Waar lê die probleem?

SATERDAG 8 NOVEMBER 2014

Ek sien vandag ’n meme op Twitter van ’n jong kind wat ’n Bybel vashou. Die teks oor die foto sê:

GOD LOVES YOU SO MUCH … THAT HE CREATED HELL … JUST IN CASE YOU DON’T LOVE HIM BACK

Dit laat my toe dink: Ek weet wat my opinie is oor die saak, maar hoe reageer mense wat self-identifiseer as Christene as hulle so iets sien?

Gestel ’n persoon wat nie veel meer weet van die Christelike religie anders as dat dit een van die Groot Drie is nie, sê vir ’n persoon wat identifiseer as Christen: “Vertel my van jou geloof. Verduidelik vir my die basiese beginsels – die storie, as jy dit so wil stel.”

Ek glo as hierdie toneel herhaal met tien, of twintig, of honderd mense, dit net ’n kwessie van tyd is voor iemand sal sê: “Wag ’n bietjie. Wat jy vir my sê is dat God my liefhet, maar dat Hy hel gemaak het om my te straf vir in geval ek Hom nie terug liefhet nie?” En hierdie persoon sal dit vra in groot opregtheid, nie om snaaks of moeilik te probeer wees nie! Dit sal vir hierdie persoon ’n logiese konklusie wees van die storie wat aan hulle vertel is, die beginsels wat aan hulle verduidelik is.

Wat sou die reaksie wees van die persoon wat leef en dink en praat as “Christen”, en wat hom- of haarself sien as lid van ’n bepaalde geloofsgemeenskap? Sou hulle sê iets was verkeerd verduidelik? Sou hulle sê die ander persoon verstaan die hele storie verkeerd, of het nie reg gehoor nie? Sou hulle verskoning maak en die persoon ’n naam en telefoonnommer gee van ’n ander Christen, wat bekend is daarvoor dat hy of sy goed is daarmee om dinge te verduidelik wat ander misverstaan?

______________________

Krisis afgewend

DONDERDAG 6 NOVEMBER 2014

Die sleutelbord slaan nie homself nie. Die muis kliek, maar net wanneer ek een van twee vingers afdruk op sy flanke. Woorde stol op papier, maar sit vas wanneer ek hardop met myself praat … wat eintlik net ’n halwe waarheid is, want woorde sit ook vas in my keel, of kruip weg agter my tande wanneer ek iets vir iemand anders wil verduidelik, of hulle wil verveel met ’n staaltjie oor die Europese Middeleeue, of met een van my befaamde opinies.

Nie dat ek daarmee wil impliseer dat ek oor soveel kennis oor die Europese Middeleeue beskik dat ek sommer op ’n sypaadjie of op die moltrein iemand kan vermaak met staaltjies daaroor nie, maar ek het al ’n paar Wikipedia artikels gelees, ’n paar dokumentêre video’s gekyk, en, om die waarheid te sê, ’n hele paar boeke gelees oor die onderwerp.

Wat mens, in teorie, slimmer kan laat verskyn aan ander, maar dit maak jou geensins ’n beter piesang uitkieser nie. Ek meen, drie van my laaste drie piesangs het kneusplekke gehad! Was hierdie kneusplekke reeds teenwoordig onder die goudgeel skil in die supermark, of het ek die vrugte gekneus toe ek my halfliter koppie groentee daarop neergedruk het in die mandjie wat op die voorkant van my fiets gemonteer is?

Die einste halfliter groentee het gelek gearriveer in die spookagtig verlate buurt waar ek twee vertrekke in ’n ou huis ingerig het as my “kantoor”. Toe ek die sakkie met die tee en die goudgeel piesangs uit die mandjie haal, loop daar tee oor my skoene en oor my broek. “WTF?!” wou ek gil. Toe besef ek die sakkie lek. Het die koppie gebreek? Het die vrou by die teestalletjie nie die deksel behoorlik toegemaak nie? Nadat die sakkie tee oor my skoene en netjiese broek gedrup het vir ongeveer twaalf sekondes terwyl lelike woorde vryelik uit my mond gevloei het, het ek uitgehardloop straat toe, die koppie uit die sakkie gehaal, en die tee in die sakkie in die drein gegooi.

Krisis afgewend.

Wat absoluut niks te make het met die Europese Middeleeue, of enige iets waarin enige iemand, ek ingesluit, enigsins belangstel nie.

______________________

Waarvoor jy leef, en waarvoor jy sterf – ’n paar kort notas

WOENSDAG 29 OKTOBER 2014

Op Sondag 14 November 2004 skryf ek:

Die vraag is nie aan die einde net waarvoor jy leef nie, die vraag is ook waarvoor jy sal sterf. My opinie is dat jy sterf vir die dinge of die mense waarvoor jy leef, vir die saak wat jy dien.

Soos ek die nota kontempleer, dink ek: Mense wat kinders het, het iets waarvoor hulle lewe, en iets waarvoor hulle sal sterf.

Ek noem dit nie omdat ek wens ek het kinders gehad nie; dis bloot ’n tema wat gereeld opkom as ek dink aan belangrike sake wat die volwasse persoon se lewe raak.

Onvermydelike vrae: Waarvoor lewe ék? Watse saak dien ék? Waarvoor sal ék sterf?

