Argument oor ’n fiets

MAANDAG 15 AUGUSTUS 2011

Die RT-Mart verkoop nou ’n “UK Design” fiets vir NT$2 074 [omtrent R800]. Ek sê nou al vir lank dat ek sal wag tot my fiets heeltemal stukkend is voor ek ’n nuwe fiets koop. Enkele punte hieroor:

1. As dit my standpunt is, moes ek drie maande gelede my fiets vervang het. Die een binneband was pap. Beide die buitebande was voos gery. Die remme het nie meer behoorlik gewerk nie. En die fiets het gekraak soos net ’n stuk metaal kan kraak wat tien jaar gelede al in ’n skrootwerf tot ruste moes kom. Wat ek gedoen het, is ek het alles reggemaak.

2. ’n Fiets raak nie totaal en al beneuk soos ’n rekenaar of ’n rekenaarmonitor nie. ’n Rekenaar kan vandag nog werk, en môre is dit net een’s en zero’s en liggies wat flikker en skerms wat stol. Dan vat jy dit na die rekenaarwinkel toe, en dan sê die tegnikus jy kan net sowel vir jou ’n nuwe rekenaar koop. Selfde met ’n rekenaarskerm: flikker, poef, af. ’n Fiets, aan die ander kant, breek. Dan identifiseer jy die probleem (gewoonlik voor-die-hand-liggend), en jy maak dit óf self reg, óf jy betaal iemand om dit te doen. Dan ry die fiets weer. As jy wag tot ’n fiets geheel en al gedaan is, mag jy dalk lank wag. (Vir die rekord moet ek noem dat my vorige fiets wel daai status bereik het. Sy is toe vervang met die huidige fiets wat omtrent twintig jaar ouer was as die vorige fiets.)

3. Daar’s ook fietse vir NT$3 500 en selfs so hoog as NT$5 000 – voor jy natuurlik die fietsafdeling in die supermark verlaat en by ’n behoorlike fietswinkel tussen vyf en tien keer soveel betaal vir fietse wat tussen tien en twintig keer beter kwaliteit is. Nietemin, hoekom dan nie maar net gaan vir die NT$4 000 fiets eerder as die NT$2 074 “UK Design” nie? Want, reken ek, al die fietse by die supermark is ewe broos. ’n Kabel gaan in elk geval breek binne ’n paar maande. Die saal gaan heel moontlik afval binne ses maande. Die raam sal heel moontlik buig, die remme sal breek, en die ratte sal seker ook net twee weke lank sorgeloos gly van stadig na vinnig voor dit vassteek in tiende rat. So, of dit nou NT$2 074 of NT$4 250 is, dis nie NT$25 000 of NT49 500 nie.

4. Ek kan eerder nou my huidige ouma-fiets aftree, en weet dat ek enige tyd in die toekoms, wanneer omstandighede dit vereis, net die wiele kan opblaas en weer kan ry soos die wind – as die wind erg genoeg waai die dag.

Dis dan dit. Ek koop ’n nuwe fiets voor die einde van die maand.

En teen NT$2 074 kan ek selfs bekostig om die ou Swart Gevaar te beloon vir goeie diens met ’n nuwe saal voor ek haar staanmaak in die agterkamer.

———–

Opvolg: Ek het toe nie die fiets gekoop nie. Ou “kraker” moes nog omtrent ’n jaar wag voor ek haar uiteindelik vervang het met die presiese selfde model fiets, maar ten minste splinternuut – wat my NT$2 500 gekos het.

Die nuwe fiets – ’n paar jaar later

______________________

Om te doen wat jy moet doen

WOENSDAG 3 AUGUSTUS 2011

Ek het tydens my onlangse besoek aan Suid-Afrika twee gidse ontdek (of herontdek) wat my veel kan leer aangaande geldmaak: My eie ma, en my vriend, Gerald G.

Beide verdien voltydse inkomstes, en dra selfs by tot ander mense se inkomstes, deur hulle eie idees en projekte te bemark.

Ek sou heel moontlik beide se besighede beter kon organiseer, want, soos ek ontdek het, die proses is soms chaoties, hulle weet nie altyd of hulle werklik sal kan doen wat hulle sê hulle kan doen nie, en hulle administrasie laat soms veel te wense oor.

Maar, hulle maak geld.

Elke maand.

MAANDAG 8 AUGUSTUS 2011

Twee redes hoekom ek jare gelede, in die swartste dae van English teaching, elke oggend opgestaan het, en gedoen het wat ek moes doen:

1. Ek wou nie in die moeilikheid kom nie. Ek het ’n ooreenkoms aangegaan met skole en/of besighede om ’n sekere taak te verrig, en as ek nie opgedaag het vir werk nie, sou ek my afwesigheid moes verduidelik.

2. Ek het geweet as ek opdaag en die ooreengekome arbeid verrig, ek geld sou kry – ’n spesifieke bedrag op ’n dag en tyd wat vooraf ooreengekom is – wat ek kon aanwend op allerhande aangename wyses.

