Die einde van my jeug begin

DINSDAG 21 JUNIE 2011

Dit pla my kwaai dat ek amper veertig is, en [besonders min geld het]. Ek onthou tien jaar gelede, op my dertigste verjaarsdag, was ek more or less broke. Ek het gedink: “Wow, dertig en broke.” Volgende Woensdag is ek veertig.

Om alles te kroon, dink ek gereeld ek mors my tyd deur geld na te jaag terwyl my taak in die lewe is – of dalk was op ’n stadium – om te skryf. Dis amper asof ek ’n kans gewaag het vanaf 2006 om voltyds geld na te jaag, met die idee dat ek later kan terugkeer na my skryfwerk. Vyf jaar later, en ek begin paniekerig raak. Om meer as een rede.

WOENSDAG 22 JUNIE 2011

Mens kom agter wat ander 39/40-jariges ook al besef het: Die stryd gaan voort.

MAANDAG 27 JUNIE 2011

Dit het gebeur met die hippies van ’69, en met die punks van ’79. Dit het gebeur met die grunge rockers van die vroeë negentigs. Dit gebeur met super-modelle, en dit het gebeur met ’n tennisspeler wat in die laat sewentigs en vroeë tagtigs Wimbledon vyf keer in ’n ry gewen het. Dit het selfs gebeur met die “teenage queens” waarvan Roger Waters gesing het in 1992. Almal raak ouer. (Behalwe as jy jonk doodgaan.)

DINSDAG 28 JUNIE 2011

Die laaste dag van my dertigerjare. Dit was ’n lang dekade. ’n Goeie een …

Ek vermoed ek voel soos vele ander 39-jariges gevoel het op die vooraand van ’n nuwe dekade: Kan ons nie net klaarkry hiermee nie? Ek wil regtig aangaan met die res van my lewe.

Wat beteken dit in elk geval om veertig te wees? Is daar ’n universele betekenis daaraan wat van toepassing is op almal wat wonder oor hulle lewens op die vooraand van die veertigste herdenking van hul toetrede tot die lewe?

Wat beteken dit vir mý om te sê ek is môre veertig? Wat sal dit môre beteken om te sê ek is vandag veertig?

Ek leef.

Ek is dankbaar daarvoor.

Ek is lief vir iemand, en daarvoor is ek baie dankbaar.

Dieselfde iemand is lief vir my. Ek is besonders dankbaar daarvoor.

Ek glo nog aan dinge. Ek glo nog aan my eie potensiaal. Ek glo nog aan my drome.

En daarvoor is ek dankbaar.

Die stryd gaan voort – om te wees wie en wat ek kán wees. En vir dit om goed te wees.

SATERDAG 2 JULIE 2011

Terwyl ek druk besig is om angstig te raak oor wat ek nog moet doen voordat ek vyftig tref, het ek nog ’n obskure mylpaal verbygesteek: Vyftien jaar (en twee dae) gelede het ek gearriveer in Noordoos Asië.

Ek het een dag tevore 25 geword.

______________________

Die plaag van vals intellektuele

VRYDAG 10 JUNIE 2011

’n Plaag bederf openbare debat al vir maande lank – op TV, die internet, radio, en in ander media. Hierdie plaag kan slegs op een manier beskryf word: vals intellektuele.

Hierdie mense sal hulleself nooit kwesbaar maak tydens debatte deur volgens die reëls van intellektuele diskoers te speel nie. Verifieerbare feite is skaars tydens hulle vertonings. Selfvertroue en stemtoon word ingespan as wapens om die argument te “wen” – of dan ten minste die indruk te skep dat dit die geval is.

Hierdie mense dra niks by tot die gesprek nie. Of eerder, dit wat hulle soms bydra word totaal oorweldig deur hulle ongegronde aantygings, kritiek wat nie gestaaf word met ’n redelike, goed uitgelegde argument nie, en stellings met min of geen verbintenis met die werklikheid – wat slegs gemaak word vir die vermaaklikheidswaarde daarvan, om ’n toejuiging van hulle ondersteuners te kry.

