DINSDAG 12 APRIL 2022
Die laaste paar weke het ek ten minste twee keer weer gedroom oor bokse vol ou papiere en ander gemors wat ek oor die jare versamel het, wat steeds vertrekke vol staan in ’n woonstel wat ek nie eens meer bewoon nie. ’n Ouerige Taiwannese dame het meer as een keer ’n verskyning gemaak as opsiener van die gebou of eienaar van die woonstel. In een van die drome was al die bokse nat – en daar was baie van hulle.
Toe, gisteraand, droom ek weer ek is op pad. My vrou was ook daar. Die storie was dat ons op pad land-uit is; sy gaan eerste, en ek kom so ’n dag of twee later – wanneer ek klaar gepak het. Groot verskil met die honderd ander kere toe ek oor hierdie tema gedroom het, is dat al die belangrikste goed klaar gepak is. Selfs in my droom wonder ek of dit regtig waar is. Ek kyk om my rond, en so waar as wragtag, daar’s net stukkies papier op die vloer, leë bokse opgevou en opgestapel, een of twee kledingstukke in ’n kas.
Ek het wakker geword, weer aan die slaap geraak, en die droom het voortgegaan. Twee posters wat moes agterbly. Ek het onthou dat ek op ’n stadium gedink het ek dit was die een of twee rand werd wat ek betaal het daarvoor by ’n Hospice winkel, maar ek het geweet ek kon wegstap daarvan.
Die beste van alles – en dit was in die eerste droom – was my tas waarmee ek sou vlieg die volgende dag. Met nie veel oor van waarde om te pak nie, was die tas net half vol! Ek het van die klere eenkant toe geskuif, en ek was verbaas oor hoeveel spasie daar nog was. Ek het teesakkies in my hand gehad, en gedink dat daar geen twyfel was nie – daar was definitief plek.
______________________