Wiskunde en wetenskap – vrae begin

SATERDAG 11 DESEMBER 2004

Om oor die regte wiskunde en wetenskap te beskik

Vele mense sê graag die lewe is nie net wiskunde en wetenskap nie. Ek glo dit is – ons beskik net nog nie oor al die formules nie.

Twee duisend jaar gelede het alle materie ook uit atome bestaan – meeste mense het dit net nog nie geweet nie. ’n Duisend jaar gelede het mense ook die intellektuele vermoëns gehad om ’n vuurpyl te ontwerp en ’n man of vrou op die maan te sit – hulle het net nog nie voldoende wiskunde en wetenskap bemeester nie.

SONDAG 12 DESEMBER 2004

Wanneer die vrae begin

Ons weet ten minste helfte van die tyd wat ons nodig het om te weet ten einde min of meer suksesvol te kan funksioneer. Sodra ons behoeftes verander, of sodra ons bewus raak van ’n probleem in hoe ons funksioneer, begin ons vrae te vrae, en op ander plekke te soek vir beter antwoorde as dié wat ons tot op daai stadium van ons lewens geresiteer het as ons eie, of wat ons oor die jare tot en met daai oomblik gereken het ons eie weergawes is van die antwoorde wat aan ons gegee is.

______________________

Samesyn en die individu

DONDERDAG 9 DESEMBER 2004

Vele mense is bekend met die verskynsel van ongemak met hulleself. Een van die dinge wat hulle doen om hierdie ongemak, of spanning, teen te werk, is om te sorg dat hulle soveel as moontlik van hul wakker-ure spandeer saam met mense wat van hulle hou, en wat gemaklik is by hulle.

“Wat op aarde is verkeerd hiermee?” sal vele mense uitroep.

Die versoeking is daar om te sê, niks. Ek maak net ’n onskuldige opmerking.

Vele visse het egter in vele waters op hierdie planeet geswem en gevrek sedert ’n vraag my begin interesseer het: Wat gee samesyn met ander mense die individu?

’n Verdere vraag is, as die behoefte wat vervul word met samesyn met ander mense, verminder kan word, wat sal die resultaat wees? Die individu sal sekerlik nie so gereeld, en vir sulke lang periodes, die samesyn van ander mense opsoek nie – ’n gedagte wat sekerlik enige een wat glo aan die universele waarde van tyd spandeer met ander mense, teen die bors sal stuit.

’n Derde en finale vraag sal dan wees, gestel ’n persoon kan inderdaad sy of haar behoefte aan samesyn verminder, sou dit nie die persoon in staat stel om minder afhanklik te wees van die voorskrifte van ander oor hoe hulle moet verskyn aan die gemeenskap, oor hoe hulle moet funksioneer, en oor wat hulle moet sê en doen, wanneer, en op watter wyses nie?

Kantgedagte: Sommige mense sal my dalk daarop wys dat mense nie meganiese kreature is wat wag vir opdragte om ingepons te word voor hulle ’n woord kan uiter of ’n ledemaat kan lig nie. Natuurlik wag niemand op ’n ander een om opdragte teen sy voorkop uit te druk voordat hy oorgaan tot aksie nie. Die voorskrifte waarna ek verwys, is soms subtiel en ander kere word dit uitgespel, soms is dit algemeen bekend, en soms is dit so verborge dat indien jy sommige mense daarop wys, hulle oombliklik harnasse toeslaan en krygsponies bespring om jou te dwing om jou woorde terug te trek.

Watse resultaat, om saam te vat, sal dit hê op die psige van ’n individu wat vry word van die voorskrifte van ander mense oor hoe hulle moet verskyn, hoe hulle moet optree, en wat hulle moet sê en doen? En mag dit wees dat hierdie vryheid in die geval van sommige individue ’n noodsaaklike deel van die proses is wat hulle uiteindelik in staat sal stel om ’n positiewe eindresultaat te bewerkstellig van hul bestaanstyd op hierdie planeet?

______________________

Wat beïndruk jou, en hoekom?

DONDERDAG 9 DESEMBER 2004

Om ander mense in hul sosiale en/of professionele sirkels te beïndruk, is ’n daaglikse ambisie vir talle mense. Dit wat ’n goeie indruk moet skep, wissel van besittings wat aangeskaf is tot aksies wat geneem is, van projekte wat suksesvol afgehandel is tot nuwe arbeidsposisies wat losgeslaan is, van nuwe mense met wie kontak gemaak is tot mees onlangse seksuele verowerings.

