Belangrike dae, moderne antirassisme, beloofde middagete, en ’n besoek aan Taipei

Week 27, 2020

MAANDAG 29 JUNIE 2020

Op Saterdag 29 Junie 1613 het die Globe Theater in Londen afgebrand. Dit was gebou deur William Shakespeare se drama-groep, en talle van sy toneelstukke is daar opgevoer.

Drie-honderd-een-en-sestig jaar later, op Saterdag 29 Junie 1974 het die Visie-President van Argentinië, Isabel Perón, die leisels oorgeneem by haar sterwende eggenoot, President Juan Perón. Op dieselfde dag het Mikhail Baryshnikov oorgeloop van die Sowjet-Unie na Kanada.

Een jaar later, op Sondag 29 Junie 1975, het Steve Wozniak sy eerste prototipe van die Apple I rekenaar getoets.

Vier jaar tevore, op Dinsdag 29 Junie 1971, is een gebore wat later sinne sou tik.

DINSDAG 30 JUNIE 2020

Opvoedkundige video van die dag: “How Anti-Racism Hurts Black People” – redenasie van John McWhorter (Professor in Engels aan die Universiteit van Columbia)

Notas:

• Daar is gevalle waar swart mense deur die polisie doodgemaak word, maar daar is soortgelyke voorvalle waarby wit mense betrokke is. Die sake waarby swart slagoffers betrokke is, maak nasionale nuus. Die gevalle waar wit slagoffers betrokke is, haal meestal nie nasionale nuus nie.

• Ons word vertel van “onbewustelike vooroordele” van polisie wat lei tot die dood van swart mense, maar hierdie aantyging faal wanneer dit ondersoek word.

• Waarvan praat ons hier? Waarom sou ’n mens sê dat antirassisme ’n probleem is? Die debat gaan nie oor rassisme nie. Natuurlik wil jy nie ’n rassis wees nie. Rassisme is sleg – ons almal weet dit. Maar een van die meer ingewikkelde kwessies is dat antirassisme, soos dit tans gekonfigureer is, ver verwyder is van wat beskou kan word as intelligente en opregte burgerregte-aktivisme. Vandag is dit ’n godsdiens. Enige antropoloog sal dit as sulks herken.

• Voorbeelde: Die verantwoordelike wit persoon is veronderstel om te getuig van hul “wit voorreg” en om te besef dat dit nooit kan verdwyn nie. Hulle moet ook vir ewig skuldig daaroor voel – dit is die Oorspronklike Sonde. Die idee dat daar ’n dag kan wees wanneer Amerika die rassekwessie deurgewerk en tot konklusie gebring het, stem ooreen met die idee van die Oordeelsdag. As ons die term “problematies” gebruik, bedoel ons in werklikheid dat die persoon of saak lasterlik is.

• Die opskorting van ongeloof is ’n kenmerk van godsdienstige geloof. Daar is ’n punt waar logika nie meer van toepassing is nie – dit is hoe ons deesdae oor rassisme praat.

• Waarom konsentreer ons op die uitsonderings van ’n polisie-offisier wat ’n swart man doodmaak wanneer die swart man in veel groter gevaar is om deur ’n ander swart man in sy eie omgewing doodgemaak te word?

• As jy daaroor vra – wel, jy’s nie veronderstel om dit te doen nie; oë word gerol; jy kry ’n antwoord wat nie heeltemal sinvol is nie, en daar is ’n algemene begrip dat jy veronderstel is om daar te stop.

• Dit is soos sekere vrae wat jy op delikate wyse met ’n priester opper. Jy weet as jy nie ’n goeie antwoord kry nie, is jy veronderstel om nog steeds die priester te bedank en die pad te vat. Dit is die manier waarop rassisme deesdae behandel word.

