Korea: Broeikas vir my griewe?

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

As ’n mens deur die 1996-1998 materiaal lees, kry jy maklik die idee dat Korea ’n broeimasjien was vir my griewe, en vir my onsekerhede en vrese. Ek was ietwat verbaas toe ek sien hoeveel gif ek in daai tyd gespoeg het oor “suburbia” – dinge soos “die vloek van suburbia”, “ek haat suburbia nou meer as ooit” en “kultuur en kuns vrek in suburbia” (om net ’n paar van my gunstelinge te noem).

Wat presies was my probleem met lewe in ’n middelklas voorstad? Die argitektuur van die plek is nie vergelykbaar met ou Europese stede nie, maar genade, wat verwag ’n mens? Die gemiddelde voorstedelike tuin is ook nie Kirstenbosch nie, maar die gemiddelde voorstedelike burger is nie Cecil John Rhodes nie! En wat is ’n braai op ’n Saterdagaand, Kersetes, verjaarsdagpartytjies, rugby op TV, en laatmiddagstappies met die hond as dit nie kultuur is nie? En “kuns vrek in suburbia”? Komaan!

Nietemin, ek voel verplig om vir myself op te kom. Suburbia het vir my oor meer gegaan as net die spesifieke argitektuur van drie slaapkamer huise – of enige ander weergawe van ’n voorstedelike huis, of die hoeveelheid blomme in die voortuin of hondedrolle in die agterplaas. Dit was ’n simbool van ’n breër verskynsel in die samelewing, waar mense die heeltyd oor die spreekwoordelike heining loer om te sien hoe die bure daarna uitsien, in watse klere hulle rondloop, in watse model motorkar hulle rondry, en hoe gereeld en waarheen hulle op vakansie gaan. Status in hierdie gemeenskap is soos ’n duiwel wat mense jaag om dinge te doen wat hulle nooit voorheen gedink het hulle ’n hele lewe aan kan wy nie. Aan wát word sukses en mislukking gemeet in die middelklas? Aan geld, en professionele status. Die man slaan sy vrou? Erg, maar dis veel erger as hy nog ’n finansiële mislukking ook is. Die Prinsloo kinders doen so goed op skool? Goed en wel, maar het jy gehoor dat die pa alweer van werk verander? ’n Man of vrou wat nie weet hoe om moraliteit te spel nie, maar “het jy gesien hulle ry nou ’n nuwe BMW?”

Natuurlik het dit ’n verskil gemaak dat my eie familie stof aan die verkeerde kant van die lyn geproe het. Natuurlik sal mens ’n bietjie sukkel met griewe wanneer jy van die grond af opstaan. Ek kon nietemin nie anders as om myself te konfronteer met die vraag of “hulle” reg is, en of “iets” dalk verkeerd is met die “hele storie” nie.

Hoe voel ek deesdae oor die sosio-kulturele verskynsel wat die middelklas voorstad is?

Ek het op ’n kol genoem dat ek nie meer ’n probleem het met die idee van ’n aangename drie slaapkamer huis, ’n netjiese tuin, ’n grassnyer, twee honde en ’n kar nie (en ek weet die middelklas gaan oor meer as net dit). Ek kan hierdie posisie inneem want ek het die konsep van lewe in ’n middelklas voorstad wat so by my gespook het in Korea, die afgelope paar jaar ’n bietjie uitmekaargetrek, en mooi gekyk presies wat dit is wat my so pla aan die plek, en watter aspekte eintlik maar onskuldig is – soos die arme honde, en die grassnyer. Ek het uiteindelik besef dat dit nie gaan oor die huis of die tuin of die bure nie, maar oor wat jy doen om ’n lewe in die middelklas te kan bekostig.

______________________

Dis steeds lewe, en steeds jou toewyding waardig

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

Op Saterdag 14 Maart 1998 het ek geskryf: “Ek is bang om te commit tot enige iets waar sukses nie gewaarborg is nie. Om die waarheid te sê is ek onwillig om te commit tot enige iets waar mislukking net ’n vae moontlikheid is.”

Hoe voel ek nou daaroor?

Ek het sover vyf jaar in Taiwan gespandeer as ’n Engelse onderwyser, in ’n stad wat geen rang het in die wêreld nie. (Ek praat van Fengshan, nie die groter omgewing van Kaohsiung nie, wat die vierde grootste verskepingshawe in die wêreld is.)

Ek sou waarskynlik nie op 14 Maart 1998 aan so ’n lewe gedink het as iets waaraan ek myself kon toewy nie, en indien miskien so ’n lewe, beslis nie op hierdie plek nie. Tog kan ek kategories verklaar dat, ten spyte van die prys wat mens betaal en die onvolmaaktheid daarvan, dit die tyd werd was. Of soos ’n karakter opmerk in die fliek Breakfast for Champions, “It’s all life.”

