Aanvanklik deel van ’n poging om dinge te verduidelik

SATERDAG 4 APRIL 2015

Ons word betaal ’n gemiddelde uurlikse tarief van ongeveer $20, oftewel R235 per uur. Ons gee klas vir tussen drie en ses ure per dag, met ’n uur of langer op die pad tussen klasse. Inkomste wissel tussen R10 000 en R20 000 per maand, hoewel dit ’n paar duisend minder of een of twee duisend meer kan wees. In die maand waarin Chinese Nuwejaar gevier word, kan ons inkomste soveel as 40% minder wees as gewoonlik.

Meeste van ons klasse is “kontrakte” van tussen twaalf en tagtig ure – wanneer die kursus voltooi is, is daar geen waarborg dat jy onmiddellik ’n nuwe “kontrak” sal kry nie.

Ons posisie by die skool is ook net deeltyds. Dit beteken wanneer daar ’n openbare vakansiedag is, word ons nie betaal nie. As ons die dag olik voel, mag ons maar by die huis bly maar ons word nie betaal nie. As dit te hard reën en die wind waai te sterk, word klasse gekanselleer, en dan word ons minder betaal daai maand. Wanneer ons op vakansie gaan om ons families te besoek, verdien ons geen geld vir daai twee weke of so nie, maar ons moet natuurlik steeds huur en rekeninge betaal. As ’n privaatstudent siek is, of te besig is, of een dag nie lus is vir Engels praat nie, word ’n klas maklik op kort kennisgewing gekanselleer en dan maak ons minder geld daai maand.

* * *

Ons huur is ongeveer R6 500 per maand. My mediese versekering beloop sowat R300 per maand; my telefoonrekening en bydraes vir ander rekeninge is sowat R850. Lewenskoste is omtrent R4 000 per maand. My lewensversekering is byna R600 per maand. Ek betaal ongeveer R850 per maand belasting.

* * *

Sedert my vroeë twintigs het ek geweet ek sou dit nie kon maak in ’n voorstedelike middelklasbestaan nie. Ek het ook geen begeerte gehad om tipiese middelklas sukses te behaal nie. Ek het geen onmiddellike hunkering gehad daarna om te trou, myself te vestig, kinders te kry, of te begin met ’n loopbaan nie.

As jy nie van beter weet nie, sou jy dalk raai dat ek hedonistiese motiewe gehad het – om pret te hê, om avontuur te soek, en so aan. My werklike motivering was aansienlik valer: ek nodig gehad om te weet wat die waarheid is. As kind het ek altyd geglo in dinge. Teen die tyd wat ek 24 was, het ek geglo in niks anders as die realiteite van ’n aktiewe bestaan en die onafwendbaarheid van die dood nie.

Die idee om myself te verbind tot ’n loopbaan het vir my voorgekom as vulgêr, selfs belaglik. Ek wou … nee, ek het nodig gehad om weg te kom van die masjien wat die samelewing in my oë was.

Ongelukkig het ek teen my middel-twintigs ’n aardige bedrag studieskuld opgegaar; die moderne weergawe van die Middeleeuse landheer se greep op sy lyfeienes en landbewoners.

Teen die einde van 1995 het ek ’n derde weg gevind tussen vlug en middelklasvoorstad. Ek het Suid-Korea toe gegaan waar ek vir twee jaar sou werk as Engelse onderwyser. Ná ’n paar maande terug in Suid-Afrika in 1998 waar ek naïef geglo het ek gaan begin inpas in die middelklas gemeenskap, is ek Taiwan toe.

Taiwan het goed uitgewerk vir my die laaste sestien jaar. Ek verdien genoeg geld om te oorleef, en om Suid-Afrika toe te kan gaan elke twee jaar of so om my familie te sien. Ek het genoeg tyd om te lees en te skryf. En teen alle verwagtinge in, het ek ontmoet en is uiteindelik getroud met ’n wonderlike vrou.

* * *

Terug in Suid-Afrika was my ouers se finansiële welstand vasgevang in ’n skynbaar eindelose tuimeltreinrit. By tye het hulle baie meer geld gemaak as ek; ander kere minder.