Vals intellektuele is die vyand van intelligente gesprek.

______________________

Elke man het sy plafon

DONDERDAG 19 MEI 2011

My fiets se binneband het gisteraand op pad huis toe ontplof, so ek moes vanoggend die fiets stoot na my ou buurt toe waar my “kantoor” is. Toe ek by die fietsherstelwinkel kom naby my ou woonstel, was dit nog toe. So ook toe ek twee ure later weer gaan kyk het. Derhalwe moes ek vanmiddag skool toe stap. En terug. Op pad terug loop ek toe verby die fietswinkel – wat toe uiteindelik oop is. Tien minute later is ek daar met my fiets en die gebarste binneband.

“NT$450,” probeer die ou my beroof toe ek hom vra hoeveel dit sal kos om die binneband te vervang.

Sekondes later stoot ek toe maar weer my fiets kantoor toe, en kort daarna pak ek weer die twee kilometer aan terug huis toe. In my sandale.

Twee insigte:

1. Dis ’n jammerlike waarheid dat nie elke donker wolk ’n silwer randjie het nie. Maar as jy nie die silwer rand raaksien nie omdat jou houding verkeerd is, moet jy jouself afvra: Is my probleem terminaal, of kan ek iets daaraan doen?

2. “Every man has his price, Bob, and yours was pretty low,” sing Roger Waters. So het elke persoon ook sy plafon waar hy sê: “Ek kan nie verder nie. Ek kan nie meer nie …”

Vraag is: Waar is jou plafon?

Dalk is jou bitter ervaring iets van die verlede oor vyf minute, of oor twee dae, of oor ’n week. Gaan jy dan, wanneer dit verby is, terugkyk en verleë sê: “Deksels, ek wens ek het nie so gou ingegee nie … Ek wens ek het nie so gou opgegee nie … Ek wens ek het nie op daai punt al so hard begin kerm en kla nie …”

Naby aan die einde van my stappery vanmiddag was my bene al stokstyf, en ek het ’n dosyn klein klippies opgeskep met my sandale soos ek geskuifel-stap het. Ek het gedink aan soldate wat kilometers ver moes marsjeer in haglike omstandighede, net om die volgende oggend in ’n sloot te moet lê, en op ander stappers te moet skiet.

Dis toe wat ek dink aan die Roger Waters lirieke: “Every man has his price … and yours was pretty low.”

Ek besef toe, as ek op daai punt hard aan die kerm gegaan het, sou dit my plafon gewees het. En dit sou pretty damn laag gewees het.

______________________

Om voortdurend te leer wat jy verkeerd doen

VRYDAG 29 APRIL 2011

’n Internet bemarker wie se advies ek so nou en dan oorweeg, skryf in die artikel, “Sheena was a man”*, hoekom meeste mense wat probeer “Internet market”, misluk. Ek het geweet ek is die teikengehoor vir wie die stuk geskryf is.

Sy verwys ook na Merlin Mann se uitstekende artikel, “Cranking”, en ’n goeie artikel van Ed Dale getiteld, “Burn The Ships and Hail Mary’s”*.

Na ’n paar minute kom ek toe tot die insig dat wat ék besig is om te doen met my reeks kommersiële projekte wat veronderstel is om ’n inkomste te genereer, is ook om te crank – soos Merlin Mann se ma wat sy pa se hospitaalbed voortdurend probeer crank het in ’n vergeefse poging om hom ’n klein bietjie gemakliker te maak. Ek leer voortdurend, misluk voortdurend, moet myself voortdurend motiveer om voort te gaan, val voortdurend plat, moet myself voortdurend aan die kraag regop trek, en myself voortdurend aanpor.

Goed en wel, ek weet hoekom. Ek moet geld maak, want dis hoogs onregverdig om te verwag dat my maat meeste van die geld moet inbring in ons huishouding, dat sy meeste van die bekommernisse oor geld moet dra, dat sy dag na dag na ’n besigheid toe moet ry om ’n werk te doen waarvoor sy lankal lus verloor het. Ek moet geld maak, vir myself, vir ’n beter lewe, en om te verseker dat die vrou wat ek liefhet, nie suffer ter wille van my nie.