• Sommige mense sal argumenteer dat dit ’n beter godsdiens is as vele ander. Dit doen ’n paar goeie dinge, maar dit doen ook slegte dinge. Byvoorbeeld, as jy ’n goeie antirassis is, dink jy aan die polisie wat swart mans doodmaak, maar jy is nie veronderstel om dink te dink aan soveel meer moorde wat gepleeg word teen swart mans in hul eie woonbuurte nie. Jy is veronderstel om te dink dat dit op ’n abstrakte manier aan rassisme gekoppel is, maar jy mag nie daaraan dink as moord waar swart tienerseuns mekaar in hul honderde doodmaak oor niks nie. Dit is op die een of ander manier minder belangrik as wat enkele polisie-offisiere in geïsoleerde gevalle doen. Dit is moderne antirassisme.

• Om ’n antirassis te wees, is om aandag te gee aan die idee dat universiteite diversiteit moet bevorder. Hierdie diversiteit word dikwels gerealiseer deur gebruik te maak van ’n ander evalueringstelsel vir swart en Latino-studente in terme van grade en toetse as wat gewoonlik gebruik word. Daar is verskillende studies wat wys dat dit dikwels nie die beste is vir studente nie. In een studie is gevind, in teenstelling met die verwagtinge van die skrywers, dat waar studente nie ’n goeie pas was vir ’n betrokke universiteit nie, die ervaring hulle ontmoedig het om doktorsgrade na te streef. Mense word aangesê om sulke studies te ignoreer.

• Daar word van blankes verwag om ’n massiewe sielkundige omwenteling te ondergaan voordat enige vorm van swart sukses bo die huidige graad kan plaasvind. Waarom is dit belangrik dat iemand moet praat van hul wit voorreg as ons praat oor die verbetering van swart skole? Waarom is dit belangriker vir ’n Black Lives Matter-aktivis om die hart van Hillary Clinton te ondersoek as om na te dink oor die beleid wat sy gaan volg ten opsigte van strafregtelike vonnisoplegging of behuisingsbeleid of ander dinge op die grond waaraan ons eerder moet dink as ons swart mense wil help?

• Daar is ’n paar goeie dinge oor antirassisme, maar daar is net soveel dinge wat verkeerd is wat ons weerhou om swart mense te help wat hulp nodig het.

• Ons word geleer om aan sekere dinge eerder as ander dinge te dink. Ons word veral geleer om minder na te dink oor die werklike werk om mense te help wat op die grond hulp benodig deur sosiopolitieke optrede. In plaas daarvan dink ons aan innerlike sielkunde. Uiteindelik dink ons aan wat problematies is. Al hierdie dinge is uiteindelik ’n mors van tyd.

• Antirassisme soos tans gekonfigureer – nie antirassisme op sigself nie, maar moderne antirassisme – is blind vir die meeste moord in swart gemeenskappe. Antirassisme, soos tans gekonfigureer, is blind vir jongmense se opwaartse mobiliteit. Dit draai die rug daarop om dinge te doen wat burgerregte-leiers vyftig jaar gelede as normaal beskou het ten gunste van wat uiteindelik ’n innerlik gefokusde soeke na morele kwytskelding is, wat ten beste ’n diagonale verhouding het daarmee om mense te help wat hulp benodig.

• Die kwessie is nie of rassisme bestaan nie. Ons weet dit bestaan. Die vraag is of moderne antirassisme die beste manier is om die gevolge van daardie rassisme te bekamp. Dit is nie.

WOENSDAG 1 JULIE 2020

’n Paar dinge het die afgelope paar weke duidelik geword:

1. Jy hoef nie onderdanig te wees aan, of ’n volgeling te wees van, Black Lives Matter (BLM) om antirassisties te wees nie. BLM is ’n politieke organisasie. Hulle is nie die eerste politieke organisasie wat beweer dat hulle teen rassisme werk nie, en hulle is beslis nie die enigste nie. Alhoewel jy dalk met sommige van hul beleidspunte saamstem, het hulle ander oogmerke waaroor baie van die mense en ondernemings wat hulle nou so gretig salueer, miskien nie meer so gretig sal wees as hulle beter ingelig is nie.

