Dankie tog kinders is nie soos (sommige) volwassenes nie

VRYDAG 30 NOVEMBER 2012

As kind weet jy aanvanklik nie hoe om skaak te speel nie. Jy weet nie hoe om fiets te ry, of hoe om ballet te doen of rugby te speel nie. Jy weet nie hoe om ’n rekenaar te gebruik nie. Jy weet nie eens hoe om te lees of te skryf nie.

As kind het jy gewoonlik nie getwyfel wanneer dit by iets nuuts gekom het wat jy moes bemeester nie. Jy’t net gedoen wat vir jou gesê is. Jy het aanhou probeer, en na ’n paar maande of ’n paar jaar kon jy skaak speel, fietsry, rugby speel, of ballet doen. Jy het leer lees en leer skryf, en uiteindelik geleer om ’n rekenaar te gebruik.

Hoekom dan, as volwassenes, twyfel soveel mense in hulle vermoëns om iets nuuts te kan leer?

“Ek weet nie hoe nie,” sal die man of vrou prewel.

“Ek is te oud om iets nuuts te leer,” sal die dertig- of veertig- of vyftigjarige man of vrou sê.

“Nee, goeie genade! Daar’s geen kans dat ek dit sal kan doen nie!” sal een persoon uitroep, veilig in die wete dat daar ten minste ’n handvol ander volwassenes in die omgewing is wat hulle sal ondersteun in hulle oortuiging dat hulle nie in staat is om iets te kan doen nie.

Kan jy jouself dit voorstel as kinders moes lei aan dieselfde droefenis?

“Agge nee, Pappa, daai fiets is so groot. Ek gaan afval en my toon stamp,” sal klein Sarel sê, en wegstap om onder die boom te gaan sit.

“Daai dansies lyk te moeilik, Mamma! Ek kan dit nie doen nie!” sal klein Juanita sê, en weier om uit die kar te klim by die balletskool.

“Skaak lyk so ingewikkeld …”

“Ek weet nie hoe om daai krulletjies en lyntjies te trek soos die ander seuns en meisies in die klas nie …”

“Ek is bang vir muise, en die rekenaar maak altyd sulke snaakse geluide …”

Die einde van beskaafde gemeenskap soos ons dit ken. Die begin van Zombieland.

“As jy dink jy kan iets doen, of as jy dink jy kan nie iets doen nie, is jy reg,” het Henry Ford gemeen.

Watse voorbeeld dink mense stel hulle vir die volgende geslag as hulle op 25 of 40 of 50 ophou glo hulle kan iets nuuts bemeester, wil ek weet.

______________________

Op ’n stadium ander planne (al was dit op ’n doodlooppad)

DINSDAG 6 NOVEMBER 2012

Ek het in 1998 ’n paar planne gehad wat nie heeltemal uitwerk het nie. Ek wou my eie woonplek gehad het, al was dit net ’n klein woonstel. Ek wou ’n gereelde inkomste verdien het, al was dit nie ’n fortuin nie. Ek wou ’n kar gehad het, al was dit net-net padwaardig. Ek wou beslis nié weer my tasse pak en oorsee gaan nie. Ek wou nié weer werk as Engelse onderwyser nie. En ek het geen brandende begeerte gehad om Taiwan toe te kom nie.

Taiwan het uiteindelik baie beter uitgewerk as wat ek myself ooit kon voorstel – deels die resultaat van my eie besluite en aksies wat ek geneem het; deels geluk. Dit is egter belangrik dat mens jouself soms herinner daaraan dat jy op ’n stadium ander planne gehad het, selfs al was daai planne op ’n doodlooppad.

Op kantoor, November 1998
Woning, laaste paar maande van 1998

______________________

Die programmering van die materialistiese wêreld

VRYDAG 2 NOVEMBER 2012

Ek vind dit altyd fassinerend: die verleentheid om nie besig te wees met iets wat veronderstel is om geld te maak nie, wanneer dit van jou verwag is, of wanneer jyself verwag het om besig te wees met so ’n aktiwiteit.

