Die beste ding wat met ’n kultuur kan gebeur

SONDAG 20 MAART 2011

Stel jouself voor ’n Taiwannees-Afrikaanse skrywer.

Stel jouself voor honderde Zoeloe skrywers wat hulle werklikheidservaring en hulle stories uitdruk in Afrikaans.

Hoe sou ’n Brasiliaanse skrywer se essays lees wat nie vertaal is in Afrikaans nie, maar wat oorspronklik geskryf is in Afrikaans, met die agtergrond van beide Afrikaanse en Brasiliaanse kultuur? Of ’n Russies-Afrikaanse skrywer se stories. Of ’n Filippyns-Afrikaanse digter se gedigte.

Hoe sou die kortverhale lyk van ’n Afrikaanse skrywer wat grootgeword het in Afghanistan, of in die suide van Indië, of in Sri Lanka?

Afrikaanse romanskrywers uit Lagos, Kinshasa, Istanboel, of Buenos Aires?

Wat van Afrikaans-Viëtnamese filmregisseurs, beeldhouers, grafiese kunstenaars?

Afrikaans-Japannese strokiesprentkunstenaars?

Afrikaanse skilders uit Chicago of Hyderabad of Fidji of Hong Kong of Riyadh?

______________________

Ek besluit die doel van my bestaan

DINSDAG 1 MAART 2011

Ek kyk na ’n stortkop, en ek sien iets wat se bestaan ’n doel dien. Ek weet ook dit is iets wat ontwerp is met ’n bepaalde doel in gedagte, en vervaardig is om hierdie doel te dien.

Sommige mense glo dit is logies om af te lei as daar ’n doel aan jou bestaan is, dat jy – jy spesifiek – deur ’n Onsigbare Mag ontwerp en vervaardig is met sekere spesifikasies om hierdie doel te dien.

Dit sal oneerlik van my wees om te laat blyk dat ek ook so glo.

Waar laat dit my? Een moontlikheid is om te aanvaar dat my lewe geen doel dien nie.

Gestel egter ek besluit my lewe moet een of ander doel dien. In so ’n geval kan ek my lewe, selfs my persoon sover dit moontlik is, ontwerp vir hierdie doel. Ek sal moet werk binne beskikbare middele, maar is dit nie wat die mense agter die stortkop ook gedoen het nie? Ek sal dus vir alle praktiese doeleindes ’n lewe vervaardig om ’n sekere doel te dien.

My lewe sal dan uiteindelik hierdie doel dien, omdat ek besluit het dit is die doel van my bestaan.

______________________

Die noodtoestand is verby

WOENSDAG 9 FEBRUARIE 2011

’n Noodtoestand het geheers in my lewe die afgelope vyf jaar. Hierdie eksistensiële toestand dikteer dat ek moet … dat ek nodig het … dat ek absoluut verplig is om eers geld te maak voordat ek kan bekostig om weer enige ernstige tyd te spandeer aan my skryfwerk. Dit impliseer dat skryfwerk ’n luuksheid is wat ek nie kan bekostig in ’n tyd van nood nie.

Wel, ek dink dit is pynlik duidelik dat die noodtoestand nie werk nie. So, ek gaan dit laat vaar. (Of het ek die noodtoestand nodig om myself sover te kry om werk te doen wat geld maak? Ek glo: Nee.)

Waarop kom dit neer? Dit beteken eerste skof van die dag, na ontbyt tot aandete, werk ek aan literêre projekte. Tweede skof, na aandete tot slaaptyd: besigheid, insluitende Engelse klasse.

Ek het ’n goeie idee wat ek moet doen met al my besigheidsprojekte. Indien van die projekte egter soveel werk behels dat ek nie aan enige iets anders kan werk nie, sal dit beteken ek byt te veel af. Ek sal in so ’n geval eenvoudig ander mense moet betaal om van die werk te doen, en as ek dit nie kan bekostig nie, sal ek dit moet laat gaan.

Feit van die saak is, sonder my skryfwerk is ek net ’n ou wat sy bes probeer om geld te maak. Soms slaag hierdie ou, soms misluk hy. Die res van die tyd lees hy sy geskiedenisboeke en kyk hy TV. Is dit ek? Dalk oor vyf jaar, in alle eerlikheid, of oor tien. But I’ll be doomed, if not damned as well, as ek my skryfwerk verlore laat gaan.

“Maar jy werk mos aan jou skryfprojekte – soort van,” sal my denkbeeldige gespreksgenoot van vele jare laat hoor.