Uit die aard van die saak wil ek help wanneer hulle in die moeilikheid is. Vir hierdie doel moet ek meer geld maak.

Hier is waar die ironie inskop: Ten spyte daarvan dat ek nog altyd gemaklik was met ’n Spartaanse leefstyl, en dat ek nooit belanggestel het om voor te hardloop in die resies vir meer geld nie, ken ek nie persoonlik enige iemand wat al meer maniere probeer het om geld te maak nie. Al wat ek nog nie probeer het nie, is prostitusie, en misdaad.

Feit is, ek is siek en sat daarvoor om sleg te voel omdat ek nie méér geld maak nie. Maak nie saak wat jy doen nie, aan die einde van die dag vra ’n man wat lyk soos ’n begrafnisondernemer: “Hoeveel geld het jy?” Dan probeer jy weereens verduidelik. Niks, tik hy dan op sy rekenaar in. En soos jy jou hand oplig om beswaar te maak, kyk hy reg deur jou en wys met ’n benerige vinger vir die volgende persoon in die ry om nader te stap.

______________________

Net genoeg projekte, en goeie stelsels om dit te behartig

WOENSDAG 25 MAART 2015

Op Vrydag 13 Maart en Saterdag 14 Maart het ek aantekeninge gemaak oor die probleem dat ek te veel projekte onderneem.

Die laaste paar dae dink ek weer oor my mislukkings, bowenal die oorkoepelende mislukking om ’n meer skaflike inkomste te verdien, en my enkele suksesse – veral my skryfwerk, wat, indien dit kommersieel suksesvol was, ek nie nodig sou gehad het om hierdie nota te maak nie.

Dit bring my toe by ’n vraag waaroor ek al soveel besin het dat sommige professionele mense sal sê ek het ’n obsessie hieroor. Twee dinge staan uit as redes hoekom ek vashaak by my huidige inkomste:

1) Ek het vanaf 2006 ’n tendens voortgesit wat ek reeds in 1999 begin het, en dit is om te veel projekte aan te vat (soos ek reeds genoem het).

2) Ek het nie goeie stelsels in plek om projekte te bestuur en selfs 90% outomaties te laat loop nie.

Aanvanklik het ek gedink dit is óf die een rede óf die ander een, maar toe besef ek selfs al het jy net een onderneming, of een projek, as jy nie ’n goeie stelsel het om dit te bestuur nie, gaan dit nie op die langtermyn suksesvol wees nie. En selfs al het jy ’n goeie stelsel vir een of twee verskillende projekte, kan jy nie aanhou om projekte aan te vat nie want goeie stelsels val nie uit die lug wanneer jy dit nodig het nie – dit vat tyd en moeite en dalk geld om ’n goeie stelsel te ontwikkel.

Dus, vir elke projek of inkomste-genererende onderneming wat jy aanpak, het jy ’n goed uitgewerkte stelsel nodig ten einde die waarskynlikheid van sukses ten minste 50% te maak, indien nie beter nie.

Dus twee: Goeie stelsels vat tyd, moeite en heel waarskynlik geld om te ontwikkel. Weerhou jouself derhalwe daarvan om projekte aan te pak of ondernemings te begin voor jy nie ’n goeie stelsel het om die nuwe projek te bestuur en uiteindelik op outomaties te sit nie (indien moontlik).

Dus, drie: Fokus daarop om goeie stelsels te ontwikkel, werk dan een vir een jou projekte in die stelselmasjien in, en oorweeg dan om iemand te betaal as opsiener of assistent om seker te maak die masjien loop goed.

______________________

Die grootste struikelblok in my pad na sukses

WOENSDAG 18 MAART 2015

Die woord epifanie kan nie sommer enige tyd rondgegooi word nie. As ek derhalwe sê Vrydag 13 Maart 2015 se “Enkele aangename en onaangename waarhede” begin toenemend soos ’n epifanie te lyk, is ek duidelik in ’n ernstige bui.