Antwoord: Ek het ’n maat. Ek het haar lief. Ek dink nie gewoonlik dat ek leef om haar gelukkig te maak nie, maar dit is iets wat daagliks meeste van my belangrike aksies en besluite affekteer. Sal ek bereid wees om vir haar te sterf, indien nodig? Ja, ek sal.

———————-

Ek het later gesien daar was twee addisionele notas op Maandag 13 Desember 2004:

Die punt is om vir iets te leef, sodat wanneer ons sterf, ons sal weet ons lewens was nie verniet nie.

* * *

Die vraag is dan, waarvoor leef jy?

Vele mense sal antwoord, “Ons leef vir ons kinders.”

Ek vra: Wat beteken dit? Jy leef vir jou kinders, hulle leef vir hulle kinders … op een of ander punt sal iemand moet leef vir iets anders, maak nie saak of hulle kinders van hulle eie het of nie.

Ek dink dis ondeurdag, selfs gevaarlik om te sê jy leef vir jou kinders. Dit voel reg. Jy’s lief vir jou kinders, en jy sal iemand se gesig pap slaan ter wille van jou kinders, so … dit kan mos net reg wees om te verklaar: “Ek leef vir my kinders! En vir my vrou … (of man).” Dan nie?

Nee! Dis iets wat edel en reg vóél – en lyk op papier, maar in werklikheid vervang die een geslag die ander met geen behoorlike begrip van die waarde of moontlike doel van hulle lewens nie, anders as, “Ek moet kinders kry.”

Hoor enige iemand anders die alarm weeklaag?

______________________

Die man, die kind, en ’n spesiale toebroodjie

VRYDAG 24 OKTOBER 2014

Toe ek vyf jaar oud was, het ek een oggend in ’n boom in ons voortuin gesit en wag vir die kleuterskoolbussie om my te kom haal. My ma was in die kombuis besig om vir my ’n toebroodjie te maak. Die volgende oomblik stop die bussie voor ons huis. Ek spring uit die boom uit, maak die tuinhekkie oop, en klim in die bussie in.

Soos die bussie wegry, sien ek hoe my ma by die voordeur uitkom met my toebroodjie in haar hande.

Dit het my hart gebreek. Ek het jare later nog vir haar vertel hoe diep dit my geraak het.

Ek is nou 43. Ek het vanoggend vir myself ’n toebroodjie gemaak, my vrou totsiens gesoen, en na die moltreinstasie toe gery.

Terwyl ek wag vir die trein, sit ek my plastieksakkie met die toebroodjie op ’n bankie neer. Ek herinner myself daaraan om nie die sakkie te vergeet nie (ek raak maklik verlore in gesprek met myself).

Dis toe dat ek onthou van die insident met my ma en die toebroodjie toe ek vyf was.

Ek wonder toe, as my vrou vir my die toebroodjie gemaak het, en ek het die toebroodjie in die stasie vergeet, hoe sou ek gevoel het daaroor?

Tot my groot vermaak besef ek dit sou my diep ontstel het.

______________________

Maak jy geld deur kos te kook in ’n restaurant?

WOENSDAG 22 OKTOBER 2014

Vanoggend by die tee-winkel staan ek langs ’n ouerige man van een of ander Westerse land. (Sy pienk skouers, ontbloot omdat hy ’n moulose frokkie aangehad het, het sy herkoms verklap toe ek nog etlike meter van die stalletjie af was.) Na hy liggies, in Engels, geflankeer het met die eienares van die besigheid en met haar bejaarde moeder, het hy na my gedraai.

“Are you an English teacher?” wou hy vriendelik weet.

Op my bevestiging merk hy op dat omtrent al die buitelanders wat hy raakloop, onderwysers blyk te wees.

“There are some engineers as well,” het ek hom reggehelp.

Toe ek wegry van die stalletjie, kon ek nie help om weer my kop te skud vir die vreemdheid van die vraag nie.

Stel jouself voor die eerste vraag wat iemand jou vra, is “Maak jy geld deur kos te kook in ’n restaurant?” Of, “Maak jy geld deur karre reg te maak?” Of dalk, “Maak jy geld deur mense te verteenwoordig in regsake?”

Ek vind dit hoogs amusant dat mense dink dis heeltemal normaal om, wanneer hulle jou vir die eerste keer ontmoet, te vra, “Hoe maak jy geld?”

Sou dit onbeleefd wees om vir iemand te vra, “Wat het dit met jou te doen?”

Natuurlik verstaan ek hoekom mense vir mekaar hierdie tipe vrae vra. Jy het beperkte geleentheid om iemand te identifiseer as vriend, vyand, of neutraal, en hoe hy of sy geld maak, is seker ’n maklike begin. (Asof iemand sal erken hy steel karre of beroof banke om kos op die tafel te sit.)

Ek sou nietemin graag vir die man wou verduidelik van my skryfwerk wat nie juis geld maak nie, maar wat vir my baie waarde inhou, en selfs ander maniere hoe ek wel geld maak, maar wat nie in een-woord etikette soos “English teacher” of “engineer” uitgedruk kan word nie.

Ek sou ook nog wou noem dat baie Westerlinge net werk as English teachers in Taiwan om dit te kan bekostig om te reis, of om tyd te kan spandeer aan hulle musiek, of aan ander artistieke ambisies.

Toe hy my vra of ek klasgee by die plaaslike laerskool, ’n paar blokke van die tee-winkel af, sê ek nee, ek werk by ’n taalsentrum in die dorp.

“It’s just a part-time job,” voeg ek toe by, “but it keeps me alive.”

______________________