Nie regtig nie, sal ek antwoord. Die bietjies werk wat ek so nou en dan doen, kan vergelyk word met die droë korsies en bene wat iemand vir ’n hond onder die tafel voer. Dis nie genoeg nie. Dis nie genoeg om ’n hond wat veronderstel is om wag te hou, lewendig te hou nie.

Ek kies nie my skryfwerk hier bo pogings om geld te maak, of soos ek dit graag noem, “besigheid” nie. Ek kies beide. Ek weet wat ek moet doen. Ek doen dit. Ek hoef nie die heeltyd myself daaroor te bekommer nie. En ek hoef beslis nie te glo dat ek een of ander geldgod moet beïndruk met hoe hard ek probeer nie.

Ek herhaal: Ek weet wat ek moet doen, ek is reeds besig om dit te doen, en ek sal voorgaan om ses dae per week te werk daarvan. Maar die tyd het gekom om weer aandag te gee aan iets wat verder strek as net geld.

______________________

Die tyd loop uit

MAANDAG 7 FEBRUARIE 2011

Ek sien vanaand die nuus dat Gary Moore gister oorlede is.

Vanmiddag, terwyl ek die video gekyk het van die Traveling Wilburys se “End Of The Line”, het ek twee besluite gemaak:

1. Ek het ’n vennoot nodig. Ekstra kapitaal sal handig wees, maar dis meer vir die kritiese stem wat nie beïndruk sal wees met nog ’n “fantastiese” idee nie. “Oortuig my,” het ek nodig om te hoor.

2. Ek is amper veertig. Ek reken ek het vyf jaar op die meeste om iets te doen met die skryfwerk wat ek geproduseer het in my twintigs en dertigs. Indien ek werk maak daarvan, kan my diens as skrywer van min of meer eiesoortige materiaal voortgaan. Indien ek aankarring met my skryfwerk op dieselfde trant as die laaste vyf jaar – met elke nou en dan ’n beweging in die regte rigting net om weer momentum te verloor … kan ek maar vergeet. Dit sal oor en verby wees.

Gary Moore is gister oorlede. Maar soos ek luister na sy meesterstuk, “The Messiah Will Come Again”, besef ek: hy het musiek gemaak, en sy musiek is sy nalatenskap.

[Elf dae later, op 18 Februarie 2011, is een van my gunsteling Afrikaanse sangers, Lucas Maree, ook oorlede. Dit het die belangrikheid van die gedagtes van 7 Februarie 2011 bevestig: As jy iets het om te sê, as jy reken jy het iets om by te dra, moenie uitstel nie.]

______________________

Hoop op ’n beter inkomstestelsel, en ’n paar ander dinge

WOENSDAG 2 FEBRUARIE 2011

Die gemiddelde buitelandse Engelse onderwyser in Taiwan se inkomstestelsel het vier nadele:

1. Die werk is vervelig en herhalend.

2. Hulle werk vir mense wat soms slegte besluite maak wat hulle werk bemoeilik, en hulle kan nie veel daaraan doen nie.

3. Hulle inkomstestelsel is gekoppel aan spesifieke plekke, wat beteken hulle moet elke dag enige iets tussen dertig minute en twee ure op die pad spandeer, heel waarskynlik op ’n bromponie, en soms in drukkende hitte en/of swaar moesonreëns.

4. Die inkomstestelsel is nie volhoubaar nie – in vele gevalle kan hulle nie steeds hierdie werk doen in tien of vyftien jaar se tyd nie, en daar is nie veel geleentheid vir beroepsontwikkeling nie.

Dit gesê, beny ek soms onderwysers met ’n redelike vol skedule hulle inkomstestelsel, as gevolg van een voordeel: hulle moet ’n stel reëls volg elke dag van die week, Maandag tot Vrydag, en die eindresultaat is ongeveer NT$3 000 [ongeveer US$100] per dag. Drie duisend nuwe Taiwan dollar. Per dag. Vyf dae per week.

DONDERDAG 3 FEBRUARIE 2011

Ek hoop om minder entoesiasties te raak daaroor om standpunt in te neem sonder dat ek behoorlik oor iets gedink het, of genoeg feite onder oë gehad het; ook om sonder versuim ander te wil inlig hoekom ek dink iemand is verkeerd, en hoekom ek reg is.

Ek hoop om toenemend ’n beter luisteraar te word, want selfs wanneer iemand verkeerd is oor een ding, kan hulle steeds ’n paar geldige punte maak oor iets anders. En selfs al is iemand in jou opinie verkeerd, kom hulle argument steeds van êrens af, en dit is altyd beter om begrip te ontwikkel vir die oorsprong van ’n ander persoon se oortuigings, as om dit nie te verstaan nie.

______________________