Soldaat vir die siel (as sy wapen net wil vuur)

SATERDAG 14 JUNIE 2003

Op Vrydag 13 Junie kon ek nie verby die password op my rekenaar kom nie, want die a, die Back Space en die Caps Lock sleutels het oordag besluit om op vroeë aftrede te gaan. Dit het my nie lank gevat om ’n paar dinge wys te raak nie:

1. Dat die ontwikkeling hoogs ontstellend is.

2. Dat mense hulle hoop vir geluk plaas op iets wat deel is van hulle daaglikse lewens. Soms weet hulle wat dit is, en soms besef hulle eers wat dit was wanneer dit weg is. Vir party mense is dit ’n intieme verhouding met ’n ander persoon. Vir iemand anders is dit om ’n gesin te hê, en ’n kind in die aande in ’n warm bed te kan neerlê. Vir ander weer is dit die feit dat hulle baie geld het. En in sommige gevalle is dit al bogenoemde. Vir my is dit om te skryf; in praktiese terme beteken dit om elke dag die password op my rekenaar in te tik, en te werk aan enige van ’n paar projekte wat ek aan die gang het.

3. As ek ’n soldaat is, is my rekenaar my wapen (hoewel ek ook bekend is met meer tradisionele wapens soos ’n pen en ’n notaboek).

4. Die gedagte het by my posgevat dat dit net moontlik is dat ek dalk ’n ander rekenaar moet koop.

Vir die rekord, hoekom het ek in Junie 2000 ’n draagbare rekenaar gekoop? Omdat dit draagbaar was terug Suid-Afrika toe. Dit was soos versekering: eindig weer op in ’n bediendekamer, besit ten minste ’n rekenaar.

’n Desktop PC – groot boks met ’n groot ondraagbare skerm – het vir my beteken dat ek nog lank genoeg hier gaan bly om dit aan die einde te kan afskryf wanneer ek weer my rugsak pak.

En nou? Het ’n disfunksionele a sleutel my gedwing om vroeër by die Groot Vraag uit te kom as wat ek beplan het? Gaan ek nog lank genoeg in Taiwan bly om dit te regverdig om ’n nuwe rekenaar te koop – en heel waarskynlik nie die draagbare soort nie?

Ek wonder ook, net so terloops, is ek nie dalk steeds (of alweer) ’n bietjie naïef oor dit wat my, ’n sertifiseerbare armblanke die oomblik as ek my voete op Republiekgrond sit, inwag in Suid-Afrika nie?

So kom ’n gedagte toe by my op toe ek vroeg vanaand gaan kyk het na rekenaars: Haak hier vas vir nog ’n paar jaar, en stel myself uiteindelik in staat om ’n woonstel in Suid-Afrika te kan bekostig – natuurlik in ’n buurt en argitektoniese styl gepas vir ’n self-respekterende armblanke intellektueel.

Om eerlik te wees het soortgelyke idees al in my hoof rondgespring voor die a besluit het om ’n Caps Lock te word. Vroeg in die voormiddag het ek al gereken, “nou Julie drie weke by die familie, dan weer volgende Maart. En as mens nie aan die einde van volgende jaar teruggaan Suid-Afrika toe nie, ook volgende Desember saam met die familie by die see.” (As besigheid vir die familie goed genoeg verloop.)

Tyd sal natuurlik aanstap, en my Chinees sal ’n punt begin bereik waar mens geld sal kan maak met vertaalwerk of iets soortgelyks in Suid-Afrika. Soveel meer tyd is ook soveel meer tyd vir die publikasie van handboeke, en skryfwerk geïnspireer deur ’n lewe in die Verre Ooste. En daar’s natuurlik die oudagversekering wat 15000 kilometer treinreise, ’n paar weke in Japan, ’n paar weke in China, en selfs ’n besoek aan New York sal beteken.

Maar op ’n baie eenvoudiger vlak, hierdie punt: om my eie huis of woonstel in Suid-Afrika te besit.

Wat is die alternatief? Ek braai vanaf Maart 2004 elke naweek by my jonger suster en swaer (solank ek my eie wors en knoffelbrood kan bekostig); ek betaal vir nog drie of vier jaar af aan my studieskuld, en huur vir die res van my lewe ’n woonstel in Bronkhorstspruit. Dit terwyl ek op braais, waar my knoffelbrood al flouer raak, luister na ánder se stories van treinreise oor Russiese gebergtes en Chinese woestyne, en trips na Japan en New York, en Parys en Amsterdam. Terwyl ek by die dag ouer raak, en my geesdrif vir oorlogmaak met my sleutelbord afneem by die dag.

Maar ten minste sal ek my familie gereeld te siene kry, of hoe?

Niemand het gesê hierdie ding gaan maklik wees nie. Maar ek is ’n Soldaat in die Armblanke Bataljon, vegtende in die voorste loopgraaf in die Stryd vir die Siel.

En jy wen solank jy staande bly.

______________________