VRYDAG 19 SEPTEMBER 2003
As ek ekonomies suksesvol is, baat ek, en moontlik ander mense, daarby, omdat ons lewens geriefliker sal wees, met ’n sterker waarskynlikheid van die voortdurende bevrediging van ons behoeftes.
As ek skryf, is ek meer as net een van 46 miljoen burgers van die Republiek van Suid-Afrika, en meer as net een van ses biljoen mense op hierdie planeet. Dan is ek meer as net nog ’n produk van ’n eiersel wat deur ’n spermsel bevrug is, vir nege maande gegroei het in die buik van ’n vrou, gebore is, en nog nie doodgegaan het nie.
As ek skryf, neem ek die kern van my spesifieke werklikheidservaring uit die kloue van hierdie oomblik en hierdie plek en ek doen iets daarmee. Dan is ek meer as net die somtotaal van selle en geraamte en bloed en opgevulde spasie. Om te skryf, is om myself besig te hou met ’n proses waardeur ek ’n beter mens word.
Vir meer as ’n dekade lank al worstel ek met ’n probleem: Hoe om my tyd op hierdie planeet te verwyl en geleenthede te gebruik op ’n manier wat strook met die kompleksiteit van my wese, sonder om die ekonomiese magte te ignoreer van hierdie inkarnasie van Beskaafde Gemeenskap.
Ek moet poog om ’n balans te vind tussen om te doen wat ek glo ek moet doen, en om terselfdertyd, soos almal wat wil oorleef van dag tot dag, met soveel as moontlik goudkwitansies in my sak rond te loop. Om te beskik oor die moderne ekwivalent van primitiewe jaggereedskap, om dit te kan gebruik om te bekom wat ek nodig het, wanneer ek dit nodig het, om sodoende my eie kanse op oorlewing ten minste gelyk te hou met dié van my gemiddelde tydgenoot.
______________________