Ek het ’n bedrywige oggend gehad. Vroeg al beddegoed en ander klere gaan was, drukwerk gaan doen by die 7-Eleven, voortgegaan om ’n les voor te brei vir ’n privaatklas vanaand, en teen twaalfuur begin gereed maak vir ’n vergadering by ’n skool. Ek het geweet dat ek na die vergadering my voorbereiding moet afhandel vir vanaand se klas, aandete moet gaan koop en nuttig, en dan vertrek vir my laaste kommersiële aktiwiteit van die dag.

Net voor die vergadering sien ek dat ek ’n oproep gemis het. ’n Twee-minuut gesprek bring die inligting dat die privaatstudent vir wie ek veronderstel was om vanaand klas te gee, steeds in Taipei is, en dat die klas dus gekanselleer is.

Teen halfvier is ek en N. terug van die vergadering af (ons gee klas by dieselfde skool). Ons stop toe by die 7-Eleven by ons woonstelgebou sodat sy iets kon koop om vinnig te eet, voor sy na ’n ander skool toe ry om vir die volgende paar ure daar klas te gee. Ek wens haar ’n aangename res van die middag toe, herinner haar daaraan om veilig te ry en iets ordentliks te eet vir aandete, en draai in die rigting van ons woonstelgebou. Dit is ’n reënerige, koelerige Vrydagmiddag. Al my “werk” vir die dag is afgehandel. En ek voel skuldig. En verleë.

Kan dit wees dat ek waaragtig nog nie verder beweeg het as die robotagtige programmering van die materialistiese wêreld nie? Is dit nog enigsins toepaslik om na al die jare se opweeg van waardes steeds skaam te voel net omdat ek ’n laaste paar ure van ’n “werksweek” in die gesig staar waarin ek geen sigbare kommersiële rol gaan vervul nie? Waar ek – kan jy jouself dit voorstel? – dit dalk rustig kan vat?

Hoekom kry sommige mense dit reg om nie twee keer daaroor te dink nie? Hulle kry ’n Vrydagmiddag af, gee ’n onbeskaamde gil van verligting, en snel huis toe. Hoekom is dit dat ék skaam voel oor so iets, al weet ek dat ek heel waarskynlik steeds op my eie gaan werk aan iets anders?

Die antwoord is vervelig. Die antwoord het al te veel keer sy gesig gewys.

Meeste van die werk waarmee ek myself besig hou, het min of geen kommersiële waarde, of het nog geen vrugte gedra wat enige materiële voordeel gebring het nie. In ’n materialistiese wêreld waar jou persoonswaarde bepaal word deur hoeveel kommersiële waarde jy skep, of hoeveel kommersiële waarde jy in jou handsak of beursie ronddra, swik selfs die alleen-werkende entrepreneur en skrywer van nie-kommersiële materiaal dan ook soms voor die versoeking om aan die wêreld te kan wys dat ook hy “besig” is. “Kyk julle! Ek sit nie net heeldag agter my rekenaar besig met skryfwerk en internet projekte en sulke dinge nie! Ek gaan ook soms uit en doen dinge hoofsaaklik vir geld, soos ander mense!”

Wat gebeur dan wanneer jy ’n geleentheid mis om iets te doen hoofsaaklik vir geldelike gewin wanneer dit verwag was van jou, en wanneer jyself aangeneem het dat jy die geleentheid sou hê? Die ou programmering skop weer in – asof jy nog nooit eens probeer het om anders daaroor te dink nie.

______________________

My model werk, maar nie vir almal nie

SATERDAG 13 OKTOBER 2012

Wanneer iemand my raad vra oor beroep of werk of maniere om geld te maak – of wanneer ek dit in elk geval gee, baseer ek altyd my opinie op ’n sekere model wat ek in my kop het. Hierdie model sê: moenie te veel gewig gee aan iets wat aan jou hoër status sal gee in die gemeenskap nie; dink twee keer voor jy aandring daarop om geld te probeer maak met dit waarin jy belangstel – daar’s nie noodwendig ’n mark vir dit waarin jy belangstel nie, en selfs as daar is, mag jy dalk na ’n paar jaar van kommersieel besig wees daarmee, nie meer so passievol wees daaroor nie; moenie jouself verbind aan ’n beroep of ’n kommersiële aktiwiteit waar jy dieselfde ding oor en oor gaan doen nie, Maandag tot Vrydag, tot iemand jou uiteindelik aan die skouers ruk en sê, “Stop! Jy’s 65. Tree af!”

