is oor hierdie geskiedenis nie, maar dit inderdaad soms afmaak as onbelangrik.

– Ek aanvaar verifieerbare en geloofwaardige historiese inligting wat aandui dat daar verskeie groepe was gedurende die eerste paar eeue na Christus wat kompeterende sienings gehad het van die persoon Jesus van Nasaret, van sy natuur, en van sy verhouding met die ander figure in die Drie-eenheid. Ek aanvaar verder as histories akkuraat dat, ter wille van politieke voordele, die keiser van die Romeinse Ryk in die vroeë vierde eeu al die leiers van die Christelike gemeenskappe byeengeroep het om te besluit wat die korrekte dogma sal wees rakende Christus, en wat nie; ook om te besluit watter geskrifte amptelike erkenning sal kry as riglyne van die Christelike religie, en watter nie. Om te beweer dat die keiser en biskoppe teenwoordig by die Raad van Nicea in die jaar 325 deur God geïnspireer was, is – soos ek reeds genoem het – om ’n tradisionele weergawe van ’n verhaal onkrities te aanvaar omdat dit die religieuse ideologie legitimeer wat jy aanvaar as ’n verduideliking van lewe op aarde, waarsonder jy dalk nie so oortuig sal wees dat jou lewe enige sin het nie.

– Ek glo dat die Evangelie van Liefde soos vervat in die Christelike tradisie ’n radikale en potensieel transformerende riglyn is van persoonlike moraliteit. Ek glo dat die wêreld ’n beter plek sal wees as die Evangelie van Liefde ernstig opgeneem word deur meer mense – belydende lidmate van die Katolieke, Protestantse en Ortodokse Kerke, of nie. Ek glo verder dat – met enkele uitsonderings – die Evangelie van Liefde vroeg in die ontwikkeling van die religie opsy geskuif is en vervang is met ’n geïnstitusionaliseerde beweging met gepaardgaande wêreldbeeld wat ver verwyderd is van die oorspronklike waardes wat Jesus aan mense geleer het.

Laastens glo ek ek het die reg om my siening van Jesus Christus, die “Christelike” religie asook “Christelike” dogma te verwoord en hierdie opinie so wyd as moontlik te versprei. Ek glo dat dit my reg is as ’n burger van hierdie wêreld, as vriend, broer, seun en familielid van mense wat hulleself as Christene ag, en as iemand wat grootgeword het met die Christelike religie, en tot en met sy volwasse jare homself geag het as belydende lidmaat van die Christelike geloofsgemeenskap. Ek glo verder dit is my verantwoordelikheid om mense in te lig dat, in my opinie, hulle om die bos gelei word. Ek doen so, nie omdat ek glo enige iemand hel toe sal gaan as hulle nie die lig sien nie, maar omdat ek dit sien as ’n grootskaalse vermorsing van menslike potensiaal. Laastens sien ek hierdie dwaalleer, hierdie vals teologie, as ’n daaglikse verloëning van die gees van Christus.

______________________