Onderhoud tussen “Brand” en die “wysgeer”

MAANDAG 13 JANUARIE 2003

(BRAND besef kort na hoërskool dat hy nie meer in die dieselfde kamer wil woon waar hy sy laaste skooljare geslyt het nie. Hy’t nie ’n sent op sy naam nie, maar hy glo “alles sal uitwerk”. Die eerste deel van die onderhoud dateer uit hierdie periode.)

BRAND: Ek is nou klaar met skool. Ek dink dis tyd dat ek my ouerhuis verlaat – die wêreld op my eie aandurf. Wat is my opsies?

WYSGEER: Wel, jy kan óf teen die muur by die poskantoor slaap elke aand, óf jy kan vir jou ’n “plek” kry, met ’n deur wat jy kan toemaak as jy binne is, en wat jy kan sluit as jy uitgaan. ’n Plek het ook die voordeel dat jy van jou “goed” daar kan hou, soos bokse vol gemors wat jy nie wil weggooi nie, en ou klere, ou liefdesbriewe, koppies om koffie uit te drink en so aan. Die probleem is dat jy moet betaal, elke maand, om in so ’n plek te kan woon.

BRAND: Wat moet ek doen om geld in die hande te kry?

WYSGEER: Jy kan dit steel, maar jy kan opeindig in die tronk as jy gevang word. Plus, dis verkeerd om te steel. Die alternatief is dat jy werk daarvoor.

BRAND: Ek het ’n paar jaar gelede koerante afgelewer … Wat anders kan ek doen?

WYSGEER: Jy kan skottelgoed was in ’n restaurant, of karre by verkeersligte. Of jy kan grimering verkoop. Of worsrolletjies.

BRAND: Dit klink nie na lekker werk nie.

WYSGEER: Jy kan natuurlik werk doen wat miskien ’n bietjie interessanter is, maar daarvoor moet jy opgelei word. Siende dat hierdie onderhoud afspeel in die vroeë negentigs, beteken dit jy moet universiteit toe gaan.

BRAND: Watter universiteit? Kan ek Stellenbosch toe gaan?

WYSGEER: In ag genome dat jou ouers in hierdie tyd in Pretoria woon, sou ek sê die universiteit van Pretoria is sekerlik die meer redelike opsie.

BRAND: Maar ek wil regtig graag Kaap toe gaan …

WYSGEER: Dan gaan jy Kaap toe. Ek is seker daarvan jy kan jare van broekskeur oorleef, en mense wat onvriendelik met jou is omdat jy nie die huur kan betaal nie.

BRAND: Wat dink jy moet ek studeer? Waarvoor moet ek opgelei word?

WYSGEER: Wel, waarin stel jy belang?

BRAND: Ek hou van geskiedenis, en godsdiens, en sulke goed.

WYSGEER: Wel, jy kan nie ’n predikant word nie, want jy’t nie geld vir teologie studeer nie. Dit lyk vir my onderwys is jou enigste werklike opsie. Jy kan probeer om ’n beurs te kry wat jou klasgelde sal dek.

BRAND: Fantasties! Maar … beteken dit nie ek moet later ’n onderwyser word nie?

WYSGEER: In teorie … hey, wat het van die laaste stuk pizza geword?!

(’n Paar jaar later …)

BRAND: Ek wil nie meer ’n onderwyser word nie. Ek wil Sielkunde swot, of Filosofie, of my meestersgraad in Godsdienskunde doen, of in Geskiedenis. Ek wil ook oorsee gaan vir ’n paar maande. Europa is so ’n interessante plek …

WYSGEER: Jy kan nie bekostig om Europa toe te gaan nie. Dit kos baie geld, jy weet?

BRAND: Wel, ek het ’n studielening by die bank. Ek kan dalk …

WYSGEER: ’n Lening? By die bank? Ek dog jy wou nooit skuld maak nie – veral nie by ’n bank nie!

BRAND: Ek weet. Dis ’n lang storie …

(’n Paar maande later. BRAND is terug van sy Europese reis.)

