Geloof, hoop, en liefde – en die noodmaatreëls om op te maak vir die afwesigheid daarvan

DONDERDAG 14 OKTOBER 2004

Op die trein (09:22)

Ek weet nou dat ek al vir maande al – of afhangende van hoe jy daarna kyk, jare al – besig is om my geloof te verloor: Geloof in die oorgelewerde “waarhede” van my jeug, geloof in mense, geloof daarin dat “dinge sal uitwerk”.

Dit is ook so dat vele mense daagliks dwelms misbruik om (onder andere) hierdie probleem te bekamp, of om op te maak vir die negatiewe effek daarvan op hulle lewens.

Ander mense, of soms dieselfde mense, gee hulleself (ook) oor aan kriminele aktiwiteite om (weereens) op te maak vir die afwesigheid van (onder andere) geloof in hoe hulle na die lewe kyk, en om aan hulle die vermaak, opwinding en/of geld te verskaf om hul lewens die moeite werd te maak.

Ek haat dwelms. Dit maak my dronk in die kop, en ek vermoed – en weet in een spesifieke geval – dat dit my meer angstig sal maak eerder as om my te laat ontspan. En ek wil myself nie oorgee aan kriminele aktiwiteite nie.

So, my ballas hang tussen ’n skêr en ’n woedende skerpioen.

Terloops, ek het die hele tyd gewonder wat dit beteken om te sê, “My lewe is nie die moeite werd nie.” Ek bevredig tog talle van my behoeftes elke dag, my werkslading is nie te sleg nie, en ek het nie drukkende finansiële probleme nie. Wat is dan die probleem?

Die probleem, en ek het nog nooit voorheen so daaraan gedink nie, is dat ’n mens drie dinge nodig het (behalwe natuurlik om nooit die grootste gebod te oortree nie, naamlik om nooit sonder geld te wees nie): Jy het nodig geloof, jy het nodig hoop, en jy het liefde nodig.

Ek, “Brand Smit”, leef sonder liefde. Ek leef al vir tien jaar in verskillende grade van ongeloof, en selfs die geloof wat ek vir myself uitgekerf het as my eie die afgelope paar jaar, is besig om waarde, vir my, te verloor. Al wat ek dus oor het om myself aan die gang te hou, is hoop.

En hoop sonder geloof en liefde kan Thanatos net vir so lank by die tuinhekkie besig hou.

Kan ’n mens oorleef – fisies aan die lewe bly – sonder geloof, sonder hoop, en sonder liefde, en dan ook sonder verdowingsmiddels of vermaak om die pynvolle afwesigheid van geloof, hoop en liefde teen te werk?

Ek reken … nee.

As jy nie geloof, hoop of liefde in jou lewe het nie, sal jy ’n sterk drang voel om jouself oor te gee aan die misbruik van verdowingsmiddels en/of om jouself oor te gee aan enige aktiwiteite, krimineel of andersins, wat aan jou onophoudelike opwinding en vermaak kan verskaf.

______________________

’n Kronkelgedagte

WOENSDAG 13 OKTOBER 2004

01:27

Maandagmiddag om 16:45 het die bewoording van ’n gedagte by my opgekom. Die gedagte het my ietwat ontstel. Ek het gereken, as ek teen 18:00 steeds die gedagte onthou, dan kan ek dit neerskryf by die huis (ek was in ’n klas toe die gedagte uitgebroei het). Nie net het ek steeds die gedagte onthou nie, maar ook die gemoedstoestand wat aanleiding gegee het tot die gedagte het steeds geheers teen die afgesproke uur.

Nietemin, ek was by die huis, ek kon ’n bietjie TV kyk, op die rekenaar werk, musiek luister … en ek het ’n vars, warm boksie gebraaide rys en garnale gehad om my aptyt mee te versadig. Die gedagte was steeds nie genoteer teen die tyd wat ek gaan slaap het nie.

* * *

Hierdie naweek gaan ek weer ’n verskyning maak tussen mense waartydens ek so laag gaan daal as om verleë te voel oor die groeiende kaalheid van my hoof. Ja, daar gaan ek staan, kaalkop, kaalvoet*, 33-jarige property-less, credit card-less, car-less, non-corporate, independent, unpublished “writer”.