Tog, ek kan weereens nie anders as om die groot verskil te sien tussen wat ek noem “besigheid”, en my skryfprojekte nie. Met laasgenoemde is dit soos om in ’n kar te klim wat soms maande lank onder ’n boom staan en stof vergader. Ek sal die duiwe verjaag wat nes gemaak het op die dak, die hond uit die bestuurdersitplek lig, die sleutel draai … en ’n sekonde later trek die kar weg met die entoesiasme en vuur van ’n opgewarmde sportsmotor uit die sewentigs. Ek het geen praatjies nodig om myself te motiveer nie. Ek het nie nodig om goeie artikels te lees oor wat ek verkeerd doen, en wat ek moet doen om weer op die regte pad te kom nie. Ek het nie nodig om enige iets op te crank nie.

Ek tweak voortdurend aan my materiaal; ek crank nooit. Ek mors min tyd met my skryfprojekte. Ek weet waarheen ek op pad is. Ek sien die eindresultaat in my geestesoog. Ek jaag dit na. Ek raak nie onseker van wat ek moet doen nie. Ek raak nie die pad byster nie.

Maar die realiteit is dat ek moet geld maak. Ek moet geld maak nie vir status of luuksheid nie, maar om beter na myself te kan omsien. Ek moet geld maak om beter bystand te kan verleen aan my maat in háár poging om vir haarself ’n beter lewe te bewerkstellig.

Omdat ek geld moet maak vir die regte redes, is ek verplig om maar soms te leer wat ek verkeerd doen, en moet ek maar voortdurend verbeteringe aanbring.

Die hoop, aan die einde van die dag, is dat ek nie net kosmetiese veranderinge aanbring aan wat op tye lyk soos ’n redelik hopelose situasie nie.

———–

* Hierdie artikels is nie meer aanlyn beskikbaar nie.

______________________

As jy nie vervelige werk wil doen nie, moet jy slim wees

VRYDAG 8 APRIL 2011

Ek hou beslis van geld. En dit kan beslis gesê word dat ek dit haat om nie geld te hê nie.

Verskeie dinge wat ek geleer het oor geldmaak het ook al gewerk presies soos dit op die spreekwoordelike boks sê. Ek kan dus sê dat ek weet hoe om ten minste ’n bietjie geld te maak.

Maar dis amper asof dit daar stop. Geld het uitgekom nadat ek ’n knoppie gedruk het. Dan maak dit tog sin om weer die knoppie te druk, dan nie? (By wyse van spreke.)

Wat egter gebeur, is fassinerend. En frustrerend. Ek sal iets mompel – wat neerkom op knoppies druk, en dalk ’n paar ander los gedagtes. Dan sal ek lusteloos weer druk na die knoppie – dieselfde een wat ’n dag of ’n week gelede geld geproduseer het.

En dan is dit amper – kan dit waar wees?! – asof ek belangstelling verloor.

Ek hou tog van geld! En dit kan sekerlik gesê word dat ek dit haat om nie geld te hê nie.

Werksetiek is ook nie ’n probleem nie. As ek moet werk aan ’n skryfprojek, kan ek so produktief wees soos ’n hele kantoor vol mense. Ek sal sewe dae per week daaraan werk, van kort na ek my ontbyt afgesluk het, tot voor bedtyd. Dis ’n natuurlike proses. Ek hoef nie myself te motiveer, of op te psyche nie.

Is dissipline die probleem? En is “dissipline” ’n kodewoord vir, “Jy móét kan werk aan dinge wat vervelig is”?

Dan moet ek dit aanvaar: Jy moet óf kan werk aan dinge wat vervelig is, óf jy moet arm bly. Of jy moet ander mense betaal om meeste van die vervelige werk te doen, en jouself toespits op, onder andere, die kwaliteit van die eindproduk.

In kort, as jy nie vervelige werk wil doen nie, moet jy slim wees.

______________________