BRAND: Sjoe, nou’t ek nie meer enige geld nie. En ek wil baie graag teruggaan Europa toe. Om die waarheid te sê sal ek na enige plek toe gaan, solank dit net oorsee is. Maar waar sal ek weer geld in die hande kry?

WYSGEER: Hier’s ’n advertensie in die Cape Times vir onderwysers in Korea. Hulle sê hulle sal selfs vir jou vliegtuigkaartjie betaal …

BRAND: Ag, shit. Dan moet ek seker maar Korea toe gaan.

(Na 22 maande in Korea is BRAND terug in Suid-Afrika.)

BRAND: Ek wil behoort, en ek wil myself toewy aan iets of iemand. Ek wil nie meer verlore ronddwaal nie. Ek wil ’n skrywer wees, en ’n scholar. En mag is alles. In elke verhouding kan jy sien wie’s meer in beheer, hoewel dit in die ideale verhouding wissel volgens die situasie. Maar as jy nie mag het nie, het jy niks – geen vryheid nie, geen keuse nie. Ek het meer mag nodig. En ek hoef nie meer bekommerd te wees dat die sosio-ekonomiese middelklas my sal insuig terwyl ek slaap nie. ’n Mens moet actually baie hard werk om daar in te kom. So ek kan maar ontspan. Nou’t ek net meer geld nodig, want my spaargeld van 22 maande in Korea is besig om vinnig op te raak. Miskien moet ek weer oorsee gaan …

(BRAND oorleef vir agt maande in die land van sy geboorte. Vir ses maande lank werk hy in ’n kantoor, en vind eerstehandse bewyse vir sy vermoedens oor geld, mag, en verhoudings. Hy woon onder andere in ’n bediendekamer met pienk mure, waar hy slaap op ’n “matras” wat bestaan uit twee stukke spons wat hy met sellotape aanmekaar geplak het.

Aan die einde van hierdie eksperiment in “Belonging & Commitment” pak hy weer sy klere en kassette in ’n sak, en met geld wat ’n vriend in Taiwan vir hom geleen het, is hy weer op pad – terug Verre Ooste toe.

’n Paar weke na hy gearriveer het, het hy ’n werk, ’n woonstel, en ’n bromponie. Na ’n paar jaar het hy bygekry ’n hond, ’n elektriese kitaar, en ’n rekenaar. En twee Chinese woordeboeke.

Die laaste deel van hierdie onderhoud vind plaas kort nadat hy besluit het om, voorlopig, ’n vyfde jaar op die subtropiese eiland aan te bly.)

BRAND: Ek wil huis toe gaan, maar waar sal ek woon? Hoe sal ek geld verdien? Ek moet maar net eenvoudig langer hier bly. Maar wat van as ek een of ander tyd wil trou? Wat van as ek eendag kinders wil hê? Waar gaan ek die regte vrou ontmoet? Hoe gaan ek geld verdien vir my en ’n vrou en kinders? Waar sal ons woon … want eintlik hou ek nogal daarvan om oorsee te woon, maar ek mis ook uit op al die KKNK’s en die Koos Kombuis konserte. Ek wil ook weer vir ’n slag behoorlike aartappelslaai eet. En ek wil my Chinees verbeter, en Russies leer praat. Ek wil van die huis af werk, want ek hou nie van kantore nie. Ek haat dit om ander mense se reëls – waarmee ek omtrent nooit saamstem nie – te moet nakom. En ek wil weer ’n bietjie Europa toe gaan. Dis so ’n mooi en interessante plek …

WYSGEER: Ag tog.

______________________

Die spreekwoordelike gemiddelde

[Eerste twee paragrawe uit die Pers Notaboek, APRIL 2002]

Om uit te styg bo die (spreekwoordelik) gemiddelde lewe waarmee ek grootgeword het, was een van die primêre motiverings agter meeste van my groot besluite die afgelope twaalf jaar.