Ek sal moontlik een of twee dames vir ’n rukkie kan vermaak met my intelligente en – siende dat ek nie myself kan losmaak van die idee om ’n spesifieke dame uit te vra vir koffie nie – ietwat sjarmante geselskap. Kort voor lank sal ek egter opsy geskuif word ten gunste van ’n ander manlike karakter wat so geseënd is om hare op sy hoof te hê, en klere in sy kas waarin verskynings veel meer indrukwekkend, en volgens die mode van die dag gemaak kan word.

Ek sal dus, na ek weer my skoene styf vasgeveter het aan my voete, spore maak terug na die veiligheid van my woonstel wat ruik na eensaamheid, en ou sigaretrook. Ek sal miskien ’n bietjie TV kyk, aan ’n projek werk op die rekenaar, FreeCell speel, musiek luister, tee drink, en nog sigaretrook teen die mure en plafon blaas terwyl ek die volhoubaarheid van my huidige lewe kontempleer.

* [In Taiwan is dit die gebruik dat almal hul skoene uittrek voor hulle ’n woning betree.]

* * *

(Terug by die voorlaaste notasie)

Dit bring ons by Woensdagmiddag om 16:26, amper 48 ure na die oorspronklike gedagte – of die nuutste verskyning van ’n ou gedagte, want nuut is dit wragtag nie.

* * *

Verstaan iets, mis iets … insigte, onkunde … dis alles dieselfde …

23:48

My lewe, soos dit tans is, is nie die moeite werd nie, en ek het nie die geloof of oortuiging om die nodige veranderinge aan te bring om dit die moeite werd te maak nie.

Ek is besig om my geloof te verloor. Ek het die einde van die pad bereik, en niks aan die einde is so rooskleurig soos onkunde en blinde geloof nie.

Ek dink aan seks en geld, asof ek desperaat glo dat dít die bestanddele is wat alles “anders” sal maak. Wat sê dit as dit my enigste oorblywende geloof is?

Ek hoop om môre-oggend op te staan, omdat ek honger sal wees, en lus vir koffie en ’n sigaret. Ek sal klas toe gaan omdat dit minder stresvol is as om die telefoon op te tel en aan die skool te verduidelik dat ek nie lus is om te gaan nie. Plus, as ek nie die moeite doen om werk toe te gaan nie, sal ek weet die klein rooibaksteenhuis wat die uiterlike struktuur en fasade van my lewe is, begin te verkrummel.

Is ek werklik na aan ’n afgrond? Die snaakse ding is, ek weet nie. Ek is soos iemand wat geblinddoek op ’n pikswart nag op ’n krans staan – ek weet die afgrond is êrens in my omgewing, maar ek weet nie of dit een, of ’n honderd meter weg is nie. Hoekom nie? Omdat hierdie gemoedstoestand al heers in my lewe vir … tien jaar? Al wat hierdie toestand hok geslaan het vyftien jaar gelede, was godsdienstige oortuiging.

Ek kan hierdie dinge met niemand bespreek nie.

(Ons sien nie altyd die dinge wat ons al nader aan die afgrond stoot nie. Ons sien nie die gesigte raak vir wie hulle werklik is nie.)

* * *

Hoop. Nie eens geloof is enige iets werd sonder hoop nie.

* * *

(Wie kan verstaan?)

Dit mag vreemd klink, maar ek glo actually aan die bestaan van God – ek weet net nie wie of wat God is nie. Een van die redes hiervoor is my gebrek aan vertroue in mense; niemand wat oor God praat, is geloofwaardig genoeg in my oë nie (al is baie van hierdie gelowiges goeie en opregte mense).

Ek glo, en vertrou ook nie oorgelewerde waarheid nie. Wie moet ek immers glo? Protestante? Katolieke? Moslems? Hindoes? Jode? Almal het hul eie agendas, en daar is redes hoekom al hierdie groepe “gelowiges” verskillende “waarhede” aanhang, hoekom hulle glo soos hulle glo. Redes goed genoeg vir húlle om te glo, maar nie goed genoeg vir my nie. (Reeds Donderdag 01:26)

______________________

Oggend, middag en aand op Dinsdag 12 Oktober 2004

Oggend: Gereed vir chaos?

Ek kan ophou om “Brand Smit” te wees en myself bloot “Ek” noem, wat, sover dit my aangaan, meer akkuraat sal wees as wanneer jý jouself dieselfde noem.

Middag: Om te verstaan … wanneer dit saak maak

Wanneer ’n persoon uiterste gevaar in die gesig staar, gebeur dit soms dat hy of sy uit die bloute ’n alternatiewe, en onder die omstandighede, meer toepaslike, begrip van die lewe ontwikkel.