Ek reken, en het nog altyd gereken, die model maak sin. Derhalwe kan ek nooit verstaan as iemand my goed bedoelde raad aanhoor en presies die teenoorgestelde doen nie.

Daar is egter iets wat ek neig om te vergeet.

Mense kry in vele gevalle iets terug as hulle hul eie koppe volg en status in die gemeenskap oorweeg, as hulle probeer om geld te maak met iets waarvoor hulle nog altyd ’n passie gehad het, of as hulle ’n beroep of besigheid kies waarin hulle tot vervelens toe dieselfde ding oor en oor gaan doen. Hulle bewerkstellig ’n gereelde inkomste waarmee hulle kos op die tafel kan sit, en die huur kan betaal. Hulle ontwikkel ’n verhouding met ander mense in die gemeenskap. Hulle raak deel van iets. Hulle sal vir my sê: “Jy weet wat? Dis waar dat die werk soms vervelig is, maar ons hou van wat ons aan die einde van die dag en aan die einde van die maand terugkry. Dit wat ons kry vir ons arbeid, nie net geld nie maar ook samesyn met mense saam met wie ons werk, maak op vir dit waarvan ons nie hou nie. Ons verduur maar net die minder aangename aspekte van ons arbeid.”

My model werk vir die enkeling wat uitgelos wil word, vir die persoon wat nie sy passie wil kompromitteer met kommersiële verpakking nie, en wat baie beslis nie elke dag dieselfde vervelige werk oor en oor wil doen tot hy van sy kop af raak nie. My model werk vir die persoon wat nie ’n familie aan die lewe hoef te hou nie, wat nie vervelige werk wíl verduur nie.

Is ek dus verkeerd?

Nee. Ek neem net nie altyd in ag wat werk vir ander mense, wat hulle wil hê uit die lewe, en wat hulle bereid is om op te gee vir wat hulle terugkry nie.

______________________

Skepping, ewolusie, intelligente ontwerp, en soos gewoonlik, taal en waarheid

SATERDAG 6 OKTOBER 2012

Hier is my kursoriese opinie oor “skepping”, ewolusie, en “intelligente ontwerp”. Soos enige redelike opinie is dit oop vir gesprek en teen-argumente.

Ek glo nie die ontwikkeling van lewe op Aarde was ’n “random event” nie. Ek glo daar was een of ander vorm van intelligensie agter die vroegste vorms van lewe.

Ek glo verder dat die skeppingsmitologie wat gepredik word deur geïnstitusionaliseerde religieë dieselfde doel dien as wat dit twee en drie en vier duisend jaar gelede gedoen het. Iets wat deel kan vorm van mense se geïntegreerde wêreldbeeld moet die ontstaan van lewe verduidelik. Die skeppingsverhaal gee aan volgelinge van hierdie religieë presies dit.

Nietemin, ek glo dit is hoogs onwaarskynlik dat lewensvorme ontstaan het sonder … een of ander vorm van intelligensie.

Laastens, ek glo selfs geleerde mense se pogings om die ontstaan van lewensvorms te probeer verduidelik, is tot ’n mate vergelykbaar met die tipe gesprek wat Org die Grotbewoner met sy neef kon gehad met oor die son en die sterre 10 000 jaar gelede. Selfs al het Org en sy neef oor genoeg woordeskat beskik om daaroor te praat, was die data tot hulle beskikking onvolledig – om dit akademies te stel.

Natuurlik is taal ook hier ’n faktor, soos dit is met meer dinge as wat vele mense bereid is om te erken. Wat presies bedoel ons met “intelligensie”? Wat bedoel mense met “ontwerp”? Wat presies word bedoel met “random event”?

Die goeie nuus? Die waarskynlikheid is sterk dat ons binne die volgende paar honderd jaar ’n beter begrip sal ontwikkel van dinge – mits ons koppe oop bly en die gesprek aan die gang.

Lees meer:

Kwantum Fisika, almagtig en alwys

Intelligent Design Creationism: Fraudulent Science, Bad Philosophy.

Evolution vs. Intelligent Design: 6 Bones of Contention

______________________