Wat is “verkeerd” met ’n “gewone” lewe? Een, dis vervelig. Twee, materialistiese opgaarding is sinoniem met die gemiddelde lewe in ’n middelklas voorstad, maar eerstehandse ervarings tussen my twaalfde en agtiende verjaarsdae het die indruk tuisgebring dat, as jy nie in jou spoor trap nie, jy alles kan verloor wat jy so geduldig opgebou en bymekaargemaak het – jou meubels, jou gordyne, jou motorkar, jou mikrogolfoond … maar ook jou selfrespek en die agting van ander in die gemeenskap.

———————

[Die ding van “uitstyg bo die gemiddelde” moet ’n bietjie verduidelik word.

As 99 uit 100 mense dieselfde of soortgelyke dinge wil doen, dan is dit ’n keuse wat hulle maak uit eie vrye wil, met hul eie motiverings daarvoor.

My probleem is dat ek nie ná X-aantal jare wil terugkyk na my spore op die Strand van Lewens (by wyse van spreke), en vind dat my eie lyn van spore onherkenbaar is van ander s’n wat op dieselfde tyd as ek op die Strand gestap het nie. Ek wil kan terugkyk en sê: “Dáár! Daar’s my spore! Ek hét geleef. Ek het óók oor daai sand gestap – hoewel ek ander draaie geloop het, en my eie pas gevolg het.”

Wil ek ’n nuwe voetpad trap? Nie noodwendig nie. Ek het ook geen obsessie om ander se spore te vermy net omdat ek bang is my eie spore verdwyn binne hulle s’n nie.

Dan is dit ook so dat sommige spore dit werd is om van tyd tot tyd vars getrap te word. Hoekom? Om maar een rede te gee, as ’n merker vir toekomstige geslagte – sodat ook húlle herinner kan word daaraan dat, as hulle mooi kyk, daar meer as een pad is wat gevat kan word.]

______________________

31 Desember 2001

Dis Maandag 31 Desember 2001 om 23:40. Ek gaan nou poog om in die oorblywende twintig minute ’n opsomming te maak van wat ek hierdie jaar gedoen het, ’n kort opinie daaroor te verwoord, en ook om ’n paar dinge te vermeld wat voorlopig vir my belangrik is vir die jaar wat oor twintig minute gaan begin. (Dit is natuurlik gepas dat ek hierdie jaar uitgaan op dieselfde wyse wat ek soveel duisende ure deurgebring het gedurende die afgelope twaalf maande – agter my Toshiba Satellite 2180 CDT.)

Ek het hierdie jaar voortgebou op wat ek verlede jaar begin het – deur nie meer te praat oor wat ek nog gáán doen nie, maar om te praat oor wat ek besig is om te doen. Of nog beter, om nie eintlik te praat daaroor nie, maar eerder te wys wat ek reeds gedoen het. Ek het hierdie jaar minder geld verdien as wat ek gedink het die geval gaan wees. Aan die ander kant het ek baie meer geskryf, en meer projekte aangepak en klaargemaak as wat ek gedink het ek sou.

Ek het hard gewerk hierdie jaar – aan my eie projekte. Ek het tot vyfuur, sesuur in die oggende in my “kantoor”, of in die sitkamer, of op die stoep gesit en gestaan, en geboorte gegee aan nog meer idees. Soms sou ek ontbyt gaan koop het by McDonald’s, en teen die tyd wat die meeste mense al op kantoor was, het ek eers gaan slaap. Ek het ure, dae, en weke gewerk aan dinge wat uiteindelik in bruin koeverte sou opeindig, uitgesluit uit die projekte waarvoor dit bedoel was. Ek het baie geleer oor myself, en oor dinge wat ek wil doen.

Ek het ook (weereens) besef dat ek ’n werklike belangstelling het in taalstudie. Ek het baie tyd gespandeer om materiaal saam te stel wat ek gebruik om Chinees te leer, en ek het darem opgeëindig met ’n paar ekstra woorde en uitdrukkings in my kop.