Motivering is soms vir my ’n probleem. Ek erken dit. Dit sal onverantwoordelik wees om dit nie doen nie. Dit sal dwaas wees om dit nie te ag as iets waaraan ek daagliks aandag moet gee nie.

______________________

As jy finansiële sukses najaag, maak dit saak as jou fiets kraak

DINSDAG 2 AUGUSTUS 2011

Ek het altyd gedink as jy finansiële onafhanklikheid nastreef, maak dit nie saak as jou klere verwaarloos is, jy op ’n krakende, ou fiets rondry, of as jy woon of werk in ’n minder gegoede buurt in ’n effens vervalle gebou nie.

Uiteindelik het dit ook tot mý deurgedring: Dit maak saak.

Aan die ander kant, as jy literatuur produseer – of as jy dan nou aandring daarop om jouself dit te noem, as jy ’n “skrywer” is – en jy bloot plek soek om in stilte te werk, klere dra om jou naaktheid te bedek (hoofsaaklik vir die koue, of ter wille van ander mense), en jou fiets jou bring waar jy wil of moet wees, maak dit werklik nie soveel saak hoe verslons jou klere is, hoeveel jou fiets kraak, of hoe vervalle die woonstel is waar jy woon of werk nie.

Maar laat my toe om my oorspronklike punt te herhaal: As jy finansiële sukses najaag, maak hierdie dinge saak. Dit affekteer hoe jy elke dag dink oor wat jy doen, dit affekteer jou gemoed, en dit affekteer jou motivering.

______________________

’n Groot Idee wat alles saambind

MAANDAG 25 JULIE 2011

Ek dink die afgelope paar dae aan motivering, die “Hoekom?” waarvan Dennis Becker praat in 5 Bucks A Day Revisited (die opvolg van sy klassieke hoe-om-geld-te-maak boek).

Ek het op die vliegtuig op pad terug Johannesburg toe al besef ek het nie ’n antwoord gereed nie. Daar is sekerlik dinge wat ek kan noem wat my soms motiveer, maar ek weet waarvan ons hier praat – ’n rede wat jou vorentoe aandryf.

Dalk is dit omdat ek teen die muur gesit het van ’n huis op die Hoëveld, op ’n koue Julie-agtermiddag, maar ek dink toe, dis asof ek nie omgee nie. Ek weet daar’s mense wat my staande hou – spesifiek my mees beminde, maar hoeveel sal ek omgee as hulle laat gaan? Sal ek oorleef? Vir so twee jaar, ja, maksimum drie.

Dit moet tog saak maak, dan nie?

En ek is gelukkig. Ek word bemin, en ek het lief. Dit maak tog saak dat ek lewe …

Vra ek die verkeerde vrae?

SATERDAG 30 JULIE 2011

Hong Kong Lughawe

Ek soek gereeld na ’n enkele stomp om my velle oor te hang, een gedagte of slagspreuk wat alles saam sal bind.

Dalk is daar so iets, vir my; dalk nie.

Wat ek reeds weet, is dat jy stry vir dinge: Om staande te bly; om lewendig te bly; om jou lewenskwaliteit te verbeter, en die lewenskwaliteit van jou geliefdes, en om aan die einde meer te doen as om net te oorleef vir so lank as moontlik.

’n Stryd, derhalwe, soos daar ook voorheen uitgewys is.

(So, geen enkele stomp vir die velle nie, want dis ’n stryd? Of dan, jou velle oor enige tak wat ’n vel kan vat … En tog hang al jou velle in een kraal: STRYD.)

MAANDAG 1 AUGUSTUS 2011

Dit is asof ek soms wag vir ’n Groot Idee voor ek oorgaan tot aksie. Nie ’n idee van wat om te doen nie, mind you, maar ’n leuse, ’n idee wat ek kan uitdruk in groot letters en teen my kombuismuur kan plak; iets wat aan my sal sê, elke keer wat ek daarna kyk, of op dae wat ek dit dalk vergeet, presies wat ek besig is om te doen.

Wat doen ek?

PUBLISEER WAT JY SKRYF.

MAAK GELD.

HELP. DRA BY.

* * *

Kwalifiseer bogenoemde idees? Soort van, vir praktiese doeleindes.

Die situasie kan vergelyk word met ’n skare wat wag vir die Groot Orator om op te daag om hulle tot aksie te motiveer, sodat almal kan wegmarsjeer, vuis in die lug, gereed om te doen wat hulle reeds weet om te doen.

Wat net enkele mense egter weet, is dat die Groot Orator nêrens te vinde is nie.

Dan spring iemand op die verhoog. Hy skree ’n paar kort opdragte, en steek dan ’n vuis in die lug. Die skare juig terug. Die persoon op die verhoog skree weer dieselfde opdragte. Die skare juig weer terug.

Dan begin mense een en een bymekaar te tel: Die Groot Orator is nie daar nie.