2. BLM en die Sosiale Geregtigheidsbeweging is nie die enigste manier om onverdraagsaamheid en rassisme te beveg nie. Liberalisme (“die sentrale doelwit van liberalisme is die vryheid van die individu, veral teenoor die staatsgesag of enige ander sosiale, politieke of geestelike dwang, asook gelykheid voor die wet”), libertarianisme (“maksimum politieke vryheid en outonomie, met die klem op individualisme, vryheid van keuse en vrywillige assosiasie”), en Christelike etiek wat die waardigheid van alle mense as sakraal beskou, met die fokus op liefde en deernis vir jou medemens, is voorbeelde van alternatiewe opsies om rassisme en rasseonderdrukking te beveg.

3. Kritiese Teorie en Kritiese Rasseteorie, die ideologiese grondslag van die breë Sosiale Geregtigheidsbeweging, het ’n geloofstelsel geword met geloof wat vereis word in konsepte soos “wit broosheid”, “wit voorreg”, “sistemiese rassisme”, “implisiete vooroordeel”, en “witheid”. Bevraagteken enige van hierdie konsepte, en jy kan van rassisme beskuldig word. In baie besighede regoor Amerika word daar tans van werknemers verwag om werkswinkels by te woon waar hulle in effek trou moet sweer aan hierdie ideologie. Wat sou die reaksie wees as die uitvoerende hoof van enige onderneming hom tot die Evangeliese Christendom bekeer en skielik van al sy werknemers verwag om die basiese beginsels van sy nuwe geloof te leer en te aanvaar? Wat sal die reaksie wees as die uitvoerende hoof hom tot Wahabi Islam bekeer en werknemers Maandagoggend met gebedsmatjies begroet word, en daar vir vrouens gesê word dat hulle nie die volgende dag hoef aan te meld vir werk nie? As so ’n beroep op werknemers om enige ander geloofstelsel te aanvaar met ’n dreigement om andersins afgedank te word, heeltemal onaanvaarbaar is, waarom is dit dan aanvaarbaar as dit kom by hierdie nuwe geloofstelsel? Dit is teen die wet – en behoort te wees – in alle sekulêre demokrasieë. Dit is ook immoreel, illiberaal en outoritêr.

DONDERDAG 2 JULIE 2020

In die Shilin Distrik van Taipei is die landgoed en woning waar die eertydse president van die Republiek van China, Chiang Kai-shek en sy vrou Soong Mei-Ling (oftewel Madame Chiang) gewoon het vir 26 jaar.

Tydens die Japannese koloniale era, het die area die Shilin Tuinboukundige Eksperimentele Stasie gehuisves. Nadat die Nasionaliste die Chinese Burgeroorlog verloor het, is die stasie opgekommandeer deur die regering om vir die Chiangs ’n tuiste te skep. Veral in die vroeë dae van die Chinese Republiek op Taiwan is die landgoed soos ’n fort gemilitariseer, en publieke toegang was streng verbode.

Gaste tussen 1950 en 1976, toe Chiang oorlede is, het ingesluit die Amerikaanse president, Dwight D. Eisenhower, die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, John Foster Dulles, en die latere president, Ronald Reagan, toe nog Goewerneur van Kalifornië.

Die landgoed, met Chinese en Westerse styl tuine, is oopgestel aan die publiek in 1996. ’n ooreenkoms is ’n paar jaar later aangegaan oor die oopstelling van die woning, nadat Madame Chiang, toe reeds in haar laat-negentigs en woonagtig in New York, aanvanklik vasgeskop het daarteen.

En daar, onder ’n boom, in die tuin van ’n eertydse diktator, gaan ek Saterdagmiddag ’n toebroodjie eet, tee drink, en my boek lees.

Geneem om 12:50 op Saterdag 4 Julie 2020

VRYDAG 3 JULIE 2020

Enkele foto’s van ons besoek aan Taipei …

______________________