In kort, ek is trots op myself. Ek het ’n goeie jaar gehad – en ek het hard gewerk daaraan om dit ’n goeie jaar te maak! (Snaaks dat ek amper lus voel om vir iemand dankie te sê.)

Daar’s nog ses minute oor. Idees vir 2002? Betaal my skuld af, koop ’n huis in Suid-Afrika, word ’n miljoenêr, bemeester Chinees, vlieg om die wêreld in my eie Boeing met ’n dosyn minnaresse om my geselskap te hou, doen ’n meestersgraad in Geskiedenis, koop vir my ouers ’n huis, trou en kry kinders, sien hoe die hare teruggroei op my kop …

Die tyd is op. Ek moet vir my ’n Muskadel gaan skink, en my eerste sigaret van die nuwe jaar gaan rol.

* * *

Oukei, die nuwe jaar is al veertien minute aan die gang. Laat die werk begin!

Brand Smit in sy kantoor agter ’n rekenaar wat hom heeltemal te veel gekos het

______________________

Geen gereelde verslae oor my lewe nie

MAANDAG 10 DESEMBER 2001

“Dis vreemd, maar soms is ek nie lus om te praat oor my lewe nie. En dit is nie omdat dit nie goed gaan nie; op die oomblik gaan dit eintlik beter met my as baie keer in die verlede. Ek het onder andere onlangs ’n klomp mense uit Suid-Afrika ontmoet – beide nuwe aankomelinge en mense wat al hier is vir ’n tydjie. Maar om te skryf daaroor of om mense te vertel daarvan laat my voel asof ek verslag lewer oor my lewe. Asof dit ongewoon is dat ook ék dinge doen wat genotvol kan wees, of asof dit nodig is om te rapporteer dat ek nuwe mense ontmoet het.

Hierdie onwilligheid is nie net van toepassing op goeie vriende nie; ek doen dit ook met my familie. Hulle sal my vra vir nuus, en ek sal die beelde in my kop sien van hoe ek ’n goeie tyd het saam met mense, en plekke besoek en dinge doen, maar ’n oomblik later sal ek antwoord dat ek nie regtig enige nuus het nie, en dat alles voortgaan soos gewoonlik. Vreemd, is dit nie?

Ek is ook weer baie besig op die teaching front. Baie van daai goedkoop kontrak onderwysers het die land verlaat, so skole is skielik weer op soek na nuwe mense.

Ek gaan huis toe vir twee weke aan die einde van Maart, en ek is van plan om terug te keer vir nog ’n jaar of so …”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriendin

______________________

’n Verantwoordelike stuk: Ballingskap essay # 10

MAANDAG 26 NOVEMBER 2001

’n Mens kom op ’n tyd in jou lewe wanneer jy ’n paar waarhede in die gesig moet staar. Een van hierdie nare waarhede is dat jy dalk vir ewig gaan leef – of ten minste tot jy so oud en seniel is dat jy nie eens kan onthou jy’t ooit geleef nie. Die noodwendige vraag wat ’n mens vir jouself wil afvra as jy nie hierdie onaangenaamheid uit jou kop kan skud nie, is wat op aarde jy gaan doen as jy wél vir nog veertig of vyftig jaar gaan leef.

’n Mens vind jouself tans in ’n posisie waar jy nog relatief jonk is. Jy’s steeds in ’n stryd gewikkel om hang-ups af te skud wat jy al sedert jou tienerjare saam met jou rondsleep; jy’s nog besig om vir jouself ’n klein erfie af te span in die groot, wye wêreld; en jy’s nog hard aan die stry met jouself (en met jou familie) oor presies wat dit is wat jy wil doen met jou lewe …

———————

[Nog ’n stomp einde. Nie ’n goeie teken in ag genome dat dit die lang verwagte “verantwoordelike stuk” was nie, maar nou ja. Ek het wel eers vyftien maande later op die idee van hierdie literêre projek gekom (die oorspronklike projek, Persoonlike Agenda: Boek Een). In November 2001 was daar duidelik geen dringendheid om enige stukke af te handel nie.]

______________________