Dit laat my voel asof ek in die moeilikheid is. Ek het oor die jare dosyne kere toegelaat dat ek verlei word deur optimisme en geloof in my eie vermoëns. “Haai, dit lyk soos iets wat ek kan doen!” is gewoonlik sonder om langer daaroor te dink, opgevolg met aksie. En voor ek myself van die rand van die afgrond kon red, het ek nog ’n projek begin, myself verbind aan nog ’n taak – nog interessante boeke in ’n spreekwoordelike sak gepak wat ek lankal nie meer oor my skouer kon gooi nie.

Ek sien hoe ander mense wat soortgelyke projekte as ek onderneem verby my stap. “Sterkte!” sal hulle oor hul skouers roep soos ek hulle stof proe op ’n droë tong. “Jou boot sal een van die dae inkom!” sal een dalk byvoeg as ’n nagedagte.

Ek is my eie grootste hulpbron. Ek is ook die grootste struikelblok in my pad na sukses.

______________________

Een alternatief om voor ’n trein in te stap

MAANDAG 16 MAART 2015

In mens se affer tye dink jy soms dinge wat bietjie rof is. Dan, wanneer jy weer beter voel, besef jy hoeveel van daai dinge eintlik waar is.

In my geval: In die eerste plek sal ek nooit verwar kan word vir ’n Viking kryger nie. Kan ek myself of my geliefdes beskerm in ’n oomblik van nood? Ek weet nie. Tweedens, ek is amper 44, en hoewel ek nie skuld het nie, maak ek nie veel geld met my paar deeltydse posisies nie. Derde plek, ek het nie kinders nie, en sal heel waarskynlik nooit kinders hê nie. Vier: Ek het onlangs 23 keer “Ja” geantwoord op ’n lys van 27 vrae om vas tel of ek kwalifiseer as ’n Hoogs Sensitiewe Persoon – wat onder andere beteken dat ek meer vatbaar is vir fisiese pyn, en selfs emosioneel geaffekteer kan word deur ’n groot lawaai. (Nie een van die vrae was oor hoogtevrees nie, maar ek kon dit ook nog byvoeg.) Punt vyf: My ouers en my susters dink ek is ’n verlore saak wat deksels gelukkig was om ’n goeie vrou te ontmoet. Ses: Ek sukkel vir jare om geld te maak met allerhande projekte … en sukkel steeds voort.

Wat staan ’n mens te doen? Wat is my opsies?

Een is selfmoord. Get it over and done with. Maak plek vir iemand anders, dalk iemand beter.

Nog ’n moontlikheid is om regtig hard te werk en een na die ander beskouing van jou op sy kop te draai en almal hulle woorde, en hulle opinies, te laat eet. Klink lekker. Kan werk.

’n Ander moontlikheid is om voor te gee dat nie al die slegte dinge wáár is van jou nie, dat jy nie soveel van ’n verloorder is nie. Terwyl jy doelbewus sommige dinge ignoreer, werk jy daaraan om te verbeter wat binne jou vermoëns is om te verbeter.

Moeilik om voor te gee, mag jy dalk sê. Nie maklik om te ignoreer wat vele mense van jou dink of sê nie, mag jy dalk byvoeg.

Dink so daaraan: een alternatief is om voor ’n trein in te stap.

______________________

Jannie ondermyn homself

SATERDAG 14 MAART 2015

12:15

Soos ’n onseker kind wat speelgoed bymekaarmaak, so maak ek projekte bymekaar. En die “kind” weier om sy speelgoed te deel met ’n ander kind, of om daarvan weg te gee, of om sy ma toe te laat om daarvan te verkoop by die kerkbasaar.

“Ek gáán nog daarmee speel!” sal hy uitroep, en sy armpies styf om sy speelgoed vou.

“Wanneer?” sal sy ma vra.

“Vanaand,” sal hy huiwerig antwoord. “Of môre …”

“Jy weet jy gaan nooit daarmee speel nie, Jannie,” sal sy ma weer probeer. “Jy’t te veel speelgoed!”

“Maar, ek het nog gedink …” sal Jannie begin, en homself meer as sy ma probeer oortuig dat hy nog groot planne het om eendag met ál sy speelgoed tegelykertyd te speel.

12:24

My projekte is soos ’n opgeblase burokrasie wat dreig om die staat te ondermyn wat dit veronderstel is om te dien.

______________________