Aand: Losses uit Gebuigde Dorp, Nommer Nege

0. Ek staan in ’n klaskamer, en ek neem waar voor my sewe aparte bewussyne, wat funksioneer volgens stelle gegewe data: manlik/vroulik, ouderdom, fisieke voorkoms, etniese agtergrond, ensovoorts.

1. Gruis word nie genoeg benut vir estetiese waarde nie.

2. Ek het nie net baie gedink oor identiteit nie, ek het ook baie gedink oor hoekom ek dink oor identiteit.

3. Dit voel amper asof ek ’n praatjie met myself moet hê waar ek duidelik aan myself moet stel, “Dis tyd om lank en hard te kyk na jou lewe, en jouself te vra hoe lank jy nog so kan voortgaan …”

____________________

Maatreëls vir oorlewing – stemme wat vrees

VRYDAG 1 OKTOBER 2004

Tandeflos, en ander maatreëls vir oorlewing

Ek het gisteraand vir my tandestokkies, nuwe skeerlemmetjies, tandeflos en cotton buds gekoop. Vanoggend het ek ontbyt geëet, en toe later by die oggendmark gekoop wortels, appels, iets vir middagete, en twee 500 milliliter koppies groentee. Toe gaan haal ek water, en terug by die huis het ek my twee bottels volgemaak, en in die yskas gesit.

Wat beteken al hierdie dinge? Watse waarde het dit op die Groter Doek van My Lewe? Alles – die tandeflos, die wortels, die water, en al die ander dinge – is maatreëls wat bevorderlik is vir oorlewing. Dit alles dui daarop dat ek ook sover vandag, Vrydag 1 Oktober 2004, nog nie besluit het om op te gee, en “te laat gaan” nie.

SONDAG 10 OKTOBER 2004

Die stemme wat vrees

Die primêre doelwit van die organisme wat die mens is, is om terug te keer na ’n toestand van spanningsloosheid. Op een of ander punt in die mens se lewe begin hy om hierdie toestand te assosieer met die dood – op ’n bewustelike, of onbewustelike vlak.

Probleem is, die mens vrees dit ook om in die nietigheid te verdwyn. Hoekom? Seker maar omdat ons nietigheid assosieer met doelloosheid, en met waardeloosheid. Die gedagte aan nietigheid het dalk juis sy oorsprong in die mens se onsekerheid oor die doel van sy aardse bestaan en die waarde van sy lewe.

Vra ek myself toe, siende dat ek so sit en dink aan hierdie dinge: Vrees ek dit om in die niet te verdwyn?

Ek was in die versoeking om te sê nee, en die saak daar te laat. Maar skielik kliek ’n gedagte êrens in my kop. “Is jy mal?!” hoor ek ’n  stem gil. “Natuurlik vrees ons dit!”

______________________

Redevoering van die middelklas dwelmmisbruiker

SATERDAG 9 OKTOBER 2004

“Ek is verveeld, so nou’t ek nodig om te ontsnap van my vervelige lewe deur myself in te spuit met ’n chemiese konkoksie, of deur een of ander ding te snuif of te rook. Dit sal ’n alternatiewe bewussyn induseer wat my sal laat vergeet van my vervelige lewe.

Hierdie is nie ’n gesonde stokperdjie nie. Dit is ook ’n baie duur en onvolhoubare manier om te deal met my verveling. Maar in stede daarvan om daarmee te deal op ’n gesonder, meer volhoubare en goedkoper manier, kies ek ’n manier wat, as ek nie baie versigtig is nie, van my ’n slaaf sal maak van die maatreëls wat ek gebruik om my vervelige lewe draaglik te maak.

Gelukkig het ek geleer dat om dwelms te gebruik gesien word in populêre kultuur as opwindend, en dat mense wat hulle tyd verwyl op hierdie wyse gesien word as lekker mense om mee tyd te spandeer.

Ek het ook geleer dat mense wat neersien op hierdie idiotiese, onvolhoubare, belaglike duur wyse om te deal met mens se eie gebrek aan verbeelding en gevolglike verveling, actually self vervelig is.

Ek is so verlig dat my sogenaamde vriende – almal natuurlik lekker mense! – my al hierdie handige onsin geleer het. Ek sou regtig nie andersins geweet het hoe om dit te regverdig dat ek ’n casual dwelmgebruiker is nie – en dit is casual, want om dit ’n gewoonte te noem sal eenvoudig onakkuraat wees. Ek meen, ek is nie so fokken onnosel nie!”

______________________