Die alternatief is om ouer te raak by die jaar en jouself nooit aan enige iets toe te wy nie, omdat jy wag vir die ontwykende “volmaakte” projek, of “ideale” lewe. En wat gaan gebeur? Jy gaan te laat besef jy’t oud geword, jy beteken niks vir niemand nie, en jy’t niks gedoen met jou lewe nie.

Raak besig met enige iets wat naastenby aan jou vereistes voldoen. Dis ’n miljoen keer beter as om jou lewe te laat verbygaan terwyl jy wag op “iets beters”.

______________________

Hoe vergelyk my lewe in Taiwan met my tyd in Korea?

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

Ek het Korea toe gegaan as iemand wat niks gehad het om te verloor nie – behalwe natuurlik die gemeenskap van mense vir wie ek omgee het, ’n sekere handelsmerk bier, en miskien die unieke Suid-Afrikaanse landskap. Hoe langer ek egter in Korea gespandeer het, hoe meer het ek begin vashou aan dinge wat ek nie gehad het in Suid-Afrika voor ek Ooste toe is nie – ’n werk, ’n inkomste, en ’n plek wat ek my eie kon noem, al was dit net tydelik.

Natuurlik was hierdie dinge nie genoeg om my in Korea te hou nie. Die mense en dinge wat ek gemis het in my eie land het geblyk ’n veel kragtiger magneet te wees. In Suid-Afrika kon ek weer Black Label drink, braaivleis ruik op ’n Saterdagaand, en my familie gereeld sien. Die werk, die inkomste, en my huislike situasie in Suid-Afrika het egter nie opgeweeg teen waaraan ek gewoond geraak het in Korea nie.

In Taiwan was my situasie van die begin af soortgelyk as in Korea. Ek het werk gehad, ’n inkomste verdien, en ’n baie beter plek gehad as wat ek verwag het ek sou hê (behalwe vir die gebrek aan vensters).

Wat is dan die verskil tussen die lewe wat ek gehad het in Korea, en die afgelope paar jaar in Taiwan? My werksituasie in Taiwan is beter – minder ure, en meer afwisseling, my huislike situasie is beter – veral my huidige woonstel, maar die mees betekenisvolle verskil is persoonlike projekte.

Ek doen in Taiwan waarvan ek in Korea net gepraat het. Ek doen dinge om myself te motiveer, om myself aan die gang te hou wanneer daar nie veel anders is wat inspireer nie. Ek het voortgegaan met aantekeninge oor my lewe toe ek hier aangekom het, en dit het ’n kerf opgeskuif nadat ek my eerste rekenaar gekoop het in Junie 1999. Daarna was daar fotografie, musiekinstrumente, Engelse handboeke, Chinese studie, en vir die afgelope jaar ’n spesifieke literêre projek.

My projekte, en die feit dat ek genoeg vrye tyd het, is meer as enige iets anders verantwoordelik daarvoor dat my lewe beter is in Taiwan as wat dit in Korea was.

______________________

’n Rewolusie van ’n ander aard

DONDERDAG 12 FEBRUARIE 2004

Ek is die Persoonlike Republiek; die Skrywer is die diktator met ’n ystervuis. Die Skrywer besit die mees waardevolle hulpbron, naamlik Tyd (hoewel hy die Onderwyser toelaat om genoeg kapitaal te verdien om die Persoonlike Republiek aan die gang te hou).

Dit het egter duidelik geraak vir almal, selfs vir die Skrywer, dat die Algemene Gang van Sake nie onbepaald gehandhaaf kan word onder die huidige bewind nie. Die Volk murmureer al vir te lank. Probleem is dat sprake van rewolusie al so alledaags geraak het dat niemand hulleself meer daaraan steur nie. Tog weet almal dat daar geen ander uitweg is nie!

Anders as in talle ander rewolusies in die geskiedenis van aardse beskawings is die struktuur nie die probleem nie. Wat verander moet word, is die finansies van die Republiek. Wat benodig word is dus nie ’n Kulturele Rewolusie, ’n Politieke Rewolusie, of ’n Spirituele Rewolusie nie. Wat benodig word, is ’n Kommersiële Rewolusie.

Die Skrywer – slim soos hy is – is egter nie bekwaam daarvoor om ’n Kommersiële Rewolusie te begin of deur te voer nie. Niemand twyfel daaroor dat die Skrywer se Saak goed is nie, maar Een van Ander Bekwaamheid en Talent moet ingeroep word vir die noodsaaklike taak wat voorlê.