Soos die nuus deur die skare versprei, skree die man op die verhoog weer, vuis in die lug. Net ’n paar verlore krete, dié keer. Weer skree hy, vuis omhoog. Nóg ’n paar entoesiastiese pogings, en daar is weer ’n roering onder die skare, asof hulle besef: As Die Groot Rede Hoekom Hulle Daar Is dan nie self daar is nie, is die ou op die verhoog seker beter as niks.

______________________

Drie redes hoekom ek foute moes maak

DONDERDAG 7 JULIE 2011

Die laaste keer toe ek in Suid-Afrika was, het my ma vir my gesê my pa is bang ek maak dieselfde foute as hy. Ek het dit baie interessant gevind, en het natuurlik saamgestem, maar omdat ek die saak verstaan het op ’n totaal ander manier.

As literatuur die pad is wat ek moet stap, die lewensweg wat ek moet volg, kan dit gesê word dat ek die laaste vyf jaar (en ’n paar maande) die pad byster geraak het. Dit kan dan gesê word dat ek inderdaad dieselfde fout as my pa gemaak het, deur te doen wat ek gedink het “reg” is volgens ander mense se standaarde – of dalk was my eie standaarde ietwat gekompromitteer, maar dis ’n storie vir ’n ander stuk.

Ek is egter van opinie dat die najaag van wins op meer maniere as wat ek kan tel die afgelope half-dekade, nie ’n mors van tyd was nie. Hier is die redes:

Rede een. Ek het geleer hoe om my eie werk te publiseer – van die registrasie van ’n domein tot HTML en WordPress, tot die voorbereiding van manuskripte vir druk-op-aanvraag dienste soos CreateSpace, CafePress en Lulu. Dan is daar ook lesse in bemarking, en ervaring met sosiale media. Ek is nou in staat om myself en my werk bekend te stel aan ’n potensiële gehoor enige plek in die wêreld.

In kort, ek het veel geleer van dinge waarvan ek nie veel geweet het voor ek begin kyk het daarna as deel van pogings om geld te maak nie.

Rede twee. ’n Paar jaar gelede het ek geskryf hoe ontuis ek voel in die sogenaamde Wêreld van Geld. Ek het gekyk na mense wat geld het, en ek het hulle beny vir die oënskynlike gemak waarmee hulle beweeg het in hierdie misterieuse wêreld. Dit was baie duidelik dat hulle oor die regte woordeskat beskik het, geweet het wat die regte aksies was om te neem om geld te maak, en genoeg ander mense geken het wat oor soortgelyke talente beskik.

In die Wêreld van Geld het ek gevoel soos die vaal, plattelandse kind sonder skoene wat by sy neefs en niggies gaan kuier in die Groot Stad.

Nou, meer as vyf jaar nadat ek my soektog na wins en finansiële welstand begin het, na dosyne e-boeke oor bemarking en hoe om geld te maak, dosyne video-lesse, selfs ernstige ondersoek na die moontlikhede van “online poker” en “Forex trading”, kan ek met ’n aansienlike graad van oortuiging sê dat ek nie meer ongemaklik voel in die Wêreld van Geld nie. Meer as dit, ek kan nou sien dat vele van die mense wat my voorheen so beïndruk het met hulle oënskynlike kennis en bedrewenheid met geld, eintlik elke dag maar net hulle oë toeknyp, die dobbelsteen gooi, en hoop vir die beste.

Rede drie. Teen die einde van 2005 het my inspirasie vir nuwe skryfwerk begin opdroog. Daar was nie veel meer wat ek kon of wou sê oor die vele onderwerpe wat ek aangeraak het in my Persoonlike Agenda projek, en die ses maande se skryfwerk wat daarna gevolg het nie. Natuurlik was daar ander onderwerpe waaroor ek kon skryf, maar nie enige wat my genoeg geïnspireer het, of waaroor ek genoeg selfvertroue gehad het om te skryf nie.

Die laaste vyf jaar se vele mislukkings, en enkele – maar betekenisvolle – suksesse, asook die wye spektrum van onderwerpe waaroor ek gelees het, en selfs mense wie ek teëgekom het op aanlyn-forums en oor wie ek gelees het, was, in terugskouing, presies wat ek as produseerder van literatuur nodig gehad het.

Moes ek dus in Januarie 2006 anderpad gekyk toe ek die eerste advertensies gesien het wat een of ander kits-rykdom produk aan my wou verkwansel? Ek wens soms ek het. Ek wens soms ek het nie soveel tyd gemors met so baie navorsing en projekte wat uiteindelik geen dividend gelewer het nie – buiten ’n kriptiese kantnota wat bloot sê, “Dit werk nie – of ek kan dit nie laat werk nie.”

Ek was voorheen vol selfvertroue oor my keuses. Ek was spyt oor min dinge wat ek gedoen het, of nie gedoen het nie. Dit is nou duidelik dat die laaste vyf jaar ’n goeie leermeester was: Dat ek waardevolle lesse geleer het deur foute te maak soortgelyk aan foute wat my eie pa dertig of veertig jaar gelede gemaak het.

Ek is selfs in die versoeking om te sê ek is ’n beter mens as gevolg daarvan.

______________________