Daar is verskeie redes hoekom mense ander wil beïndruk. Daar’s die alledaagse, “As hulle beïndruk is, sal hulle van my hou, en dan sal ek goed kan voel oor myself!” Daar is ook die meer siniese ambisie van ’n spesifieke eindresultaat wat bewerkstellig moet word, en as sekere persone beïndruk is met wat ook al opgedis word, kan die een wat die goeie indruk wou skep, wegstap met nuwe rede om die lug te snuif. ’n Laaste voorbeeld wat genoem kan word, is seksuele behoeftevervulling. ’n Teiken word geïdentifiseer na ’n oorsigtelike verkenning van die omgewing, sinne word uitgedink en gepoets deur peperment tonge lank voor dit die mond verlaat, en algemene liggaamshouding en gedrag word aangepas volgens die nuutste opvattings en modes sodat die behoeftige kan verskyn as een wat veel sterker, slimmer, koeler, en interessanter is as wat ooit in helder daglig die geval kan wees.

Wat beïndruk die beskeie noteerder van hierdie paragrawe? Immuun is hy nie vir die glans van ’n nuwe fiets wat ’n vriend of vriendin onlangs aangeskaf het nie. Projekte wat onderneem is vir persoonlike vervulling en tot suksesvolle konklusie gebring is, is ook iets waaroor hy graag sy mening wil lewer – ongeag of hy enige iets weet van die onderwerp of nie. Nuwe arbeidsposisies wat van tyd tot tyd oor die pad van mense kom, kan soms tot soveel as sestig sekondes se interessante gesprek lei, en moontlik meer as die posisie kreatiwiteit vereis, of aksies wat onderneem sal word wat werklike waarde sal hê buite die finansiële kompensasie wat dit sal meebring vir die nuut bevorderde persoon. Seksuele verowerings, ter wille daarvan om dit die volgende dag aan te wend tot verbetering van selfbeeld en meer indrukwekkende verskyning, val egter, in my beskeie opinie – en ek weet ek loop die risiko om beskuldig te word daarvan dat ek net jaloers sal wees op so ’n persoon se geluk – in swak smaak.

[Jou beurt: Waarmee probeer jy mense beïndruk, en wat probeer jy bereik daarmee? En wat beïndruk jou, en hoekom?]

______________________

Waarde – betekenis – insig – om aan te beweeg

MAANDAG 6 DESEMBER 2004

Waarde en betekenis, en die insig van kinders

Soms gaan daar ’n kwartier, ’n hele uur … miskien ’n paar ure of ’n hele dag verby, wat mens net reageer, en geen betekenisvolle ervarings het nie, en geen gedagtes dink wat, sou dit jou gewoonte wees, die moeite werd is om aan te teken nie.

Watse waarde het hierdie tye? Verseker dit bloot kontinuïteit van ’n lewe wat hopelik ook meer betekenisvolle oomblikke insluit?

Nog ’n vraag: Wat sê dit van jou bestaan as meer betekenisvolle oomblikke so ongereeld voorkom dat jy in trane wil uitbars wanneer dit wel gebeur?

* * *

Judy, sesjarige leerling in my een klas, staan van haar plek af op, loop na my toe waar ek agter my lessenaar in die klaskamer sit, en sê: “Ek het gesien jy praat met iemand, maar ek kon nie sien met wie nie. Nou sien ek jy praat met die uitveër.”

[En dit was nie eens my eie uitveër nie …]

DINSDAG 7 DESEMBER 2004

Om aan te beweeg van plek tot …

Vir jare het ek bly sê, “Plek, plek, plek!” Eers veel later het ek uitgevind plek is bevorderlik vir iets – definiëring van identiteit. Identiteit is weer bevorderlik vir iets anders, naamlik suksesvolle funksionering. Laasgenoemde is egter nie die alfa en omega van menslike bestaan nie. Ek glo 99 uit elke honderd mense stop by identiteit en suksesvolle funksionering. Min beweeg verder …

______________________

Vrye en onvrye verskynings

DONDERDAG 2 DESEMBER 2004

As mens te veel gebuk gaan onder voorskrifte van wat jy mag sê en wat nie, wáár jy sekere dinge mag sê en waar nie, hoe jy dinge sê en hoe nie, en as jy gebuk gaan onder die voorskrifte oor watter woordeskat jy mag uiter en watter nie, is jou spraak – die primêre wyse waarop meeste mense uiting gee aan hulle werklikheidservaring – nie vry nie. Indien jy nie vryelik uiting kan gee aan jou werklikheidservaring nie, of dit slegs doen op wyses wat aan jou voorgeskryf word, is jy nie vry nie. En siende dat die wyse hoe jy uitdrukking gee aan jou ervaring van die werklikheid tot ’n groot mate bepaal hoe jy verskyn aan die wêreld, word dit uiteindelik deel van WIE JY IS. Wie jy is, is dan tot ’n betekenisvolle graad die resultaat van onvrye selfuitdrukking. Wie jy is, is dan ’n resultaat goedgekeur volgens die voorskrifte van ’n spesifieke tyd en plek.

VRYDAG 3 DESEMBER 2004

“Betrap jy my nou tydens ’n anonieme verskyning. Nou moet ek skielik weer iemand wees!” sê “Brand” aan sy vriend [O.] toe laasgenoemde hom uit die bloute konfronteer waar hy ’n sigaret staan en rook buite ’n 7-Eleven.

______________________