Die Volk moet gered word. Die Onderwyser moet gered word. Die Student moet gered word. En soos dinge staan, moet ook die Welwillende Diktator gered word. Dit sal inderdaad nie oordrewe wees nie om te beweer dat die Toekoms van die Persoonlike Republiek op die skouers rus van ’n Bekwame Kommersiële Leiersfiguur.

Die Skrywer weet wat gedoen moet word. Hy Wat Met ’n Ystervuis Regeer moet die een ding doen wat hy vrees soos ’n hondsdol, uitgeteerde hiëna: Hy moet die greep laat vaar wat hy het oor die ure wat sy dae en nagte vul. Hy moet afstand doen van Eksklusiewe Besit van Tyd, ten minste tot sake beter begin lyk – op die finansiële front.

Omdat Besit van Tyd die sleutel is tot mag en om enige iets uit te rig in die Persoonlike Republiek, beteken dit egter ook dat die Skrywer tydelik afstand sal moet doen van sy status as Dominante Rolspeler. Hy sal steeds die Spirituele Leier wees, maar ter wille van die Republiek, die Volk, die Onderwyser en die Student, en ter wille van sy eie Saak, moet tyd en daarmee saam die vermoë om dinge te dóén eerder as om net te praat daarvan, vir ’n periode van nie meer nie as Drie Maande oorhandig word aan Een Wat Nie Skryf Nie, aan iemand wat in hart en wese sal wees … ’n Kommersiële Diktator.

Hierdie Rewolusionêre Figuur sal eksklusiewe beheer oor tyd geniet. (Natuurlik sal die Onderwyser, tot sy spyt, steeds aangepor word om elke dag uit te gaan om brood- en huurgeld te verdien.) Die Nuwe Leier sal dag en nag moet arbei vir ’n Beter Ekonomiese Bestel vir Alle Karakters. Hy sal toegewyd wees aan die Persoonlike Republiek – dit weet en verwag almal, en hy sal dit doen vir die Saak van die Skrywer.

Die Kommersiële Diktator se Rewolusie sal tydelik, sowel as kragtig wees. As hy misluk, loop die Republiek die gevaar om onder te gaan. As hy slaag, sal dit die Begin van ’n Goue Era beteken. Maatreëls wat gedurende hierdie periode geïmplementeer sal word, sal dien as ’n Ekonomiese Model vir ’n Nuwe Republiek – uiteindelik weer onder die bekwame leierskap van die Langtermyn Dominante Figuur.

Die Skrywer sal in die aanloop tot die Nuwe Tyd die Tydelike Diktator bystaan met propagandabaniere, slagspreuke en kort toesprakies. Sodra die Nuwe Tyd egter aangebreek het, begin die Skrywer se periode van Selfopgelegde Stilte. Maklik sal dit nie wees nie. Die Skrywer weet dat hy sy mond sal moet hou en sy tikvingers meestal in sy sak. So moet dit noodwendig wees. Twee honde kan nie op dieselfde tyd aan dieselfde been knaag nie. So ook kan twee diktators nooit op dieselfde tyd dieselfde republiek met ’n ystervuis regeer nie. Die Skrywer sal stil wees, en sy tikvingers sal slegs beweeg as die Kommersiële Diktator dit vereis. So sal dit wees vir Drie Maande lank.

Vandag is die Vierde Dag van die Week, die Twaalfde Dag van die Tweede Maand van die Jaar. Oor Elf Dae is dit Nuwe Tyd.

______________________

11 Februarie 2004

Dis ’n mooi dag.

Ek steek my kop by die kombuisvenster uit, kyk af in die stegie, oor die dakke van ou huise in die blok langsaan. Die stegie, net breed genoeg vir twee bromponies om verby mekaar te kom, is gevul met die oranje skynsel van die laatagtermiddagson.

Die woonstelgeboue is grou, maar die hier-en-daar afgeskilferde verf van die diefwering gee ’n optimistiese kleur aan die buurt. Die potplante in die vensterbanke getuig van geloof in ’n goeie lewe, al het dinge nie altyd uitgewerk soos die inwoners jare gelede gehoop het nie.

Dis nie koud nie, maar iets in die lug voorspel dat dit ’n koel aand gaan wees. ’n Briesie begin optel. ’n Ou oorlogsveteraan verskyn om sy wasgoed van die balkon af te haal.

’n Volmaakte dag is dit nie – watter dag is? – maar dis ’n mooi dag. Dis Woensdag 11 Februarie 2004, ’n wintersdag in Taiwan.

________________