SONDAG 15 AUGUSTUS 2004
Ek is skielik baie aangetrokke tot stilte, soos om by of in ’n oop stuk veld te sit, en net te luister, en miskien met myself ’n fluistergesprek te voer.
Mens sal moontlik reken dit het te make daarmee om nie te wil verskyn nie, en die instink om jouself te beskerm. Ek glo dat ek toenemend vervreemd raak van mense omdat meeste mense wat ek ontmoet, nie op dieselfde reis is as ek nie – intellektueel gesproke, maar dit kan ook gesien word as ’n spirituele proses.
As ek myself byvoorbeeld bekeer het tot ’n ortodokse weergawe van Judaïsme, sou my verhouding met familielede en sommige ou vriende op ’n soortgelyke vlak van vervreemding gewees het as wat nou die geval is. Maar nou is die oortuigings wat ek vir myself uitgewerk het, my eie geloof, met geen eksterne parafernalia soos kleredrag en spesifieke styl gesighare wat gedeel word met ander in ’n geloofsgemeenskap nie, soos in die geval van byvoorbeeld ortodokse Jode. Ek probeer dus steeds herkenbaar wees (“soos julle my nog altyd geken het”), maar dit raak toenemend moeilik.
———–
[Tot ’n mate neem ek nie my familie kwalik nie. Hulle is lief vir my, en wens moontlik dat ek “meer soos ander mense kon wees” omdat hulle oortuig is van die feit dat ek miserabel is meeste van die tyd. Dit is ook moontlik dat as ek nie so hardkoppig was nie, en nie soveel vreemde oortuigings gehuldig het nie, hulle miskien makliker met my kon vereenselwig.
In terme van baie dinge waaroor ek praat is ek inderdaad ’n vreemdeling vir húlle wat my al ’n leeftyd ken, en omdat hulle nie die proses dag-in-en-dag-uit met my saamleef nie, weet hulle nie aldag waar ek uit die spreekwoordelike bus val nie.]
____________________